Verlore Perspektiewe en Hoop

Soos Saul se fondament verbrokkel, word hy uiteindelik onbestendig en paranoïes. Hy ontwikkel aanvanklik ‘n hegte verhouding met Dawid, net om skielik teen Dawid gekant te word toe mense dit waag om ‘n speelse lied in die strate te sing:

“Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.”

Vir ‘n koning wat reeds ‘n wankelrige grondslag van misplaaste persoonlike selfvertroue gehad het, was hierdie lied waarskynlik soos die gevoel van ‘n klein, skerp klippie wat teen jou voet skuur gedurende ‘n lang resies en jy nie die vermoë het om jou skoen uit te trek nie. Eina!

Tog het Dawid nooit ‘n woord teen Saul gesê nie.

Die jong Dawid het ure by Saul deurgebring gedurende sy mees depressiewe oomblikke toe Saul hom nie soos ‘n koning gedra het nie. Dawid was persoonlik getuie van die foltering en las wat Saul platgedruk het as gevolg van sy ongehoorsame keuses en selfgerigtheid.

Dawid het nie gespog en deelgeneem aan die singery dat hy ‘n magtiger krygsman as Saul was nie. Later in Dawid se lewe, lank nadat Saul gesterf het, het Dawid steeds ‘n hart van eer en medelye gehad met die eerste koning van Israel wat God aangestel het.

Dit kom egter voor of die lied in die strate Saul se siening van Dawid verander het. Die seun wat eens ‘n lojale dienaar en leier van Saul was, wat alles wat aan hom toevertrou is goed gedoen het, was skielik ‘n nuwe bedreiging in die oë van iemand wat nou ten volle selfgerig was. Hoe meer Saul sy eie gang gegaan en desperaat probeer het om homself op te bou, hoe meer wantrouig het hy teenoor ander geword. 

Laat dit vir ons ‘n kragtige les wees. Wanneer ons fokus en geloof van God se krag na ons eie verskuif, sal ons uiteindelik op die een of ander manier onsself afsonder en die perspektief verloor wat ons nodig het om ander doeltreffend te lei. 

Doeltreffende leierskap vereis dat ons ‘n sterk grondslag of fondament moet hê sodat ons met selfvertroue die spanning, ​​te midde van uitdagings, kan hanteer. Sterk fondamente stel ons in staat om duidelik rigting aan te wys wanneer ander die pad begin byster raak. Saul se leierskapreis beklemtoon die belangrikheid daarvan om van die begin af ‘n sterk fondament van geloof in God te bou. Om leierskap van die grond af op te bou beteken dat ons nie passief bly of wegskram van ons roeping na nuwe terreine nie, inteendeel, ons groei sterker met elke tree — klein of groot — in gehoorsaamheid aan God.

Is daar êrens ‘n aangeleentheid waarop jy ‘n nuwe perspektief nodig het? Skryf dit neer. Skryf nou ‘n nuwe manier neer om oor die aangeleentheid te dink, of ‘n nuwe moontlike uitkoms. Wat sê God se Woord daaroor?

Openbaring van Fondamente

Dit is tyd dat ons as leiers mislukkings herformuleer. Dit is tyd dat ons ‘n besluit neem om na moeilike omstandighede deur die lens van hoop en geleentheid te kyk. Eintlik is dit tog stryd en spanning wat ons begrip verfyn en versterk oor God se liefde, en ook die geliefde seuns en dogters wat Hy ons geskape het om te wees.

Nietemin … as jou identiteit hoofsaaklik berus op wat jy dink JY tot stand kan bring, wat JY doen, wat JY kan behaal, dan kan moeilike tye jou selfvertroue verpletter. O, jy mag dalk in staat wees om ‘n sterk, professionele uiterlike te handhaaf. As jy egter innerlik ‘n valse altaar van vertroue in jou eie suksesse en prestasies gebou het, sal dit uiteindelik verbrokkel (en waarskynlik ook jou vrede daarmee saam).

Ons wat op Jesus Christus hoop, het egter ‘n fondament wat nooit herbou hoef te word nie, omdat dit nooit verbrokkel nie. Ons aanpasbaarheid, of vermoë om weer op ons voete te kom, word nooit betwyfel nie, want dit vloei voort uit wie Hy is, eerder as hoe sterk ons ​​is. 

Die verhale van Saul en Dawid se reise tot leierskap kan ons nogal heelwat leer hoe om ons fondamente te ontwikkel en hoe dit openbaar word. .

Saul was waarskynlik in alle opsigte die mees waarskynlike keuse as Israel se eerste koning. Hy was lank, aantreklik en ‘n vegter uit ‘n bekwame gesin. Hy was letterlik perfek in alle opsigte. Of liewer, dit het uiterlik voorgekom dat hy in alle opsigte perfek was.

Toe dit tyd word om Saul as die gesalfde koning van Israel aan te kondig, kon die volk hom nie kry nie. Die Here het hom uiteindelik geroep vanwaar hy in die bosse weggekruip het. Wegkruip.

Kan jy jou met Saul identifiseer? Het jy al ooit weggekruip van ‘n roeping na ‘n nuwe pad of geleentheid wat jy nie verwag het nie?

Interessant genoeg (en in skrille kontras met Dawid, Saul se opvolger), het ons nie veel geskrewe aantekeninge oor Saul se verhouding met God nie. In baie opsigte spreek daardie afwesigheid boekdele oor Saul se afhanklikheid (of gebrek daaraan) van God. Saul se omgang en gesprekke met God is grotendeels vir ons verborge. Daarteenoor word Dawid se hartstogtelike en diepe verhouding met God regdeur die boek Psalms vasgevang. Dawid het gereeld sy hart teenoor God, sy Maker en Vriend, privaat en in die openbaar uitgestort.

Ons woorde maak ook saak. Dit openbaar waarop ons gedagtes en gesindhede gefokus is. Dit openbaar waarin ons geloof gewortel is. Toe Saul uit sy skuilplek gekom en begin praat het, het die krake in sy innerlike fondament begin deurskemer. 

Vir ‘n man wat die liggaamlike voorkoms en die gebiedende teenwoordigheid gehad het om Israel se koning te wees, het Saul se vroeë woorde en optrede ‘n man begin openbaar wat homself gesien het op grond van wie hy gedink het hy is, waarskynlik wat hy gedink het ander van hom verwag om te wees, maar beslis nie vanuit die siening van ‘n almagtige en genadige God nie. God het Saul geroep om die eerste koning van Israel te wees, en Saul het homself onbeduidend en klein genoem. Daar was ‘n enorme gaping tussen Saul se siening en God se siening.

Hierdie gaping was die oorsaak van Saul se probleem. Dit is dikwels die oorsaak van ons eie probleme. As jy jouself iets anders noem as wat God jou noem, sal jy uiteindelik die fondament van jou geloof verskuif na ‘n plek wat onder die gewig van ‘n stryd sal kraak en verbrokkel. 

Teen die tyd wat Dawid op die toneel verskyn en in diens van Saul tree, na sy oorwinning oor Goliat, het God reeds besluit dat Saul nie veel langer die koning van Israel sou wees nie. Keer op keer het Saul op sy eie kragte staatgemaak in plaas van op God s’n. Sy misplaaste selfvertroue het met elke fout verder verbrokkel.

Dawid, die volgende koning van Israel wat deur God aangestel is, begin sy reis deur te sien hoe Saul uitmekaar begin val. Wat ‘n moeilike, tog geweldig kragtige les in ontwikkeling wat voor hom afgespeel het!

Bring tyd saam met God deur en vra Sy leiding om in Hom gewortel te bly. Vra Hom om vir jou enige areas in jou lewe te wys waar jy deur jou eie krag en selfversekerheid probeer slaag. Wanneer jy hierdie areas ontdek, vra Sy hulp om daardie ruimtes aan Sy leiding en rigtinggewing oor te gee. Soek na wyse mentors en raadgewers wat vir jou eerlike terugvoer en leiding kan gee wanneer jy verkeerdelik jou vertroue in jou eie vermoëns plaas. Onthou wanneer jy met jou hele hart vra, sal jy Hom vind.

Maak Kontak

Toe ek besef dat ek geskape is om nie slegs in die kerk te dien nie, maar om as die kerk ander te dien, was dit vir my van uiterste belang om met ander mense kontak te maak. Jy kan nie dien sonder om kontak te maak nie. Met wie jy kontak maak, bepaal die verhale wat jy môre vertel. Regdeur die geskiedenis was dit waar. Dink na oor die man wat verantwoordelik is vir die skryf van meer as ‘n derde van die Nuwe Testament, die apostel Paulus.

Paulus was nie van die begin af ‘n Christen nie. Voordat hy ‘n volgeling van Jesus geword het, was hy Saulus, van ‘n stad genaamd Tarsus, ‘n kwaai man wat die Christene vervolg en doodgemaak het. As jy nie van Jesus-ondersteuners hou nie, sou jy baie van Saulus gehou het. Nadat hy egter die lewens geneem het van diegene wat geglo het dat Jesus uit die dood opgewek is, het Paulus self een van hulle geword.

Sy gedaanteverwisseling was so groot, so ingrypend, so lewensveranderend, dat Saulus (wie se naam na Paulus verander is) dadelik vir ander van Jesus wou vertel. Die probleem was dat geen Christene hom vertrou het nie, en vir voor-die-handliggende redes.

Die boek Handelinge stel dit duidelik: “Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie.” Handelinge 9:26 NLV. Jy kan nie die dissipels blameer dat hulle skepties was nie. Ek sou nie wou hê die ou wat verlede maand nog Christene doodgemaak het, moet die leier van ‘n Bybelstudiegroep wees nie! Sou jy?

Paulus het ‘n probleem gehad. Hy het geloofwaardigheid onder ander Christene gekort. Paulus het dus uitgereik na enigiemand wat hom die kans sou gee om sy nuutgevonde passie te deel. Paulus se besluit om kontak te maak, het nie slegs sy verhaal verander nie, dit het die geskiedenis verander. Jy sien, Paulus was net een vriend weg van sy lotsverandering. En daardie vriend was ‘n man met die naam Barnabas.

Jou eie verhaal mag dalk verander as gevolg van een vriendskap.

Barnabas, het dit gewaag om Paulus na die apostels te neem, die leiers van die mense wat Paulus in sy vorige lewe probeer doodmaak het. Wat het gebeur? Paulus se nuwe vriend, Barnabas, het ter wille van Paulus, sy reputasie op die spel geplaas. En ter wille van Barnabas, het die ander dissipels vir Paulus ‘n kans gegee. Die res is geskiedenis. Jou eie verhaal mag dalk verander as gevolg van een vriendskap.

Een vriend kan jou lewe help verbeter. Een belydenis kan jou help om ‘n verslawing te oorkom. Een gesprek kan jou help om ‘n gesonder leefstyl te kweek. Een mentor kan jou help om jou gawes te verstaan en ‘n beter leier te word.

Vra jouself: Wat moet ek doen om met die regte mense kontak te maak? Is daar iemand wat ek moet vermy?

Wag

Ek het al menigmaal gewonder hoe anders my lewe sou wees as ek handdoek ingegooi het toe ek wou. My verhaal kon so geklink het: “Ja, ek het altyd gedink ek was veronderstel om ‘n pastoor te word, maar ek het dit probeer en dinge het nie uitgewerk nie. Dis maar hoe die lewe is.”

Ek is seker dat jy ook al met uitdagings in verskillende seisoene van jou lewe geworstel het: ‘n baas wat jy dink jy nie nog ‘n dag langer kan verdra nie, ‘n verhouding wat skielik seermaak, ‘n droom waarvan die hulpbronne opraak, ‘n skuif wat nie aan jou verwagtinge voldoen het nie. Wanneer jy probleme in die gesig staar, is dit normaal om jou gewigtige, lewensveranderende besluite te heroorweeg. Jy mag vrae soos die volgende vra:

  • Moet ek die kans waag om my huidige werk te bedank en iets anders te soek?
  • Is dit tyd vir my om aan te beweeg, nadat my vriende en familie opgegee het op my?
  • Is ek regtig uitgeknip daarvoor om ‘n besigheid te bedryf? Moet ek my verliese aanvaar voor dinge enigsins erger raak?

In elkeen van hierdie voorbeelde — en in die meeste groot lewensbesluite — is jy by ‘n kritieke kruispad, en is dit tyd om te besluit: moet ek wag of wegstap?

Kies ek om moed op te gee omdat dit die regte ding is om te doen, of omdat dit makliker sal wees om alles te los?

Dikwels is die beste en mees lonende keuse om op die pad te bly, selfs wanneer dit makliker sal wees om om te draai en weg te loop. Ek sê nie dit gaan nooit nodig wees om weg te stap nie. Voor jy egter die besluit neem, vra jouself: “Kies ek om moed op te gee omdat dit die regte ding is om te doen, of omdat dit makliker sal wees om alles te los?” Getrouheid om te bly waar jy gevestig is, is soms die grootste daad van geloof. Jare in die toekoms mag jy dalk terugkyk en God dank dat jy besluit het om te bly toe dit makliker sou wees om te gaan.

Onthou, God het jou na Sy beeld geskape en Hy is die leidsman en voleinder van jou verhaal. Jy is nie iemand wat tou opgooi nie. Jy is ‘n voltooier.

Here, is daar enigiets waarvan ek probeer wegstap, wat U wil hê ek moet klaarmaak? Sal U my u krag gee om deur te druk?

Dien

Om ander te dien kom nie vir my vanself nie. Ek is ‘n self-gesentreerde persoon. Ek hou daarvan dat dinge op my manier gedoen word. Dit is nie iets waarop ek trots is nie, maar ongelukkig is dit die waarheid.

Ek is nie die enigste een nie. Ons almal kan so ‘n bietjie self-gesentreerd wees. Van nature is ons selfsugtige mense. Dink daaroor: jy hoef nie ‘n kind te leer om selfsugtig te wees nie. Volgens Jesus, gaan die lewe nie net oor ons nie, maar nogtans probeer alles in ons kultuur (insluitend daardie hamburger-plek) vir ons sê om dinge op ons eie manier te doen.

Een van die vinnigste maniere om van God te vergeet, is om met “ek” behep te wees. Jesus het baie reguit woorde gehad vir diegene wat Hom wou volg. Hy het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” Matteus 16:24.

God wil hê ons moet dit op SY manier doen. Hy wil nie hê ons moet dinge volgens ons begeertes doen nie.

Jesus het ‘n stelling gemaak wat ons moet laat dink: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.” Johannes 4:34 NLV

Stel jou voor jy kan sê: “My kos is om God te dien. My kos is om Hom te behaag. My kos is om die taak te voltooi waarvoor God my gestuur het. My kos is om die wil te doen van my Vader en om Sy werk te voltooi.” Dit is ‘n ander soort voeding. Dit is om met goddelike leiding te leef.

Wanneer ons hele kultuur sê: “Voed jouself,” sê God dat ons ander moet voed.

Wanneer die mense om ons sê: “Kry alles wat jy kan! Dit gaan alles oor jou,” wil God hê ons moet ‘n bydrae lewer, eerder as om te neem. Wanneer ons hele kultuur sê: “Voed jouself,” sê God dat ons ander moet voed. God het ons nie geskape om nemers te wees nie. Hy het ons geskape om gewers te wees. Eerder as om op ons begeertes te konsentreer, is ons geroep om op die behoeftes van ander te fokus. In plaas daarvan om voor in die ry in te druk, word ons geroep om aan die einde van die ry te wag. God het ons geskape om te dien.

Hierdie manier van lewe sal jou verhaal verander.

Dink daaroor. Die stories wat jy die graagste in herinnering roep, is dié waar jy jou buurman gehelp het, by die kerk betrokke geraak het, of iets weggegee het. Dit is omdat ons gemaak is om te dien, net soos Jesus op aarde gedoen het. Die besluit om te dien mag dalk nie vir jou natuurlik wees nie. Dit was ook nie altyd vir my nie. Maar ek het tot die besef gekom dat om te dien, nie iets is wat ons doen nie. Ons word geroep om ‘n dienaar te wees. Wanneer ons dien, word ons soos Christus.

Vra dalk vir God: Hoe moet ek dien? Wie moet ek dien? Waar moet ek dien?

Stop

Een van die beste besluite wat jy kan neem, wanneer jy impulsief voel, of voor ‘n netelige probleem te staan kom, is om te stop. Roep eers halt. Bid vir leiding. Slaap daaroor. Kry goddelike wysheid van mense wat jy vertrou en kry ‘n idee van die moontlike gevolge. Vra jouself dan: “Is dit iets wat ek dalk nie moet doen nie?”

Die meeste mense het goeie bedoelings of ten minste ‘n soort regverdiging vir dit wat hulle wil doen. Nogtans blyk dit dat soveel mense verbaas is wanneer hulle uitvind dat hulle baie ver weg is van die rigting waarin hulle wou gaan. Die groot veranderinge in ons lewens — beide negatief en positief — gebeur selde sonder ‘n reeks besluite wat opeenvolgend is, soos nimmereindigende dominoes.

Kan jy insien dat, om te stop, een van die mees produktiewe dinge is wat ons kan doen? Wanneer jy stop, sodat jy ‘n voorraadopname kan doen van waar jy is en waarheen jy wil gaan, dan kan jy besluit hoe om aan te beweeg na jou bestemming toe.

Waarmee kan jy ophou, sodat jy nader aan God se goddelike bestemming kan kom?

Doen jy enigiets wat jou in ‘n rigting neem waarin jy nie wil gaan nie (of waarheen God nie wil hê jy moet gaan nie)? Waarmee behoort jy heeltemal op te hou? ‘n Verslawing aan sosiale media, drankmisbruik, pornografie, aanvaarding, of werk? ‘n Ongesonde verhouding? ‘n Veroordelende houding? Waarmee kan jy ophou sodat jy nader aan God se goddelike bestemming kan kom? Hanteer elke keuse asof dit ‘n tree nader aan jou bestemming is.

As ons weet dat ‘n sekere optrede of verhouding ons in ‘n rigting laat gaan wat ons verder wegneem van die verhaal wat ons wil vertel, is dit nodig om stil te staan, nie net om die gevolge te oorweeg nie, maar ook om die keuse te maak om nie verder in die verkeerde rigting te gaan nie. Jy het waarskynlik al die woord “bekeer” gehoor. Een van die letterlike betekenisse is om “om te draai”. Wanneer jy tot bekering kom, hou jy op om in ‘n sekere rigting te gaan en keer jy terug na God en sy pad vir jou.

In hierdie opsig beteken, om te stop, dat jy eintlik ‘n nuwe rigting inslaan. Dit mag nodig wees om ‘n tree na verantwoordelikheid, vergifnis, die regte vriende, of ‘n nuwe woonplek te gee.

Vra jouself:

1. Indien ek die keuse maak wat ek oorweeg, waarheen kan dit my neem?

2. Waarmee kan ek ophou, sodat ek nader aan God se goddelike riglyne kan beweeg?

Aanpasbaarheid

Die suiwering wat plaasvind wanneer jy deur ‘n stryd in jou lewe gaan, is soos suiwer goud. (Dit is reg … suiwer goud!) Die proses om jou oë op God gefokus te hou en Hom voortdurend te loof as die ewig – goeie en getroue God te midde van ‘n stryd, is ‘n offer wat ons net aan hierdie kant van die ewigheid aan Hom kan gee. Dit is vir Hom ‘n aangename klank om te hoor, omdat dit ‘n pragtige offer voortbring wat heeltemal anders is as wat ons kan gee wanneer alles eenvoudig is en glad verloop.

Om deur spanning te werk, lewer kragtige resultate op die gebied van karakter- en leierskapontwikkeling. Oor baie jare se samewerking en begeleiding van talentvolle Fortune 500 leiers, kan ek eerstehands getuig dat die beste leiers — diegene wat erkenning geniet as die beste om voor te werk; wat die beste waarde vir die onderneming toevoeg en wat die grootste belofte van potensiaal inhou — het almal gewerk en gestry om bo uit te kom deur ontelbare moeilike persoonlike en professionele uitdagings.

Hierdie leiers kom al vir baie jare deur vele vlakke van spanning. Hulle het sukses behaal en misluk. Hulle het vasberade weer op hul voete gekom en uit hul foute geleer. Jy het dalk gehoor dat hierdie vaardigheid as aanpasbaarheid beskryf word. Wyse leiers soek daadwerklik na huidige en volgende generasie talent met baie van hierdie vermoë om met vasberadenheid weer op die voete te kom.

Aanpasbaarheid is onder die mees betroubare voorspellers van opkomende leierskaptalent. Aanpasbare individue is diegene wat bereid is om moeilike terugvoer te ontvang, daarna te luister, te leer en weer te probeer.  

Midde in die stryd, is dit belangrik vir leiers om die gawe wat aan ons gegee is, te verwesenlik en so potensiële geleenthede te herskep. Slegs gedurende ‘n stryd kan ons aanpasbaarheid ontwikkel. Die laaste ding wat jy waarskynlik in ‘n leier wil hê, is iemand wat net ervaring van goeie tye het en daarin leiding geneem het. Dink aan ‘n palmboom en die uiterste belangrikheid dat dit sterk, diep wortels sal hê. Immers, wat is die waarde van ‘n verstommende hoë, pragtige palmboom wat ontwortel word met die eerste teken van ‘n tropiese storm? 

‘n Boom moet blootgestel word aan winde wat probeer om dit uit die grond te ruk en pluk sodat dit sonder ondersteuning regop kan staan. Terwyl dit aan wind blootgestel word, sal die boomwortels sterker groei en sodoende dieper in die grond geanker word.  

Ons raak dikwels opgewonde wanneer ons tekens sien dat ‘n boom se blare, blomme of vrugte (ook bekend as spoggoed) begin groei, maar dit is eintlik die groeiproses onder die grond wat die belangrikste eienskap van ‘n lang lewe en standvastigheid van ‘n boom is.