God is getrou

Dit is al gesê dat hoop soos suurstof is vir die siel. Ons moet kan glo iemand sal ons help, dat omstandighede reg sal uitwerk, dat drome regtig waar kan word en dat God goeie dinge vir ons beplan.

Sonder hoop het ons niks wat ons in ons binneste lewend hou nie. Ons word moedeloos, gooi tou op en begin wegkwyn.

God se getrouheid is die fondament van ons hoop.

Soos die profeet Jeremia in die Ou Testament kan ons verby ons omstandighede kyk en glo in God se getrouheid. Jeremia het gesien hoe Jerusalem in puin lê en dat God skynbaar sy beloftes verbreek het, maar hy het bly vertrou in God se onfeilbare karakter.

Wanneer ons verstaan hoe getrou en betroubaar God is, kan ons baie verduur. Gesondheidskrisisse, finansiële uitdagings, gesinsdisfunksie, stres, eensaamheid, enige beproewing — God se getrouheid bied hoop. Sy liefdevolle medelye sal nooit, ooit eindig nie.

Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot (Klaagliedere 3:22-23, NLV).

Eintlik is dit die geheim tot ’n lewe van nimmereindigende vreugde en vrede.

  • Om te weet die almagtige, liefdevolle, alwyse God sal ons te hulp snel 100 persent van die tyd is bemagtigend en bevrydend.
  • Dit bevry ons van vrees, motiveer ons om aan te hou en stel ons in staat om moontlikhede te kan sien. 
  • Maak nie saak hoe omstandighede Sy getrouheid in twyfel trek nie, ons weet Hy sal ons nie teleurstel nie. 

Glo jy dit? Christene is geroep om nie net ’n getroue God te vertrou nie, maar om Hom te verkondig aan ’n wêreld sonder hoop. Die God wat goed, soewerein, heilig, wys, regverdig, liefdevol en getrou is bied redding van elke sonde, herstelling van elke verlies en seën in die plek van wanhoop.

Hy is die regte God van alle hoop, en Hy sal jou nooit in die steek laat nie. 

Die wonder van ‘n nuwe begin

Dink daaroor – Sara was 90 jaar oud toe sy swanger geraak het! Ons lees in die Bybel dat sy al lankal verby die ouderdom was waarop vrouens kinders kon hê, so sy was sekerlik verby haar menopouse. Die feit dat sy dus op hierdie ouderdom ’n baba kon hê, was beslis iets wat God in haar lewe gedoen het. Die vervulling van God se belofte aan Abraham en Sara was ’n wonderwerk! 

Maar dink net aan die volgende: Om selfs ten spyte van die wonderwerk op 90-jarige ouderdom swanger te wees en ’n baba te kry! ’n Mens se energievlakke is nie naastenby dieselfde op 90 as op byvoorbeeld 25 of 30 nie. 

God het ’n verandering belowe, ’n nuwe begin.

God het dekades later eers daardie nuwe begin geskenk. Hy het geweet hoe oud Abraham en Sara sou word. Hy het presies geweet wat Hy doen. Hy het sekerlik vir hulle die krag en energie gegee om die eise van ouerskap te hanteer. En dalk nie net dit nie, Hy het vir hulle die seën van ’n nuwe begin gegee. God doen dinge nie halfpad nie.

Wanneer God ’n verandering in jou lewe bewerk, lei Hy jou daardeur.

Toe Naomi besluit het om terug te gaan Betlehem toe, het sy vir haar skoondogters gesê om terug te gaan na hulle eie families toe. Dit het sin gemaak. Naomi het geweet sy gaan sukkel om vir haarself te sorg, wat nog vir hulle ook sorg. Hulle was nog jonk en hulle families kon vir hulle ander huwelike reël. Hulle kon kinders kry en die lewe leef wat normaal was vir ’n vrou in daardie tye. Ja, dit het sin gemaak. Miskien was Orpa meer realisties oor haar omstandighede omdat sy na Naomi se raad geluister het, haar skoonma gegroet het en huis toe gegaan het.

Tog het Rut geweier om huis toe te gaan. Sy het gekies om haar familie en alles wat sy geken het agter te laat en saam met Naomi te gaan. Dit kon nie ’n maklike besluit gewees het nie.

Partykeer is die besluite wat voor jou is, verwarrend.

Dit is dalk moeilik vir jou om te weet watter besluit is die regte een, want – kom ons wees nou maar eerlik – soms is die regte besluit die moeilikste een. Dit kan dalk beteken dat jy jou geliefdes of ’n bekende plek moet verlaat, of dalk selfs dat jy van werk moet verander of ’n verhouding moet beëindig. Die regte keuse gaan wees om na die geheelbeeld te kyk en nie net na wat vandag gebeur nie. Rut het die regte besluit geneem en God se seën het haar lewe gevul.