As jy depressief is

Ek sal dit erken. Ek was al depressief. Na aanleiding van al die Bybelse karakters wat deur diep, donker tye van moedeloosheid gegaan het – Dawid, Jona, Elia, Job, Jeremia, en ander – behoort depressie ’n algemene besprekingspunt vir Christene te wees. Ongelukkig is dit gereeld die uitsondering. Tog ervaar die meeste mense tye van stres, moegheid, moedeloosheid en die gebrek aan motivering wat tot ’n breekpunt of wanhoop kan lei.

Ek het vir ’n lang tyd lam, doodmoeg en onbelangstellend deur my lewe gegaan, totdat ek later beter begin word het, uitgerus en in staat om glimpe van hoop te sien.

Sulke ervarings is nie ongewoon in die sondige wêreld nie. 

Die Bybel gee vir ons voorbeelde van elke lewenseisoen. Psalm 77 onthul nie net die mens se desperaatheid nie, maar ook hoe om daaruit te kom. Dit leer ons hoe om terug te bons wanneer ons glad nie so voel nie. God gee nie ’n wonderkuur of ’n universele oplossing nie; depressie is kompleks, en Hy help mense op verskillende manier daaruit. Maar hierdie psalm bied ’n paar beginsels wat enigeen kan help. 

Asaf, die skrywer van hierdie psalm, begin deur by God te kla (vers 1-3). Van daar af sien ons ’n betekenisvolle progressie: van die uitroepe van smart tot die onthou van ou seëninge (vers 4-6), dan die vra van moeilike vrae aan God (vers 7-9), die keuse om sy gedagtes te herlei (vers 10-12), hy kies om God as groot en probleme as klein te sien (vers 13-18), en dan om te vertrou dat God ons Redder is (vers 19-20). Hierdie perspektief-veranderende proses leer ons brein en ons gees om anders te dink en sien. Wanneer ons deur hierdie proses werk, begin depressie meermale lig. 

Depressie kan soos ’n koue, donker gang voel, sonder enige lig aan die einde.

Dis maklik vir die brein om net te sien hoe sleg dinge is en om tot die slotsom te kom dat die toekoms ook so sal wees. Slegs ’n heroriëntasie van donkerte na lig, van huidige situasies na vorige genade, van probleme na beloftes, kan ons daaruit haal.

Nes Asaf, kies ons ander gedagtes: “Ek wil dink aan die dade van die Here, ja ek wil dink aan u wonderdade van vroeër” (vers 12). Hierdie wilsbesluit om ons gedagtes te herlei, verskuif ons perspektief. Dan begin die duister plek maak vir die lig.