Iets Beter

In die dertiende hoofstuk van Matteus, vertel Jesus ‘n gelykenis van ‘n man wat ‘n stukkie grond vind wat hy nie kan nalaat om te koop nie. Om een of ander rede ontdek hy die stukkie grond, waarop ‘n waardevolle skat begrawe is. Toe hy die waarde herken, bêre hy weer die skat, gaan huis toe, verkoop alles wat hy besit en gaan terug om die stuk grond te koop. Die skat was meer werd as alles wat die man besit het, dus was hy bereid om alles te gee om dit te kon besit.

Na dit vertel Jesus ‘n ander storie van ‘n handelaar wat pêrels gekoop en verkoop het. Eendag het hy op ‘n pêrel afgekom wat so perfek was dat hy dit net in die hande moes kry. Hy verkoop toe alles om die pêrel te kon koop.

Hierdie twee gelykenisse was net stories wat Jesus vertel het om Sy leringe te verduidelik. Daar was egter ‘n jong man wat eenkeer na Jesus toe gekom het en gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?” Hy was nie voorbereid op Jesus se antwoord nie.

Verkoop alles wat jy het. Gee die geld vir die armes en kom dan en volg my.

Die man was hartseer en het weggeloop, want hy was baie ryk. Om alles op te gee wat jy besit, is pynlik. Jesus verwag nie van ons om ons aardse besittings op te gee as ons Sy dissipels wil word nie, maar Hy vra ons om die koste te beraam.

As jy besluit om ‘n volgeling van Christus te word, sal jou lewe verander. Jy sal sommige goed, mense, gewoontes en tyd moet opgee. Die mense wat daardie sprong gee, is soos die manne in Jesus se gelykenis — hulle sien die waarde raak in die transaksie en is gewillig om alles te gee om dit in die hande te kry.

Jim Elliot was ‘n sendeling in die vyftiger jare. Hy het gesê:

Die persoon wat alles gee wat hy nie kan behou nie, vir alles wat hy nie kan verloor nie, is nie ‘n dwaas nie.

God is bereid om jou as Sy kind aan te neem, al jou sonde te vergewe en jou toe te laat om vir ewig in die paradys te woon. Dit maak nie saak wat jy moet opgee nie — dit is ‘n goeie ruiltransaksie.

Ek besef dat ek sommige tydelike plesiertjies moet opgee as ek Jesus wil volg. Maar ek bid gereeld vir hulp om te verstaan hoeveel ek sal kan wen as ek net eenvoudig God met my lewe vertrou.

Die Gawe van Woede

Soms voel jou lewe soos ‘n stilstaande spruit. Jy voel asof jy die vreugde en geesdrif van vroeër verloor het. Jy is desperaat vir iets wat hierdie spruit van jou lewe weer kan skoonmaak. Woede kan deel van die oplossing wees.

Aanvanklik kan jy dink dat woede ‘n sondige emosie is en kan jy skuldig voel oor die woede wat jy ervaar. Maar kom ons kyk vanuit ‘n ander perspektief na woede. Die Woord identifiseer nie woede as sonde nie. Efesiërs 4:26 wys aan ons dat woede iets is wat kan lei tot sonde as ons dit toelaat om ons te beheer. Eintlik is woede die mees produktiewe emosie wat ons ervaar, wat dit juis so uitdagend maak om te beheer.

“Wanneer ons dit verkeerd aanwend, kan woede ons verhoudings vernietig.”

Maar wanneer dit reg aangewend word, kan woede die perfekte brandstof wees vir ons veerkragtigheid. Dis waar! God, wat ons na sy beeld gemaak het, het ons geskep met ‘n kapasitiet om woede te ervaar. God het ons geskep met ‘n emosie binne-in ons wat ons uit verdrukking kan lei. So, kom ons rig hierdie kragtige emosie doelgerig op wat ons ookal gevange hou, hetsy vernietigende teologie, vernietigende denke of vernietigende oorlewingsvaardighede. 

Dink daaraan: Dra jy net die gewig van jou aanvanklike lyding of ook nog die gewig van die lyding wat volg uit gevangeneskap? Om vasgevang te word is gevaarlik. Dit is nie so eenvoudig soos om pyn uit te rek nie. Deur vasgevang te wees nooi jy in der waarheid addisionele pyn in jou lewe in. Daar is ‘n prys aan verbonde. Jy word beroof wanneer jy vasgevang is. Om vasgevang te wees behoort jou kwaad te maak! 

God kan woede gebruik om die stilstaande spruit van ons lewens skoon te maak. Daarom daag ek jou uit om toepaslike woede toe te laat om momentum op te bou wat jou sal help om terug te bons uit die seer wat jou gevange hou. 

Woede kan jou help om die alombekende “Hoekom?” te vervang net ‘n nuwe en verfrissende “Wat nou?” Vra jouself: Wat moet ek doen om seker te maak dat ek hierdie storm oorleef? Wat is dit wat ek moet leer om seker te maak dat ek floreer in hierdie storm? Hoe sal ek veerkragtigheid bou? 

As jy vandag woede ervaar, gebruik dit as momentum om vry te kom!

Hoe het woede ‘n deel gevorm van jou lyding? Hoe het dit jou gehelp om verandering in jou lewe te bring? Watter veranderinge kan woede jou nou help maak?

Waaraan Hou My Siel Vas?

So paar jaar gelede het ek ‘n ondervinding gehad op ‘n vliegrit, wat ‘n diep indruk op my gemaak het. Ek was op ‘n vliegtuig in Tanzania, oppad van Bulyanhulu na North Mara. ‘n Paar minute voor ons sou land, het ons baie erge turbulensie ondervind. Dit was angswekkend. Ek was al op moeilike vlugte, maar hierdie een was op ‘n ander vlak. Die vliegtuig het met eens ongeveer 160 meter geval, en begin toe rondbons. Drankies het uitgespat, mense het geskree en selfs die personeel was paniekerig.

Die man langs my het soos ‘n belangrike sakeman gelyk. Hy het ‘n pak klere aangehad, ‘n skootrekenaar en die houding wat daarmee saamgaan. Voor ons opgestyg het was hy al besig op sy rekenaar en die manier waarna hy na my geskeurde jeans gekyk het, het my laat besef hy is nie beïndruk met my nie.

Maar binne sekondes het hierdie man van houding verander en was ‘n angsbevange ou mannetjie. Sy kneukels was wit soos hy aan die armleunings geklou het. Hy het al hoe harder geskree elke keer as die vliegtuig stamp en gesak het.

Ek kan hom nie kritiseer nie: ons almal was bang. Ek het egter al gehoor dat geen vliegtuig al ooit neergestort het as gevolg van turbulensie nie en ek het die persoon geglo wat dit vir my vertel het. Die turbulensie het begin terwyl ek besig was om vir ‘n preek voor te berei. Ek was in kontak met God. Vir dalk die enigste tyd in my lewe was ek ‘n emosioneel stabiele persoon in ‘n moeilike situasie. Toe ons uiteindelik veilig land, het die passasiers spontaan hande geklap.

Ek het dae lank nog oor die voorval nagedink.

As jy absoluut hopeloos voel, ondersoek jou siel en bedink waar jou sekuriteit vandaan kom en waarop jou hoop gevestig is. 

Die logiese manier om veilig te voel is om meer in beheer te wees. Jy moet vir elke gebeurlikheid beplan en voorsiening maak vir alle omstandighede. Dit is egter nie realisties nie. Om te beplan is nie sleg nie, maar jou eie beplanning is nie voldoende nie.

Hoekom was ek so rustig tydens die vlug? Wat het my siel help vertrou en laat ontspan in die angswekkende situasie? Dis eenvoudig: Ek het geweet dat God in beheer was van my siel. Ek het geweet my lewe was in Sy hande. My siel kon aan daardie hoop vashou, ongeag die eksterne warboel. 

In die boek van Jesaja, sê God vir Israel: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” (Jesaja 30:15)

Ons siele word gehelp as ons op God vertrou en nie op ander dinge nie. Dan ondervind ons ware rus, redding en krag.

Dit beteken nie dat ons gedagtes en emosies nooit sal wissel nie. Hulle sal. Ek sal dalk nie weer so emosioneel stabiel wees in ‘n soortgelyke situasie nie. Maar ten spyte van eksterne warboel, kan ons siele rustig wees. Ons siele vind hulp en krag in God.

Dink dalk hieroor:

Hoe voel jy en reageer jy as ‘n situasie buite jou beheer is?

Hoe maklik vertrou jy op God? Is dit party kere moeiliker?

Hoekom is jy rustig as jy weet God is in beheer in vergelyking met jou eie pogings om in beheer te probeer wees?

Aannames wat jou op ’n dwaalspoor hou

As. Daardie klein woordjie van voorwaardelikheid. Nie wanneer nie, as. So asof daar ’n skrale moontlikheid is, maar jy het geen beheer oor die uitkoms nie. Jy is vasgevang. Uitgelewer. Magteloos.

Of is jy? “As” kan inperking sowel as hoop bevat. “As ek . . .” kan die weg uit ’n slegte situasie wys en jou toerus om die regte stappe na ’n voluit-lewe te neem. Dit kan jou motiveer om daardie stappe een vir een uit te voer. Sonder twyfel. Gefokus en opgewonde. Die voorwaardelikheid van so ’n “as” is dus gelaai met energie en momentum – ’n “Hier kom ek wêreld!”-momentum.

Die teendeel is egter ook waar: Jou gedagtes oor wat jou te doen staan, kan jou ook vasgevang hou in ’n ongesonde, ongelukkige situasie. Die dinge wat jy dink jy moet doen om jou situasie te verbeter, lei juis nié tot groei en vooruitgang nie. Inteendeel, dit werk eerder soos ’n handrem op jou persoonlike lewensvoertuig.

Jy doen wat die samelewing, jou kultuur en jou medemens vir jou sê. Maar jy kry dit net nie reg om jou situasie te verander nie.

  • Beteken dit dat jy uitgelewer is?
  • Is jy gedoem tot die plek waar jy jou nou bevind?

Glad nie. Dit beteken egter dat jy die voorwaardes wat jy aan jouself stel, eerlik moet ondersoek vir wat hulle is. Jy moet jou voorwaardelike “asse” met God se waarheid vergelyk. Eers dan sal jy ’n nuwe, bevrydende rigting kan inslaan. Dan kan jy moed skep en met hoop begin lewe. Wanneer jy God se waarheid begin toepas in jou lewe, word jy ontvanklik vir vars kennis en insig. Jy kan by die bestemming kom wat God vir jou bedoel het en waarvoor Hy jou gemaak het.