Om te luister

Om na God te luister kan ‘n baie verwarrende konsep wees. Wanneer jy na die Bybel kyk, sal jy ‘n paar geïsoleerde voorbeelde sien waar God opdaag en deur ‘n bonatuurlike manier praat, wat onmoontlik is om te mis: ‘n brandende bos, ‘n donderende stem, ‘n donkie wat praat. Ek dink ons almal sal dit waardeer as God so duidelik sal wees as Hy met ons praat, maar dit is eintlik ‘n baie skaars gebeurtenis in die geskiedenis. Ons sien meer gereeld dat God baie sagter praat … dat Hy baie meer subtiel is. 

Die Ou Testamentiese —profeet Elia, was op moedverloor se vlakte — moeg, keelvol en reg om moed op te gee. Daarom het God besluit om ‘n gesprek met hom te hê. Terwyl Elia in ‘n grot wegkruip, in die middel van nêrens, ontvou hierdie vreemde gebeure. Vanuit die grot neem Elia allerhande natuurrampe waar — ‘n berg word stukkend geruk! Dan hoor hy die geluid van ‘n sagte fluisterstem en dit is wanneer hy uitstap, reg om van God te hoor. 

As ek Elia in die grot was, en ek het geweet dat God met my gaan praat, sou ek Hom waarskynlik in die groot en skouspelagtige gebeure verwag het. Wanneer vuur en aardbewings om my woed, sou ek dink: “Daar is die almagtige Skepper van die heelal.” God verkies egter om in ‘n fluisterstem met ons te praat. Hy is sagkens met ons. Nog meer as dit, want ons leef nou met die voordeel dat God self, as die Heilige Gees, in ons woon.

Ons kan van God hoor, want Hy is alreeds hier — nader as wat ons besef. 

Die probleem is egter, as God in ‘n fluisterstem praat, sal ons baie stil moet raak as ons verwag om Hom te hoor. Kan jy ‘n fluisterstem hoor bo die gedurige musiek in jou oorfone, jou besige skedule, of terwyl jou oë aan TV-, rekenaar- en selfoon-skerms vasgenael is?

Wanneer laas het jy rustig geraak, stil geword en regtig geluister na die sagte fluisterstem van God? Neem ‘n paar minute, nadat jy hierdie gedeelte gelees het, en probeer dit doen.