Oorvloed teenoor Skaarste

Ouerskap is moeilik. Dit is een van my moeilikste take nog!. Daar is geen handleiding, geen gevestigde formule nie en God verwar ons verder deur elke kind anders te maak. Met verloop van tyd gryp jy enige beginsel aan wat sin maak; jy probeer dit, en as dit werk, word dit joune.

Dus gaan ek een voorstel maak: skep ‘n omgewing van oorvloed vir jou kinders.

Kinders het liefde nodig en wil dit hê. Soos met enigiets in hierdie wêreld, as daar ‘n tekort aan iets is, word dit meer waardevol en veroorsaak dit dan tweedrag. As dit volop is dan is dit nie ‘n probleem nie.

Neem olie en sout as voorbeelde. Elke land het olie nodig, daarom is daar sterk kompetisie. Pryse is hoog en beloof om hoër te word. Ons baklei, ons manipuleer, ons probeer mense omkoop, ons verkoop ons siele vir olie.

Aan die ander kant, is sout noodsaaklik vir die mens se lewe, maar dit is volop. Die prys vir ‘n dosie sout is ‘n paar rand. Daar is ‘n oorvloed.

Wanneer pa’s versuim om by hulle kinders betrokke te raak, wanneer hulle so besig bly dat hulle kinders voel hulle maak nie saak nie, wanneer pa’s se teenwoordigheid minimaal is en hy nooit regtig tyd het om met hulle deur te bring nie, is dit ‘n omgewing van skaarste.

Maar wanneer pa’s ‘n eindelose vloei van liefde voorsien, wanneer daar ‘n konstante oorvloed van pappa se teenwoordigheid is, sal daar minder wedywering wees, minder manipulasie en meer vrede in die huis. ‘n Pa moet daar wees fisies en emosioneel.

‘n Oorvloedige omgewing kom nie natuurlik nie en dit is nie maklik nie.

Maar dit is die moeite werd.

Vraag: Is jou huis ‘n omgewing van oorvloed of ‘n omgewing van skaarste? Kinders floreer in omgewings van oorvloedige liefde. Hulle kwyn in omgewings van skaarste

Waarop is jy ingestel..?

Ons word dikwels weggelok van ons plek aan Jesus se sy. Ons pak meer dinge aan as wat ons veronderstel is om te doen en verwaarloos dan ons verantwoordelikhede teenoor Hom.

Die Here het ons geroep en toegerus om geestelike werk vir Hom te doen, maar ons skuif dit baiekeer alles opsy en jaag eerder wêreldse plesier na. Hou jou oë vasgenael op die Here Jesus, op wie jy steun, en gaan terug na die taak wat Hy jou gegee het om te doen.

Jou belangrikste doelwit is om in ’n goeie verhouding met die Here te wees en die taak te doen wat Hy aan jou opdra. Moenie afdwaal van jou plek aan Jesus se sy nie. Moenie toelaat dat die verleidings van die wêreld jou aandag aflei nie. Moenie jou getroue diens aan ons Here laat vaar nie. Hy wag vir jou om daardie taak op te neem en dit tot Sy eer goed uit te voer.

Hou jou oë vasgenael op Jesus!

As ons die werk wat aan ons toevertrou word, goed doen, sal ons beloon word. Ons moet egter nie net op die beloning fokus nie, maar die werk ywerig en getrou doen. 

As ons God getrou dien in die lewe en dit wat Hy ons gee na die beste van ons vermoë gebruik, kan ons seker wees dat Hy ons eendag sal beloon. Dié wat weier om in Jesus te glo en wat leef volgens hul menslike aard, sal nie die beloning van ewige lewe ontvang nie. Dink na oor hoe jy die Here kan dien.

Goeie nuus!

Waaraan meet jy jou waarde? Aan jou suksesse of jou mislukkings?

Hopelik nie een van die twee nie, want dit is ’n skewe maat. Nóg jou grootste oorwinning, nóg jou ergste mislukking mag jou waarde bepaal.

Maande gelede het ek erg gesukkel om my waarde reg te meet. Dit het gevoel asof alles misluk.

Een oggend lê ek heel beteuterd op my bank en vra die Here om my deur sy Heilige Gees te bemoedig, want siestog, foeitog.

As antwoord hoor ek ’n fluistering in my gees: Jy weeg mos nou ’n leeftyd se sukses op teen iets wat jy as ’n mislukking beskou, al is dit nie werklik ’n mislukking nie.

Ek het skielik regop gesit en nagedink oor my situasie. Ek het besef die Here is reg. Dit waarmee ek besig was, wás suksesvol. Daar was belangrike aspekte wat nie wou regkom nie, hoofsaaklik omdat die inwerkingstelling daarvan moeilik was en groter uitdagings gebied het as wat ek verwag het. Ál wat ek kon raaksien, was die probleme. Dít het my blind gemaak vir die dinge wat wél gewerk het.

Ons almal doen dit: Ons beskou wat nie werklik mislukkings is nie as mislukkings, bloot omdat dit nie heeltemal uitwerk soos ons gedink het dit moet nie. Maar selfs al hét ons misluk, is dit nie onoorkombaar nie. Talle hoogs suksesvolle en bekende mense het misluk voordat hulle sukses bereik het. Ons weet net nie van hul stryd nie.

Ons moet ons waarde met die regte maat meet. Dit kan moeilik wees wanneer jy midde-in ’n suurlemoenseisoen is. Ons meet ons waarde aan dít wat ons in ons lewe as waardevol beskou. As daar baie waarneembare waarde is, verhoog dit ons eiewaarde. Min waarneembare waarde verlaag ons eiewaarde.

Maar nie een van ons staan gelyk aan die waarneembare waarde in ons lewe nie.

Jy is nie jou foute nie. Jy is nie jou mislukkings nie. Jy is nie jou omstandighede nie. Jy is nie wie ander sê jy is nie. (Jy is ook nie jou suksesse nie!) 

Jy is wie God sê jy is.

Almal maak foute. Dit is maar hoe dit gaan. Almal misluk van tyd tot tyd. Baie van ons beland in situasies en omstandighede wat pynlik is en ons weet nie hoe om te hanteer nie.

Dit mag nie ons identiteit word nie. ’n Leeftyd van goeie besluite en suksesse kan nie ongedaan gemaak word deur enkele foute of mislukkings nie.

Sorg dat jy die skaal reg instel sodat jy jouself en jou lewe met die regte maat kan meet.

Hoekom Ons Versoekings en Beproewings Ondervind

Beproewings veroorsaak dat die eerste woord wat ons uiter, waarom is. Beproewings en versoekings is moeilik, pynlik en maak ons terneergedruk, daarom vra ons gewoonlik: “Hoekom gebeur dit met my?” , sonder om ooit die antwoord wat ons hierop verwag te ontvang. Ons geloof word hierdeur getoets en dikwels oorweldig twyfel ons omdat ons eie begeertes getoets word. 

Jesus leer ons dat ons moeilikheid sal hê.

Die lewe van Christus se volgelinge is nie sonder moeilikhede nie. Ons leef in ‘n gebroke en gevalle wêreld saam met gebroke en gevalle mense wat gebroke en gevalle dinge doen. Natuurlik sal daar altyd beproewings wees. Mense sal dinge doen wat ons beïnvloed. Ons sal dinge wat onsself en ander mense beïnvloed. Sonder dat ons dit moedswillig doen, veroorsaak ons dade soms pyn in die lewe van ander, miskien ook in ons eie.

Die volgende is enkele redes hoekom ons deur beproewings gaan:

Geestelike Ontwikkeling
Ongeag hoe beproewings ons lewens binnedring, kan hulle gebruik word as ‘n middel om ons te versterk en ons karakters en geloof te ontwikkel. Wanneer ons dinge beleef wat ons geduld en uithouvermoë toets, kan ons óf meewerk en dit toelaat om ons te versterk óf ons kan aanhou om daarteen te veg. Dit is ongelooflik moeilik om toe te laat dat ons gevorm word deur moeilike omstandighede, maar wanneer ons toelaat dat dit ons suiwer, is die produk wat gelewer word ‘n meer Goddelike weergawe van onsself en vir seker die moeite werd.

Gevolge van Keuses
Daar is ‘n harde werklikheid wanneer dit by keuses en die gevolge daarvan kom. Dikwels is ons beproewings en moeilike tye ‘n direkte gevolg van hoe ander hulle lewens lei of hoe ons ons lewens lei. Ons kan ly as gevolg van iemand anders se aksies of dié van onsself. Sommige dade is sondig en wanneer dit so is, is die gevolge glad nie goed nie. 

Geestelike Aanvalle
Ons gee aan Satan, ons geestelike vyand, óf te veel eer óf ons onderskat hom. Elke slegte ding wat met ons gebeur is nie altyd sy skuld nie, maar hy speel wel ‘n rol in die slegte omstandighede wat ons in die gesig staar. 

Dink terug aan ‘n beproewing wat jy deurgemaak het. Dink jy dit was ‘n karaktertoets as gevolg van ‘n keuse of ‘n geestelike aanval?

‘n Persoonlike Doelgerigtheid

Jy het gawes, talente en ervaring wat net jy kan gebruik om jou te kry waar jy behoort te wees. Jou doel dryf jou passie sodat jy jou persoonlike roeping met mening kan vervul.

Jy besef dit miskien nie, maar jou doel is daardie begeerte of droom wat jou aangryp, wat vir jou opwindend is en wat jou aanvuur. Dit is dikwels iets wat onmoontlik lyk, wat oneindig ver verwyderd voel van waar jy tans is. Jou persoonlike doel gee jou die geleentheid om weg te breek van die oortuigings wat jou beperk en maak jou hart wyd oop om die dinge aan te gryp waarvoor jy so doelbewus geskape is (sien Psalm 138:8). “Maar hoe vind ’n mens jou ware plek in die lewe?” vra jy miskien.

Menigte mense dwaal deur die lewe en wonder of daar werklik ’n doel met hul lewe is.

Waar begin ’n mens om te probeer uitvind waarvoor God jou geskape het en in die wêreld gebring het? Jy kan sinies wees oor die lewe en konsentreer op die dinge wat jy nie het nie, in plaas daarvan om ’n potensiële gawe in jouself raak te sien. Maar jou negatiewe selfspraak kan veroorsaak dat jy wonderlike geleenthede misloop.

As jy ’n oomblik stilstaan, jou ’n bietjie afsonder van jou besige lewe en nadink oor hoeveel keer jy al ’n innerlike gevoel van opwinding gekry het wanneer jy aan ’n moontlikheid in die toekoms dink, oor die kere wat jy al verskeie tekens voor jou gesien en aangevoel het, sien jy dalk net daardie hartsbegeerte van jou raak.

Gryp daardie hartsbegeerte aan, want die Here het dit daar gesit. Hy het jou toekoms vooruitbestem en Hy het jou reeds die mag gegee om dit te laat gebeur (sien Jesaja 14:24). Jou begeerte is jou bloudruk.

Sy plan vir jou is nie ’n afskrif van iemand anders s’n nie; dis uniek

Persoonlike Transformasie

Persoonlike transformasie het ’n prys om te betaal, maar dit is oor en oor die prys werd, want die beloning is soveel groter as die belegging. Dink net aan ’n lewe van ware vryheid – vry van jou verlede, vry van ander se menings, vry om jouself te wees. Dink net daaraan om met eerlikheid na jouself in die spieël te kan kyk en God te dank dat Hy jou gemaak het net soos jy is (sien Psalm 139:13–16). Om dan saam met Hom te werk om die nodige aanpassings, verbeterings en veranderings aan te bring om selfs groter vreugde in jou lewe vry te stel.

In daardie plek van heelheid en vrede kan jy dit terdeë geniet om jou lewe met iemand te deel sonder om bang te wees vir intimiteit, verwerping of teleurstelling. Jy sal miskien weer verwerping of teleurstelling ervaar, maar jy sal nooit weer daardeur vernietig word nie. Jou algehele welstand is in God gegrond, nie in ’n mens nie, want by Hom is daar geen onstabiliteit of enige skadu van ommekeer nie. 

Jy kan God se karakter geheel en al vertrou.

Hy sal jou nooit teleurstel nie. Jy is veilig by Hom. Hy doen dinge miskien anders as wat jou denkwyse voorskryf, maar Hy is altyd betroubaar en altyd besorg oor jou welstand (sien 2 Timoteus 2:13 en Psalm 37:4–6).

Vertrou dat God goed sal laat voortspruit uit jou huidige beproewing. Wanneer jy dan terugkyk en die kolletjies met mekaar verbind, sal jy besef dit is God wat alles vir jou ten goede te laat meewerk (sien Romeine 8:28). Besluit vandag om jou lewe in God se uiters bekwame hande te plaas

Wanneer die Ondenkbare Gebeur

Daar is geen beperking op wie tragedie kan ervaar nie. Vroeër of later sal elke persoon die hartseer en probleme ondervind wat verband hou met skielike traumatiese gebeure wat die lewe vir altyd verander. Hierdie traumatiese gebeure kom in verskillende vorms en formate voor en beïnvloed individue, gesinne, stede, nasies en ons hele wêreld.

Tragiese gebeure is meestal nie iets waarvoor ons beplan nie. Ons reël nie vooraf om hierdie skielike “krisis”-oomblikke te ervaar nie. Of ons nou voorbereid is of nie, tragedies kom en gaan in ons lewens — en dit sal byna altyd met plotselinge vernietiging kom. Ons ontvang ‘n telefoonoproep oor die motorongeluk; ons hoor van die hartaanval; ons sien die aandnuus oor die Coronavirus pandemie wat die aardbol deurkruis.

Gedurende oomblikke van tragedie en krisis, is die beste pad, om ons na God te wend.

God het belowe om diegene te help wat by Hom hul toevlug en beskerming soek; Hy was nog altyd bereid om in nood te help (Psalms. 46: 2). Wanneer die ondenkbare gebeur, is dit tyd om na die Vader te gaan vir woorde van vertroosting, krag en rigting — en hoe om daarop te reageer en voort te gaan.

Ons kan die Skrif deursoek en lees van God se heiliges wat gedurende hul lewens, tye van groot probleme en struikelblokke ondervind het. Dink aan Dawid, die psalmdigter van Israel. Alhoewel hy gesalf en gekies is om koning te word, is hy gehaat en verdryf deur diegene wat daarop uit was om hom te vernietig. Let egter op in Psalm 27: 1-3 wat hy te midde van sy probleme sê: 

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis húlle wat struikel en val. Al sou ‘n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê. 

Dit is die woorde van ‘n man wat geleer het om gedurende die moeilikste tye in sy lewe, deur God in stand gehou te word. Te midde van die tragedie het hy geleer dat hy nie in vrees hoef te lewe nie, want God was sy beskerming. Al het hy homself in uitdagende tye bevind, kon hy daarop vertrou dat God hom sou beskerm en ondersteun. 

Ons het dieselfde hoop as Dawid, want God het belowe “Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie” (Deut. 31: 6). Ons het ook hoop omdat ons nie alleen is nie — ons het nie net vir God nie, maar Hy het ons ook vir mekaar gegee.

Hierin lê ons krag — ‘n verenigde gees wat saam toeneem in vertroue en vasberadenheid, maar nog belangriker, leer om saam op God staat te maak.

Terwyl ons vorentoe beweeg deur die moeilike tye in ons lewe, het ons ‘n belangrike besluit om te neem: Hoe moet ons reageer? Ons reaksie op tragedie, of dit nou persoonlik en beperkend is of ‘n allesomvattende wêreldwye krisis, moet dit dieselfde wees: wend jou na die Vader, lei ander met deernis en sorg, leef vreesloos, onthou Wie in beheer is, en ontdek die goeie.