Oproep tot Wysheid

Hier is wysheid nodig.” (Openbaring 13:18a) Wysheid word meer benodig as wat ons besef. Wysheid sny deur emosies tot by die realiteit van die situasie.

  • “Wat is die wyse ding om te doen?” is ‘n doeltreffende vraag in besluitneming.
  • “Wat is die beste vir die onderneming?” is ‘n wyse vraag om te vra wanneer dit gaan oor besigheid of die bediening.

Talle male praat God deur geld, of deur die gebrek aan geld. Wanneer geld skaars is, moet ons uiters wys wees in ons besteding daarvan. Wysheid sê om te sny aan uitgawes en om nie addisionele kostes aan te gaan nie. Hier gaan dit nie oor ‘n gebrek aan geloof nie. Dit het te doen met die feit dat jy ‘n wyse rentmeester moet wees oor dit wat jy het, sodat meer aan jou toevertrou kan word. Wyse rentmeesterskap trek vrygewige gewers aan.

Die wyse perspon is nie ongeduldig of desperaat nie.

Wysheid staan ‘n tree terug en evalueer ‘n situasie deeglik voordat dit voortgaan. Soek jy gereeld wysheid? Kennis en ondervinding, vermeng met logika en onderskeidingsvermoë, is ‘n goeie resep vir wysheid. Wysheid is die soeke na die begrip oor God se perspektief van sake. Dit is waarom die wysheid wat in God se Woord gevind word, so relevant is vir die lewe.

Die Bybel is ‘n skatkis vol wysheid wat wag om deur die wyse skattejagter ontgin te word. Moet dus nie net die Bybel lees, daaroor mediteer en bid nie, maar soek na die wyse persone. (Matteus 12:42)  Soek na mense met grys hare, mense wat wyse gedrag toon. Die wyse sal jou help om die idees oor wysheid wat jy begin verstaan in jou bestudering van die Skrif, te bekragtig. Lees boeke en luister na boodskappe van wyse manne en vroue. As jy lank genoeg met wysheid omgaan, sal dit op jou begin afvryf. Gryp elke geleentheid aan om vir wysheid te vra. Wees wys in jou verhoudings. Wees wys met jou geld en jou tyd. Voor jy dit besef, sal jou wysheid ander aantrek wat dieselfde wil hê wat jy het.

Bowendien is die kroonjuweel van die verkryging van wysheid die dien van die Here.

“Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (Spreuke 1:7) Ontsag vir God plaas jou in ‘n posisie om wysheid te ontvang. Wanneer jy geen ontsag vir God het nie, het jy geen wysheid nie. Geen wonder dat ons wêreld gevul is met dwase nie. Ons het ons ontsag vir God verloor en daarom ontwyk wysheid ons. Ontsag vir God is ‘n broeikas vir wysheid. God gee wysheid aan dié wat Hom vrees.

Wees lief vir God, maar vrees Hom. Loof God, maar vrees Hom. Leer by God, maar vrees Hom. Dien God, maar vrees Hom.

Jy is geregtig op wysheid as jy God vrees. Moenie so gewoond aan God raak dat jy jou vrees vir Hom verloor nie. Dit is onwys en lei tot dwaasheid. Wysheid wag vir jou om dit te kom oes. Pluk dit en geniet dit, soos ryp, sappige vrugte op ‘n warm somersdag. Proe en sien dat wysheid goed is. Niemand het nog ooit gekla dat hulle té veel wysheid het nie. Vra gereeld vir wysheid. Soek na die wyses en vra hulle en God vir wysheid.

Dit is die wyse ding om te doen.

Wees wie jy is

Ek kan nie kitaar speel nie, Ek kan ook nie grappe vertel nie; ek kan dit nie eers onthou nie. Jy sal my elke keer kan vang met die punch line. Ek is nogal skaam en hou glad nie daarvan as iemand my op die spot plaas nie. Ek is ’n “pliggie” met ’n oordrewe pligsbesef, geweldig verantwoordelik. Ek kan nogal vervelig wees, maar ek is optimisties, passievol en goedgelowig.

Ek glo regtig die beste van mense!

Ek het deur die jare gevind ek gesels die beste met die Here deur Sy Woord te bestudeer en my gedagtes neer te skryf. Ek is baie lief vir musiek wat my help om my gedagtes te rig op hoe groot God is in vergelyking met my klein wêreldjie se detail. Dis wie ek is. Ek het ook ’n redelike idee wie ek nie is nie, maar durf myself nie inboks nie, want ek glo niks is vir God onmoontlik nie. As Hy mense stuur vir ’n sekere taak, sal Hy hulle ook bekwaam daarvoor.

Is dit nie ’n bietjie wintie om sommer so te sê wie jy is of waarin jy goed is nie?

Ek het lank so gedink, tot ek besef het: Ek het nie myself so gemaak nie – God het, en wat ek het, is vir my gegee om Hom te verheerlik en die mense om my te dien met my beste. Dit beteken ek moet tog weet wat is my beste.

Wanneer Paulus die gemeente van Korinte leer oor die gawes van die Gees, sê hy: “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal”  1 Kor 12:7

Dit word eintlik vir jou gegee vir die mense om jou se onthalwe. Maar as jy nie weet wat hierdie spesiale gawes is nie, hoe sal jy ander daarmee kan dien? 

Dit gaan nie oor my nie!

Ek is gebore om God te verheerlik! Soos wat ek is wie God my gemaak het om te wees, gee ek eintlik vir ander ook die ruimte en vrymoedigheid om te wees wie God hulle gemaak het om te wees. 

Aanvaar en wees regtig lief vir hierdie mens wat God jou gemaak het om te wees. Woeker en werk om die beste jy te wees wat jy kan wees. En doen dit alles tot God se verheerliking en tot opbou en voordeel van die mense om jou. 

Bitterheid maak jou doof.

Bitterheid teenoor God verhinder jou om Sy stem te hoor. Wanneer bitterheid ookal probeer om ‘n houvas op jou te kry, weier dit. Baie keer probeer die duiwel ons laat dink dat ons die enigste een is wat deur ‘n moeilike tyd gaan. Ek wil nie onsimpatiek klink nie, maar hoe erg ons probleme ookal is, iemand anders het altyd ‘n erger probleem.

‘n Vrou het vir my gewerk wie se man haar na nege en dertig jaar se getroude lewe verlaat het. Hy het eenvoudig vir haar ‘n nota gelos en is weg. Dit was ‘n tragedie vir haar! Ek was so trots op haar toe sy na ‘n paar weke vir my sê: ” Pieter, bid asseblief vir my dat ek nie kwaad word vir God nie. Satan versoek my baie ernstig om kwaad te word vir Hom. Ek kan nie kwaad word vir God nie. Hy is die enigste Vriend wat ek het. Ek het Hom nodig!”

Bitterheid wou wortel skiet in die hart van die tannie, omdat haar lewe nie geword het wat sy gehoop het nie. Wanneer ons seerkry, moet ons onthou dat elke mens ‘n vrye wil het en dat ons nie daardie vrye wil kan beheer nie – selfs nie deur gebed nie. Ons kan bid dat God sal praat met die mense wat ons seermaak; ons kan Hom vra om hulle te lei om die regte ding te doen in plaas van die verkeerde, maar die uiteinde is dat Hy hulle moet toelaat om hul eie keuses te maak.

As iemand ‘n keuse maak wat ons seermaak, behoort ons God nie daarvoor te blameer en bitter te word teenoor Hom nie.

God se Woord vir jou vandag: As jy seerkry, moenie God ooit blameer nie. Hy is die beste Vriend wat jy het.

Waarheid maak vry

Ons leef in ’n land waar ons soveel vryheid van regte en spraak en godsdiens het, en tog leef meer mense as slawe in ’n tronk as wat die korrektiewe dienste se statistieke vir ons sou weergee. 

Vryheid is nie beperk tot ’n plek of omstandighede nie.

Paulus was vasgeketting en geboei in ’n fisiese tronk, maar hy was vry. Ander mense leef weer gemaklike lewens in gemaklike huise en werke, en tog is hulle die slawe van bitterheid, gejaagdheid, geketting en geboei aan materialisme en perfeksionisme.

Die grootste vonnis is nie tronkstraf agter tralies nie, maar ’n lewe en ’n ewigheid sonder Jesus.

Waarheid en vryheid gaan saam soos Oros en water. En Jesus verduidelik dit vir ’n groepie geleerde Jode. Hy sê in Johannes 8:31-32: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.”

Bly getrou aan Jesus se woorde, leef in noue verbintenis met Jesus se boodskap. Dan sal jy die waarheid ken en hierdie waarheid sal jou vrymaak, dit sal jou maak wat jy bedoel is om te wees – vry!

Waarheid is ’n Persoon, Jesus Christus. Vryheid kom deur geloof in Hom en ’n verhouding met Hom waar ek ontdek en meer en meer die mens word wat God my gemaak het om te wees.

Dit is alles waarheid wat jou kan vrymaak van bitterheid en geldgierigheid en uitbranding, maar die waarheid moet eers toegepas en geleef en gedoen word voordat dit jou kan vrymaak. Mark Twain het gesê: “The truth will set you free, but first it will make you miserable.” 

Jy weet jy moet iets gaan doen wat nie altyd so lekker en maklik is om te doen nie, maar jy doen dit om vry te kom en vry te leef soos God bedoel het jy moet leef. En dan die bevestiging in Jakobus 1:25: “Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.”

Die Sprokies leer ons

Daar is iets te leer uit die vrolike fantasieë en sprokieswêreld van onder andere Aspoestertjie, die drie varkies of Hansie en Grietjie. 

Aspoestertjie se stiefsuster wou met alle geweld die fyn glashakskoentjie aan haar vet voet forseer terwyl sy eintlik bedoel was vir die gemaklike “gumboot” en praktiese plaasstewel. So is daar ’n paar skoene of stewels vir elkeen van ons om vol te staan sonder om onsself moeg te maak oor ’n ander sussie se vervelige teepartytjies saam met die staatshoofde in ongemaklike hoë hakke en stywe snyerspakkies.

Die drie varkies se huisie van strooi kon geen weerstand bied teen die nare ou wolf se geraas en geblaas nie. Soms kry ’n mens egter ’n tweede en selfs ’n derde kans om te leer wat wél werk en hoe slim spanwerk die wolf op die ou end kan uitoorlê. Waarmee bou ek en my span ons huis om die wolf en wind uit en my mense veilig te hou? ’n Huis op die rots en met die regte fondament?

Hansie en Grietjie het hulle pad huis toe met broodkrummeltjies probeer vaslê. Die voëls het dit sommer vinnig opgevreet en so het hulle diep in die bos verdwaal. So leer ek by hierdie boetie en sussie om iets meer solied en stewig neer te lê om ons en ons kinders op koers te hou in hierdie reis na ons eintlike huis. 

Is my bakens waarmee ek ons gesin se koers aandui, duidelik sigbaar en stewig genoeg om die toets van tyd te deurstaan?

Het jy ook die lewenslesse uit jou kinderdae-stories so ’n bietjie verwaarloos? (Herhaling werk blykbaar goed met kinders én grootmense wat wil glo soos kinders.) 

Geniet weer vandag die pragtige deel wat vir jou afgemeet is en staan jou eie skoene vol. Bou weer jou huis stewig op rots en sit die regte bakens neer om jou op koers te hou. En reageer (dalk vir die eerste keer) op die uitnodiging om nader te kom om beter te sien en te hoor, te besef met Wie jy te doen het, en laat hierdie ontmoeting jou lewe inspireer tot beweging! 

Jou KEUSE!

Ek glo lewe is in God se hande. God skep lewe, Jesus het betaal met Sy lewe sodat ons lewe in oorvloed kan hê, maar dit beteken nie ons hét lewe nie. Ons moet lewe kies:

Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders” (Deut 30:19).

Ek moet erken – hierdie keuse klink tog ’n bietjie vreemd.

Ek het mos lewe, ek kies nie lewe nie, of hoe? Ek leer egter uit God se woorde ons het asem en ons het geleende tyd, maar lewe lê in hierdie keuse wat elkeen van ons vir onsself moet maak, elke dag en elke jaar wat tot ons lewe gevoeg word. Die keuse en wat dit behels, word as volg omskryf in Deuteronomium 30:20: “Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe! Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee.”

Het jy al gekies? Het jy gekies om God lief te hê met ’n liefde wat uit jou hart en siel en met al jou krag en verstand kom; gekies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen? God weet verseker beter, maar Hy gee ons steeds die keuse.

Het jy al gekies om gehoorsaam te wees en Hom gekies as die middelpunt van jou bestaan en die rede hoekom jy lewe?

Vir nog ’n dag en vir nog ’n lewensjaar kies ek om te lewe asof my lewe van Jesus afhang, want dit ís so! 

Een lewe. Een kans. JOU keuse! 

Pak die bul by die horings!

Ons wens dikwels die lewe se rowwe tye was soos ’n “mechanical bull”. Wanneer jy so ’n bul ry, ruk hy jou so ’n paar keer rond terwyl jy kyk hoe lank jy kan vashou, en almal lag hulle slap. Jy weet iemand gaan enige oomblik die stop-knoppie druk sodat die volgende ou ’n beurt kan kry, en as jy afval, is dit op sagte spons reg rondom die speel-speel bul.

Maar in die regte lewe is ons eerder in ’n arena met ’n kwaai gedierte wat aanhoudend op ons afstorm. Ek was nie heeltemal voorbereid daarop nie. Ek het nie die tawwe tye verwag nie!

Die Lewe is moeilik!

Scott Peck skryf in sy boek THE ROAD LESS TRAVELLED: Die lewe is moeilik. Die lewe is eintlik een lang probleem wat opgelos moet word. As ons dit net eers verstaan en aanvaar, is die lewe nie meer moeilik nie. Wat die lewe moeilik maak, is die proses om hierdie probleme te konfronteer en op te los. Die lewe kry betekenis soos ons probleme teëkom en oplos, want probleme roep ons dapperheid en wysheid na vore. Dít is hoe ons groei en leer. Scott Peck sê “dit sodat ons realisties kan wees, want as jy probleme begin sien as ’n geleentheid en soms selfs as ’n geskenk, dan gryp jy dit aan en jy gebruik dit!”

Hou vas aan Paulus se woorde in Romeine 5:3-5: “Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde.”

Ek kan nie vir ewig die bul probeer “side step” en dink hy gaan nie weer terugkom nie. Pak die bul by die horings – gryp die groeigeleentheid met al twee hande aan. Spring op sy rug en ry hom tot sy gô uit is!