Dien

Om ander te dien kom nie vir my vanself nie. Ek is ‘n self-gesentreerde persoon. Ek hou daarvan dat dinge op my manier gedoen word. Dit is nie iets waarop ek trots is nie, maar ongelukkig is dit die waarheid.

Ek is nie die enigste een nie. Ons almal kan so ‘n bietjie self-gesentreerd wees. Van nature is ons selfsugtige mense. Dink daaroor: jy hoef nie ‘n kind te leer om selfsugtig te wees nie. Volgens Jesus, gaan die lewe nie net oor ons nie, maar nogtans probeer alles in ons kultuur (insluitend daardie hamburger-plek) vir ons sê om dinge op ons eie manier te doen.

Een van die vinnigste maniere om van God te vergeet, is om met “ek” behep te wees. Jesus het baie reguit woorde gehad vir diegene wat Hom wou volg. Hy het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” Matteus 16:24.

God wil hê ons moet dit op SY manier doen. Hy wil nie hê ons moet dinge volgens ons begeertes doen nie.

Jesus het ‘n stelling gemaak wat ons moet laat dink: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.” Johannes 4:34 NLV

Stel jou voor jy kan sê: “My kos is om God te dien. My kos is om Hom te behaag. My kos is om die taak te voltooi waarvoor God my gestuur het. My kos is om die wil te doen van my Vader en om Sy werk te voltooi.” Dit is ‘n ander soort voeding. Dit is om met goddelike leiding te leef.

Wanneer ons hele kultuur sê: “Voed jouself,” sê God dat ons ander moet voed.

Wanneer die mense om ons sê: “Kry alles wat jy kan! Dit gaan alles oor jou,” wil God hê ons moet ‘n bydrae lewer, eerder as om te neem. Wanneer ons hele kultuur sê: “Voed jouself,” sê God dat ons ander moet voed. God het ons nie geskape om nemers te wees nie. Hy het ons geskape om gewers te wees. Eerder as om op ons begeertes te konsentreer, is ons geroep om op die behoeftes van ander te fokus. In plaas daarvan om voor in die ry in te druk, word ons geroep om aan die einde van die ry te wag. God het ons geskape om te dien.

Hierdie manier van lewe sal jou verhaal verander.

Dink daaroor. Die stories wat jy die graagste in herinnering roep, is dié waar jy jou buurman gehelp het, by die kerk betrokke geraak het, of iets weggegee het. Dit is omdat ons gemaak is om te dien, net soos Jesus op aarde gedoen het. Die besluit om te dien mag dalk nie vir jou natuurlik wees nie. Dit was ook nie altyd vir my nie. Maar ek het tot die besef gekom dat om te dien, nie iets is wat ons doen nie. Ons word geroep om ‘n dienaar te wees. Wanneer ons dien, word ons soos Christus.

Vra dalk vir God: Hoe moet ek dien? Wie moet ek dien? Waar moet ek dien?

Wees Genadig Teenoor Jouself

Die dag wanneer jy besluit om ernstig te raak oor goeie daaglikse gewoontes, is die dag wat jy afstand doen van perfeksionisme. Vandag se frase is: wees genadig teenoor jouself. Wanneer jy nie by jou nuwe gewoonte hou nie, wees genadig teenoor jouself. 

Moenie negatiewe denke koester en jouself haat nie. Hou vas aan God se waarheid en die gesonde identiteit wat Hy vir jou gee. Dit is nou die geleentheid om ‘n bietjie dieper te delf en die eintlike probleem te ontdek. Gebruik meer tyd om oor jou gesonde identiteit te dink en vra hulp by betroubare mense. 

Dalk het jy alreeds gefouteer. Dalk nog nie.

Dit maak nie saak wat die geval is nie, vra vir God, en dalk party mense, om vergifnis. Beskou dit dan as ‘n geleentheid om te groei, om ‘n dieper genesing te ervaar en as nog ‘n kans om ‘n goeie daaglikse gewoonte te kweek wat enige probleem sal kan weerstaan. Dis soos wanneer jy verkoue kry en jy jou immuniteitstelsel sterker moet maak. Dit is ‘n geleentheid om die selfbeheersing te gebruik wat God jou gegee het, sodat jy kan groei en sterker word.

Jesus het ons beveel om God met alles in ons lief te hê en ander soos onsself. Dit word beskou as die twee belangrikste gebooies. Daar is egter ‘n derde een hierin versteek. Om ander soos jouself lief te hê, moet jy vir jouself lief wees! Wees genadig teenoor jouself as jy fouteer, al is dit net omdat Jesus jou beveel. Moenie moed opgee nie. Moenie jouself veroordeel nie. Staan op, kyk op, vra vergifnis en probeer weer!