Die Regte Fondament

In Matteus 7:24-29 gee Jesus onderrig oor die fondament waarop ons ons lewens bou. Hy sê dat elkeen wat Sy woorde hoor en daarvolgens handel, wys is. So iemand het die fondament op rots gebou wat nie ineenstort wanneer die storms kom nie. Wie egter na Sy woorde luister en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand bou en dit heeltemal verwoes is toe die stortreën gekom en winde daarteen gewaai het.  

Ons het almal ons lewens op ‘n fondament gebou. Die vraag is egter, watter soort? 

A – Bou ons ons lewens op die hoop en drome van ander? Wanneer ons probeer om ander gelukkig te maak — selfs as dit beteken dat ons nie meer getrou aan ons oortuigings bly nie — is ons fondament op daardie mense gebou. Dit is ‘n gevaarlike plek, want mense verander en wanneer dit gebeur dan verkrummel ons fondament.

B – Plaas ons ons vertroue in die kortstondige wat gou verbygaan? Indien ons hoop in materiële genietinge en ‘n fisieke voorkoms is, dan sal ons beslis teleurgesteld wees en ons lewens ontwrig word. Dis omdat ons finansies en voorkoms kan verander. 

C – Soek ons sekuriteit en krag in die weë van die wêreld? As ons ons vertroue plaas in wat die wêreld bied, sal ons fondament altyd rondskuif. Die geloofstelsel waaraan baie in ons samelewing vashou, verander na gelang van mense se begeertes. 

D – Of het ons onsself stewig in Jesus Christus geplant? Indien ons fondament nie stewig en ferm is nie, sal ons “huis” niks hê om op te staan nie. As ons fondament op die tydelike gebou is, sal dit ineenstort sodra die “tydelike” verander. As ons egter in God se waarheid gegrondves is en daarna strewe om Jesus ons hele lewe te maak, kan swaarkry en hartseer maar kom, want ons het ‘n fondament wat nie beweeg nie. Natuurlik sal ons lewens of “huis” soms herstel nodig hê en stukke mag dalk selfs afbreek, maar omdat ons veilig in Jesus is, kan ons ons lewens herbou op die hoop wat ons in Hom het. 

Staan tyd af om te ontleed waarop jou fondament gebou is. ‘n Manier hoe jy dit kan doen, is om jouself die volgende vrae af te vra:

  • Indien iemand wat ek liefhet misluk of ‘n droom verloor, veroorsaak dit dat my wêreld verkrummel?
  • Wanneer my liggaam verander weens ouderdom, ontstel dit my of raak ek depressief?
  • As my aftree-belegging nie floreer nie, voel ek nog steeds veilig?

Indien jy ontdek dat jou fondament op enigiets anders as Jesus Christus gebou is, is dit nie te laat om te herbou nie. Solank jy asem in jou longe het, is daar altyd ‘n geleentheid om ons lewens te verander en ten volle tot sy eer te lewe. 

God Gebruik Ons Werk Vir Sy Doeleindes

Na baie jare van beproewings, het Josef se drome goeie vrugte afgewerp. Farao het nie net die hele Egipte se werksaamhede aan Josef toevertrou nie, sy broers het na hom gekom om voedsel te soek toe die hongersnood hulle getref het en hulle het voor hulle broer gebuig, alhoewel hulle nie dadelik geweet het dat dit hy was nie. Dit was al die tyd God se bedoeling om die sewe jaar van oorvloed en sewe jaar van hongersnood te gebruik om sy volk na Egipte te lei waar hulle hul toevlug sou neem.

God het die omstandighede gebruik om Josef voor te berei om Sy plan uit te voer.

Toe Jakob gesterf het, was Josef se broers bevrees dat hy uiteindelik sy wraak sou neem. Maar Josef het op God se doel bly fokus en so gereageer: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen […] die redding van baie lewens” (Genesis 50:20). Josef het net ‘n klein gedeelte gesien van hoe hy inpas by God se groter plan, wat ons vandag kan sien. Eendag sal Josef presies sien hoeveel lewens hy help spaar het. 

Jakobus 1:2-3 sê: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” Wanneer ons getrou is in tye van beproewing, maak ons die deur oop vir God om wonderlike dinge deur ons te doen. Dit is belangrik om te vertrou dat God ons werk kan en sal gebruik om karakter te bou, ons te versterk en uiteindelik resultate te lewer wat ons nooit anders sou bereik het nie. 

Wanneer ons op Jesus gefokus bly, kan ons die vertroue hê dat God ons werk op groter maniere gebruik as wat ons kan dink. Ons mag dalk sien hoe God ons werk in die groter prentjie gebruik, soos Josef het. Eendag sal ons almal sien watter rol ons getrouheid in God se plan gespeel het. 

Daag jouself uit om toe te laat dat God jou deur moeilike omstandighede louter en die betekenis van jou werk vir sy doel en sy heerlikheid verhoog.