Stap Saam Met Ander

Een van die belangrikste reëls vir bergklim is: klim nooit alleen nie. Daar is net te veel dinge wat verkeerd kan gaan as jy in die veld of ruigtes gaan stap of klim. Jy het die veiligheid nodig van iemand by jou. 

Om nie jou paadjie alleen te stap nie, is ook goeie raad vir die lewe. Dit maak nie saak hoe sterk of voorbereid ons is nie, ons het altyd ander om ons op die lewensreis nodig. Koning Salomo praat hieroor in prediker: “Twee is beter as een.” Ons is nie geskape om alleen deur die lewe te gaan nie. ‘n Ou Afrika gesegde lui: “As jy vinnig êrens wil kom, gaan alleen. As jy ver wil gaan, stap saam met ander.”

Wanneer die lewe uitdagend of moeilik raak, is ons geneig om uit die gemeenskap te onttrek en onsself te isoleer.

Afsondering verloop egter nooit goed nie. ‘n Stuk steenkool wat uit die vuur gehaal word, verloor vinnig hitte. Ons is dieselfde. As ons die vuur en energie van ons lewenspaadjie met God wil behou, moet ons naby ander bly. Wanneer ons naby God se gemeenskap bly, ervaar ons ‘n tasbare uitdrukking van God se liefde.

God het ons geskape om Sy liefde nodig te hê. In ons wêreld sal die mees tasbare, sigbare uitdrukking van Sy liefde gewoonlik deur mense kom. Ons gee uitdrukking aan God se liefde deur mense lief te hê. Alles mag tussen jou en Jesus reg wees, maar die bewys lê daarin hoe jy dit teenoor ander uitleef. 

As dit daarbo eensaam voel, of jy voel dat mense jou terughou, is daar ‘n groot moontlikheid dat jy te vinnig beweeg en jy dalk jou pas ‘n bietjie moet vertraag. Die liefde vertraag gejaagdheid. Woede versnel dit weer. Jy kan nie liefde betoon as jy haastig is nie. Om jou pas te vertraag sodat jy saam met ander kan loop, is ‘n uitstekende manier om liefde te betoon. 

Wanneer die lewe besig of oorweldigend raak, is die beste ding wat ons kan doen om tyd saam met ander Christene ‘n prioriteit te maak.  Soek hulle gemeenskap op. Bly naby die warmte van verhoudings met ander. Jy sal agterkom dat jou woede en angs deur liefde vervang word. 

Integriteit is nie volmaaktheid nie

Die bekende Bybelkommentator, Matthew Henry, het by geleentheid geskryf: “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie.”

’n Mens kan onvolmaak wees en God in meer as een opsig faal, en steeds ’n “man van God” genoem word – solank hy tenminste eg en eerlik is, óók as hy gefaal en gesondig het. Dink maar aan Dawid en aan die erge sondes waaraan hy skuldig was: egbreuk en moord.

Toe hy egter deur die profeet Natan gekonfronteer is, het hy nie kwaad geword, die blaam op iemand anders gepak of sy koninklike mag misbruik nie. Hy het met opregte berou sy sonde en skuld voor God bely: Ek het gesondig teen die HERE! (2 Sam. 12:13). Gaan lees gerus weer sy aangrypende boetedoeningspsalm, Psalm 51. 

Ten spyte van Dawid se onvolmaaktheid is hy “’n man na die hart van God” genoem.

Die rede hiervoor was nie omdat Dawid geen sondes gedoen het nie, maar omdat hy eerlik en eg was – óók ten opsigte van sy sonde, skande en swakheid. Was Dawid volmaak? Nee! Was hy ’n man van integriteit? Ja, vir seker!

Aan die ander kant kan iemand alle voortreflike en edel deugde hê waaraan jy kan dink, maar as hy nie eg en eerlik is nie, kan hy nooit kwalifiseer om ’n “man van God” genoem te word nie. Onegtheid, ’n gebrek aan integriteit, trek ’n streep deur al my ander mooi eienskappe – “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie!” Luister net na die prominente plek wat hierdie eienskap inneem in die lewe van die gelowige wat die karakter van Christus weerspieël: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil. 4:8)

Dit is dus belangrik dat integriteit nie verwar moet word met volmaaktheid nie.

Terwyl die gelowige altyd moet streef na volmaaktheid, kan ons alleenlik ín Christus op volmaaktheid aanspraak maak. Natuurlik moet ons daarna streef om sonde in ons lewe sover moontlik uit te skakel en te vermy, maar wanneer ons wel gefaal en gesondig het, laat ons dit opreg voor God bely, en indien toepaslik, ook teenoor die persoon teenoor wie ek gesondig het.