Jou KEUSE!

Ek glo lewe is in God se hande. God skep lewe, Jesus het betaal met Sy lewe sodat ons lewe in oorvloed kan hê, maar dit beteken nie ons hét lewe nie. Ons moet lewe kies:

Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders” (Deut 30:19).

Ek moet erken – hierdie keuse klink tog ’n bietjie vreemd.

Ek het mos lewe, ek kies nie lewe nie, of hoe? Ek leer egter uit God se woorde ons het asem en ons het geleende tyd, maar lewe lê in hierdie keuse wat elkeen van ons vir onsself moet maak, elke dag en elke jaar wat tot ons lewe gevoeg word. Die keuse en wat dit behels, word as volg omskryf in Deuteronomium 30:20: “Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe! Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee.”

Het jy al gekies? Het jy gekies om God lief te hê met ’n liefde wat uit jou hart en siel en met al jou krag en verstand kom; gekies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen? God weet verseker beter, maar Hy gee ons steeds die keuse.

Het jy al gekies om gehoorsaam te wees en Hom gekies as die middelpunt van jou bestaan en die rede hoekom jy lewe?

Vir nog ’n dag en vir nog ’n lewensjaar kies ek om te lewe asof my lewe van Jesus afhang, want dit ís so! 

Een lewe. Een kans. JOU keuse! 

Beplan Elke Dag

Dis geen geheim dat jy eers moet beplan waar jy jou geld gaan spandeer voordat jy dit kry nie. Ons moet net so gedissiplineerd wees wat ons tyd betref. Ons kan nie meer tyd kry soos wat ons meer geld kan kry nie, dus moet ons ons ure beter bestuur as ons geld.

As jy Jesus se voorbeeld gevolg het soos dit in dag twee se leesstuk aangeteken is, sou jy duidelike grense gestel het vir hoeveel tyd jy vir elke dag uitgesit het om produktief te wees. Na al hierdie stappe is dit nou tyd om meer spesifiek te wees oor hoe jy elke uur van elke dag gaan benut. Ek hou baie van Jesus se woorde in Lukas 14:28: “Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie?” Die manier waarop ons die ‘koste bereken’ van ons produktiewe aktiwiteite, is deur ons tyd te beplan en seker te maak dat ons genoeg tyd het om ons verpligtinge na te kom.

Wat is die praktiese implikasie hiervan? Ek spandeer elke dag 30 minute daaraan om die belangrikste take en projekte te identifiseer wat ek die volgende dag wil aanpak en ken dan ‘n spesifieke tyd daaraan toe, sodat ek dit, en al die ander goed op my kalender, kan voltooi. Deur dit te doen kan ek die volgende oggend by my lessenaar gaan sit sonder om tyd te mors om te dink wat ek volgende gaan doen.

“Ek het dít al die vorige dag besluit. Nou moet ek dit net uitvoer.”

Regdeur Spreuke sê God dat dit slim is om te beplan hoe om ons tyd en geld te bestee. As jy jou dae beplan, moet jy realisties wees oor hoeveel jy in 24 uur gedoen kan kry. Ons menslike natuur is om te dink ons kan meer gedoen kry as wat moontlik is. As jy hiervan bewus is, sal jy beter besluite kan neem as jy jou tyd beplan.

Dis beter om tyd oor te hê aan die einde van ‘n dag as om nie alles gedoen te kry wat jy beplan het nie. 

Hou Jesus se waarskuwing in Lukas 14:29-30 in gedagte: “As hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. Hulle sal sê: ‘Hier is ‘n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.'” Om nie te doen wat ons gesê het ons gaan doen nie, is nie goed vir ons getuienis aan die wêreld nie.

Beplan jou tyd goed sodat jy kan klaarmaak wat jy begin het.