In tye van onregverdigheid

Jy het seker ook al onregverdigheid ervaar. Miskien het jy al die pyn van verwerping beleef, die verraad van ’n sakevennoot, die skok om van ’n erfporsie ontneem te word, of die frustrasie om harder as almal te werk net om te sien hoe iemand anders bevorder word.

Dalk moes jy al sukkel om vir jou kind te verduidelik hoekom hy of sy langs die baan sit terwyl die afrigter se kind ’n beurt kry om ‘n wedstryd te speel. Om sleg behandel te word kan ontstellend wees.

Die onregverdigheid eet aan jou. 

Ek onthou hoe ek so gevoel het nadat ek ’n standvastige werks geleentheid opgeoffer het vir Christus en gehoop het Hy sal dit vir my teruggee, net om te sien hoe my finansies toetaal uit mekaar geval het. In my kamer het ek my Bybel oopgeslaan en vir God ’n ultimatum gestel:

Praat met my of ek is uit.

Ek het deur Psalms begin lees en besluit om God so drie of vier hoofstukke te gee voordat ek sou handdoek ingooi. Die eerste twee het geen indruk op my gemaak nie. Toe sien ek Psalm 73 raak en ek het onmiddellik gevoel iets is anders. Dit het my gelei na ’n ontmoeting met God wat my vir ewig verander het. Met trane in my oë en verwarring in my siel het ek die psalm hardop gelees. Ek het my eie woorde in die psalmdigter se klagtes gehoor . 

Ek het gespartel, want ek het probeer doen wat God sê reg is, maar ek het meer probleme en frustrasies as Christen gehad as wat ek ooit voorheen van kon onthou. Ek was soos die psalmdigter: “Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik . . .” (vers 16).

En nes die psalmdigter was die oplossing voor my: “totdat ek in die heiligdom van God ingegaan [het] (vers 17). Ek het begin om weer die lewe uit ’n ewigheidsperspektief te sien. 

Die aanbidding van die God wat bo alles is – en wat op die ou end Sy kinders regverdig – laat die gevoel van onregverdigheid verdwyn. Sy beloftes en perspektiewe streel die pyn. Wat nou onregverdig voorkom, werk vir Sy kinders baie goed uit in die einde.

Ons hart versag, ons perspektief verskuif en ons vier fees met die psalmdigter se woorde in vers 26: “God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.

As jy depressief is

Ek sal dit erken. Ek was al depressief. Na aanleiding van al die Bybelse karakters wat deur diep, donker tye van moedeloosheid gegaan het – Dawid, Jona, Elia, Job, Jeremia, en ander – behoort depressie ’n algemene besprekingspunt vir Christene te wees. Ongelukkig is dit gereeld die uitsondering. Tog ervaar die meeste mense tye van stres, moegheid, moedeloosheid en die gebrek aan motivering wat tot ’n breekpunt of wanhoop kan lei.

Ek het vir ’n lang tyd lam, doodmoeg en onbelangstellend deur my lewe gegaan, totdat ek later beter begin word het, uitgerus en in staat om glimpe van hoop te sien.

Sulke ervarings is nie ongewoon in die sondige wêreld nie. 

Die Bybel gee vir ons voorbeelde van elke lewenseisoen. Psalm 77 onthul nie net die mens se desperaatheid nie, maar ook hoe om daaruit te kom. Dit leer ons hoe om terug te bons wanneer ons glad nie so voel nie. God gee nie ’n wonderkuur of ’n universele oplossing nie; depressie is kompleks, en Hy help mense op verskillende manier daaruit. Maar hierdie psalm bied ’n paar beginsels wat enigeen kan help. 

Asaf, die skrywer van hierdie psalm, begin deur by God te kla (vers 1-3). Van daar af sien ons ’n betekenisvolle progressie: van die uitroepe van smart tot die onthou van ou seëninge (vers 4-6), dan die vra van moeilike vrae aan God (vers 7-9), die keuse om sy gedagtes te herlei (vers 10-12), hy kies om God as groot en probleme as klein te sien (vers 13-18), en dan om te vertrou dat God ons Redder is (vers 19-20). Hierdie perspektief-veranderende proses leer ons brein en ons gees om anders te dink en sien. Wanneer ons deur hierdie proses werk, begin depressie meermale lig. 

Depressie kan soos ’n koue, donker gang voel, sonder enige lig aan die einde.

Dis maklik vir die brein om net te sien hoe sleg dinge is en om tot die slotsom te kom dat die toekoms ook so sal wees. Slegs ’n heroriëntasie van donkerte na lig, van huidige situasies na vorige genade, van probleme na beloftes, kan ons daaruit haal.

Nes Asaf, kies ons ander gedagtes: “Ek wil dink aan die dade van die Here, ja ek wil dink aan u wonderdade van vroeër” (vers 12). Hierdie wilsbesluit om ons gedagtes te herlei, verskuif ons perspektief. Dan begin die duister plek maak vir die lig.

As probleme onoorkomlik lyk

El Elyon, beteken letterlik “God, die Allerhoogste”. Dit verwys na God as die Skepper en Beskermer van die heelal, dit erken dat Hy verhewe is bo elke mens, mag, posisie of probleem. Wanneer Asaf dus in Psalm 77:11 na God verwys as die Allerhoogste, maak hy ’n kragtige stelling. Hy herinner homself daaraan dat God nie soos die ander gode is, wat die Kanaäniete geglo het oor hul stede en natuurkragte regeer nie. Asaf het sy gedagtes na ’n nuwe, ware perspektief gelei, gegrond op die bewuswording van God se groot werke en dade.

Asaf het nie daar gestop nie. Hy het ook gedink oor die God wat “wonderdade doen” (vers 15), hy het God se “sterk arm” (vers 16, AFR53) in sy gedagtes opgeroep. Hy het onthou van al die kere toe God se volk in die nood was en hoe Hy hulle gehelp het – hoe die watervloede gesidder het, die donderwolke gedreun en die aarde gebewe het (vers 17-18). Hy het sy gedagtes teruggebring na God se kerneienskappe: Sy heiligheid, Sy mag, en die liefde en medelye wat Hom noop om te red. In die dieptes van sy depressie, fokus Asaf sy gedagtes vasbeslote op die God wat verlos.

Vir Hom is niks te moeilik nie. 

As ’n mens depressief is, kan ’n molshoop soos ’n berg lyk. Maar as jy deurdruk met aanbidding, raak daai molshope weer hul regte grootte, en God troon bo hulle uit in jou hart en gedagtes.

Perspektief maak ’n enorme verskil.

’n Klein probleem wat baie naby jou oë gehou word, blok alles uit jou sig. As jy wel enige iets anders kan sien, is dit deur die lens van daardie probleem. Asaf wys ons hoe om terug te staan en met die regte perspektief te kyk. Hoop is ’n kragtige teenmiddel vir depressie, maar jy kan dit nie kry tensy jy herontdek dat God ’n groot God is en dat probleme onbeduidend is in vergelyking met Hom nie. 

Psalm 77 begin met reuseprobleme en ’n klein God. Dit sluit af met ’n reuse God en klein probleme. Dis hoe perspektief werk. Dit is hoe jou hoop weer aangevuur word. En dit is hoe depressie sy houvas verloor.

Alles, selfs ons grootste probleme en pyn, buig voor God, as ons sien wie Hy is. 

In donker dieptes

Vir ’n gedeelte van die jaar hou ’n herder sy skape in die oop veld waar daar genoeg gras is. Wanneer die weer verander en die sappige gras teen die berg begin groei, lei die herder sy skape deur die klowe en valleie om by die hoër plekke uit te kom. Hy weet die bestemming gaan wonderlik wees. 

Maar die reis kan gevaarlik wees. Roofdiere lê en wag in die skaduryke valleie. Die kudde kan die vrees aanvoel, en hulle maak heeltemal staat op die paraatheid van die herder. Hy moet op sy hoede wees om al die draaie en skeure, waar wolwe en leeus kan wegkruip op soek na prooi. Sonder hom is die vallei ’n plek van dood. Met hom is dit net deel van die reis na lewe. 

Dawid het na hierdie onbekende en gevaarlike terrein verwys as die “dal van doodskaduwee”. Hy was welbekend met die donker tye wat ons beleef wanneer ons skaars sin kan maak van wat om ons aan die gang is. Die belofte wat in hierdie beeld geïmpliseer word, is dat God ons deur enige krisis sal neem, ongeag hoe vreesaanjaend of gevaarlik dit is. Ons hoef nie bang te wees nie, want ons Herder loop elk tree van die pad saam met ons. 

Dawid se selfvertroue dat hy nie “bang [sal] wees nie”, is ’n radikale stelling. Hy weet hoe gevaarlik hierdie sondige wêreld kan wees, maar hy weier om die knie voor vrees te buig. Hy vertrou eenvoudig moedig dat God van elke moontlike roofdier, natuurlike ramp en gevaar weet, en hom daarteen sal beskerm. Die mag van die Herder se stok en die leiding van sy staf, sal vir Dawid troos bied in selfs die mees ekstreme situasies.  

Wanneer die lewe onseker is, wanneer gevare dreig, wanneer jy tye van verandering beleef, moet jy weier om vrees die oorhand te gee.

Leer van Dawid se verklaring. Om vreesloos te leef is ’n geldige keuse vir ons, omdat die Herder ons deur donker dieptes lei. Maar ons moet kies om vreesloos te wees. Wanneer ons saam met ons Herder deur die donker dieptes van die lewe gaan, sal Hy sy belofte nakom en ons daardeur help.

Om te vra…?

Waarvoor vra jy wanneer jy met God praat? Baie keer word ons gefrustreerd omdat ons totaal en al op iets gefokus is — ons vra God vir antwoorde of om iets vir ons te doen — maar dit voel asof Hy stilbly.

Kan dit wees dat die probleem nie by God lê nie, maar by dit waarvoor ons vra? 

God se prioriteit is om mense nader aan Hom te trek. As jy desperaat na ‘n antwoord op ‘n groot vraag soek — “Wat gaan gebeur? Waar moet ek gaan studeer? Moet ek ‘n verhouding met hom/haar hê?” — wil God jou beslis wysheid gee en jou help om antwoorde op jou vrae te kry, maar miskien gaan Hy nie dadelik die duidelike en maklike antwoord, wat jy graag wil hoor, in jou oor fluister nie. Miskien gaan Hy jou na Sy Woord toe neem vir antwoorde, of Hy gaan iemand gebruik om wysheid of bemoediging met jou te deel. Dalk gaan Hy jou dwing om meer en meer tyd met Hom te bestee, terwyl jy met die kwessie worstel. 

Partykeer mis ons ook God se stem omdat ons nie vra wat vir God belangrik is nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, God is lief vir jou en wil beslis alles hoor wat vir jou van belang is. Maar ek sê weer, God se grootste prioriteit is om mense nader aan Hom te trek. Lees bietjie die verhaal van Elia, waar hy vir God iets groots vra — ‘n enorme vertoning van vuur uit die hemel, beslis nie ‘n nietige gebed nie. Ek wil fokus op die rede waarom Elia hiervoor gebid het. Hy was desperaat dat God Sy krag aan ‘n groot groep mense vertoon wat vergeet het wie God was. Elia se gebed was om ander mense te sien terugkeer na God en dit is ‘n groot rede hoekom God Sy gebed op daardie manier beantwoord het.

Wanneer jy iets vir God vra, is die prioriteit dat God se glorie vertoon word? Vra jy God om Homself aan jou vriende bekend te maak of om jou nader aan Hom te trek? Of is al jou gebede gefokus op dit wat jou lewe meer gemaklik sal maak? As dit voel of God té stil is, beweeg nader aan Hom en let op waaroor jou gebede gaan.

Wanneer jy vir dinge vra wat die soeklig op God werp, sal jy meer geneig wees om ‘n antwoord te hoor of te sien.

Voor jy Oorgee

Ons hou van opsies. Ons wil weet waarin ons ons begewe. Ons hou van die gevoel van beheer wanneer ons ‘n voorstel oorweeg en dan besluit of ons dit wil doen of nie. Meestal is dit ‘n goeie manier om te werk te gaan. Dit is egter wys om jou opsies te oorweeg en versigtig die beste aksieplan te kies.

Wanneer ons van God hoor, moet ons vooraf besluit wat ons antwoord gaan wees. Wanneer ons God nader met die denkwyse: “God, wys my asseblief wat U wil hê ek moet doen en dan sal ek besluit of ek wil of nie,” sal jy nie baie van Hom af hoor nie. Ons kan baie duidelik van God hoor en sien waarmee Hy besig is wanneer ons ‘n gesindheid het van: “God, voordat U ‘n woord sê, is my antwoord ‘ja!'” 

Wat as God my vra om iets regtig moeilik te doen?

Dit klink vreesaanjaend. Wat gebeur as Hy my planne totaal verander? Ja. Dit gebeur. Maar glo jy regtig dat jy beter weet as die Een wat nie net die toekoms sien nie, maar wat jou ook geskape het? God ken jou beter as wat jy jouself ken. Elke keer wanneer ek met God geargumenteer het, of gevoel het dat Hy my lewe in ‘n rigting neem waarvan ek nie seker was of ek daarheen wou gaan nie, was ek nog altyd aan die einde dankbaar. Dit werk altyd beter uit as wanneer ek my wil sommer met die intrapslag gekry het. 

Om regtig van God te hoor — om te sien wat Hy in jou lewe probeer doen — moet jy jouself vooraf aan Hom oorgee.

Die kwessie is nie wat van jou gevra mag word nie, maar wie die vrawerk doen. God is goed — so goed! Hy is liewer vir ons as wat ons ten volle kan begryp. Wat Hy jou ook al vra om te doen — al is dit regtig moeilik — gaan dit jou beslis na ‘n beter plek toe lei as wat jy jou ooit kan voorstel. Jy kan met vrymoedigheid “ja” sê, nog voordat God ‘n woord gesê het. Dit is die soort volkome vertroue waarna God soek, en ons kan Hom soveel beter sien en hoor as dit die ingesteldheid van ons harte is.