uitkyk op gejaagdheid

Om ‘n nuwe houding en uitkyk op gejaagdheid aan te neem, neem tyd. Maar wanneer dit kom by verandering en die nuwe dinge wat God in ons lewens wil doen, het ons twee keuses: Om terug te deins of om groei na te jaag. Ek is die eerste om te erken dat dit soms beter klink om terug te deins, totdat God my my motivering wys.

Wanneer verandering my vreesagtig maak, is dit omdat ek staat maak op my krag om daardeur te gaan. Ek neem aan dat dit alles van my afhang om dit te laat werk, om seker te maak dat dit slaag, om seker te maak dat ek nie WEER soos ‘n mislukking lyk nie. As ek kies om terug te deins, is dit omdat ek herinner word dat ek, in my eie poging, nie in staat is om alles te laat uitwerk soos ek dit wil hê nie.

Maar dan hou ek op om te probeer en begin nastreef, met die vertroue dat God ‘n nuwe ding bring, omdat Hy planne vir my het wat goed is, planne wat Hom sal eer en Sy koninkryk sal uitbrei.

Sal jy die nuwe pad kies waarop Hy jou lei, een waar heilige gejaagdheid jou probeerslae vervang? Of sal jy terugdeins, en die gerief wat bekend is bo ‘n ongemaklike seisoen vol onbekendes verkies? Hier is drie waarborge wat ons met selfvertroue in die toekoms kan inneem:

God is nog nie klaar met ons nie, Hy is gereed om ‘n nuwe ding te doen, en Hy is daar by ons, met elke tree wat ons gee.

Heilige gejaagdheid gee ons die vryheid om hard te werk, met al ons krag, aan die take wat God aan ons siel toewys. Dit is die hartswerk, die werk wat ‘n verskil in God se koninkryk maak. Dit gee ons die vryheid om te erken dat die werk wat ander doen, reg is vir hulle, maar nie vir ons nie, nie in hierdie seisoen nie. Heilige gejaagdheid help ons om God te hoor bo die geraas van die voorskriftelike wêreld, sodat ons ja kan sê vir die werk waarvoor God ons harte voorberei het en nee vir die werk wat ons siele sal laat leegloop.

Die lyn tussen gejaagdheid en strewe, rus en luiheid, is ‘n delikate plek om in te lewe.

Wanneer ons te vêr eenkant toe beur, vind ons onsself afhanklik van ons krag in plaas daarvan om te onthou dat God ons krag is. Hierdie weergawe van die gejaagdheid gaan nie daaroor om meer tyd in ons dag te vind of om meer te doen nie, maar om te ontdek waarvoor God ons roep om te doen, sodat ons meer kan dien, meer kan gee, meer kan aanmoedig, op die regte plekke en op die regte maniere.

Waarheid maak vry

Ons leef in ’n land waar ons soveel vryheid van regte en spraak en godsdiens het, en tog leef meer mense as slawe in ’n tronk as wat die korrektiewe dienste se statistieke vir ons sou weergee. 

Vryheid is nie beperk tot ’n plek of omstandighede nie.

Paulus was vasgeketting en geboei in ’n fisiese tronk, maar hy was vry. Ander mense leef weer gemaklike lewens in gemaklike huise en werke, en tog is hulle die slawe van bitterheid, gejaagdheid, geketting en geboei aan materialisme en perfeksionisme.

Die grootste vonnis is nie tronkstraf agter tralies nie, maar ’n lewe en ’n ewigheid sonder Jesus.

Waarheid en vryheid gaan saam soos Oros en water. En Jesus verduidelik dit vir ’n groepie geleerde Jode. Hy sê in Johannes 8:31-32: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.”

Bly getrou aan Jesus se woorde, leef in noue verbintenis met Jesus se boodskap. Dan sal jy die waarheid ken en hierdie waarheid sal jou vrymaak, dit sal jou maak wat jy bedoel is om te wees – vry!

Waarheid is ’n Persoon, Jesus Christus. Vryheid kom deur geloof in Hom en ’n verhouding met Hom waar ek ontdek en meer en meer die mens word wat God my gemaak het om te wees.

Dit is alles waarheid wat jou kan vrymaak van bitterheid en geldgierigheid en uitbranding, maar die waarheid moet eers toegepas en geleef en gedoen word voordat dit jou kan vrymaak. Mark Twain het gesê: “The truth will set you free, but first it will make you miserable.” 

Jy weet jy moet iets gaan doen wat nie altyd so lekker en maklik is om te doen nie, maar jy doen dit om vry te kom en vry te leef soos God bedoel het jy moet leef. En dan die bevestiging in Jakobus 1:25: “Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.”

Tyd en Lewe

Ek het gehoor van ’n vrou wat haar goue horlosie in die kollektebordjie gegooi het. Die mense wat die geld moes tel ná die tyd het aanvaar die horlosie het van haar arm afgegly toe sy haar geld ingegooi het. Groot was almal se verbasing toe die eienaar van die horlosie uiteindelik opgespoor is en sy bevestig dat die horlosie in die kollektebord ’n stap van gehoorsaamheid was en ’n gebaar om eintlik haarself vir die Here te gee: “Ek wou my horlosie gee, want my tyd besit my, dit dryf, druk en jaag my. Om nog ’n keer geld te gee, sou my nie geraak het nie. Om my tyd te gee, was die beste offer of opoffering wat ek daardie dag kon maak, want as ek my tyd gee, gee ek myself!”

Ek gee my tyd, ek gee myself, ek gee my lewe. Om my tyd te gee, is om myself te gee – om my lewe te gee! Dit werk eintlik soos sinonieme: TYD en LEWE.

Kyk ’n bietjie na die mense om jou. Altyd besig, altyd aan die jaag, met min tyd en baie oortyd, moeg en moedeloos, oorlaai en oorwerk. Ons lewens is so vol en tog so leeg! Daar is soveel uitbranding en depressiegevalle. Ons kop kan dalk nog die pas probeer volhou, maar ons liggaam gooi handdoek in – dis nie gebou vir hierdie konstante vloei van adrenalien nie!

In sterk kontras met ons gejaagdheid en vreeslik baie aktiwiteite in ’n soeke na sekuriteit en stabiliteit, stel Jesus vir ons ’n “altyd tyd”-voorbeeld. Dit wys dat ’n mens kan stilstaan by die belangrikste dinge al is jy besig, want Jesus was ook besig soos ons kan sien in Markus 1:32-33: “Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was.”

Mense het na Jesus toe gekom met ’n verwagting dat Hy sal help en genees – en Hy het!

Jesus het nie meer of minder tyd gehad as wat ons het nie. Hy was nie minder besig as wat ons glo ons is nie, maar sy kapasiteit om ten spyte van en ten koste van Homself te kan stop en sien en reageer, groei vanuit sy intimiteit met sy Vader wat eenvoudig prioriteit was.