Swart en wit word grys.

Enigiets behalwe God se waarheid, stel ons integriteit in gevaar. Dit maak nie saak hoe gering die situasie is waarvoor ons skik nie, dit sal die integriteit in ons hart skaad. Hier lê die probleem – ‘n skikking lei tot regverdiging en regverdiging lei tot verwarring. Wat swart en wit was verdof na grys en ons regverdig waarom God se waarheid nie nodig is om in elke situasie vir ons leiding te gee nie.

Ons woorde is een van die maklikste maniere wat ons gebruik om tot ‘n skikking te kom. Met ons woorde oordryf ons, skinder ons, vertel ons wit leuens en maak ons beloftes wat ons nie kan nakom. En dan begin die regverdiging. ‘n Wit leuen is nie regtig ‘n leuen nie, is dit? En buitendien, dis beter as om iemand se gevoelens seer te maak. Wat is die nou die probleem as niemand seer kry nie? Swart en wit word grys.

Ons kan ook ons dade in gevaar stel. Ons vat iets klein sonder toestemming, teken nie ons tyd aan wanneer ons uit die kantoor gaan nie, aanvaar krediet vir wat ons nie gedoen het nie. Dan begin ons dit regverdig. Ons het nie die vorige keer die krediet gekry vir wat ons toegekom het, dus is dit in orde. Hulle sal nie agterkom as een item weg is nie, hulle kan dit bekostig. Swart en wit word grys.

Met elke verskoning, skikking en regverdiging word God se waarheid vervorm en die rol wat dit in ons lewe speel, word aangepas. God kyk na ons hart, nie hoe groot die skikking is wat ons aangaan nie. Daar is geen grys areas vir Sy waarheid wat net swart en wit is nie.

‘n Skikking kan op ‘n gegewe oomblik na die makliker opsie lyk, maar God se waarheid gee ware lewe. Wanneer ons woorde en dade ooreenstem met wat ons glo, of sê wat ons glo, spandeer ons minder tyd en energie daaraan om onsself te bevraagteken en bekommerd te wees of ander sal uitvind. ‘n Skikking en regverdiging vertroebel die waarheid van God se begeerte vir ons lewe. Kies die waarheid, selfs wanneer dit ongemaklik en moeilik is.

Daar is soveel meer…

In die dertiende hoofstuk van die Bybelboek Matteus, vertel Jesus ‘n gelykenis van ‘n man wat ‘n stukkie grond vind wat hy nie kan nalaat om te koop nie. Om een of ander rede ontdek hy die stukkie grond, waarop ‘n waardevolle skat begrawe is. Toe hy die waarde herken, bêre hy weer die skat, gaan huis toe, verkoop alles wat hy besit en gaan terug op die stuk grond te koop. Die skat was meer werd as alles wat die man besit het, dus was hy bereid om alles te gee om dit te kon besit.

Na dit vertel Jesus ‘n ander storie van ‘n handelaar wat pêrels gekoop en verkoop het. Eendag het hy op ‘n pêrel afgekom wat so perfek was dat hy dit net in die hande moes kry. Hy verkoop toe alles om die pêrel te kon koop.

Hierdie twee gelykenisse was net stories wat Jesus vertel het om Sy leringe te verduidelik. Daar was egter ‘n jong man wat eenkeer na Jesus toe gekom het en gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?” Hy was nie voorbereid op Jesus se antwoord nie.

Verkoop alles wat jy het. Gee die geld vir die armes en kom dan en volg my.

Die man was hartseer en het weggeloop, want hy was baie ryk. Om alles op te gee wat jy besit, is pynlik. Jesus verwag nie van ons om ons aardse besittings op te gee as ons Sy dissipels wil word nie, maar Hy vra ons om die koste te beraam.

As jy besluit om ‘n volgeling van Christus te word, sal jou lewe verander. Jy sal sommige goed, mense, gewoontes en tyd moet opgee. Die mense wat daardie sprong gee, is soos die manne in Jesus se gelykenis — hulle sien die waarde raak in die transaksie en is gewillig om alles te gee om dit in die hande te kry.

Jim Elliot was ‘n sendeling in die vyftiger jare. Hy het gesê: “He is no fool who gives what he cannot keep to gain that which he cannot lose” God is bereid om jou as Sy kind aan te neem, al jou sonde te vergewe en jou toe te laat om vir ewig in die paradys te woon. Dit maak nie saak wat jy moet opgee nie — dit is ‘n goeie ruiltransaksie.

Is dit nie dalk tyd dat ons moet besef dat ons sommige tydelike plesiertjies moet opgee as ons Jesus wil volg?

Lewensverandering

Die apostel Paulus is bekend aan ons almal. Sy lewe is soos ’n voor-en-na-foto wat ’n totale ommekeer verteenwoordig. God maak ’n voorbeeld van Paulus: “Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos,” skryf Paulus aan Timoteus. “Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. (1 Timoteus 1: 15 – 16, Die Boodskap)

Voor hy Jesus leer ken het, was Saul vasbeslote om die vroeë kerk uit te wis. Maar op pad na Damaskus om nog gelowiges te gaan soek, ontmoet Saul die opgestane Jesus en leer ken hy God se liefde en genade.

Wanneer Saul redding ontvang, verander alles vir hom.

Dit wat vroeër so belangrik gelyk het – sy suiwer Joodse herkoms, sy uitstekende opvoeding – is niks in vergelyking daarmee om Jesus te ken en ’n persoonlike verhouding met Hom te kan hê nie.

Soos hy die waarheid leer ken, stel Paulus DRIE doelwitte vir sy lewe:

1. Om Jesus meer en meer te ken.
Dit is ’n lewensveranderende doelwit vir enigiemand op enige tydstip. Die beste manier om enige verhouding te vestig, insluitend jou verhouding met God, is om tyd saam te bestee. Wanneer jy meer tyd saam met Jesus bestee, sal dit jou in der waarheid help om die res van jou tyd meer produktief te gebruik.

Wanneer jy tyd saam met God deurbring – soos om ’n leesplan dalk op YouVersion te volg, deur jou Bybel te lees, met Hom te praat, te bid, ’n joernaal te hou, God te aanbid, kerk toe te gaan – maak jy ruimte vir die Heilige Gees om in jou lewe te werk. En die Here sal jou visie vergroot, jou koers bepaal en jou bring waar jy moet wees.

2. Om soos Jesus te wees.
Om soos Jesus te word is ’n doelwit van ons redding. En wie sal nie graag rotsvas soos Jesus wil wees nie? Wie sal nie meer liefde, vreugde, vrede, geduld en al die ander karaktereienskappe van Jesus wat die Heilige Gees in ons lewens bring, wil hê nie?

Kyk hoe dit tot voordeel van Paulus werk. Niks ontstel hom nie. Hy het vreugde en vrede in die slegste moontlike omstandighede, soos toe hy en Silas kaal uitgetrek, geslaan en in die tronk gegooi is en hulle steeds God geprys het.

Hoe meer jy oefen om ’n beter mens te wees – vinnig om te vergewe, nie gou kwaad te word nie, standvastig, getrou, vrygewig, ensovoorts – hoe meer sal jy uiteindelik daardie beter mens word. Hierdie soort Christelike volwassenheid is waarskynlik die mees onderskatte deel van ons geestelike karakter, wat ons waarlik vry kan maak en werklik die moeite werd is om in ons lewens te kweek.

3. Om alles te bereik wat God wil hê hy moet doen.
En dit is ’n baie moeilike opdrag. Maar Paulus gebruik God se genade om dit te bereik. Genade is God se onverdiende guns. Dit is ook die volhoubare krag van die Heilige Gees wat aan ons beskikbaar is en ons in staat stel om God se werk te doen. Basies dek God se genade die gedeelte tussen wat ons kan doen (in ons eie krag) en wat Hy vir ons beplan het om te doen volgens sy ongelooflike plan vir ons lewens.

Wat sal Paulus dus vir ons sê as hy vandag hier was?

Dalk sou hy gesê het: “Jy het dalk nie goed begin in jou lewe nie, maar jy kan sterk eindig. Jesus het ’n baie groter plan vir jou lewe as enige ander planne wat jy ooit op jou eie kon bereik. Leef ’n lewe wat ’n erfenis nalaat. Veg die goeie stryd. Maak die wedloop klaar. Behou die geloof.”

Teleurstelling

Ons volgende held, Elia, is nie net die bekendste profeet nie, maar ook een van die mees invloedryke mense in die hele Ou Testament.

God stuur Elia om Israel te red van Baäl-aanbidding. Elia daag die profete van Baäl op die berg Karmel uit om te kyk wie die ware God is – of God of Baäl met vuur uit die hemel sal antwoord. Toe die ware God met vuur antwoord, het die mense op hul gesigte geval en uitgeroep: “Die Here is God!” Elia het toe al 450 profete van Baäl doodgemaak, gebid vir reën om die droogte te laat eindig (waarop ’n groot reënstorm volg) en toe hardloop hy al die pad tot by die hoofstad van Jisreël.

Maar in Jisreël het dinge vir Elia begin ontrafel.

Koningin Isebel het gehoor dat Elia die profete van Baäl om die lewe gebring het en sy het vir hom die volgende boodskap gestuur: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” (1 Konings 19:2)

Dis ongelooflik as mens dink aan al Elia se heldedade tot op hierdie punt, dat Elia nou bang word en vlug. Wat het dan gebeur?

Elia het breekpunt bereik.

Om dit eenvoudig te stel, hy is uitgeput. Boonop word hy nou ook met sy eie beperkings gekonfronteer. Hy het al die pad tot by Jisreël gehardloop, waar hy herlewing verwag het, maar toe hy daar kom, het niks verander nie. Ten spyte van sy beste pogings het hy nie daarin geslaag om Israel te red nie. En nou is hy diep teleurgesteld.

Teleurstelling kan ons in ’n krisis dompel. Voeg uitputting by die mengsel en alles lyk tien keer erger.

Onder hierdie omstandighede gebeur dit dikwels dat ons as mans onsself isoleer. Ons ontsnap na ons grot of dalk die gholfbaan. Ons bestee ons tyd deur sport te kyk, of ons vind ons ontsnapping in destruktiewe gedrag, soos om te veel alkohol te drink of pornografie te kyk. 

Elia het homself ook isoleer. Hy reis alleen na die woestyn, gaan sit onder ’n besembos en bid om dood te gaan. “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, …” (1 Konings 19:4)

Ons is ook dikwels oormoeg in ons oomblikke van krisis, soos Elia hier voel. En al wat ons moet doen (tensy die huis besig is om af te brand) is om te rus en te herlaai. Ek hou van hierdie aanhaling van die Amerikaanse sokkerspeler,Vince Lombardi:

“Uitputting maak lafaards van ons almal.”

God verstaan dat ons fisiese liggame beperkings het. Die engel van die Here berei ’n maaltyd vir Elia voor, maak hom wakker en moedig hom aan om te eet, want die reis is nog glad nie verby nie.

Sien jy, jou beperkings is nie die einde nie, selfs al voel dit asof jy die stryd verloor het. God was nog nie klaar met Elia nie. God se plan vir Elia en vir Israel is steeds op koers. God stuur vir Elia om twee konings te salf, sowel as sy opvolger, Elisa. Tydens die verheerliking op die berg het God vir Elia langs Moses ingesluit, waar hulle twee met Jesus kan praat oor God se ware plan om nie slegs Israel te red nie, maar die hele mensdom.

Ek wonder wat Elia vir ons sou sê as hy vandag hier was?

Dalk sou hy sê: “Wees sterk! Moenie moed verloor nie. God is saam met jou in hierdie ding. Hy is jou Rots, jou skild, jou skuilplek, jou krag, jou helper. En Hy ken geen beperkings nie.”

Minderwaardigheid

Ons volgende ou is eintlik ’n anti-held. Met ander woorde, hy beskik nie oor die gewone karakter eienskappe van ’n held nie. Koning Saul se grootste fout is dat hy nie homself in lyn met God instel nie, met ander woorde homself nie op God rig nie.

Dink aan ’n motorband met foutiewe belyning. Die hele motor trek na die een kant toe en jy moet gedurig oorkompenseer om in die regte rigting te bly beweeg. Dis wat gebeur wanneer jou hart en gedagtes nie in lyn met God is nie – jy word van koers af gedwing en jy sukkel om op die regte pad te bly.

Saul se siening van homself is eerstens nie in lyn met wat God oor hom en sy toekoms sê nie. God stel Saul aan om oor Israel te heers, maar Saul weier om te glo dat hy dit werklik kan doen. Later, toe die stamme byeengekom het om te sien hoe Saul as koning bekendgestel gaan word, was hy nêrens te vinde nie, omdat hy tussen die bagasie weggekruip het.

Wanneer God ons roep om iets belangrik te doen….

Wanneer God ons roep om iets belangrik te doen, is dit nie omdat ons reeds so belangrik is nie. God kan “… dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.” (Romeine 4:17) Dan sal God dit in ons en deur ons laat gebeur. God het vir Abraham gesê dat Hy hom die vader van baie nasies sal maak, toe Abraham nog kinderloos was en Sara al te oud was om kinders te kry. Die verskil tussen Abraham en Saul is dat Abraham “ten volle daarvan oortuig was dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” (Romeine 4:21)

Soms verwar ons minderwaardigheid met nederigheid.

Maar “ware nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie, dit is om minder aan jouself te dink” (Dit is ’n aanhaling deur Rick Warren wat dikwels verkeerdelik aan CS Lewis toegeskryf word.) Koning Saul se minderwaardigheid is geheel en al op homself gerig. Hy dink altyd aan homself, selfs wanneer hy min van homself dink!

Tweedens is Saul se gedrag nie in lyn met God se planne en doelwitte nie. Saul is óf ongehoorsaam, óf slegs gedeeltelik gehoorsaam (wat eintlik dieselfde ding is). ’n Goeie voorbeeld is wanneer God spesifiek vir Saul instruksies gee om die hele nasie van die Amalekiete te vernietig – ál die mense, hul diere en hul besittings. Maar Saul en sy manne spaar Koning Agag se lewe en hou alles waarvan hulle hou, insluitend al die beste skape, bokke en beeste. Dan reis Koning Saul na Karmel om vir homself ’n gedenkteken op te rig.

Eintlik wil Saul dus God se hulp hê sonder om dinge volgens God se wil te doen.

Terwyl Saul sy oorwinning vier, sien God hom as ’n koning wat misluk het as gevolg van sy hardkoppigheid en rebelsheid. Die Here sê selfs vir Samuel, “Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” (1 Samuel 15: 10 – 11)

Saul draai nooit terug na die regte pad nie.

Toe Samuel hom konfronteer oor waarom hy nie al die Amalekiete vernietig het nie, het Saul sy manskappe blameer en gemaak asof hy beplan het om die buit aan God te offer (sien 1 Samuel 15:20 – 21). Omdat hy nooit sy belyning met God herstel nie, dwaal Koning Saul verder en verder van God se pad af.

Ek sluit gewoonlik af deur my te verbeel wat ons held vir my sou sê as hy vandag hier was. Maar kom ek sluit die keer af met iets wat God vir Samuel sê wanneer hy gaan om Koning Saul se opvolger, Dawid, te salf: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Samuel 16:7)

Kan ek aanhou?

Ons volgende helde bly getrou aan God onder enorme druk. Alhoewel hul situasie buitengewoon erg is, is hul dilemma ook ons moderne dilemma: die uitdaging om getrou te bly aan God in ’n kultuur wat God nie eer nie.

die uitdaging vandag is: om getrou te bly aan God in ’n kultuur wat God nie eer nie.

Sadrag, Mesag en Abednego is eintlik Habakuk se tydgenote. Hulle was verban na Babilon en het van heel onder gekom tot by invloedryke posisies van rykdom in Koning Nebukadnesar se ryk, terwyl hulle hul integriteit behou het en getrou aan hul geloof gebly het.

Hul getrouheid en gehoorsaamheid het egter nie hul lewens makliker gemaak nie. Hul weiering om te buig voor ’n goue standbeeld wat Koning Nebukadnesar opgerig het, het daartoe gelei dat hulle in ’n warm vuuroond gegooi is, wat op die koning se opdrag sewe keer warmer gemaak is.

Die vuuroond verteenwoordig altyd beproewings en probleme.

Het jy al ooit gevoel asof jy alles doen wat jy veronderstel is om te doen? Jy loop die pad saam met God, jy het jou gesin lief, jy werk hard, jy gee, jy help – en tog bevind jy jouself in meer probleme as wat jy kan hanteer?

Die vuuroond is dikwels warmer juis omdat jy aan God getrou is. “Maar waarom?” wil jy dalk vra.

Omdat God besig is om in jou te werk. Die vuuroond vorm jou karakter, soos wat vuur onsuiwerhede en swakker deeltjies uit goud verwyder. Dit ontwikkel ook jou vermoë om met dapperheid te volhard in geloof, want God het oorwinnaars nodig om sy werk te voltooi.

Hoe jy in die vuuroond reageer, bepaal die rigting van jou lewe.

Kyk, die vuuroond is eintlik ook ’n kruispad. As jy aan God vashou in die beproewing en nie net die maklike uitweg soek nie, of jou integriteit en gewete prysgee – dan sal die swaarkry jou maak en nie breek nie.

Sadrag, Mesag en Abednego is aan hul hande en voete vasgebind en in die vuur gegooi. Tog, toe Koning Nebukadnesar weer kyk, was daar ’n vierde persoon, wat soos “’n hemelwese” lyk (Daniël 3:25) saam met hulle in die vuuroond. En al wat die drie jong mans in die vuur verloor het, is dit waarmee hulle vasgebind was.

God sal nie net by jou wees in jou oomblik in die vuuroond nie, maar Hy sal dit gebruik om jou te bevry van die dinge wat jou terughou.

Ek wonder wat Sadrag, Mesag en Abednego vir ons sou vertel as hulle vandag hier was? Dalk sou hulle sê: “Jy kan nie die vuuroonde van die lewe vermy nie, of voorspel wat die uitkoms gaan wees nie, maar jy kan die Een wat saam met jou deur die vlamme loop, ken en vertrou. Hy sal jou nooit verlaat nie en jou altyd veilig vashou.

Wat doen jy?

Die Ou Testamentiese profeet Habakuk leef in bose tye. Juda is in chaos en die Babiloniërs (wat reeds Egipte en Assirië verslaan het) is by die poorte. Desperaat en gefrustreerd gaan Habakuk reguit na God toe met sy woede en frustrasie: “Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.” (Habakuk 1: 1 – 4, Die Boodskap)

God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas.

Hier is die waarheid: God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas. Solank ons dit in Sy teenwoordigheid doen, soos Habakuk dit hier doen. Wanneer Jesus sê, “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, …” verwag Hy nie ’n spul mense wat geheel en al kalm en in beheer is en hul sinne begin met “Liewe Jesus, …” nie.

Luister na Habakuk: “Waarom luister jy nie, Here?! Wat doen jy?!”

God sê vir Habakuk dat Hy die Babiloniërs stuur om Juda te straf, wat nie is wat Habakuk wil hoor nie en dit ontstel hom net verder. Eintlik word nie een van Habakuk se probleme in hierdie ontmoeting met God opgelos nie. Maar tog eindig dit waar Habakuk God loof en prys.

Waarom sou Habakuk dit doen?

Wanneer Habakuk sy bekommernis na die Here bring, vertroos, verlig en verkwik God Habakuk se siel, watpresies is wat Jesus in Matteus 11:28 beloof om te doen wanneer ons ons bekommernis na Hom bring.

Habakuk stort sy hart voor God uit tot hy heeltemal leeg raak en God vul hom dan met genade, met ander woorde met alles wat hy nodig het om die komende uitdagings in die gesig te staar, insluitend ’n gesonde porsie geluk en vrede.

Ons hoef nie vir ’n krisis of ’n ramp te wag om hierdie soort gesprek te hê waarin ons absoluut niks terughou nie. Ons kan enige tyd met God praat op hierdie vlak van opregte, intieme vriendskap. Ons kan sommer nou daarmee begin. Hoe meer van onsself ons na God toe bring, hoe meer het Hy om mee te werk. In Sy teenwoordigheid word ons verhouding met Hom versterk, ons geloof word versterk en ons siele vind rus, soos Habakuk ondervind het.

Om jou siel voor God uit te stort is ’n dapper gewoonte om aan te leer.

Koning Dawid het dit gedoen en God het Dawid ’n man na sy hart genoem (in Handelinge 13:22). Dit neem ware moed om diep te delf, om eerlik met onsself te wees, om ons uitdagings in die gesig te staar, dit na God te bring en voor Hom oop te maak. Maar dis altyd die moeite werd om dit te doen.

Ek wonder wat Habakuk sou sê as hy vandag hier was?

Hy sou ons waarskynlik reguit laat verstaan het: “Neem al jou bekommernisse na God. Moenie doekies omdraai of maak asof dit nie so erg is nie. Jou opregtheid sal jou nader na God bring en, terwyl Hy vir jou meer wys van wie Hy is, sal jy in geloof groei – dit kan ek jou waarborg.”

Maak Sin Uit Lyding

Sommige gewilde predikers sê dat, as jy genoeg geloof het, jy beskerm sal word van probleme en dat jy ‘n ryk en voorspoedige lewe sal lei. Hierdie teologie is eenvoudig net nie waar nie. Dis wat die Skrif oor lyding sê:

Paulus skryf in Romeine 8:17 dat lyding deel van die Christelike lewe is. Vir die vroegste gelowiges, en vir Paulus self, het hierdie lyding allerhande soort vervolging ingesluit —sosiaal, ekonomies en fisies. Die Christelike lewe belowe nie voorspoed nie; in der waarheid belowe dit teenspoed.

Sommige van ons angs is die gevolg van ons eie besluite.

Sommige van ons angs is die gevolg van ons eie besluite. Lyding wat volg op ons eie sonde is die moeilikste om te hanteer, omdat dit te doen het met persoonlike berou oor omstandighede wat verhoed of beheer kon word. Miskien kan jy jouself hiermee identifiseer, omdat jy huidiglik in die nood verkeer as gevolg van die natuurlike gevolge van sommige van jou eie keuses.

Ander lyding is die gevolg van ander mense se optrede, deur hulle selfsugtigheid, nalatigheid, of nog erger, hulle bose en kriminele gedrag. Die bekendste Bybelse voorbeeld van hierdie tipe lyding is Jesus—’n onskuldige Man wat die sonde van die wêreld op Homself geneem het en ‘n wreedaardige dood gesterf het.

Ons word veral herinner aan ons menslike swakheid wanneer ons pyn ervaar wat nie deur onsself of iemand anders veroorsaak is nie. Soms staar ons ‘n verpletterende diagnose in die gesig, of ons ervaar ‘n natuurramp, en ons staan beskeie voor ons eie swakheid in ons lyding wat veroorsaak word deur iets wat totaal en al buite ons beheer is.

Dit is moeilik om sin te maak uit lyding waarvoor niemand of niks blameer kan word nie. Dit maak die verwerking van die lyding meer uitdagend en soms raak ons vasgevang in ons angs.

Waar dit ook al vandaan kom, lyding maak ‘n normale deel uit van ons menslike bestaan. Sedert kort na die Skepping het ons wêreld al die tekens van pyn begin sien.

  • Gebrokenheid is normaal.
  • Droefheid is deel van die menslike bestaan.

As dit die einde van die storie was, sou dit maar ‘n depressiewe en ontnugterende slot wees. Maar, danksy God, is dit nie die einde van die ewige storie nie en dit is ook nie die einde van jou storie nie! Soos jy bewus word van afbrekende gedagtes en gewoontes wat jou gevange hou, kan jy begin met die proses om blymoedig te ly.

Watter persoonlike ervarings met lyding het jy al gehad?