Petrus

Ons word aan ‘n visserman voorgestel met die naam Petrus, toe Jesus hom roep om Hom as een van die 12 dissipels te volg. Hy is eerste geroep en word dikwels ook eerste genoem wanneer die dissipels se name genoem word, wat gewoonlik die belangrikheid van ‘n persoon aandui. Hy was deel van die “binnekring,” wat ook Jakobus en Johannes ingesluit het. Sy leierskap was duidelik sigbaar en hy was gewoonlik die mees uitgesproke van die dissipels.

Toe dit ‘n gepaste tyd was om te praat, het hy egter nie. Jesus het voorspel dat Petrus hom sou verloën, alhoewel Petrus volgehou het dat hy nooit so iets aan sy Verlosser en Vriend sou doen nie. Dis tragies, maar presies wat hy gedoen het. Gelukkig was God nie klaar met Petrus nie en het Hy groot planne gehad om hom te gebruik om die evangelie te versprei. Van toe af was Petrus ‘n instrument vir God om almal wat wou luister, van Jesus te vertel.

Hier is twee lesse uit die lewe van Petrus:

Ons Doen die Ondenkbare

Petrus het gesê dat hy Jesus nooit sou verlaat of verloën nie. Hy het selfs gesê al moet hy saam met Jesus sterf, sal hy aan Hom getrou bly. Tog het Petrus die een ding gedoen wat hy nooit gedroom het hy sou doen nie. Ons is baie keer net so. Ons oordeel ander vir hul swak keuses en sê: “Ek sal nooit so iets doen nie!” Dan gebeur daar iets in ons lewens en ons vergeet om onsself teen goddelose invloede te beskerm en doen die een ding wat ons gesê het ons nooit sal doen nie. Ons sal wys wees as ons verstaan dat ons altyd waaksaam moet wees, want ons geestelike vyand sal wat wil gee om ons op hierdie manier te beroof. 

God Verloor Nooit Moed Met Ons Nie

Om Jesus vir drie jaar so getrou te volg, om Hom te ken as Verlosser en Vriend, en om Hom dan in sy donkerste uur te verlaat, sou vir vele onvergeeflik wees. Nie Jesus nie. Hy is die uiterste Gewer van genade en ekstra kanse. So erg as wat Petrus se ontkenning was, het Jesus steeds ‘n doel vir Petrus se lewe gehad: om mense te “voed” met die boodskap van verlossing en hoop in Hom. 

Selfs met verloëning in sy verlede het Petrus ‘n groot impak op die kerk en die verspreiding van die evangelie gehad. Alhoewel hy nie gesterf het toe Jesus gearresteer is nie, het hy die dood van ‘n martelaar vir sy Verlosser, Here en Vriend, gesterf.

Vriendskap – Jou lewe gaan nie oor jouself nie!

Die lewe gaan nie net oor jou behoeftes nie! 

Dis die moeilikste ding om te besef, dat die lewe nie net oor jou en jou belange gaan nie. Die lewe gaan eerder oor die mense saam met wie jy lewe. Wie is jou binnekring, wie is die mense wat jou die meeste beïnvloed? Ons gesels ook oor watter soort vriend jy is en hoe jy jou vriendekring beïnvloed. Groepsdruk is ’n realiteit in ons lewe. Ons is bang om iets mis te loop, dus tree ons soms anders op as wat ons wil. 

Hoe kan ek ’n beter vriend wees?

Dink aan die volgende stelling: “My lewe is nie my eie nie.” Is dit moontlik om so te leef asof jou lewe nie jou eie is nie? Wat maak dit moeilik? 

Johannes 15:13 sê vir ons dat daar geen groter liefde is as iemand wat hul lewe aflê vir hul vriende nie. Dit is raad wat ons in die Bybel kry en wat oor Jesus se grootste gebod handel. Dat jy God moet liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag EN jou NAASTE soos jouself (Matteus 22:37-39). 

Dit leer vir ons iets van hoe ons ons vriende moet beïnvloed. Het jy ’n Christelike invloed op jou vriende? 

Ons leef in ‘n tyd waarin ons meer met mense in verbinding is as ooit tevore, maar ten spyte daarvan is ons meer depressief, angstig en eensaam, as ooit tevore. Daarom is dit belangrik om tyd en energie te gebruik om te oordink watter soort vriend jy vir ander kan wees. Hoe kan jy ander ondersteun, bystaan en positief beïnvloed, sodat jy nie bydra tot die statistieke van eensaamheid in die wêreld nie? 

Nog ’n voorbeeld wat ons uit die Bybel leer, is terwyl Jesus in Kapernaüm was en vier manne hul verlamde vriend deur die dak van ’n huis laat sak sodat Jesus hom kan genees. Toe Jesus die geloof van die vier vriende sien, genees hy die man. Nie net die man se geloof nie, maar ook die geloof van sy vier vriende. As dit nie vir hulle omgee en moeite was nie, sou die verhaal dalk nie dieselfde vir die man geëindig het nie. 

Dit is tyd dat jy ’n oudit doen oor jou invloed (hoe groot of klein), wat jy op jou vriende het en hulle op jou. Mag jy besef dat ons ’n geleentheid het om aan die Woord gehoorsaam te wees en in bereidheid ons lewe vir ons vriende af te lê.  

Vriende kan jou breek, maar ‘n vriend kan ook nader aan jou wees as ’n broer. Mag jy besef jy en jou vriende slyp mekaar. Jy kan kies watter vorming gaan plaasvind. 

Reik uit na ‘n vriend of vriendin wat jou nodig het en maak Jesus sigbaar in sy of haar lewe.