Verhoudings

Die Apostel Paulus, wat verantwoordelik is vir die skryf van die grootste gedeelte van die Nuwe Testament, het van die mees dramatiese lewensveranderinge in die Bybel ervaar. Hierdie verandering in sy lewe was so buitengewoon, dat selfs sy naam van Saulus na Paulus verander het. 

Saulus het die Christene gehaat en wou hulle doodmaak. Paulus het die Christene vir die res van sy lewe liefgehad. Saulus het Jesus se volgelinge verag en rondgereis om hulle te vervolg. Paulus het vir Jesus op die pad ontmoet en rondgereis om Hom aan mense bekend te stel. Saulus het tyd met godsdienstige mense deurgebring om sodoende sy pad na God toe oop te werk. Paulus het sy tyd by gebroke mense deurgebring, terwyl hy God toegelaat het om deur hom te werk.

As jy wil verander wie jy is, sal jy moet verander saam met wie jy is. 

Eers het Paulus vir Jesus ontmoet, wat hom die lig gewys het. Daarna ontmoet hy vir Ananias, wat hom gehelp het om nuwe krag en sy sig (letterlik) te herwin. Daarna ontmoet hy vir Barnabas, wat vir Paulus in die bresse getree en aan die kerkleiers voorgestel het, toe hulle vir hom bang was. Die lys gaan aan en aan en vandag word Paulus waarskynlik as een van die mees doeltreffende leiers in die geskiedenis gereken. 

Net soos Paulus, mag jy dalk naby die verhouding wees wat die beloop van jou lotsbestemming gaan verander. Wanneer jy tyd saam met ander deurbring, moenie net reageer op die mense wat na jou vra nie. Bring tyd deur met veeleisende mense, dié wat jou onder druk plaas en selfs hulle wat jou verwar. 

Leer by Paulus en knoop ‘n gesprek aan met iemand wat jy kritiseer.

Ons beoordeel dikwels dit wat ons nie verstaan nie. Moenie net gesprekke aanknoop met mense van jou ouderdom, in jou beroepsveld, of dié met soortgelyke ervarings nie. Voel jy vasgeval? Soek iemand wat ‘n paar treë voor jou is. As jy 30 is, maak vriende met ‘n 40-jarige en vra hulle hoe verskillend hulle nou oor dinge dink teenoor die tyd toe hulle 30 was. 

Wees voorbereid om baie te luister, belangrike vrae te vra, en goeie voorbeelde te volg. Moenie net na-aap wat ander doen nie, maar leer hoe hulle dink. 

Laastens: indien jy nog nie ‘n verhouding met Jesus begin het nie, mag jy naby ‘n verhouding wees wat die beloop van jou lotsbestemming gaan verander. Ek weet dis wat met my gebeur het. Die laaste Skrifgedeelte van vandag se oordenking is die Apostel Paulus se beskrywing van hoe dit kan wees. 

Gesels met God: God, U weet wie U my gemaak het om te wees. Kan U my help om te verstaan met wie ek moet vriende maak? Gee my die wysheid en krag om die regte verhoudings aan te knoop.

Aanbidding Sirkel

Aanbidding is iets persoonlik, maar ook iets wat ons saam doen.

Met ander woorde, ons reaksies van aanbidding tot God is persoonlik sowel as gesamentlik. En elke soort reaksie is verweef met die ander. Deur Christus is ons verhouding met God herstel en in Hom is ons ook met mekaar verbind. Elkeen van ons speel ‘n unieke rol.

Ek praat nie van georganiseerde godsdiens nie, maar van die organisasie wat ons kerk noem. As jy in God glo, het Hy jou deel gemaak van Sy liggaam, Sy mense. ‘n Deel van jou aanbidding is om kontak te maak met ander gelowiges rondom jou.

Die belangrikste doel van die kerk (God se mense) is aanbidding.

In sy kern, bestaan die kerk om God te verheerlik. Sonder jou lewe en stem, funksioneer die liggaam onvolledig.

Maar selfs in die gesamentlike omgewing, begin aanbidding nie met ‘n groepsaktiwieit nie. Dit begin met jou individuele reaksie op dit wat God oor Homself aan ons geopenbaar het. Die reaksie gebeur nie net een keer ‘n week nie…dit gebeur dag na dag.

Ons is nie ontwerp om volgens ‘n weeklikse aanbidddingsirkel op te tree nie, maar op ‘n oomblik-tot-oomblik verbintenis van persoonlike aanbidding, wat net so deel van ons lewe is as die lug wat ons inasem.

Wanneer ons met ander gelowiges saamkom om te aanbid, doen ons dit met dieselfde mate van fokus wat ons elke dag gehad het. Ons doen dit met dieselfde vasberade toewyding.

Vir die grootste deel van my lewe het ek gedink dat jy kerk toe gaan om te aanbid, maar nou besef ek dat dit beter is om aanbiddend kerk toe te gaan.

Wat sou gebeur as ons aanbiddend kerk toe sou kom, ons sal reeds bewus wees van God teenwoordigheid, selfs nog voor ons by die deur kom? Wel, een ding is vir seker; dat die aanbiddingsleier se werk baie makliker sou wees! En die intensiteit van ons gesamentlike offergawe sou die beste wees.

Kan jy dit sien?

Al ons persoonlike aanbiddingstroompies vloei ineen tot een bruisende rivier. Een magtige loflied. ‘n Pragtige mosaïk, wat ‘n selfs groter verhaal vertel van wie God is en wat Hy gedoen het.

Mense verlaat so ‘n byeenkoms, geïnspireer om Hom te soek soos nooit te vore nie. En hulle kom weer terug en bring aanbidding saam met hulle en begin die sirkel so weer van voor af. 

Die aanbiddingsirkel is voltooi. ‘n Volledige sirkel.

  • Iets om bietjie oor te dink:
  • Waarom sou God aanbidding ontwerp het om persoonlik sowel as gesamentlik te wees?
  • Hoe versterk die een die ander?

Stille Moordenaar

Twyfel is ‘n moeilike en misrabele plek om te wees… en stadigaan vernietig dit ons gemeenskap met God.

Geestelik is twyfel ‘n ”stille moordenaar” van ons siel. Daar is vele punte van oorsprong vir twyfel. Dit kan ‘n verwerkings meganisme wees in ‘n situasie wat te moeilik is om te hanteer… ’n desperate uitroep om hulp na ‘n baie slegte ondervinding… of ‘n arrogante houding van trots wat glo dat God meer aan ons verskuldig is.

Ons kan twyfel dat God werklik in ons lewens wil werk of dat Hy ons wil bystaan in die moeilike omstandighede waarin ons onsself mag bevind… wie is ons in elk geval in vergelyking met God? En wat van die tye waar ons bygedra het tot ons moeilike omstandighede deur onwyse besluite wat ons in die verlede geneem het?

Los God ons maar om vasgevang te wees in die gevolge, sonder enige genade of vergifnis? Glad nie.

Dit is verstaanbaar dat mens na ‘n verskriklike verlies gevoelens van twyfel sal ervaar. Dit neem tyd om tot terme te kom met ‘n situasie wat jou hart gebreek het of wat ‘n enorme impak op jou lewe gehad het. Wat van die moeilike omstandighede waarin ons ‘n onregverdige verlies gely het, sonder dat ons enige iets daarmee te doen gehad het?

Dit is verstaanbaar dat mens na ‘n verskriklike verlies gevoelens van twyfel sal ervaar.

Dit neem tyd om tot terme te kom met ‘n situasie wat jou hart gebreek het of wat ‘n enorme impak op jou lewe gehad het. God werk in… en deur… elke situasie wat ons in die gesig mag staar. Niks kan vir God verras nie. Hy kan enige omstandigheid gebruik om ten goede vir ons mee te werk. Telke male wys Hy Sy genade as Hy ons toelaat om ander te help wat later soortgelyke harseer of verlies ervaar.

God vermors nooit ‘n beproewing, hartseer of seer nie… solank as wat ons ons hartseer en twyfel ten volle aan Hom oorgee. Ek het in God getwyfel na ‘n tragiese, hartverskeurende gebeurtenis in my lewe plaasgevind het. Ek kon nie begryp waarom dit toegelaat is om te gebeur nie. Twyfel het aan my geknaag en my omvou. Eers jare later het ek die doel verstaan van dit wat God toegelaat het om met my te gebeur.

In omstandighede waarin slegte dinge met ons gebeur is God so geduldig met ons.

Hy weet dat dit ‘n prys van ons gaan vra… en Hy is die antwoord op die heropbou van ons hoop en geloof. Wanneer jy by Hom skuil is Hy getrou om jou deur jou twyfel te lei sodat jy kan terugkeer na ‘n plek van volkome vertroue. In die tye wanneer ons self-versadig is en ontsteld is omdat God nie presies doen wat ons dink die beste is nie, glo ek dit is ‘n direkte uitdaging aan God. 

Ons wil hê wat ons wil hê… en is ontsteld as God nie inval by ons planne nie. Hierdie tipe twyfel is dodelik vir ons verhouding met God… en dit het telke male ook ‘n effek op ons ander verhoudings. In sulke tye moet ons onsself vinnig verootmoedig en berou toon.

Dit is belangrik om te verstaan dat God ‘n plan het met elke situasie of hartseer wat ons ervaar of waar deur ons moet gaan.

As God ons toelaat om deur ‘n situasie te gaan wat ons laat twyfel, of wat voel asof dit ons heeltemal tot breekpunt strek, kan ons vertrou dat Hy planne het om die wyses waarin Hy ons in die toekoms tot Sy eer kan gebruik te vermeerder. Dit is nooit lekker om deur moeilike lewensomstandighede te gaan nie. Hierdie moeilike tye voel soms soos ‘n uitklophou.

Lewensuitdagings kan ons versoek om verbitterd teenoor God te raak.
Ons moet die waarheid dat God werklik net die beste vir ons wil hê, besef en omhels.

Twyfel poog om ons weg te lei van God se beste af.

God sien die “groter prentjie” wat ons nie kan sien nie. Wanneer twyfel jou probeer verlei, sien dit as ‘n teken dat dit tyd is vir ‘n opregte hart-tot-hart gesprek met God. Hy laat werklikwaar elke situasie waarteen ons te staan kom uitwerk tot die beste.

Vra vandag vir God om totale beheer van jou lewe oor te neem. Gee “jou” totaal oor aan Hom. Stort jou hart voor Hom uit… deel met Hom al jou twyfel, seer, bekommernisse, teleurstellings, vrees en mislukkings. Vra Hom om vir jou wysheid te gee en om jou te help om die groter doel agter jou twyfel en omstandighede raak te sien.

Vra Hom om enige bitterheid in jou hart, teenoor Hom, ander of enige situasie weg te neem. Vertel vir Hom dat jy graag jou twyfel wil bely en dat jy Hom van vandag af wil begin vertrou. 

God het ‘n wonderlike hart gevul met liefde en genade vir jou!

wat doen ons?

Wonder jy ooit of jy die regte ding doen? Of jy regtig is waar God jou wil hê? Of daar iets meer of anders of beter of groter is vir jou? Of dalk wonder jy of die koste van jou roeping die oomblikke werd is wanneer jy verlore voel.

Soveel oomblikke in die lewe voel of ons in ‘n kamer is waar al die ligte af is en ons struikel om ‘n ligskakelaar, ‘n kers of ‘n flitslig te vind om ons treë te rig. In daardie oomblikke moet jy God vertrou. Gryp Sy uitgestrekte hand styf vas en glo dat Hy jou veilig na die volgende deur gaan lei wat Hy vir jou gereed gemaak het.

Die duisternis hoef nie vreesaanjaend te wees as ons met die Lig van die Wêreld kan loop nie.

Maar die vrae wat jy jouself afvra, is normaal. Jou vrese en bekommernisse behoort jou nie skaam te laat voel nie. As ons almal saam kon sit om oor ons werk, ons passies en ons geloof te praat, sou ek verbaas wees as iemand sê hulle lewe het presies uitgewerk soos hulle beplan het. Wat sal jy aan ‘n vriend by die tafel sê wat daardie vrae gehad het? Sou jy vir hom sê hy is reg, en dat hy waarskynlik net moet handdoek ingooi? Ek hoop nie so nie.

Ons sal hom liefhê en saam met hom bid. Ons sal hom aanmoedig en maniere vind om hom te vertel dat dit wat hy doen goed en waardig en waardevol is. En as hy in sy gees weet dat dit is waar God hom in hierdie seisoen wil hê, is dit nie ‘n fout nie.

Ek sal jou vertel hoe sterk ek glo dat God in die gewoonte is om die nederige te neem en dit heilig te maak en dat gehoorsaamheid, (nie grootte, roem of erkenning nie), belangrik is vir die impak wat ons deur ons koninkrykwerk maak.

God is getrou in alles wat Hy doen.

Waar jy is, wat jy doen, en die mense naaste aan jou, wat God jou gevra het om te dien, is nie ‘n fout nie. Die uitdagings, teleurstellings en mislukkings is nie ‘n fout nie.

God sal elke stukkie van ons verhaal gebruik tot Sy glorie.

Die groot moeilikheidmaker

Jakobus 3:7-8

Ek hou van Jakobus se grafiese beskrywing. Hy sê basies in hierdie verse dat die wildste dier getem kan word, maar dat geen mens dit kan regkry om die tong te tem nie. Iemand soos ek, wat geneig is om eers te praat en dan te dink, is maar alte pynlik bewus van hierdie waarheid. 

Die tong mag nou wel ‘n klein liggaamsdeeltjie wees, maar dit het groot mag. Dit word vergelyk met ‘n verterende vuur met die mag om te verwoes. Dis ‘n groot moeilikheidmaker. ‘n Brand kan met ‘n klein vonkie begin, maar dit kan groei en groot gebiede verwoes. Selfs ons klein, onbedoelde woordjies het die mag om ‘n vuur aan te steek. Besef jy wat die probleem hier is? As ‘n vuur eers begin het, kan ons dit nie beheer nie. Ons het geen idee hoeveel land gaan brand nie. 

Kom ons doen alles in ons vermoë om die woorde wat uit ons mond kom, te beheer. Om versigtig met ons woorde om te gaan, is ‘n liefdesdaad teenoor die mense wat na ons luister.  

O Here, ek wil U eer met elke enkele woord wat uit my mond kom. Help my om my tong te beheer. Beheer alles wat ek dink en sê en laat my nie toe om met my woorde te sondig nie. In Jesus se naam, amen. 

Twyfel jy dat God…

Twyfel is ‘n baie ongewilde woord in die Christen gemeenskap. Die meeste Christene sal bang wees om enige vorm van twyfel te erken, omdat hulle skuldig voel dat hulle enigsins twyfel ervaar en ook uit vrees vir die oordeel van ander.

Wanneer twyfel sy kop begin uitseek, kan baie dit sien as ‘n gebrek aan geloof… of ‘n gebrek aan vertroue in God en Sy Woord… daarom sukkel hulle maar in stilte voort. In hierdie stil-sukkel kan dit gebeur dat hulle lusteloos raak in hulle wandel met God. Dit is noodsaaklik om te weet hoe om ons twyfel te hanteer, sodat ons die ryke verhouding met God tot die uiterste van ons vermoë kan ervaar.

Dink diep na oor die twyfel wat jy vandag ervaar.

Twyfel jy dat God:
Jou gebroke hart kan heel… jou huwelik kan red… jou finansieël kan help… jou kan vergewe… jou ten volle kan aanvaar… jou gebroke siel kan herstel… kan werk in die lewe van ‘n rebelse eggenoot of kind… kan voorsien… kan werk in enige ander situasie wat besig is om jou binnekant uitmekaar te skeur?

Ek het in sommige situasies oor God getwyfel… en ek het toe nie eens besef dat ek dit doen nie. Daar is baie redes vir ons twyfel. Baie twyfel dat God omgee. Maar het jy geweet dat God werklik vanuit die Hemel afbuig om ons gebede, ons hartseer, ons besorgdhede en selfs ons vrae, te hoor? God is so goed! Hy het nie nodig om af te buig om ons te hoor nie, maar in Sy groot liefde kies Hy gewilliglik om dit te doen. Het jy geweet dat God elke traan wat jy al ooit gestort het bymekaar gemaak het en dat Hy elke hartseer wat jy al ooit ervaar het opgeskryf het?

God gee werklik opreg om oor elke hartseer en oor elke opregte vraag of versoek wat ons het.

Hy gee om vir elkeen van ons in elke situasie waarvoor ons te staan kom… verlede, hede en toekoms. As jou verhouding met God afgesaag voel, kan twyfel die oortreder wees. Wonder jy oor hoe God ‘n twyfelaar behandel?

In Sy Woord wys God vir ons ‘n voorbeeld van liefdevolle genade aan die mees bekende twyfelaar, Thomas. Dink vandag ernstig oor jou twyfel en noem dit wat dit is. Vra God om enige twyfel wat jy in jou hart mag hou aan jou te ontbloot. Wees absoluut eerlik en deursigtig. Die antwoord(e) wat God aan jou openbaar, mag jou verras. Kies vandag, soos Thomas, om jou twyfel na God toe te neem en dit in Sy hande te plaas. Hy weet reeds wat in jou hart is, so wees eerlik. Die beloning is waarlik waar ‘n nouer verhouding met Hom!

Omring met…

Selfs al maak ons net een keer die keuse om ons werk as ‘n offer te sien aan die Een wat ons geroep het, lewe ons nog in ‘n wêreld wat die heeltyd ons keuse bevraagteken. Indien ons ons skeppende talente tot die eer van God wil gebruik, in plaas daarvan dat dit vir ons eie roem en rykdom is, moet ons, soos die apostel Paulus sê: “…moet nie aan die wêreld gelyk word nie, maar laat julle gedagtes vernuwe word.” Maar hoe DOEN ons dit? Soos J.R.R. Tolkien ons gewys het, is die gemeenskap van medegelowiges uiters noodsaaklik.

Enige Tolkien aanhanger weet dat bome die skrywer gefassineer het. Een oggend het Tolkien wakker geword, net om uit te vind dat sy buurman een van die bome buite sy huis sonder enige rede afgekap het. Tolkien was baie hartseer, want vir hom was die lot van die boom dieselfde as wat hy vir sy “innerlike boom” The Lord of the Rings, gevrees het. Tolkien het dekades daaraan spandeer om die boek die toppunt van sy loopbaan te maak, maar toe die Tweede Wêreldoorlog Europa bereik, was sy vordering merkwaardig stadiger as wat hy gehoop het. Hy het gevrees dat sy lewenstaak ook skielik beëindig sou word, net soos die boom s’n, met die inname van Brittanje op hande. 

Gelukkig vir hom, was hy omring met ‘n gemeenskap van ander Christene om hom te help om sy gedagtes te hernu en sy ewige perspektief te behou. Hierdie groep vriende, wat as “die Inklings,” bekend gestaan het, was manne wat Tolkien se liefde vir die Here en literatuur gedeel het, en onder hulle was C.S. Lewis. Vir twee dekades het die groep op verskillende tye bymekaar gekom by die Oxford kroeg, “The Eagle and Child”, wat mens vandag nog kan besoek. Ons weet dat Tolkien by een van hierdie samekomste die afgekapte boom vermeld het en die vrees dat “The Lord of the Rings ‘n soortgelyke lot sou tref. 

Dit was die “Inklings” wat hom aangemoedig het om met sy werk voort te gaan en hom herinner het dat, al sou hy nie sy “magnum opus” kon voltooi nie, sou sy getrouheid aan God se roeping om iets te skep, ewige waarde behou. Ons ken seker almal die res van die storie: Tolkien het aangehou skryf met die ewige perspektief in gedagte, en The Lord of the Rings het een van die treffer romans van alle tye geword. 

Sonder gereelde kontak met ander gelowiges, om sy ewige perspektief te behou, sou Tolkien dalk nooit [The Lord of the Rings] voltooi het nie, en C.S. Lewis dalk ook nooit [The Chronicles of Narnia] nie. Terwyl ons besig is om dinge in hierdie wêreld te skep, is dit nodig dat ons gereeld tyd saam met broers en susters in die geloof spandeer, wat ons gedagtes op ‘n gereelde basis kan help vernuwe en ons “oë gevestig hou, nie op die siende nie, maar op die onsiende dinge”. (2 Korintiërs 4:18)

Rut

Ek het Rut se storie in die Bybel al tientalle kere vantevore gelees, maar een Sondag het ek iets onverwags opgemerk. Rut het nie net die nodige gedoen om te oorleef nie. Sy het dit na gejaag. Sy het hard gewerk, met respek gewerk, gerus wanneer dit nodig was, en die werk afgehandel wat sy moes doen. Sy het van vroeg môre tot die aand toe gewerk en 13 kg se koringare opgetel om haar gesin te help. Rut het opgedaag vir werk, en God het ‘n plan d.m.v. haar lewe uitgewerk wat sou lei tot haar huwelik met Boas en haar plek in die stamboom van Jesus.

Dit is heilige gejaagdheid.

Rut was nie gemotiveer deur gewildheid of erkenning nie. Om koringare bymekaar te maak was harde werk. Dit was nie spoggerig of beroemd of indrukwekkend nie. Dit was vernederend. Rut se werk het betekenis en ‘n doel gehad, en ek glo ons s’n ook. 

  • Wat sou gebeur het as Rut in die huisie wat sy met Naomi gedeel het, rondgekyk en meer gefokus het op wat hulle ontbreek het as wat sy kon bied?
  • Wat as Rut uitgegaan het om werk te soek wat haar belangrik sou maak in plaas daarvan om die werk te doen wat haar presies wou plaas waar God haar wou hê?
  • Sy kon die oes heeltemal mis, sowel as die seëninge wat God haar wou gee toe Hy haar gesin verlos het.

Dit kan moeilik wees om uit te gaan en die harde werk te doen wat God ons geroep het om te doen.

Miskien is jy gevra om te dien in ‘n werkplek wat God nie eer nie, en jy voel soos die vreemdeling in ‘n vreemde land. Of dalk het God jou na ‘n nuwe plek gebring, en jou drome om indrukwekkende werk te doen, wat erkenning en bekendheid sal bring, is vervang met ‘n oproep om op ‘n baie kleiner manier te dien. Miskien het jy getrou gedien in ‘n rol wat jy lief het, maar jy voel gefrustreerd, omdat jy nie die vrug van jou werk sien nie.

As ons ophou probeer en begin om te dien, begin ons om God te vertrou om te oes wat ons getrou plant. Die vriendelikheid wat jy na jou werkplek bring, kan die enigste ding wees wat iemand nader aan God trek. Die liefde wat jy aan ander wys in die klein, onsigbare, getroue plekke, kan die heel eerste poging wees wat God sal gebruik om mense nader aan Homself te bring. En die sade wat jy in geloof plant, kan eendag, geslagte nadat jy gesterf het, die katalisator wees vir ‘n pragtige geskenk wat God met die wêreld wil deel.

Woorde

Ons het almal al die krag van die tong ervaar. Dit is geen geheim dat woorde belangrik is vir die een wat dit spreek, sowel as vir die een wat dit aanhoor nie. Woorde kan vertroue bou, aanmoediging bied en verhoudings herstel. Woorde kan ook vriendskappe vernietig, mede-werkers verkleineer, en twyfel en onsekerheid saai.

Woorde maak saak, want dit het mag om te seën of te vervloek, aan te moedig of te vernietig, lewe te gee of die dood te bring.

Ons woorde maak saak. Ons moet bewus wees van wat uit ons monde kom en uit ons vingerpunte vloei. Ons leef in ‘n dag waar woorde goedkoop kan wees. Ons uiter dit sonder om veel daaroor na te dink. Ons woorde kom en gaan so vinnig as wat ons op ons slimfone kan tik.

Maak nie saak hoe vinnig dit kom of hoe vinnig ons dit vergeet nie, elke woord maak saak.

  • Die woorde wat ons teenoor ons gades uiter, maak saak.
  • Die woorde wat ons teenoor ons kinders uiter, maak saak.
  • Die woorde wat ons vir ons vriende teks, maak saak.
  • Die woorde wat ons in ons gedagtes teenoor onsself spreek, maak saak.

Die woorde wat ons bid, maak saak.

Ons woorde vorm denke, dit beïnvloed aksies en verander lewens. Woorde dra gevolge en openbaar die ware aard van ons harte. Juis daarom moet ons leer om ons woorde verstandig te gebruik en mag ons woorde uiteindelik, met God se hulp, die wêreld verander.

Twyfel

Daar is ‘n gevoel wat baie mense ervaar wanneer hulle met hartseer (of verlies) in hulle lewens te doene kry. Tog is dit baie moeilik om aan hierdie gevoel ‘n naam te gee. Dit is ‘n gevoel wat ‘n droewige hart omvou, maar tog is dit so subtiel dat baie nie besef hoe diep dit wortel skiet binne-in hul siel nie.

Twyfel

Terwyl ek deur ‘n tydperk van intense hartseer gaan, kan ek nie verstaan waarom ek nie enige vreugde by God of in sy Woord kan vind nie, ten spyte van die feit dat ek steeds ‘n diep honger het na God, na Sy Wil en Sy Weë. Elke keer wanneer ek bid of Bybel lees, vol ek eenvoudig afgetrokke.

Soos ek tot God bid in ‘n soeke na ‘n uitkoms vir die afgetrokkenheid en lusteloosheid wat ek ervaar, wys Hy vir my dat die wortel van my problem nie lê in afgetrokkenheid of lusteloosheid nie. Dit lê ook nie in die gebrek aan fokus of die onvermoë om stil te dit nie. Die wortel van my problem is twyfel.

Ek betwyfel nie God se goedheid nie. Ek weet in my hart God IS goed. Alhoewel ek baie verlies ervaar het, het Hy my geseën met soveel genade wat my help om Sy goedheid elke dag raak te sien. Ek betwyfel nie God se liefde nie. Ek weet Hy IS liefde en alle liefde kom van Hom. Ten enige tyd kan enige iemand maar net rondom hulle kyk en die ongelooflike bewyse van Sy verstommende liefde te sien.
God het dit in my hart ontbloot dat ek nie Sy VERMOË om in my lewe te werk betwyfel het nie, maar wel Sy BEREIDWILLIGHEID om te werk en op te tree in my omstandighede.

Ek twyfel nie oor wat God KAN doen nie…, maar oor wat Hy SOU doen.
Hoeveel van ons twyfel vandag?
Hoeveel van ons dink dat ons dit nie waardig is dat God namens ons optree nie?
Hoeveel van ons twyfel in God se opregtheid?

Ons kan nie bekostig om ons harte, ons gedagtes of ons gevoelens te vertrou in tye van twyfel nie…, ons moet ons gedagtes en gevoelens toets en ons harte leer om God te vertrou om so twyfel te oorkom. Kom ons begin deur God vir hulp te vra sodat ons enige twyfel kan oorkom. Kom ons vra Hom om ons te help deur enige situasie of ongeloof wat ons mag teëkom.