Angs kan onvoorspelbaar wees.

Angs kan onvoorspelbaar wees. Die een oomblik gaan alles goed. Die volgende, word jy meegesleur in ‘n golf van verlammende emosionele en geestelike chaos. Jy haal diep asem. Maak jou oë toe. Oefen die kalmerende fisiese reaksies wat jy geleer is om te doen wanneer jy angs ervaar. Maar angs affekteer ons nie net fisies nie. Dit neem alles oor.

Dit is die rede waarom ons ons fisiese reaksies met geestelike waarhede moet bymekaar bring omdat dit ons help om ons fokus te verskuif. Ons gedagtes moet rus vind.

Die Bybel help ons om ons harte te herkalibreer en te kalmeer.

Eerstens, moet ons onsself met die Skrif bewapen wanneer ons in die regte gemoedstoestand is, sodat ons gereed is om te veg wanneer ons aangeval word. Memoriseer Skrifgedeeltes wat jy as wapens kan gebruik wanneer die golwe van angs jou tref. Daardie verse herinner ons aan die waarheid oor God en lei ons aandag van die donker plekke af weg.

Jesaja 12:2 sê vir ons dat ons op God kan vertrou om ons te red, en dat ons nie bang hoef te wees nie. Hoe kragtig is dit? Ons hoef nie te vrees nie. Ons kan God vertrou. Hy sal ons red. Hy is Heer. Hy heers oor alles, en Hy kan ons red, ongeag hoe vêr ons verdwaal het. Hy is daar.

Wanneer ons ons gedagtes met sulke waarhede vul, gee ons God toestemming om die las van ons swaar belaaide harte te neem en ons rus te gee. Hierdie waarhede gee ons ook die krag om die stryd te veg en te wen.

Herhaal hierdie waarhede totdat jy voel dat die angsgolwe jou verlaat, want die herhaling van waarhede stel ons vry van die leuens van angs.

God verwag hierdie soort afhanklikheid van ons.

Ons hoef nie te wag vir ‘n traumatiese geestelike stryd om Sy Woord te mediteer nie. Ek glo dat as my verstand op die waarheid van die Skrif gefokus is, die oorsaak van die angs wat my vroeër oorweldig het, dan minder krag het. (sien Romeine 8: 6).

Nader God deur Sy Woord. Laat dit jou gedagtes oorneem en jou siel se angs, wat onder die oppervlak lê, genees. Kies om jou vrees vir Hom te gee. Vertrou op Hom om jou te red.

Liefde Bied Genade

Jesus was die volmaakte verpersoonliking van beide liefde en waarheid. Hy het nooit ‘n leuen vertel nie, en Hy was ook nooit wreed of veroordelend met die waarheid nie. Elke woord wat Hy gesê het, was in liefde. Selfs al het die waarheid seergemaak, het Hy nooit iemand se vertroue gebreek nie.

Toe Jesus ter dood veroordeel is, het Sy volgelinge uitmekaar gespat, uit vrees dat dieselfde met hulle sou gebeur. Petrus het egter besluit om Jesus in die geheim te volg, om te sien wat met sy meester sou gebeur. Nadat verskeie mense hom egter herken het, het Petrus vurig ontken dat hy geweet het wie Jesus is.

In Jesus se mees kwesbare oomblik, het Petus hom verraai.

Petrus was so verpletter oor wat hy gedoen het, dat hy weggegaan en bitterlik gehuil het. Hy was skaam vir homself en was oortuig dat Jesus hom heel moontlik ook vir Petrus geskaam het. Jesus het die volgende dag aan ‘n kruis gesterf en Petrus was oortuig dat die verhaal geëindig het en hy vir die res van sy lewe met die skande sou moes saamleef.

Liefde sorg egter altyd vir genesing.

Jesus het die dood oorwin en na sy opstanding aan Petrus verskyn. Teen die rustige agtergrond van ‘n sonsopkoms, het Jesus op die strand ontbyt gemaak en Petrus, wat besig was vis te vang, het uit die boot gespring om by sy Verlosser uit te kom.

Toe Petrus op die strand kom, vra Jesus drie keer vir hom dieselfde vraag: “Petrus, het jy my lief?” Elke keer antwoord Petrus: “Ja, Here. U weet dat ek U liefhet.” Elke keer antwoord Jesus: “Laat my skape wei.”

Petrus het teen die derde keer al aanstoot begin neem dat Jesus dieselfde vraag vra, maar hy het nie dadelik gesien dat Jesus vir hom wou wys dat liefde die mag het om ons sondes te bedek nie. Petrus het Jesus drie keer verloën, en nou reik Jesus met genade na hom toe uit, sodat Petrus drie keer sy liefde vir Jesus kan bevestig.

Ek weet nie waardeur jy al gegaan het nie. Ek weet nie hoe jy seergekry of verraai is nie, en ek weet nie wat jy gedoen het om ander seer te maak of te verraai nie. Wat ek wel weet, is dat God jou liefhet. God bied jou Sy genade en Hy verlang dat jy dit sal neem en vryelik met ander deel.

Twyfel en Vrees

Twyfel en vrees loop gewoonlik hand aan hand. Beide getuig van ‘n gebrek aan vertroue en ‘n gebrek aan liefde.

Wanneer twyfel en vrees ons bekruip, is dit ‘n teken dat ons onsself moet afvra of ons versuim om God te vertrou… of versuim ons om Hom werklik lief te hê? Versuim ons dalk om te glo in Sy perfekte liefde vir ons?

Liefde word perfek gemaak in God.

Ons hoeveel nie te vrees of te twyfel oor die verlede, die hede of die toekoms nie.
Hy laat werklik dinge ten goede uitwerk as ons Hom liefhet en soek na Sy hart. Ons dien ‘n ongelooflike, wonderlike en kragtige God… ’n God wat so baie omgee dat Hy elke sekonde van die dag by ons is. Hy slaap nooit nie en Hy vat nooit ‘n oomblik af nie.

God verlaat ons nooit nie. Hy laat ons nooit in die steek nie. Hy is nooit wispelturig nie. Hy het ons werklik baie lief en Hy gee om oor elke fyn besonderheid van ons lewens… niks word uitgesluit nie. Ons dien ‘n alles-inklusiewe God!

Wanneer ons twyfel kies ons om te glo dat God nie ons beste belange op sy hart dra nie. Ons betwyfel sy ongelooflike liefde vir ons. Besef jy hoe groot Sy liefde vir jou is? Sy liefde is dieper as die dieptes van die see… wyer as die hele aarde… en hoër as die hemele! Hy bemin jou meer as wat jy ooit kan begryp.

Jy hoef nie langer te vrees of te twyfel nie.

Hoe meer jy verlief raak op God, hoe minder vrees, bekommernis of twyfel sal jy ervaar. Liefde is die teenmiddel. Die psalm skrywe se tog: Proe en sien dat die Here goed IS! Sy liefde is die beste!

Watter twyfel, bekommernis of vrees moet jy vandag met God deel? Ek moedig jou aan om al jou vrees, bekommernisse en twyfel… elke situasie wat jou hart of jou gees gebreek het… vandag voor God se voete neer te lê.

Gee vandag ALLES aan Hom oor!
Val in sy arms en kies om Hom te vertrou!

Volkome Jy

Na Jakob se worsteling met God, was hy mank. Sy gebrek was nie net fisies nie, dit was ‘n teken van sy nuwe identiteit. Dit was ‘n simbool dat hy nou Israel was, die vader van ‘n nasie, en dit was uniek aan hom. 

As jy jouself aan die reis verbind, sal jy jou eie worstelinge hê. Jy mag dalk selfs ‘n geestelike gebrek opdoen; iets wat jou worsteling definieer. Dis nie veronderstel om jou te kniehalter of ‘n swakheid te wees nie, maar eerder ‘n simbool en herinnering te wees dat jy nou verander het.

Jy is nou JY!

Jy is uniek. Toe God jou in jou moederskoot gevorm het, het Hy dit met sorg en groot “detail” gedoen. Hy het al jou talente en gawes in jou geweef. Hy het van al die ervarings, ook die moeilikes, wat jou lewe sou vorm, geweet. Hy het geweet watter unieke rol jy in die liggaam van Christus sou speel. 

Soms raak ons so vasgevang in wat ander mense doen of waarvoor God hulle gebruik. Ons wens ons het hulle talente of geleenthede of rol gehad. Die baan waarin hulle hardloop is egter nie vir jou bedoel nie… en joune is nie vir hulle bedoel nie. Moet nooit ander mense na-aap nie — wees net jouself.

Wees volkome jy, want niemand anders kan jy wees nie!

Ek hou baie van Die Boodskap se vertaling van Galasiërs 6:4-5: “Gaan kyk ‘n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk. Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.”

Ek kan nie aan ‘n beter manier dink om vandag se blog mee af te sluit nie. Hiermee wil ek jou aanmoedig om jou reis na jou ware identiteit ten volle te ervaar.

Ontdek wie jy is en watter rol jy in die liggaam van Christus speel, en doen dit ten volle. Moenie probeer om iemand anders te wees nie… wees net jouself!

Gehoorsaam wees in moeilike tye.

Jy sal altyd probleme in jou lewe hê. As gevolg van ons sondige karakter en die slinkse planne van die vyand, kan probleme oral gevind word.

Ons behoort nie verras te wees dat ons probleme het nie; Jesus sê duidelik dat ons probleme in hierdie wêreld sal hê. Hoekom sou Hy dit sê? Omdat Hy eerlik is, en vir ons lief is. Deur ons vroegtydig voor te berei, help Jesus ons om twyfel en vrees te vermy wanneer ons onsself in moeilike tye bevind.

Jesus het ons gewys hoe nederige gehoorsaamheid lyk.

Hy was gehoorsaam in baie moeiliker situasies as wat die meeste van ons ooit in die gesig sal staar — selfs tot die dood aan die kruis. Nou sit Hy aan die regterhand van God die Vader waar Hy vir ons intree. Ons kan troos vind in die wete dat ons ‘n vriend het wat met ons swakhede medelye het.

Ons kan fees vier, want ons weet dat elke moeilike reis ons nader aan Christus en Sy ewige koninkryk trek. Dit is ons hoop: Jesus Christus het vir altyd die sonde en die dood oorwin.

Die dood kon Hom nie hou nie, die graf kon Hom nie vashou nie, die krag van die sonde kon Hom nie verslaan nie, en die duisternis kon nie oor Hom heers nie!

Aangesien Jesus se werk aan die kruis klaar is en ons toelaat om kinders van God te wees, kan ons ook sonde oorkom. Jesus het alreeds die wêreld oorwin — en dit sluit elke moeilike situasie in die wêreld in. Nou kan ons uitsien na ons ewige tuiste by Jesus.

Jy hoef nie alleen daardeur te gaan nie.

In hierdie lewe, sal jy sal baie moeilike omstandighede in die gesig staar. As jy nie vir hierdie werklikheid voorbereid is nie, kan dit spanningsvol wees wanneer hulle opdaag.

Een manier waarop jy sulke angs kan beveg, is om jouself met die regte mense te omring — mense wat jou daardeur kan help. As ‘n uitdaging te groot lyk om te oorkom, sal dit help of selfs die probleem kan oplos as jy bereid is om dit met ander mense te deel.

Jesus gee jou hierdie vrede op ‘n ander vlak.

Hy is altyd by jou, waar en wanneer jy Hom nodig het. Wanneer daar uitdagings in jou lewe kom, is dit gerusstellend om te weet dat Jesus daar is om jou te help om enige hindernis te oorkom. Soos jy nader aan Hom beweeg, sal jy begin om meer vrede te ervaar — selfs in moeilike omstandighede… selfs terwyl jy angs beveg.

Wanneer jy jou vertroue in die Here plaas, eerder as in jouself (of in jou omstandighede), sal die lewe se swaarkry nie so moeilik voorkom nie.

Jy sal minder bekommernisse en meer vrede hê omdat jy weet dat Jesus saam met jou gaan deur alles wat jou in die gesig staar. Net soos meer kennis jou kan help met ‘n toets of ‘n projek, kan die groei van jou geloof jou help om op Jesus staat te maak.

Jy hoef nie alleen daardeur te gaan nie.

Jesus is daar vir jou. Lê jou angstige gedagtes voor Hom neer, want Hy gee vir jou om.

10x Kenmerke van “Lou-Warm” mense

Sal jy jouself beskryf as iemand wat totaal en al verlief is op Jesus Christus? Of pas die woorde halfhartig, louwarm en gedeeltelik toegewyd, jou beter?

Die Bybel sê dat ons onsself moet ondersoek. Ek gaan dus vir jou ‘n beskrywing gee van ‘n persoon wat lou warm is. Ek raai jou sterk aan om hierdie voorbeelde te gebruik om diep binne-in jouself te kyk en oor hoe jy leef.

10x Kenmerke van ‘n lou-warm mens:

  • Gaan min of meer gereeld kerk toe. Dit is wat hulle dink van goeie Christene verwag word, dus gaan hulle maar.
  • Gee geld vir liefdadigheid en die kerk… solank dit nie hulle lewenstandaard aantas nie. As hulle ‘n bietjie ekstra het, sal hulle gee.
  • Hulle wil graag inpas by gemeentelede sowel as die gemeenskap; hulle gee meer om oor wat mense dink as wat God van hulle dink.
  • Hulle wil nie regtig van hul sondes verlos word nie; hulle wil die straf vir sonde vryspring.
  • Hulle voel geraak deur mense wat radikaal vir God lewe, maar hulle wil nie dieselfde doen nie. Lou warm mense dink “radikaal” is die woord wat Jesus gebruik om sy volgelinge te beskryf.
  • Hulle deel selde hulle geloof met bure, kollegas of vriende. Hulle wil nie verwerp word nie. Hulle wil ook nie mense ongemaklik laat voel nie.
  • Hulle meet hulle moraliteit of “goedheid” aan wêreldse standaarde. Hulle voel goed omdat hulle nie so sleg is soos die mense in die straat nie.
  • Hulle sê dat hulle Jesus lief het en dat Hy deel van hulle lewe is. ‘n Klein deeltjie. Hulle gee hom ‘n deel van hulle tyd, geld en denke, maar Hy word nie toegelaat om hulle lewens te beheer nie.
  • Hulle is lief vir God, maar nie met hulle hele hart, siel en mag nie.
  • Hulle is lief vir ander, maar nie so lief soos hulle vir hulleself is nie.

Hoeveel van hierdie “lou warm kenmerke” stem ooreen met jou lewenswyse? Bid dat God jou hart sal versag en kies dan een kenmerk om hierdie week aan te werk (en voor te bid).

Gebruik jou Twyfel

God se Woord sê vir ons dat, wanneer ons twyfel, God nie verplig is om ons gebede te beantwoord oor die situasie waarin ons om hulp vra nie. (Jakobus 1:6-7) Die Bybel beskryf twyfel as ‘n dubbelgesindheid. Om die waarheid te sê, God sê selfs dat ons nie eers ‘n antwoord moet verwag nie.

Wanneer ons besef dat ons God betwyfel en ons doen niks daaraan om ons twyfel te oorkom nie, is dit ‘n klap in God se gesig, in sy goedheid en in sy karakter. Ons plaas Hom as te ware benede ons wanneer ons verkeerdelik glo dat ons beter weet as die Heilige God wat ons geskape het. God hou die hele wêreld in orde. Hy laat die son elke oggend opkom en Hy laat die man elke and skyn. Hy hou die hele wêreld, die ganse skepping en die seisoene elke dag aan die gang, sonder enige hulp of insette van ons.

Twyfel laat ons glo dat dit beter sou wees as ons in beheer was.

Is dit nie vreeslik arrogant van ons om te dink dat ons beter weet as God nie? Maar hoekom laat God situasies toe wat poog om ons te laat twyfel? Wanneer God ons skape, lê Hy al ons dae voor Hom uit. Niks waardeur ons in hierdie lewe gaan is vir God ‘n verrassing nie. 

As Hy nie waarde in ‘n situasie sien nie, sal Hy dit nie toelaat nie. Daar is geen situasie waarin God nie ten volle in beheer is nie. God vermors nooit enige situasie waardeur ons moet gaan nie. ELKE situasie het die potensiaal om ons of ander te help. Ons het nie die vermoë om die hele prentjie van ons lewe te sien nie… en ons lewens is nie selfs tot onsself beperk nie… of beperk tot die aarde nie. Nee, daar is ‘n VEEL groter prentjie!

Ons lewe op aarde sluit die ewigheid in en ons lewens het ‘n impak op die toekomstige generasies.

Nie een van ons bestaan sleg vir die “hier en nou” nie… en elkeen van ons se lewens sal voortleef in ons nalarenskap vir die toekomstige generasies. Die situasies wat ons in ons lewens beleef het ‘n veel groter doel as wat ons ooit kan dink… om die waarheid te sê, van dit wat ons nou beleef mag eers ‘n toekomstige doel hê.
Ons KAN God vertrou! Ons is nie op aarde vir onsself, ons gerief of ons heelheid nie. Gerief en heelheid is belofte van wat later in die Hemel kom.

Selfs al lyk dit of die lewe nooit beter sal raak nie… dit kan! Wanneer jy voel dat jy die pad byster is, kan dit waarlik ‘n baie goeie ding wees! Dit is ‘n teken om jou te waarsku dat jy op die verkeerde pad is en dat jy in jouself, of iets… of iemand… anders vertrou, eerder as in God.

Twyfel kan die grootste omwenteling wees wat ons kan slinger tot in ‘n ryker vertroue in God… en ‘n dieper verhouding met Hom!

Laat jou twyfel toe om jou gesindheid te verfyn.
Elke keer wanneer jy twyfel beteken dit nie noodwendig dat jy nie vertrou nie… dit beteken dat jy jou vertroue in die verkeerde dinge of mense plaas. Gebruik van nou af jou twyfel as ‘n teken om met God te praat en om op die regte pad met Hom te kom!

Kies vandag om die Here te vertrou met jou hele hart!
Hou aan om deursigtige hart-tot-hart gesprekke met God te hê. Soek Hom met alles wat jy het!

Liefde Oorwin Vrees

Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, dis die teenwoordigheid van liefde wanneer jy vrees in die gesig staar. Dalk gaan jy nou deur ‘n moeilike tyd in jou lewe. Vrees oorval jou van alle kante en jy vra jouself af: 

As God so liefdevol en kragtig is, hoekom gaan ek dan deur al hierdie pyn?

God is nie soos ‘n sadistiese kind wat insekte martel omdat dit vir hom lekker is nie. Hy is die verpersoonliking van liefde en Hy het jou liewer as wat jy jou ooit kan verbeel. As jy deur ‘n moeilike seisoen gaan, moenie toelaat dat vrees die oorhand kry nie. Keer jou na die liefde van jou Hemelse Vader en vind daar rus. Selfs in oomblikke van pyn sal Hy jou deurdra en iets goeds daaruit laat voortkom.

Liefde is in staat om jou vrese te oorkom, want dit gee jou moed om hulle met geloof aan te pak.

Almal van ons het vrees in ons lewens. Ek dink toe God ons gemaak het Hy geweet hoe baie ons met vrees gaan sukkel, en watter groot gevaar dit vir ons lewens sou inhou. Dis hoekom Hy oor en oor in die Bybel sê: “Moenie vrees nie.”

God sê nie net dat ons nie moet bang wees nie, Hy gaan verder en sê hoekom ons nie moet bang wees nie. Hy het belowe om altyd by ons te wees. Wat ‘n wonderlike belofte!

Stel jou jou lewe voor met ‘n hart vol liefde en moed.

Hoe verskil daardie voorstelling van hoe jou lewe op hierdie oomblik lyk? Daardie vreeslose prentjie is moontlik, as jy kies om ‘n lewe te lei wat deur liefde aangespoor word. Verbind jouself aan die pad van liefde en moenie omkyk na die pad van vrees nie.

Goeie dae is aan die kom. God belowe dit, en daarom is dit waar.

Liefde Praat Die Waarheid

Jesus leer ons in die Skrif dat die waarheid die krag het om ons vry te maak. Sedertdien is hierdie stelling van Hom al aangehaal in howe, flieks en ontelbare ander plekke. Dit is ‘n pragtige gedagte, maar ook ‘n kragtige waarheid. Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewe en in ons liefde nie.

Ek het al telke male die waarheid van hierdie beginsel binne die verhoudings-dinamiek van die huwelik gesien. Vertroue is uiters noodsaaklik in enige gesonde verhouding, maar nog meer binne die konteks van die huwelik. Die huwelik is deur God geskep om ‘n verhouding van algehele eenheid en deursigtigheid te wees, en enige vorm van bedrog sal die fondasie van die huweliksverbond ondermyn. Ek sê gereeld aan paartjies: “Julle huwelik sal nooit sterker wees as julle vertroue in mekaar nie.”

As ‘n getroude paartjie mekaar nie kan vertrou nie, kan hulle nie volledig funksioneer nie.

Man en vrou moet saamwerk soos twee vlerke van dieselfde voël; as hulle nie in volle vennootskap saamwerk nie, sal die huwelik nooit van die grond af kom nie. Vertroue maak dit moontlik. Wanneer ons vertroue met geheimhouding vervang, stel ons onsigbare grense, wat die groei in ons huwelik inperk. Geheimhouding is die vyand van intimiteit.

Wanneer ‘n probleem weggesteek word, is daar niks wat jy kan doen om dit reg te stel nie. Wanneer dit blootgestel word, kan die genesingsproses uiteindelik begin.

Totdat ons in die spieël kan kyk en vrede kan maak met ons eie sonde en ons desperate behoefte aan God se genade, sal ons nooit in staat wees om na onsself of ander te kyk deur die lens van God se liefde nie. God wil hê ons moet ‘n hart hê wat liefde betoon aan dié mense wat onbeminlik is, want dit is wat Hy vir ons gedoen het.

God het ons meer lief as wat ons ooit kan verdien, en Hy vra ons om dieselfde vir ander te doen.