Vasgekeer

“Hulle het my omsingel soos bye …” (Ps 118:12, 1953-vertaling). Is dit nie presies hoe dit soms voel wanneer die lewe jou oorweldig nie? So asof dit waarmee jy gekonfronteer word jou vanuit elke hoek wil platloop!

Ons word maklik oorweldig deur dít wat voor ons is.

Veel moeiliker is om die vertroosting te ontvang wat gebied word deur dít wat jy nie met die blote oog kan sien nie.

’n Bewustheid van die ongesiene dinge help ons om ons voete stewig op die aarde te plant en die oormag in die oë te kyk, pleks van om te draai en te laat spaander.

As gelowiges vertrou ons op die God wat ons nie met die blote oog kan sien nie, nie met die natuurlike oor kan hoor nie en nie met die hand kan voel nie. Ons vertroue en geloof is nie in die natuurlike nie, maar in die bonatuurlike. Ons weet daar is in elke situasie waarin ons vasgekeer voel, of werklik vasgekeer is, vir ons ’n bonatuurlike uitkoms.

Ons weet God gaan ons vooruit (Deut 31:8), maak die weg gelyk, gee Sy engele aangaande ons opdrag (Ps 91:11) en is nie te swak om ons te red nie (Jes 59:1).

Die verhaal van Elisa en sy dienaar is vir my so ’n mooi voorbeeld hiervan. Die arme dienaar se bene het behoorlik geknak toe hy sien hoe hulle omsingel is deur perde, strydwaens en ’n groot leër.

Ek stel my voor die gesprek tussen dié twee sou min of meer soos volg verloop het: Elisa se dienaar, effe bewerig: “Genugtig, Meneer! Wat gaan ons doen? Kyk al daardie perde en strydwaens! Praat nie van die soldate nie! Dis verby met ons. Klaarpraat. En ek wil nie doodgaan nie.”

Elisa: “Nee wat, moenie bang wees nie. Ons is meer as hulle.”

Dienaar: “Meneer, tel weer.” Beduie dan met sy vinger na homself en Elisa: “Een, twee. Ons is twee. Hulle is ’n oormag. Dis bokveld toe met ons.”

Elisa, sug diep: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien.”

Dienaar, sprakeloos: “Meneer! Kýk! Die hele berg is vol vuur en perde! Ek het nog nooit so iets gesien nie! Dis verstommend! Die engele … hulle is óral!”

Elisa, skouerophalend: “Ek weet. Ek’t jou mos gesê. Haal nou diep asem en hou op bewe. Jy ontstig die perde.”

Soms het ons net ’n oomblik nodig waar ons dieper kyk as die opsigtelike.

Waar ons sien wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Waar ons hoor wat nie met die natuurlike oor gehoor kan word nie. Waar ons voel wat nie tasbaar is nie.

Want dan sal ons weet: Ons is nooit vasgekeer nie. Nie permanent nie, in elk geval. En selfs wanneer ons dink ons is vasgekeer, en wanneer ons glo dis klaarpraat met ons, is daar altyd meer van ons as wat daar van hulle is. Áltyd.

God sélf omsingel ons.

Konflik…?

Die beste voorbeeld wat ons het hoe om konflik op te los, is deur God self. Keer op keer het ons van Hom af weggedraai. Ons het teen Hom gesondig. Ons het dinge gedoen wat ons geweet het nie goed vir ons was nie.

God het dus besluit om ‘n bietjie konflik oplossing toe te pas — met ons. Hoe het Hy dit gedoen? Nederig en direk. 

God het Sy Seun, Jesus, aarde toe gestuur om in ‘n nederige vuil stal gebore te word. Hy het as een van ons gekom — ‘n persoon. Hy het soos enige mens gelewe. Anders as ons, het Jesus egter ‘n volmaakte, sondelose lewe gelei. Daarna het Hy aan die kruis gesterf om vir ons sonde in die finale konflik oplossing te betaal. 

Dit was nie nodig dat Hy dit doen nie, maar Hy het gekies om dit te doen.

Hy het dit wat ons verdien het op Homself geneem. Hy het gesterf om die konflik te konfronteer en om ons sonde te vergewe, sodat ons by Hom kan wees.

As ons onsself volgelinge van Jesus noem, moet ons sy leiding volg. En dit beteken dat dinge ‘n bietjie rof kan raak. Hy vra dat ons konflik tromp-op loop in plaas daarvan om weg te hardloop en dit dadelik, direk en nederig te doen — net soos Hy gemaak het.

Ons moet egter in gedagte hou dat as ons konflik op ‘n gesonde manier hanteer, dit nie waarborg dat ons verhoudings herstel sal word nie. Soms gaan mense nie jou verskoning aanvaar nie. Soms sal die konflik nie oornag verdwyn nie. As jy egter leer om konflik op ‘n gesonde manier te hanteer, sal dit jou hart genees, al genees dit miskien nie jou verhouding nie.

Hoekom? Wanneer ons konflik op die regte manier hanteer, word ons meer soos Jesus. 

Kom ons aanvaar dus konflik. Laat ons soos Jesus wees — nederig en vergewensgesind. Onthou: Hy het ons gered toe ons dit nie verdien het nie. Laat ons dus sulke genade aan ander betoon, selfs al dink ons dat hulle dit nie verdien nie. 

Vra vir God om jou te help om konflik op so ‘n manier te hanteer dat dit Hom verheerlik. Vra Hom om jou die wysheid te gee om reg op te tree in elke verhoudings. Help my om ander te vergewe soos wat U my vergewe het. In die Naam van Jesus. Amen

Teleurstelling

Ons volgende held, Elia, is nie net die bekendste profeet nie, maar ook een van die mees invloedryke mense in die hele Ou Testament.

God stuur Elia om Israel te red van Baäl-aanbidding. Elia daag die profete van Baäl op die berg Karmel uit om te kyk wie die ware God is – of God of Baäl met vuur uit die hemel sal antwoord. Toe die ware God met vuur antwoord, het die mense op hul gesigte geval en uitgeroep: “Die Here is God!” Elia het toe al 450 profete van Baäl doodgemaak, gebid vir reën om die droogte te laat eindig (waarop ’n groot reënstorm volg) en toe hardloop hy al die pad tot by die hoofstad van Jisreël.

Maar in Jisreël het dinge vir Elia begin ontrafel.

Koningin Isebel het gehoor dat Elia die profete van Baäl om die lewe gebring het en sy het vir hom die volgende boodskap gestuur: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” (1 Konings 19:2)

Dis ongelooflik as mens dink aan al Elia se heldedade tot op hierdie punt, dat Elia nou bang word en vlug. Wat het dan gebeur?

Elia het breekpunt bereik.

Om dit eenvoudig te stel, hy is uitgeput. Boonop word hy nou ook met sy eie beperkings gekonfronteer. Hy het al die pad tot by Jisreël gehardloop, waar hy herlewing verwag het, maar toe hy daar kom, het niks verander nie. Ten spyte van sy beste pogings het hy nie daarin geslaag om Israel te red nie. En nou is hy diep teleurgesteld.

Teleurstelling kan ons in ’n krisis dompel. Voeg uitputting by die mengsel en alles lyk tien keer erger.

Onder hierdie omstandighede gebeur dit dikwels dat ons as mans onsself isoleer. Ons ontsnap na ons grot of dalk die gholfbaan. Ons bestee ons tyd deur sport te kyk, of ons vind ons ontsnapping in destruktiewe gedrag, soos om te veel alkohol te drink of pornografie te kyk. 

Elia het homself ook isoleer. Hy reis alleen na die woestyn, gaan sit onder ’n besembos en bid om dood te gaan. “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, …” (1 Konings 19:4)

Ons is ook dikwels oormoeg in ons oomblikke van krisis, soos Elia hier voel. En al wat ons moet doen (tensy die huis besig is om af te brand) is om te rus en te herlaai. Ek hou van hierdie aanhaling van die Amerikaanse sokkerspeler,Vince Lombardi:

“Uitputting maak lafaards van ons almal.”

God verstaan dat ons fisiese liggame beperkings het. Die engel van die Here berei ’n maaltyd vir Elia voor, maak hom wakker en moedig hom aan om te eet, want die reis is nog glad nie verby nie.

Sien jy, jou beperkings is nie die einde nie, selfs al voel dit asof jy die stryd verloor het. God was nog nie klaar met Elia nie. God se plan vir Elia en vir Israel is steeds op koers. God stuur vir Elia om twee konings te salf, sowel as sy opvolger, Elisa. Tydens die verheerliking op die berg het God vir Elia langs Moses ingesluit, waar hulle twee met Jesus kan praat oor God se ware plan om nie slegs Israel te red nie, maar die hele mensdom.

Ek wonder wat Elia vir ons sou sê as hy vandag hier was?

Dalk sou hy sê: “Wees sterk! Moenie moed verloor nie. God is saam met jou in hierdie ding. Hy is jou Rots, jou skild, jou skuilplek, jou krag, jou helper. En Hy ken geen beperkings nie.”