Bepaal Wat Noodsaaklik Is

In Lukas 10, word Marta oor die vingers getik. Is ons nie maar almal Marta’s wat van tyd tot tyd sukkel om te besluit watter take meer belangrik en minder belangrik is nie? Iemand moes tog die ete voorberei. Ek is seker dat Jesus Marta se gasvryheid opreg waardeer het. Dit was nie die feit dat die ete nie so belangrik was nie. Jesus het dit net beklemtoon dat dit nie die belangrikste ding op daardie tydstip was nie.

Dit was meer belangrik dat Marta en Maria na Jesus se lering moes luister.

Soos wat ek al reeds voorheen genoem het is dit nodig dat ons, ons verpligtinge nakom en projekte afhandel as deel van ons tydsbestuur. As jy al jou verpligtinge en take bymekaar sit, moet jy uitsoek watter meer belangrik is. Om dit te kan doen moet jy presies weet waarvoor God jou op hierdie tydstip in jou lewe roep. Met daardie geheelbeeld en doelwitte in gedagte, vra jouself af: “Wat is die één ding, as dit afgehandel is, wat al my ander projekte makliker en meer betekenisvol sal maak?”

Daardie antwoord is die belangrikste ding waarop jy moet fokus. Laat al die ander goed eers wag, totdat hierdie spesifieke taak afgehandel is. Hou aan om hierdie proses te herhaal.

Terwyl ek die boek Called to Create besig was om te lees, was ek oorweldig deur alles wat moes plaasvind om my. Ek moes aandag gee aan my kinders, ek was besig om te verhuis, ek was agter op my sekulere werk se “sales-budget”, ek moes gemeentelede ondersteun wat deur moeilike tye gaan, 50 000 dinge het deur my verstand gehaas daagliks, terwyl ek dit in woorde probeer neer skryf in my daaglikse journal, ek het sondae ‘n platform waarvan ek moet af bedien en nie ers gepraat van die toenemende druk in die mark, en vele meer nie. Ek het aan die begin geweet dat ek niks sou kon regkry as ek nie ‘n verhouding met Jesus kon gehad het nie. Dit was dus my belangrikste taak. Ek het alles laat staan totdat ek myself in Sy teenwoordigheid gevind het.

Dit is so dat min take en projekte op enige gegewe tyd regtig noodsaaklik is. Leer die gewoonte aan om eers die twee of drie noodsaaklikhede te identifiseer en fokus daarop totdat dit afgehandel is.

Advertisements

Kom Jou Verpligtinge Na

Jesus het beveel dat ons ‘ja’ ‘ja’ moet wees. Maar al hoe meer christene se ‘ja’, beteken deesdae eintlik ‘nee’. Elke keer as ons nie ‘n verpligting nakom nie, laat opdaag, nie ‘n projek betyds voltooi nie of nie terugbel as ons belowe het om so te maak nie, is ons ongehoorsaam aan Jesus se opdrag dat ons ‘ja’ ja’ moet wees. In ons gejaagde lewens sê ons dikwels ‘ja’, maar hou nie ons woord nie.

Die feit dat hierdie sonde so onskuldig voorkom, is ‘n waarskuwing vir die kerk.

Ons is na die beeld van God geskape en verteenwoordig Hom in ‘n verlore wêreld. Ons moet ons woord hou om ‘n goeie voorbeeld te stel van hoe ons Redder is.

Hoe moet ons dit prakties toepas? Ons moet ‘n sisteem in plek kry sodat ons al ons verpligtinge kan nakom. Dit kan op papier of digitaal wees, bv. ‘n Journal of sagteware  soos Evernote. Die manier waarop jy dit doen is nie so belangrik as dat jy dit wel doen nie. As ons Jesus se opdrag uitvoer en ons ‘ja’ ‘ja’ is, moet ons ‘n manier hê om tred te hou met alles waarvoor ons ‘ja’ sê. Dit klink logies, né? Dit is! Ongelukkig is daar so min mense wat dit goed kan doen. Daar is egter goeie nuus: dit is ‘n maklike probleem om op te los. 

Gebruik iewers vandag 30 minute om al jou verpligtinge neer te skryf. Die wat jy moet nakom teenoor jouself, jou vriende, jou man of vrou, jou kinders, jou kollegas, ens. As jou lys klaar is, kyk na verpligtinge wat jy kan verander of verwyder. Bv.: dalk het jy belowe dat jy jou ouma verlede week sou bel, maar jy het dit nog nie gedoen nie. Bel haar sommer nou en gesels vyf minute met haar. Laat jou ‘ja’ ‘ja’ wees, al is dit ‘n bietjie laat.

Ek belowe jou dat jy sommer baie verlig en vredevol sal voel as jy hierdie oefening afgehandel en jou kop skoongemaak het. David Allen se boek, “Getting things done”, is die beste hulpmiddel wat ek al gevind het om my te help om my verpligtinge na te kom.

Die Pad Na Integriteit

Dis net God se Gees wat integriteit in ons kan skep, maar alles in die wêreld kan dit van ons af wegneem. Mense en situasies sal opsetlik en onbewustelik ons integriteit besoedel en ons laat toegewings maak.

Ons word nie met integriteit gebore nie, dus moet ons daarvoor veg as ons dit wil hê.

As ons ernstig is daaroor om met integriteit te lewe, moet ons God se waarheid van harte ken, verstaan en liefhê. Hierdie waarheid help ons om wysheid in ons lewe te ontwikkel. Dit help ons ook om onderskeid te maak tussen verskillende praktyke en grense wat deel uitmaak van iemand wat met integriteit lewe.

Hierdie stryd vereis dat ons onsself omring met mense wat ons dophou en verantwoordbaar hou vir ons dade. Sonde vermeerder as niemand daaroor praat nie en word as niks afgemaak as ‘n persoon nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie. As ons dink niemand gee om of sal van ons sonde uitvind nie, is dit maklik om daarmee voort te gaan. Aanspreeklikheid is moeilik, maar dit is een van die belangrike eienskappe wat nodig is om verantwoordelikheid vir ons dade en woorde te neem.

Ons sal al hoe meer met integriteit kan lewe as ons daarvoor veg, te midde van situasies wat ons gedurig van God se waarheid af wil wegneem. Dit is makliker as ons nie iets beloof wat ons nie kan nakom nie, van werk verander of ander vriende vind.

Ons sal nooit alles altyd kan reg doen nie. Ons almal struikel. Ons maak almal foute. Dit maak nie saak hoeveel integriteit ons het nie, ons sal nooit perfek wees nie. Dit is veral só in tye wat ons vreesagtig is, ‘n ramp beleef, of ons lewe uitmekaar val. Dit is dan moeilik om die regte keuse te maak. Die sleutel tot integriteit is om ons foute te erken en verantwoordelikheid vir ons dade te neem.

Wanneer ons met integriteit lewe help dit ons om ons foute raak te sien en God se genade en vergifnis te soek.

Integriteit is nie iets wat jy het of nie het nie, dit is ‘n leefstyl waarna ons doelbewus moet streef. Streef met opset na God se waarheid en wysheid. Stry teen alles wat jou van integriteit wil beroof of weglei. Besluit om doelbewus die dinge na te streef wat waarde het.

Ons Tydsbestedingsprobleem

Baie mense soek raad by my oor hoe om hulle tyd te bestuur. Nie omdat ek alles omtrent die onderwerp weet nie, maar omdat ek so baie ondervinding het oor hoe om al die produktiewe aktiwiteite in my lewe te balanseer. Ek dien as besturende direkteur van ‘n kleuterskool, dan is ek werksaam by ‘n tegnologie firma, ek is ook ‘n voltydse Pastoor en doen my bes om ander gelowiges te help om die evangelie in hulle werkplek uit te leef. Tuis is ek ‘n man en ‘n pa van twee wonderlike dogters, en ‘n seun. Dat my lewe baie vol is, is die minste te sê. Net deur God se genade kan ek alles “bestuur” en selfs nog elke nag 7 tot 8 ure se slaap inkry.

Om my tyd goed te bestuur het ‘n obsessie geword.

Hoekom? Die Bybel herinner my herhaaldelik daaraan “dat ons lewens ‘n damp is wat verskyn en weer vinnig verdwyn.” (Jakobus 4:14) God het my en jou met ‘n rede op aarde geplaas: om Hom en ander lief te hê en om dissipels te maak. Ons is hier vir ‘n doel. Ons is nie geskape om net doelloos rond te sit en wag vir die ewigheid nie. Ons moet betrokke raak in die wêreld, kulture skep, ander se nood raaksien en hulle bedien. God het ons geroep om saam met Hom te werk om die wêreld te red.

As jy kyk na die omvang van daardie opdrag en hoe die tyd aanstap, behoort ons die doelgerigste mense op die planeet aarde te wees. Ons behoort met ‘n dringende bewustheid te lewe en die beste te maak van elke kosbare oomblik wat ons gegun word.  Ek moet jou waarsku dat dit nie ‘n maklike proses is nie. As dit so maklik was, sou ons nie telkens met hierdie probleem worstel nie. Op die ou end hang suksesvolle tydsbeplanning van ywer en dissipline af. (Spreuke 21:5) Soos jy sal agterkom, om gedissiplineerd te wees wat jou tyd aan betref, sal jou help om tyd beskikbaar te hê om ‘n groot bydrae aan die wêreld te maak namens ons Here en Verlosser.

Is jy gereed om die meeste te maak van die beperkte tyd wat die Here jou gegee het?