Vertrou God

Joyce Brothers sê: “Die beste bewys van liefde is vertroue.” 

Habakuk bied ons ‘n wonderlike model van ‘n gesonde, gebalanseerde reaksie op wat die ergste nuus moes wees wat hy van God kon ontvang. Selfs toe sy liggaam gereageer het, het hy besef dat hy ‘n keuse gehad het oor wat hy gaan glo. Hy kon sy emosies vertrou. Hy kon sy huidige siening van die situasie vertrou. Of hy kon vertrou dat God een of ander goeie ding uit ‘n ondenkbare scenario kon bring – die Babiloniërs wat hul land binneval. 

In jou lewe mag dit voel asof die Babiloniërs alreeds die landskap van jou hart verwoes het.

Jy mag dalk bedroef wees oor verliese wat jare terug plaasgevind het. Maar selfs te midde van al daardie pyn, sal jy deurbreek tot ‘n nuwe vlak van intimiteit met Hom, indien jy kies om God te vertrou ten spyte van alle bewyse tot die teendeel. Jy sal Sy teenwoordigheid, te midde van jou seer leer ken. Jy sal Sy karakter vertrou wanneer jy nie jou omstandighede verstaan nie. Dit maak dan nie saak wat gebeur nie, hoe pynlik jou hart deurboor is nie, jy kan voortgaan om vir nog ‘n dag een tree verder te gee. 

Soos met Habakkuk word jou gebed eerlik oor wat jy verloor het of sal verloor, as jy besef dat jy steeds vir God het. 

Dalk is dit tyd om hierdie tipe dinge te bid:

  • “Alhoewel my eggenoot gesê het tot die dood ons skei en nie aan die belofte voldoen het nie, sal ek steeds bly wees in die Here my God.” 
  • “Alhoewel ek my kinders grootgemaak het om beter te weet en hulle nou uiters angswekkende besluite neem, sal ek nogtans in die Here my God vertrou.” 
  • “Selfs al het ek gebid dat iemand se gesondheid verbeter en dit net erger geword het, sal ek nogtans op die Here my God vertrou.” 
  • “Al sal my huis nie verkoop word nie en ons aan ‘n draadjie hang, sal ek nogtans op die Here my God vertrou.”
  • “Alhoewel finansies moeilik is en dit R8 000 gaan kos om my motor te herstel, sal ek nogtans op die Here my God vertrou.” 
  • “Al hou ek nie daarvan nie, al verstaan ek dit nie, al weet ek hy/sy kan en hy/sy moet, maar hy/sy doen dit nie, sal ek nogtans op die Here my God vertrou.” 

Oproep tot Wysheid

Hier is wysheid nodig.” (Openbaring 13:18a) Wysheid word meer benodig as wat ons besef. Wysheid sny deur emosies tot by die realiteit van die situasie.

  • “Wat is die wyse ding om te doen?” is ‘n doeltreffende vraag in besluitneming.
  • “Wat is die beste vir die onderneming?” is ‘n wyse vraag om te vra wanneer dit gaan oor besigheid of die bediening.

Talle male praat God deur geld, of deur die gebrek aan geld. Wanneer geld skaars is, moet ons uiters wys wees in ons besteding daarvan. Wysheid sê om te sny aan uitgawes en om nie addisionele kostes aan te gaan nie. Hier gaan dit nie oor ‘n gebrek aan geloof nie. Dit het te doen met die feit dat jy ‘n wyse rentmeester moet wees oor dit wat jy het, sodat meer aan jou toevertrou kan word. Wyse rentmeesterskap trek vrygewige gewers aan.

Die wyse perspon is nie ongeduldig of desperaat nie.

Wysheid staan ‘n tree terug en evalueer ‘n situasie deeglik voordat dit voortgaan. Soek jy gereeld wysheid? Kennis en ondervinding, vermeng met logika en onderskeidingsvermoë, is ‘n goeie resep vir wysheid. Wysheid is die soeke na die begrip oor God se perspektief van sake. Dit is waarom die wysheid wat in God se Woord gevind word, so relevant is vir die lewe.

Die Bybel is ‘n skatkis vol wysheid wat wag om deur die wyse skattejagter ontgin te word. Moet dus nie net die Bybel lees, daaroor mediteer en bid nie, maar soek na die wyse persone. (Matteus 12:42)  Soek na mense met grys hare, mense wat wyse gedrag toon. Die wyse sal jou help om die idees oor wysheid wat jy begin verstaan in jou bestudering van die Skrif, te bekragtig. Lees boeke en luister na boodskappe van wyse manne en vroue. As jy lank genoeg met wysheid omgaan, sal dit op jou begin afvryf. Gryp elke geleentheid aan om vir wysheid te vra. Wees wys in jou verhoudings. Wees wys met jou geld en jou tyd. Voor jy dit besef, sal jou wysheid ander aantrek wat dieselfde wil hê wat jy het.

Bowendien is die kroonjuweel van die verkryging van wysheid die dien van die Here.

“Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (Spreuke 1:7) Ontsag vir God plaas jou in ‘n posisie om wysheid te ontvang. Wanneer jy geen ontsag vir God het nie, het jy geen wysheid nie. Geen wonder dat ons wêreld gevul is met dwase nie. Ons het ons ontsag vir God verloor en daarom ontwyk wysheid ons. Ontsag vir God is ‘n broeikas vir wysheid. God gee wysheid aan dié wat Hom vrees.

Wees lief vir God, maar vrees Hom. Loof God, maar vrees Hom. Leer by God, maar vrees Hom. Dien God, maar vrees Hom.

Jy is geregtig op wysheid as jy God vrees. Moenie so gewoond aan God raak dat jy jou vrees vir Hom verloor nie. Dit is onwys en lei tot dwaasheid. Wysheid wag vir jou om dit te kom oes. Pluk dit en geniet dit, soos ryp, sappige vrugte op ‘n warm somersdag. Proe en sien dat wysheid goed is. Niemand het nog ooit gekla dat hulle té veel wysheid het nie. Vra gereeld vir wysheid. Soek na die wyses en vra hulle en God vir wysheid.

Dit is die wyse ding om te doen.