Stuur Geen LeË Seine meer uit nie

Dit is nie vir ons as Christene genoeg om bloot te sê dat ons Jesus volg nie. Ons moet dit uitleef, anders word ons skynheilige deugde seiners, eerder as inspirerende gewers van hoop. 

Dit werk so: Om ons deugde te verkondig sonder om dit ook uit te leef, lei tot trots. Ons sien dit in die verhaaltjie wat Jesus in Lukas 18 van die eiegeregtige Fariseër vertel wat ‘n uitvoerige gebed bid om God te dank dat hy nie soos die korrupte tollenaar agter hom is nie. Dan bid die tollenaar hierdie eenvoudige gebed: “O God, wees my, sondaar, genadig.” Lukas 18:13b

Die Fariseër het hierdie platform gebruik om ander skaam te maak terwyl hy homself verhoog het. Daarteenoor het die tollenaar God geëer en homself verneder. Jesus sê dan “dit is die tollenaar wat huis toe gegaan het as iemand wie se saak met God reg is.”

Dit is te dikwels wat ons onsself soos die Fariseër in die verhaal gedra. Jesus het gesê hierdie wêreld sal weet dat ons Hom volg deur ons liefde — nie deur ons houdings, Instagram kommentare of ons menings nie. 

Indien ons gereed is om verby die uitstuur van deugde seine te beweeg, moet ons begin om ons beginsels in ons dade uit te leef. Gaan kyk wat sê Jesus in Lukas 6: “Watter sin het dit dat julle my aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” Lukas 6:46

Wanneer ons waarlik Jesus se woorde begin uitleef, sal ons gemeenskappe ook as gevolg daarvan anders lyk.

Ons sal nie soos die Fariseërs ander verdoem nie. Ons sal hulle liefhê. Ons sal nie ons eie optrede teenoor ander bevorder nie. Ons sal ander na God se goedheid terugwys. Wanneer dit ons keuse is om ander te dien, lief te hê, te bemoedig, vrygewig te wees en in God se familie in te nooi, bring ons ‘n bietjie meer van God se koninkryk hier op aarde.

Deur hierdie optrede neem ons geloof van ‘n mooi begrip af tot ‘n vaste deel van wie ons is en hoe ons lewe. 

Ons kan nie alles doen nie, maar almal kan iets doen. Watter talente het God dus aan jou gegee wat jy kan aanwend in diens van ander? Watter hulpbronne het jy waarmee jy ander kan seën? Dit is nou tyd om die uitstuur van leë deugde seine te staak en te begin om ware deugde te beliggaam. 

 Identifiseer in hierdie week een gebied waar jy ander kan dien en gaan doen dit dan! 

Dankbaarheid

Ons het verlede week gesien hoe onmiddellike bevrediging ons volharding kan beïnvloed, maar dit het ook ‘n invloed op hoe dankbaar ons is. Dink aan al die klein dingetjies wat ons so maklik irriteer: 

  • Jy moet ‘n bietjie langer vir jou kitskos wag. 
  • ‘n Toep neem bietjie lank om te laai. 
  • Die Netflix bufferikoon hang op die skerm net wanneer jy jou regmaak vir ure se fliek.
  • Jy dink: “Ek het niks om te dra nie!” maar jou hangkas is propvol klere.

Dis so maklik om behep te raak met alles wat verkeerd gaan, in plaas daarvan om God te prys vir wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Net so sien ons maklik al die seëninge van God as vanselfsprekend of wat ons verdien, eerder as gawes wat aan ons gegee is. 

Wanneer ons vergeet om dankbaar te wees, kan twee moontlike ingesteldhede ontstaan. 

  • Ingesteldheid een sê: “Ek wil dit nou hê, dus vat ek dit dadelik.” 
  • Ingesteldheid twee sê: “Ek verdien dit en het daarvoor gewerk, en klaar.” 

Beide ingesteldhede kom voor in die verhaal van die verlore seun. Die jongste seun sê vir sy pa dat hy sy erfenis onmiddellik wil hê, dus neem hy sy geld, verlaat die gesin en verloor alles wat hy het gedurende ‘n reeks swak keuses wat hy maak. 

Met sy terugkeer huis toe, hardloop sy pa hom tegemoet, verwelkom hom en gooi ‘n groot partytjie om sy terugkoms te vier. 

Hier kom die gevaarlike ingesteldheid nommer twee:

Intussen het die ouer broer die hele tyd by sy pa gebly en stel jou dus sy frustrasie met hierdie verwelkomingspartytjie voor. Hy is gegrief, gefrustreerd en woedend en weier dus om die partytjie by te woon omdat sy pa nooit vir hom ‘n partytjie gehou het nie.  

Hierdie houding is baie algemeen. Iemand anders kry die bevordering waarop ek gehoop het en in plaas daarvan om dit te vier, begin ek vergelyk en wedywer. In plaas daarvan om God te dank vir die werk wat ek het, fokus ek op die pos wat ek graag wou hê.

Wat nou? Hoe vermy ons hierdie gevaarlike ingesteldhede en kweek eerder dankbaarheid?  

Skep ‘n gewoonte om God te dank vir alles wat jy het. Dank God vir die huweliksmaat wat die skottelgoedwasser anders as jy uitpak. Dank God vir die baas van wie jy nie hou nie omdat jy weet jy het ‘n werk en ‘n geleentheid om jou geloof te deel. Dank God vir ‘n nuwe dag, vars genade en vir wie Hy is. 

Dit werk so: Elke seëning waarvoor jy nie dankbaar is nie, verander in trots. Die Skrif waarsku ons in Spreuke 16:18: “Op hoogmoed volg ondergang …” 

Wanneer jy doelbewus tyd daaraan wy om dankbaarheid in jou lewe te kweek, sal jy groter tevredenheid, vrede en vreugde ervaar. Jy mag dalk net die waarheid ondervind dat dankbaarheid dit wat jy het vir jou genoeg maak. 

Maak dalk ‘n lys van alles waarvoor jy dankbaar is en prys God dan daarvoor. 

Volharding

In ‘n wêreld waar ons toegang tot soveel onmiddellike bevrediging het, is dit maklik om oor iets om te gee, maar moeilik om jou aan iets te verbind — of dit nou ‘n televisieprogram, ‘n saak waaroor jy omgee of selfs ‘n vriendskap is. 

Dink daaroor. Wanneer onreg gepleeg word, kan jy maklik met ‘n sosiale media plasing aan jou woede uiting gee en teen die volgende dag al daarvan vergeet het. Wanneer jy eensaam voel is dit maklik om vir ure deur kommentare te blaai in plaas daarvan om doelbewus met iemand anders in verbinding te tree.

Tog mis ons iets teen die einde van die dag en dis waar die deug van volharding ter sprake kom. 

Volharding moet egter bewys word — dit kan nie bloot verkondig word nie. Wat dit nogal uitdagend maak, is dat volharding gewoonlik die resultaat van pyn en lyding is. 

Niemand het dit beter as Paulus geweet nie. Hy was sekerlik meer as enigeen in staat om kort, kragtige praatjies te lewer oor wat dit beteken om gedurende beproewings te volhard. 

Kom ons hersien sy pyn en terugslae: 

  • Hy is herhaaldelik in gevangenis geneem. 
  • Hy het nie een keer nie, maar drie keer skipbreuk gely. 
  • Hy is nie net een keer nie, maar vyf verskillende kere uitermate geslaan. 
  • Hy is gestenig, geslaan, het gevaar oral in die gesig gestaar en die las gedra om verskeie kerke te bedien. 
  • Hy het dikwels honger gely en was sonder voldoende klere.

Enige van hierdie dinge sou geweldig baie volharding vereis het, maar almal? Dit lyk onmoontlik. 

Soms lees ons die Skrif en vergeet ons lees van regte mense met regte gevoelens, regte vrese en regte fisieke behoeftes. Paulus was nie ‘n soort superheld nie. Hy was maar net ‘n doodgewone man. 

Tog het hy nie handdoek ingegooi toe hy voor hierdie beproewinge te staan gekom het nie. Hy het nie gekla oor sy aaklige lewe nie. Hy het nie op God begin skreeu oor die onregverdigheid om alles te verloor deur Hom te volg nie. 

Hy het sy pyn in ‘n doelwit verander. Terwyl hy in die tronk was het hy hierdie woorde geskryf: 

“Ek wil hê julle moet weet broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is.” Filippense 1:12-13

Paulus het nie die werklikheid van sy ervaringe ontken nie. Hy het erken dat dit moeilik was. Trouens, hy het al sy pynlike ervaringe en lyding in 2 Korintiërs gelys. Tog het hy besef dat hy ‘n keuse het.

Hy kon kies om na die lewe deur die pyn van sy omstandighede te kyk; of hy kon kies om God se goedheid te midde van sy lyding raak te sien. 

Ons het net soos Paulus, daagliks die keuse om te volhard. Jesus het ons mos belowe dat ons dit in hierdie lewe moeilik sal hê. Tog, op daardie moeilike dae — die dae wanneer dit swaar is om die goedheid van God raak te sien — kan ons kies om aan te gaan in die wete dat ons ewige loon meer werd is as ons tydelike pyn en lyding. 

Wanneer ons voel ons kan regtig nie meer volhou nie, ontmoet God ons met nog meer van Sy genade, krag en mag. 

Integriteit

Die rede hoekom die meeste van ons ineenkrimp wanneer deugde seine uitgestuur word, is omdat dit dikwels ‘n wanvoorstelling van iemand se gedrag en oortuigings is. Wanneer iemand beweer dat iets vir hulle belangrik is, maar die persoon se lewe weerspieël nie so ‘n prioriteit nie, neem mens moeilik so iemand ernstig op — en dit lei tot ‘n probleem met integriteit. 

Dit verg ‘n leeftyd om integriteit op te bou en slegs ‘n oomblik om dit te vernietig, terwyl dit een van ‘n mens se belangrikste karaktereienskappe is. Een van ons kerk se waardestellings is dus:

“As ons met integriteit lewe, maak niks anders saak nie. As ons nie met integriteit lewe nie, maak niks anders saak nie.” 

Ons verloor alle invloed wanneer ons ons integriteit verloor. Dit is iets wat ons hopeloos te dikwels sien wanneer goeie leiers deur ‘n enkele verkeerde besluit hul nalatenskap verloor. Tog beplan niemand om hul integriteit te vernietig nie. Waarom gebeur dit dan? 

Dit is maklik om die waarde in te sien van die deug van integriteit, maar moeilik om geldig te verklaar. Wanneer jy dus oor jou eie integriteit dink, kan jy hierdie vrae oorweeg: 

  • Stem jou oortuigings met jou bedrag ooreen?
  • Sou ander mense sê jy beskik oor integriteit? 
  • Het die mense wat jou die beste ken, jou ook die liefste? 
  • Stem jou private lewe ooreen met jou openbare beeld? 

Dit is moeilike vrae, omdat dit sal openbaar of jy deugde seine uitstuur of werklik jou waardes uitleef. Hoe lyk dit dan om ‘n lewe van integriteit te leef? 

Samuel gee ons ‘n baie goeie voorbeeld hiervan. Hy was ‘n leier wat die volk ten beste gedien het — tot so ‘n mate dat hy teen die einde van sy lewe die volk gevra het of daar enige klagtes teen hom was — en die reaksie was: 

“Toe antwoord hulle: ‘U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.’” 1 Samuel 12:4 

Sou dit nie wonderlik wees om so ‘n nalatenskap van integriteit agter te laat nie?

Hoe doen ‘n mens dit dan? 

Ongelukkig is daar nie ‘n vinnige, drie-stappe resep hiervoor op sosiale media nie. Elke keer wat jy wel ‘n besluit neem om die regte ding te doen omdat dit reg is, bou jy aan jou integriteit. Wat meer is: Die deug van integriteit ontstaan nie deur ‘n spesiale formule nie, dit word deur ‘n leeftyd van getrouheid gekweek

  • Integriteit maak dit vir ons moontlik om ‘n hegter verhouding met God te hê. 
  • Integriteit dien as ‘n duidelike riglyn in ‘n ingewikkelde wêreld. 
  • As gevolg van integriteit het jy altyd vrede in jou hart, want jy probeer nie om ‘n leuen te lewe nie
  • Integriteit lei tot respek en invloed.

Hoeveel is jou integriteit dus werd? Anders gestel: Wat sê jou dade is jou integriteit werd? 

Om eer te betoon

Hoe beweeg ons verby die uitstuur van deugde seine tot by die uitleef van daardie deugde waarvoor God ons roep? Ons moet eerstens van die deugde identifiseer wat nie vandag in ons samelewing so algemeen is nie — en ons begin met eerbaarheid. 

Dit is baie maklik om mense te eer wat eerbare lewens lei, maar wat van leiers wat nie eerbaar is nie?

Al is dit hoe moeilik, is ons geroepe om eer te betoon, selfs voordat iemand eerbaar lewe. Trouens, deur eer te betoon, help mense dikwels om in die proses meer eerbaar te word. 

Dit kom regdeur die Skrif voor, maar dis veral duidelik in Dawid se verhaal. As ‘n jong skaapwagter het Dawid die reus, Goliat, verslaan en is hy later as koning oor Israel gesalf. Dit was egter jare later wat sy roeping eers ‘n werklikheid geword het.

God het Saul gesalf as Israel se eerste koning, maar mettertyd het Saul trots geword en was hy in die openbaar aan God ongehoorsaam. Hy het Dawid as kompetisie gesien en ook verskeie kere probeer om hom dood te maak, alhoewel Dawid hom altyd getrou gedien het. 

Dawid het dus voor ‘n onregverdige leier te staan gekom wat hom as ‘n bedreiging gesien het. Terselfdertyd het Dawid geweet God het hom geroep om eendag Saul se rol in te neem. 

Stel jou Dawid se verknorsing voor toe hy nie net een keer nie, maar twee keer die geleentheid kry om Saul dood te maak. Al sy raadgewers wou hê hy moet dit doen. Op daardie stadium was hy letterlik op die vlug omdat Saul hom wou dood hê. 

En tog — Dawid het aan Saul eer betoon deur te weier om hom skade aan te doen en het hy vir die manne gesê: 

” … Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.” 1 Samuel 24:7 AFR83 

Dawid het geweet dat iemand anders se sonde nie jou eie regverdig nie. Al was Saul verkeerd, was hy nogtans die gesalfde leier van God. Dawid was steeds geroepe om te dien, gehoorsaam te wees en eer te betoon. 

Jou omstandighede is dalk nie so dramaties soos Dawid s’n nie, maar jy het ‘n keuse om eer te betoon of te weerhou.

Al is die versoeking hoe groot om eer van iemand te weerhou deur oor die persoon te skinder, ongehoorsaam te wees, te kritiseer of te ondermyn, kan ons tog ‘n belangrike les van Dawid leer: Iemand anders se foute moenie jou getrouheid ontwrig nie. 

Die eer wat Dawid betoon het, het gelei tot ‘n verandering by Saul. Dit het nie elke faset van Saul se karakter reggemaak nie, maar dit het die vrug van Dawid s’n gewys. So het Saul gereageer: 

“Toe begin Saul hard huil en hy sê vir Dawid: ‘Jy is ‘n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen. Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie.'” 1 Samuel 24:18-19 AFR83

Wanneer ons eer betoon, inspireer dit ander om eerbaarder te lewe en dit is tot eer van God. 

Deur eer te betoon beteken nie dat jy nooit vir jouself standpunt kan inneem nie of jouself uit ‘n toksiese omstandigheid kan verwyder nie, maar dit beteken wel dat jy die ware deug van eerbaarheid uitleef soos die Skrif aan ons voorhou: 

“Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” Romeine 12:10 

Deugde Seine

“Deugde seine” is ‘n begrip wat op sosiale media, in die nuus en informele gesprekke al hoe gewilder word. Tog is dit nie ‘n nuwe verskynsel nie. Wat is dit dan? Eintlik is dit ‘n negatiewe frase wat meestal gebruik word om mense uit te wys wat hulle voordoen om besorgd te wees oor hul openbare voorkoms, maar hul ware motiewe verbloem. 

Regdeur die Skrif sien ons algemene temas van mense wat ‘n regverdige uiterlike voorhou terwyl hulle eintlik heimlik vol trots is. Trouens, die Fariseërs is uitmuntende voorbeelde van deugde seiners. 

Kom ons neem ‘n paar treë terug. Die Fariseërs was godsdienstige leiers wat uiters streng was oor die nakoming van die Ou Testamentiese wet. Eintlik het hulle nuwe wette ingestel om te verseker dat geen wette oortree word nie — en hulle wou hê almal moes daarvan weet. 

Ons sien in Lukas 20:47 hoe hulle in openbare plekke lang gebede vir die skyn opsê, maar intussen die huise van weduwees inpalm. Dis nou vir jou uitstuur van deugde seine! 

Hulle was so betrokke daarin om die wet na te kom dat hulle nie kon raaksien wat reg voor hulle was nie — ‘n Verlosser wat beide waarheid en genade aan hulle gebied het.

Jesus was baie bewus van hul godsdiensteater en die leë deugde seine wat hulle uitstuur en Hy was glad nie tevrede daaroor nie. In Matteus 23 vaar Hy teen hulle gedrag uit: 

“Alles wat hulle [die Fariseërs] doen, doen hulle net om deur mense gesien te word  … ‘Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.’” Matteus 23:5, 27-28

Natuurlik is dit vir ons maklik om die vinger na die Fariseërs te wys en hul dade te veroordeel. ‘n Beter reaksie is egter om onsself te ondersoek en raak te sien waar ons in die versoeking is om soos Fariseërs te dink en op te tree.

Trouens, kom ons wy ‘n paar oomblikke daaraan om ons eie beweegredes te beoordeel. 

  • Is jy soms meer besorgd oor wat ander van jou dink of sê as wat volgens die Skrif van jou waar is?
  • Het jy al ooit iets op sosiale media geplaas om te “bewys” hoe godsdienstig jy is? 
  • Dink jy partykeer dat jy darem beter as iemand anders is omdat jou periode in die Bybeltoepassing langer is, of omdat jy ander meer gereeld dien, of oor hoeveel jy bydra?
  • Kom die goeie dade wat jy soms doen uit ‘n begeerte om beloning of erkenning te kry, eerder as uit ‘n opregte begeerte om Christus te verteenwoordig?
  • Het jy al ooit iemand gekritiseer omdat jy nie hul beweegredes vertrou nie? 

Eina

Ons almal het al op een of ander stadium in ons lewens verkeerde beweegredes gehad. Eintlik wil ons almal graag as goeie leiers, ‘n goeie voorbeeld, ‘n goeie Christen of sommer net in die algemeen as ‘n goeie mens bekendstaan. Daardie begeertes op sigself is nie verkeerd nie en ons hoef ook nie te wag totdat ons beweegredes 100% suiwer is voordat ons iets goeds doen nie. Eerlikwaar, dis eintlik onwaarskynlik dat ons beweegredes ooit werklik eg en suiwer sal wees. 

Tog, wanneer ons meer fokus op wat ander dink eerder as wat God van ons dink, kan ons baie vinnig in die strik trap om deugde seine uit te stuur — deur meer moeite te doen om ander te oortuig dat ons die regte dinge doen, in plaas daarvan om werklik die regte dinge met die regte beweegredes te doen.

Ons sal dus oor die volgende paar dae ontdek hoe om uit die strik te kom om deugde seine uit te stuur en eerder te begin lewe vanuit die ware deugde waartoe Jesus ons roep. 

Paulus

Die apostel Paulus, voorheen Saulus, was ‘n ywerige Jood en Fariseër. Hy het probeer om die Christendom uit te roei. Jesus verskyn egter aan hom op die pad na Damaskus. Hierdie gebeurtenis verander hom en hy word die geliefde apostel Paulus. 

Paulus was passievol oor hierdie genade wat hy van Jesus ervaar het. Tot so ‘n mate dat hy moeilike onderwerpe aangepak het en nie weggeskram het van omstredenheid nie. Hy het ‘n noodsaaklike rol gespeel in die verkondiging van Jesus Christus se evangelie aan die heidene. Ook het hy vele gemeentes tot stand gebring en 13 van die 27 Nuwe Testamentiese boeke geskryf. 

Hier is twee lesse uit die lewe van Paulus:

God Gooi Niks Weg Nie

Paulus was ‘n baie intelligente en toegewyde Jood. Hy het sy godsdiens van voor tot agter geken. Hy het uit die regte familie gekom, al die regte dinge gedoen, en het volgens die wet, ‘n “foutlose” lewe gelei. Sy eie woorde was: “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus” (Filippense 3:7). Alles wat hy tot op daardie stadium geleer en gedoen het, het nie meer saak gemaak nie. Wat egter so wonderlik daarvan is, is dat alhoewel Paulus nie meer vertroue in sy verlede geplaas het nie, God dit juis gebruik het. Alles wat hy geweet het, het hy gebruik om andere te leer dat niks daarvan saak maak nie — al wat saak maak is om Jesus te ken. 

Paulus Het Alles Gegee

Van die oomblik van Paulus se bekering af, toe hy tydelik verblind was op pad na Damaskus, het hy met sy hele wese begin om Jesus te leer ken. Die briewe wat hy geskryf het aan die gemeentes wat hy tot stand gebring het — Korintiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense — is vol van sy passie en begeerte om te sien dat mense die evangelie boodskap aanvaar. Hy was nie ‘n halfhartige navolger van Jesus wat op sy byna perfekte opvoeding staat gemaak het nie. Nee, hy het alles prysgegee en ‘n nuwe lewe begin deur die opgestane Verlosser te dien wat hy voorheen bespot het.

Voordat Christus in die lewe van Paulus ingegryp het, het hy aaklige dinge gedoen. Nadat Jesus hom egter gered en tot diens geroep het om die evangelie vir almal toepaslik en beskikbaar te maak, het sy invloed letterlik die wêreld verander.

Petrus

Ons word aan ‘n visserman voorgestel met die naam Petrus, toe Jesus hom roep om Hom as een van die 12 dissipels te volg. Hy is eerste geroep en word dikwels ook eerste genoem wanneer die dissipels se name genoem word, wat gewoonlik die belangrikheid van ‘n persoon aandui. Hy was deel van die “binnekring,” wat ook Jakobus en Johannes ingesluit het. Sy leierskap was duidelik sigbaar en hy was gewoonlik die mees uitgesproke van die dissipels.

Toe dit ‘n gepaste tyd was om te praat, het hy egter nie. Jesus het voorspel dat Petrus hom sou verloën, alhoewel Petrus volgehou het dat hy nooit so iets aan sy Verlosser en Vriend sou doen nie. Dis tragies, maar presies wat hy gedoen het. Gelukkig was God nie klaar met Petrus nie en het Hy groot planne gehad om hom te gebruik om die evangelie te versprei. Van toe af was Petrus ‘n instrument vir God om almal wat wou luister, van Jesus te vertel.

Hier is twee lesse uit die lewe van Petrus:

Ons Doen die Ondenkbare

Petrus het gesê dat hy Jesus nooit sou verlaat of verloën nie. Hy het selfs gesê al moet hy saam met Jesus sterf, sal hy aan Hom getrou bly. Tog het Petrus die een ding gedoen wat hy nooit gedroom het hy sou doen nie. Ons is baie keer net so. Ons oordeel ander vir hul swak keuses en sê: “Ek sal nooit so iets doen nie!” Dan gebeur daar iets in ons lewens en ons vergeet om onsself teen goddelose invloede te beskerm en doen die een ding wat ons gesê het ons nooit sal doen nie. Ons sal wys wees as ons verstaan dat ons altyd waaksaam moet wees, want ons geestelike vyand sal wat wil gee om ons op hierdie manier te beroof. 

God Verloor Nooit Moed Met Ons Nie

Om Jesus vir drie jaar so getrou te volg, om Hom te ken as Verlosser en Vriend, en om Hom dan in sy donkerste uur te verlaat, sou vir vele onvergeeflik wees. Nie Jesus nie. Hy is die uiterste Gewer van genade en ekstra kanse. So erg as wat Petrus se ontkenning was, het Jesus steeds ‘n doel vir Petrus se lewe gehad: om mense te “voed” met die boodskap van verlossing en hoop in Hom. 

Selfs met verloëning in sy verlede het Petrus ‘n groot impak op die kerk en die verspreiding van die evangelie gehad. Alhoewel hy nie gesterf het toe Jesus gearresteer is nie, het hy die dood van ‘n martelaar vir sy Verlosser, Here en Vriend, gesterf.

‘n Beroep op Intellek

Dit is ‘n uitdaging om jou geloof met iemand te deel wat nie in God glo nie omdat hulle Hom nie kan sien nie. Om die waarheid te sê, baie hoogs intelligente mense sukkel om hulle geloof te plaas in iets wat hulle nie kan sien nie. Hulle sal eerder in hulle eie intellek glo en dinge waarin hulle werklik hul vertroue kan plaas. 

As jy al enige deel van die Nuwe Testament gelees het, het jy waarskynlik iets gelees wat deur die apostel Paulus geskryf is. Hy was hooggeleerd, baie intelligent, en het selfs op ‘n stadium mense vervolg wat in Jesus geglo het. Alhoewel die Bybel nie hieroor duidelik is nie, is dit waarskynlik, met al sy kwalifikasies, dat hy ‘n beterweterige, arrogante Jood was. Op een onwaarskynlike dag, terwyl Paulus nog die Christene vervolg het, het hy ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.

“Toe hy op sy reis naby Damaskus gekom het, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ vra hy toe. ‘Ek is Jesus,’ antwoord Hy. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’Handelinge 9:3-6

Paulus het eers die Christene onderdruk en getreiter, maar nou het hy hulle bemoedig en onderrig.

Hy het vir jare die waarheid oor Jesus gehoor, maar verkies om Hom te verwerp omdat dit nie in ooreenstemming was met alles wat hy in sy lewe geleer het nie. Op hierdie dag kon geen hoeveelheid van intellek egter sy ondervinding met Jesus op daardie stowwerige pad wegredeneer nie.

Hierdie metode van evangelisasie, waar ons op iemand se intellek ‘n beroep doen, sal nie vir almal werk nie, maar dit sal vir sommige aantreklik wees. Miskien voel ons net nie ons weet genoeg om op hierdie intellektuele reis te gaan nie. Selfs al is dit die geval, mag daar ‘n tyd kom wanneer God iemand op jou pad plaas wat ‘n menigte vrae het, en op baie daarvan sal jy nie noodwendig antwoorde hê nie. 

Kom ons staan tyd af om nuwe dinge van ons wonderlike God te leer, sodat ons voorbereid sal wees om die vrae wat vir ons gevra kan word te beantwoord. Ons kan ook boeke lees oor mans en vroue wat Christus leer ken het deur ‘n meer intellektuele weg te volg. Sommige mense wat ons pad kruis sal in niks glo voordat hulle dit heeltemal verstaan nie. Al kan ons nie hulle harte verander nie, kan ons gereed wees om dit wat ons weet te deel en God vertrou om die res te doen. 

Ons sal nie alles weet nie, maar ons kan vir God wysheid vra, Hy is gereed om dit vir ons te gee.

Namate ons nuwe dinge leer mag God ons gebruik om ‘n genade-gevulde waarheid aan iemand te bring op ‘n tyd wat ons dit die minste verwag. 

Jona

Dit gebeur soms dat ons onsself in sondige plekke bevind omdat ons nie oplettend genoeg was nie. Ons het lui geword en uiteindelik in ‘n warrelwind van verskriklike keuses beland, met ewe verskriklike gevolge. Ander kere het ons goed geweet wat ons doen toe ons gekies het om aan God ongehoorsaam te wees.

God het vir die profeet Jona aangesê om vir die mense van Nineve te gaan preek, sodat hulle hul kon bekeer en tot God wend. Jona was duidelik nie ingenome met hierdie opdrag nie en het van God af weggehardloop na Tarsus, ‘n stad wat in die teenoorgestelde rigting as Nineve geleë was. Hy het uiteindelik aan boord van ‘n skip gegaan om so ver as moontlik van Nineve af weg te kom. 

Ongelukkig het sy swak keuse om God se opdrag te vermy, nie baie goed uitgewerk nie.

Dit was nie lank nie of ‘n storm het opgekom wat gedreig om die hele bemanning te laat omkom. Jona het dadelik geweet dat hierdie situasie ontstaan het weens sy ongehoorsaamheid aan God. Dus het hy die bemanning ingelig dat dit sy skuld was. Jona 1:15 sê: “Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.” 

Asof dit nie genoeg was nie, sluk ‘n groot vis hom in toe hy in die see beland. Hy bring drie dae en drie nagte in die maag van die vis deur, waarna hy op droë land uitgespoeg word. Na sy bevryding uit die maag van die vis, het Jona uiteindelik besluit om God te gehoorsaam en vir die mense van Nineve gaan preek om hulle te bekeer.

Hier is twee lesse uit die lewe van Jona:

Staan Jou Man, Moenie Weghardloop Nie

Toe God Jona beveel het om vir ‘n groot stad vol sondaars te gaan preek om hulle te bekeer, wou hy niks daarvan weet nie. Dus het hy weggehardloop. Indien Jona net aan God gehoorsaam was en van die begin af gedoen het wat hy moes, sou hy nie met die gevolge van sy dade opgeskeep gesit het nie; wat drie dae in die maag van ‘n vis ingesluit het. Dikwels ervaar ons moeilike omstandighede in ons lewens en kies ons om dit eerder te ignoreer of te ontken, as om dit te hanteer. Kom ons pak daardie moeilikhede aan en laat God toe om ons te help. 

God Se Plan Seëvier

Terwyl die mense in Nineve ‘n bose en sondige lewe geleef het, was dit God se begeerte om hulle te red. Dit was God se plan van die begin af en dit het so gebeur. Ongeag wat ons planne en drome is, ons moet verstaan dat God oppermagtig is. Dit is God se skepping waarin ons leef. Ons is hier vir sy doelwitte, nie anders om nie. 

Almal van ons het dinge wat ons nie wil doen nie. In plaas daarvan om van ons verantwoordelikhede en roepinge af weg te vlug, kom ons gehoorsaam God van die begin af en kyk hoe Hy werk en lewens verander. Hy is oppermagtig en ons moet dit as ‘n eer beskou om deel van sy werk op aarde te wees.