In Afwagting

Wat verwag jy gaan gebeur as jy bid? Verwag jy dat God gaan antwoord? Verwag jy om presies te kry waarvoor jy gevra het? Of as jy brutaal eerlik wil wees, verwag jy eintlik nie veel om te gebeur nie? Benader jy gebed soos ‘n wensfontein — dit sal fantasties wees as jou wens bewaarheid word, maar eintlik weet jy dat jy net jou geld gemors het. 

Ongelukkig dink ek, wat gebed betref, is dit ‘n slaggat waarin ons kan beland. Wanneer jy ‘n moeilike tyd beleef, of ‘n gebed is dalk nie beantwoord soos jy wou gehad het nie, of miskien probeer jy al ‘n geruime tyd van God hoor en jy kry nie ‘n antwoord nie, kan dit soms ons verwagtinge van wat God mag doen, teleurstel. God is egter altyd besig om in ons lewens te werk, Hy is altyd besig om gebede te beantwoord — al is dit nie op die manier of die tyd wat ons graag wil hê nie. God lewe en is aktief aan die werk in ons lewens.

Ons moet net ons verwysingsraamwerk verander oor wat ons verwag God gaan doen.

As ek regtig deursigtig met jou wil wees, moet ek erken dat daar soms tydperke is wanneer ek nie God se werk in my lewe sien nie. Dit voel asof Hy my nie hoor nie. Dit voel asof al my gebede met ‘n groot “nee” beantwoord word — of ten minste met ‘n “nie nou dadelik nie”. Ek voel soms moedeloos, maar uiteindelik breek ek daaruit los en begin bid: “God, wys my wat U nou besig is om in my lewe te doen.” Dan wy ek my daaraan toe om alles wat ek God sien doen, neer te skryf — elke keer as ek opmerk dat Hy in my lewe werk. Dadelik word hierdie lysie lank. Ek vind dat ek bladsye van ‘n joernaal vul met baie klein dingetjies — en soms groot dinge — met wat ek God sien doen. 

Het God ewe skielik sy aktiwiteite in ‘n hoër rat gesit omdat ek gebid het?

Nee. Hy werk nog die hele tyd op dieselfde pas. Die probleem was ek en my verwagtinge. Ek het óf verwag dat Hy presies sou doen wat ek vra, op die presiese tyd wat ek wou hê, óf ek het toegelaat dat my geloof wankelrig raak en ek het eerlikwaar nie verwag dat Hy iets sou doen nie. Altwee reaksies is verkeerd. Wanneer jy verwag dat God in jou lewe gaan werk, sal jy beslis sy werk in jou lewe aanskou. Jy moet net in gedagte hou dat Hy God is en nie jy nie. Sy aksies mag dalk nie wees waarvoor jy gewens het nie, maar dit sal altyd tot jou beswil wees. 

Begin hierdie week! Skryf elke ding neer wat jy sien God vir jou doen of wanneer jy hoor dat Hy met jou praat. Ek is vol vertroue dat jy meer in net ‘n paar dae sal neerskryf, as wat jy ooit gedink het moontlik sal wees

Pluk die Vrugte

God is namens jou aan die werk, selfs al voel dit of sy planne vir jou lank neem. My gebed vir jou is dat jy sal leer om in afwagting vir Sy antwoord te wees — ongeag hoe lank dit neem — en dat jy getrou, geduldig en vreugdevol sal wees in die wagperiode. Jy het reeds soveel tyd, energie, gebed en vertroue daarin geplaas om vir Hom te wag, dat dit ‘n jammerte sou wees om jou hoop nou te laat vaar …

veral as jy op die punt staan om seën te ontvang en wanneer Sy antwoord nader as ooit tevore is. Moet dus nooit tou opgooi nie!

Jy kan daarvan seker wees dat God aktief, kragtig, wys en liefdevol besig is om die omstandighede in jou lewe voor te berei. Selfs al is wat Hy doen dalk nie vir jou voor die hand liggend nie, trek Hy jou nou nader, suiwer Hy jou karakter, onderrig Hy jou in Sy weë en volbring Hy Sy beloftes aan jou.

In 1 Korintiërs 2:9-10 staan daar geskrywe: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie … dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” Dit sê vir ons, al het jy geen idee wat die Vader gedurende die dae, maande en selfs jare doen, wanneer jy Hom soek, kan jy baie seker wees dat dit absoluut fantasties sal wees.

Indien jy met afwagtende uithouvermoë op Hom wag — op Hom konsentreer, doelgerig Sy wil in die Skrif en gebed soek, aktief Sy beloftes opeis en teenspoed met waagmoed aandurf — sal jy beslis die vrugte van jou gehoorsaamheid sien. 

Terwyl jy in afwagting op Hom wag, kan jy solank die volgende doen:

  1. Verootmoedig jouself voor die Here en konsentreer op Hom eerder as op jou begeertes. 
  2. Bly gehoorsaam aan God se wil. 
  3. Vertrou dat die Vader sal doen wat Hy belowe het. 
  4. Ten slotte, bly moedig 

Dit sal jou versterk in tye wanneer dit voorkom of die Vader talm en menslike oorwegings jou dryf om moed te verloor. 

Jy kan die wagperiode in afwagting verduur, in die vreugdevolle wete dat God jou nooit sal faal nie. Jy kan aanhou hoop — selfs wanneer jy deur die “nooit” van die lewe aangeval word, in die wete dat die Here die Een is op wie jy hoop en Hy in volmaaktheid omsien na al jou besorgdhede. Jy kan op die Vader se leiding vertrou en absoluut seker wees dat Hy net jou beste belange op die hart dra.

Teen hierdie agtergrond wil ek met ‘n baie meer optimistiese tema eindig — ‘n woord wat ek hoop jy sal onthou wanneer jy op die Here wag; ‘n woord wat van toepassing is op Sy wonderlike, onfeilbare karakter en ‘n woord wat pragtig beskryf hoe toegewyd Hy aan jou en jou welstand is. 

Altyd.

Vir jou as ‘n gelowige …

sal God altyd by jou wees. 

sal Hy jou altyd liefhê. 

sal Hy altyd jou sondes vergewe. 

sal Hy altyd na jou luister. 

sal Hy jou altyd vertroos. 

sal Hy altyd vir jou voorsien. 

sal jHy ou altyd onthou. 

sal Hy altyd dinge namens jou doen. 

sal Hy jou altyd met liefde, krag en wysheid lei. 

sal Hy altyd jou gehoorsaamheid aan Hom seën. 

sal jy altyd op Hom kan staatmaak. 

sal Hy altyd jou gebede beantwoord.

Wanneer jy op die Here wag, kan jy seker wees dat die beste nog voorlê … 

altyd.