Volharding

In ‘n wêreld waar ons toegang tot soveel onmiddellike bevrediging het, is dit maklik om oor iets om te gee, maar moeilik om jou aan iets te verbind — of dit nou ‘n televisieprogram, ‘n saak waaroor jy omgee of selfs ‘n vriendskap is. 

Dink daaroor. Wanneer onreg gepleeg word, kan jy maklik met ‘n sosiale media plasing aan jou woede uiting gee en teen die volgende dag al daarvan vergeet het. Wanneer jy eensaam voel is dit maklik om vir ure deur kommentare te blaai in plaas daarvan om doelbewus met iemand anders in verbinding te tree.

Tog mis ons iets teen die einde van die dag en dis waar die deug van volharding ter sprake kom. 

Volharding moet egter bewys word — dit kan nie bloot verkondig word nie. Wat dit nogal uitdagend maak, is dat volharding gewoonlik die resultaat van pyn en lyding is. 

Niemand het dit beter as Paulus geweet nie. Hy was sekerlik meer as enigeen in staat om kort, kragtige praatjies te lewer oor wat dit beteken om gedurende beproewings te volhard. 

Kom ons hersien sy pyn en terugslae: 

  • Hy is herhaaldelik in gevangenis geneem. 
  • Hy het nie een keer nie, maar drie keer skipbreuk gely. 
  • Hy is nie net een keer nie, maar vyf verskillende kere uitermate geslaan. 
  • Hy is gestenig, geslaan, het gevaar oral in die gesig gestaar en die las gedra om verskeie kerke te bedien. 
  • Hy het dikwels honger gely en was sonder voldoende klere.

Enige van hierdie dinge sou geweldig baie volharding vereis het, maar almal? Dit lyk onmoontlik. 

Soms lees ons die Skrif en vergeet ons lees van regte mense met regte gevoelens, regte vrese en regte fisieke behoeftes. Paulus was nie ‘n soort superheld nie. Hy was maar net ‘n doodgewone man. 

Tog het hy nie handdoek ingegooi toe hy voor hierdie beproewinge te staan gekom het nie. Hy het nie gekla oor sy aaklige lewe nie. Hy het nie op God begin skreeu oor die onregverdigheid om alles te verloor deur Hom te volg nie. 

Hy het sy pyn in ‘n doelwit verander. Terwyl hy in die tronk was het hy hierdie woorde geskryf: 

“Ek wil hê julle moet weet broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” Filippense 1:12-13

Paulus het nie die werklikheid van sy ervaringe ontken nie. Hy het erken dat dit moeilik was. Trouens, hy het al sy pynlike ervaringe en lyding in 2 Korintiërs gelys. Tog het hy besef dat hy ‘n keuse het.

Hy kon kies om na die lewe deur die pyn van sy omstandighede te kyk; of hy kon kies om God se goedheid te midde van sy lyding raak te sien. 

Ons het net soos Paulus, daagliks die keuse om te volhard. Jesus het ons mos belowe dat ons dit in hierdie lewe moeilik sal hê. Tog, op daardie moeilike dae — die dae wanneer dit swaar is om die goedheid van God raak te sien — kan ons kies om aan te gaan in die wete dat ons ewige loon meer werd is as ons tydelike pyn en lyding. 

Wanneer ons voel ons kan regtig nie meer volhou nie, ontmoet God ons met nog meer van Sy genade, krag en mag. 

Integriteit

Die rede hoekom die meeste van ons ineenkrimp wanneer deugde seine uitgestuur word, is omdat dit dikwels ‘n wanvoorstelling van iemand se gedrag en oortuigings is. Wanneer iemand beweer dat iets vir hulle belangrik is, maar die persoon se lewe weerspieël nie so ‘n prioriteit nie, neem mens moeilik so iemand ernstig op — en dit lei tot ‘n probleem met integriteit. 

Dit verg ‘n leeftyd om integriteit op te bou en slegs ‘n oomblik om dit te vernietig, terwyl dit een van ‘n mens se belangrikste karaktereienskappe is. Een van ons kerk se waardestellings is dus:

“As ons met integriteit lewe, maak niks anders saak nie. As ons nie met integriteit lewe nie, maak niks anders saak nie.” 

Ons verloor alle invloed wanneer ons ons integriteit verloor. Dit is iets wat ons hopeloos te dikwels sien wanneer goeie leiers deur ‘n enkele verkeerde besluit hul nalatenskap verloor. Tog beplan niemand om hul integriteit te vernietig nie. Waarom gebeur dit dan? 

Dit is maklik om die waarde in te sien van die deug van integriteit, maar moeilik om geldig te verklaar. Wanneer jy dus oor jou eie integriteit dink, kan jy hierdie vrae oorweeg: 

  • Stem jou oortuigings met jou bedrag ooreen?
  • Sou ander mense sê jy beskik oor integriteit? 
  • Het die mense wat jou die beste ken, jou ook die liefste? 
  • Stem jou private lewe ooreen met jou openbare beeld? 

Dit is moeilike vrae, omdat dit sal openbaar of jy deugde seine uitstuur of werklik jou waardes uitleef. Hoe lyk dit dan om ‘n lewe van integriteit te leef? 

Samuel gee ons ‘n baie goeie voorbeeld hiervan. Hy was ‘n leier wat die volk ten beste gedien het — tot so ‘n mate dat hy teen die einde van sy lewe die volk gevra het of daar enige klagtes teen hom was — en die reaksie was: 

“Toe antwoord hulle: ‘U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.’” 1 Samuel 12:4 

Sou dit nie wonderlik wees om so ‘n nalatenskap van integriteit agter te laat nie?

Hoe doen ‘n mens dit dan? 

Ongelukkig is daar nie ‘n vinnige, drie-stappe resep hiervoor op sosiale media nie. Elke keer wat jy wel ‘n besluit neem om die regte ding te doen omdat dit reg is, bou jy aan jou integriteit. Wat meer is: Die deug van integriteit ontstaan nie deur ‘n spesiale formule nie, dit word deur ‘n leeftyd van getrouheid gekweek

  • Integriteit maak dit vir ons moontlik om ‘n hegter verhouding met God te hê. 
  • Integriteit dien as ‘n duidelike riglyn in ‘n ingewikkelde wêreld. 
  • As gevolg van integriteit het jy altyd vrede in jou hart, want jy probeer nie om ‘n leuen te lewe nie
  • Integriteit lei tot respek en invloed.

Hoeveel is jou integriteit dus werd? Anders gestel: Wat sê jou dade is jou integriteit werd? 

Om eer te betoon

Hoe beweeg ons verby die uitstuur van deugde seine tot by die uitleef van daardie deugde waarvoor God ons roep? Ons moet eerstens van die deugde identifiseer wat nie vandag in ons samelewing so algemeen is nie — en ons begin met eerbaarheid. 

Dit is baie maklik om mense te eer wat eerbare lewens lei, maar wat van leiers wat nie eerbaar is nie?

Al is dit hoe moeilik, is ons geroepe om eer te betoon, selfs voordat iemand eerbaar lewe. Trouens, deur eer te betoon, help mense dikwels om in die proses meer eerbaar te word. 

Dit kom regdeur die Skrif voor, maar dis veral duidelik in Dawid se verhaal. As ‘n jong skaapwagter het Dawid die reus, Goliat, verslaan en is hy later as koning oor Israel gesalf. Dit was egter jare later wat sy roeping eers ‘n werklikheid geword het.

God het Saul gesalf as Israel se eerste koning, maar mettertyd het Saul trots geword en was hy in die openbaar aan God ongehoorsaam. Hy het Dawid as kompetisie gesien en ook verskeie kere probeer om hom dood te maak, alhoewel Dawid hom altyd getrou gedien het. 

Dawid het dus voor ‘n onregverdige leier te staan gekom wat hom as ‘n bedreiging gesien het. Terselfdertyd het Dawid geweet God het hom geroep om eendag Saul se rol in te neem. 

Stel jou Dawid se verknorsing voor toe hy nie net een keer nie, maar twee keer die geleentheid kry om Saul dood te maak. Al sy raadgewers wou hê hy moet dit doen. Op daardie stadium was hy letterlik op die vlug omdat Saul hom wou dood hê. 

En tog — Dawid het aan Saul eer betoon deur te weier om hom skade aan te doen en het hy vir die manne gesê: 

” … Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.” 1 Samuel 24:7 AFR83 

Dawid het geweet dat iemand anders se sonde nie jou eie regverdig nie. Al was Saul verkeerd, was hy nogtans die gesalfde leier van God. Dawid was steeds geroepe om te dien, gehoorsaam te wees en eer te betoon. 

Jou omstandighede is dalk nie so dramaties soos Dawid s’n nie, maar jy het ‘n keuse om eer te betoon of te weerhou.

Al is die versoeking hoe groot om eer van iemand te weerhou deur oor die persoon te skinder, ongehoorsaam te wees, te kritiseer of te ondermyn, kan ons tog ‘n belangrike les van Dawid leer: Iemand anders se foute moenie jou getrouheid ontwrig nie. 

Die eer wat Dawid betoon het, het gelei tot ‘n verandering by Saul. Dit het nie elke faset van Saul se karakter reggemaak nie, maar dit het die vrug van Dawid s’n gewys. So het Saul gereageer: 

“Toe begin Saul hard huil en hy sê vir Dawid: ‘Jy is ‘n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen. Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie.'” 1 Samuel 24:18-19 AFR83

Wanneer ons eer betoon, inspireer dit ander om eerbaarder te lewe en dit is tot eer van God. 

Deur eer te betoon beteken nie dat jy nooit vir jouself standpunt kan inneem nie of jouself uit ‘n toksiese omstandigheid kan verwyder nie, maar dit beteken wel dat jy die ware deug van eerbaarheid uitleef soos die Skrif aan ons voorhou: 

“Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” Romeine 12:10 

Deugde Seine

“Deugde seine” is ‘n begrip wat op sosiale media, in die nuus en informele gesprekke al hoe gewilder word. Tog is dit nie ‘n nuwe verskynsel nie. Wat is dit dan? Eintlik is dit ‘n negatiewe frase wat meestal gebruik word om mense uit te wys wat hulle voordoen om besorgd te wees oor hul openbare voorkoms, maar hul ware motiewe verbloem. 

Regdeur die Skrif sien ons algemene temas van mense wat ‘n regverdige uiterlike voorhou terwyl hulle eintlik heimlik vol trots is. Trouens, die Fariseërs is uitmuntende voorbeelde van deugde seiners. 

Kom ons neem ‘n paar treë terug. Die Fariseërs was godsdienstige leiers wat uiters streng was oor die nakoming van die Ou Testamentiese wet. Eintlik het hulle nuwe wette ingestel om te verseker dat geen wette oortree word nie — en hulle wou hê almal moes daarvan weet. 

Ons sien in Lukas 20:47 hoe hulle in openbare plekke lang gebede vir die skyn opsê, maar intussen die huise van weduwees inpalm. Dis nou vir jou uitstuur van deugde seine! 

Hulle was so betrokke daarin om die wet na te kom dat hulle nie kon raaksien wat reg voor hulle was nie — ‘n Verlosser wat beide waarheid en genade aan hulle gebied het.

Jesus was baie bewus van hul godsdiensteater en die leë deugde seine wat hulle uitstuur en Hy was glad nie tevrede daaroor nie. In Matteus 23 vaar Hy teen hulle gedrag uit: 

“Alles wat hulle [die Fariseërs] doen, doen hulle net om deur mense gesien te word  … ‘Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.’” Matteus 23:5, 27-28

Natuurlik is dit vir ons maklik om die vinger na die Fariseërs te wys en hul dade te veroordeel. ‘n Beter reaksie is egter om onsself te ondersoek en raak te sien waar ons in die versoeking is om soos Fariseërs te dink en op te tree.

Trouens, kom ons wy ‘n paar oomblikke daaraan om ons eie beweegredes te beoordeel. 

  • Is jy soms meer besorgd oor wat ander van jou dink of sê as wat volgens die Skrif van jou waar is?
  • Het jy al ooit iets op sosiale media geplaas om te “bewys” hoe godsdienstig jy is? 
  • Dink jy partykeer dat jy darem beter as iemand anders is omdat jou periode in die Bybeltoepassing langer is, of omdat jy ander meer gereeld dien, of oor hoeveel jy bydra?
  • Kom die goeie dade wat jy soms doen uit ‘n begeerte om beloning of erkenning te kry, eerder as uit ‘n opregte begeerte om Christus te verteenwoordig?
  • Het jy al ooit iemand gekritiseer omdat jy nie hul beweegredes vertrou nie? 

Eina

Ons almal het al op een of ander stadium in ons lewens verkeerde beweegredes gehad. Eintlik wil ons almal graag as goeie leiers, ‘n goeie voorbeeld, ‘n goeie Christen of sommer net in die algemeen as ‘n goeie mens bekendstaan. Daardie begeertes op sigself is nie verkeerd nie en ons hoef ook nie te wag totdat ons beweegredes 100% suiwer is voordat ons iets goeds doen nie. Eerlikwaar, dis eintlik onwaarskynlik dat ons beweegredes ooit werklik eg en suiwer sal wees. 

Tog, wanneer ons meer fokus op wat ander dink eerder as wat God van ons dink, kan ons baie vinnig in die strik trap om deugde seine uit te stuur — deur meer moeite te doen om ander te oortuig dat ons die regte dinge doen, in plaas daarvan om werklik die regte dinge met die regte beweegredes te doen.

Ons sal dus oor die volgende paar dae ontdek hoe om uit die strik te kom om deugde seine uit te stuur en eerder te begin lewe vanuit die ware deugde waartoe Jesus ons roep.