8x Maniere Om God Se Wil Te Ontdek

In ons soektog om God se wil vir ons lewens te verstaan en na te jaag, het ek hier agt maniere uiteengesit hoe die Vader ons help om Sy wil te ontdek en die planne wat Hy vir ons het. 

  1. Gemeenskap Met God Deur Die Skrif  God leer ons deur middel van Sy woord hoe die Christen se lewe behoort te lyk, wat nie meer by ons pas nie en hoe om die strikke van die lewe te vermy (2 Tim. 3:16-17). Die Bybel leer ons dus wat die Vader van ons verlang en help ons om dit te bereik. Dis Sy handleiding vir die lewe. Hy sal ons nooit na iets lei of sê om iets te doen wat Sy woord weerspreek nie.
  2. Omstandighede Van Die Lewe — God praat met ons deur die omstandighede in ons lewens — waar Hy ons plaas, die omstandighede waarin ons onsself bevind en die mense met wie Hy ons omring. Hy is heeltyd aan die werk in ons lewens, oomblik-vir-oomblik, om ons in Sy wil te lei en dit deur ons te bereik. (Rom. 8:28).
  3. Raad — God praat met ons deur die goddelike raad van ander gelowiges. Soms het ons die hulp van ander Christene nodig om te weet wat om op gebiede te doen waarmee ons nie vertroud is nie. Dis hoekom die Skrif ons vermaan om mekaar in liefde te onderrig, met ‘n skoon gewete en in opregte geloof (1 Tim. 1:5). 
  4. Gewete — Nog ‘n faktor om God se wil te onderskei, is deur ons gewete, daardie stemmetjie in ons wat as ‘n morele filter dien. Dis die waarskuwing as ons in die versoeking kom om iets te doen wat nie reg is nie, of wanneer ons die verkeerde pad wil loop (Rom. 2:14-15).
  5. Gesonde Verstand — Die Geesbeheerde gelowige behoort sy denke en gesonde verstand te gebruik om die wil van God te onderskei (Titus 2:11–12).
  6. Verpligting — Die Here gee jou die sterk begeerte of die drang om Sy wil te doen, volgens die aansporing van Sy Heilige Gees (Fil. 2:13)
  7. Tevredenheid — Ons onderskei God se wil deur die tevredenheid of kalmte wat ons voel as ons iets doen. Wanneer jy teen die Here werk, sal jy geestelike wrywing ervaar, wat jou ongemaklik laat voel; wanneer jy in die wil van God is, sal jy vrede ervaar (Fil. 4:7). 
  8. Kommunikasie Met God Deur Middel Van Gebed — Wanneer ons ons vrae en kommer in gebed na God toe bring, belowe Hy om ons te laat verstaan wat ons ervaar en Hy sal ons help om sy begeerte vir die toekoms te verstaan (Ps. 119:105).

God is deurentyd besig om Sy hulpbronne namens ons te gebruik. Hy is die Een wat al die maniere gebruik wat hier bo genoem is, om vir jou Sy wonderlike wil vir jou lewe te wys.

Moenie bang wees dat jy die Vader se wil sal misverstaan of Hom verkeerd sal verstaan nie. Hy kan baie duidelik praat en sal jou bemagtig om te doen wat Hy jou ook al vra om te doen. 

Al wat jy moet doen is om aandag te gee aan Hom, te luister en dan gehoorsaam te wees.

Die lewe is moeilik!

Die lewe is nie elke dag maanskyn en rose nie; en ons kan nie swaarkry vermy nie. In jou lewe sal jy definitief al êrens met emosies te doene gekry het. Êrens sou jy ook al gevoel het asof jy nie beheer oor jou emosies en gevoelens het nie. Om die lewe voluit te kan lewe, moet ons leer hoe om ons emosies te beheer, sodat ons emosies nie vir ons beheer nie. Kan jy jou emosies beheer of beheer jou emosies vir jou? 

Hierdeur sê ek nie dat ons nie emosies mag ervaar nie, natuurlik gaan jy. Dit gaan oor hoe jy die emosies hanteer. Ons verwys daarna as emosionele intelligensie. Die definisie is as volg: 

“Emosionele intelligensie (ook bekend as emosionele kwosiënt of EK) is die vermoë om jou eie emosies op positiewe maniere te verstaan, te gebruik en te bestuur om spanning te verlig, effektief te kommunikeer, empatie met ander te hê, uitdagings te oorkom en konflik te ontlont.”

Hoe jy jou emosies gaan hanteer (jou emosionele intelligensie beoefen), kan jou verder in die lewe bring as enige kwalifikasie.

Net soos God van ons verwag om geestelike volwassenheid na te streef, so moet ons ook leer om ons emosies te beheer. As jy jou emosies beheer, dan laat dit jou nie doen wat buite God se wil is nie. Jy moet besef jou emosies is nie ’n verskoning om sekere sonde te doen nie. Dit is waarom dit so belangrik is om te let op jou emosies. Jou emosies moet ook eer aan die Here gee.

Vra jouself die vraag: Is die manier hoe ek my emosies hanteer besig om getuienis van Jesus te bou of af te breek? 

Wanneer emosies jou oorweldig, neem jou gedagtes gevange en maak dit gehoorsaam aan Jesus Christus. Ongeag wat die lewe na jou kant toe gooi, jy kan leer om jou emosies beter onder die Heilige Gees se beheer te bring. In die wildernis van die wêreld, gaan jy soms onregverdig benadeel word. Jesus sê vir ons om te midde van ’n onregverdige wêreld, jou emosies so te verwoord en te bestuur, dat jy steeds ’n positiewe verskil in die wêreld kan maak. 

Hier is ’n paar riglyne om te beoefen hoe om jou emosies te beheer, sodat dit jou nie beheer nie: 

  • Identifiseer die emosie wat jy voel. Maak seker jy weet self wat jy voel. 
  • Gee jouself genoeg tyd om dit te ervaar. Sonder jouself af, of gaan sit op ’n stil plek. 
  • Bid oor die emosie wat jy ervaar. Gee dit oor aan Jesus en vra Hom om jou te help.
  • Haal diep asem.
  • Verbaliseer jou emosies aan iemand wat jy vertrou.

Mag jy besef dat Jesus nie wil hê jou emosies moet jou beheer nie, maar dat jy jou emosies moet beheer en dit aan die Here gehoorsaam moet maak.

Jou KEUSE!

Ek glo lewe is in God se hande. God skep lewe, Jesus het betaal met Sy lewe sodat ons lewe in oorvloed kan hê, maar dit beteken nie ons hét lewe nie. Ons moet lewe kies:

Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders” (Deut 30:19).

Ek moet erken – hierdie keuse klink tog ’n bietjie vreemd.

Ek het mos lewe, ek kies nie lewe nie, of hoe? Ek leer egter uit God se woorde ons het asem en ons het geleende tyd, maar lewe lê in hierdie keuse wat elkeen van ons vir onsself moet maak, elke dag en elke jaar wat tot ons lewe gevoeg word. Die keuse en wat dit behels, word as volg omskryf in Deuteronomium 30:20: “Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe! Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee.”

Het jy al gekies? Het jy gekies om God lief te hê met ’n liefde wat uit jou hart en siel en met al jou krag en verstand kom; gekies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen? God weet verseker beter, maar Hy gee ons steeds die keuse.

Het jy al gekies om gehoorsaam te wees en Hom gekies as die middelpunt van jou bestaan en die rede hoekom jy lewe?

Vir nog ’n dag en vir nog ’n lewensjaar kies ek om te lewe asof my lewe van Jesus afhang, want dit ís so! 

Een lewe. Een kans. JOU keuse! 

Pak die bul by die horings!

Ons wens dikwels die lewe se rowwe tye was soos ’n “mechanical bull”. Wanneer jy so ’n bul ry, ruk hy jou so ’n paar keer rond terwyl jy kyk hoe lank jy kan vashou, en almal lag hulle slap. Jy weet iemand gaan enige oomblik die stop-knoppie druk sodat die volgende ou ’n beurt kan kry, en as jy afval, is dit op sagte spons reg rondom die speel-speel bul.

Maar in die regte lewe is ons eerder in ’n arena met ’n kwaai gedierte wat aanhoudend op ons afstorm. Ek was nie heeltemal voorbereid daarop nie. Ek het nie die tawwe tye verwag nie!

Die Lewe is moeilik!

Scott Peck skryf in sy boek THE ROAD LESS TRAVELLED: Die lewe is moeilik. Die lewe is eintlik een lang probleem wat opgelos moet word. As ons dit net eers verstaan en aanvaar, is die lewe nie meer moeilik nie. Wat die lewe moeilik maak, is die proses om hierdie probleme te konfronteer en op te los. Die lewe kry betekenis soos ons probleme teëkom en oplos, want probleme roep ons dapperheid en wysheid na vore. Dít is hoe ons groei en leer. Scott Peck sê “dit sodat ons realisties kan wees, want as jy probleme begin sien as ’n geleentheid en soms selfs as ’n geskenk, dan gryp jy dit aan en jy gebruik dit!”

Hou vas aan Paulus se woorde in Romeine 5:3-5: “Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde.”

Ek kan nie vir ewig die bul probeer “side step” en dink hy gaan nie weer terugkom nie. Pak die bul by die horings – gryp die groeigeleentheid met al twee hande aan. Spring op sy rug en ry hom tot sy gô uit is!

Tyd en Lewe

Ek het gehoor van ’n vrou wat haar goue horlosie in die kollektebordjie gegooi het. Die mense wat die geld moes tel ná die tyd het aanvaar die horlosie het van haar arm afgegly toe sy haar geld ingegooi het. Groot was almal se verbasing toe die eienaar van die horlosie uiteindelik opgespoor is en sy bevestig dat die horlosie in die kollektebord ’n stap van gehoorsaamheid was en ’n gebaar om eintlik haarself vir die Here te gee: “Ek wou my horlosie gee, want my tyd besit my, dit dryf, druk en jaag my. Om nog ’n keer geld te gee, sou my nie geraak het nie. Om my tyd te gee, was die beste offer of opoffering wat ek daardie dag kon maak, want as ek my tyd gee, gee ek myself!”

Ek gee my tyd, ek gee myself, ek gee my lewe. Om my tyd te gee, is om myself te gee – om my lewe te gee! Dit werk eintlik soos sinonieme: TYD en LEWE.

Kyk ’n bietjie na die mense om jou. Altyd besig, altyd aan die jaag, met min tyd en baie oortyd, moeg en moedeloos, oorlaai en oorwerk. Ons lewens is so vol en tog so leeg! Daar is soveel uitbranding en depressiegevalle. Ons kop kan dalk nog die pas probeer volhou, maar ons liggaam gooi handdoek in – dis nie gebou vir hierdie konstante vloei van adrenalien nie!

In sterk kontras met ons gejaagdheid en vreeslik baie aktiwiteite in ’n soeke na sekuriteit en stabiliteit, stel Jesus vir ons ’n “altyd tyd”-voorbeeld. Dit wys dat ’n mens kan stilstaan by die belangrikste dinge al is jy besig, want Jesus was ook besig soos ons kan sien in Markus 1:32-33: “Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was.”

Mense het na Jesus toe gekom met ’n verwagting dat Hy sal help en genees – en Hy het!

Jesus het nie meer of minder tyd gehad as wat ons het nie. Hy was nie minder besig as wat ons glo ons is nie, maar sy kapasiteit om ten spyte van en ten koste van Homself te kan stop en sien en reageer, groei vanuit sy intimiteit met sy Vader wat eenvoudig prioriteit was.