Kan Ek Seker Wees?

Kan jy die wil van God vir jou lewe ken? Nadat jy hierdie gelees het, hoop ek jy sal oortuig wees dat jy kan weet wat Sy wil en plan vir jou lewe is. Jy sal leer om Hom te hoor op enige plek waar jy jouself in die lewe bevind; ‘n kruispad of in totale chaos.

Terwyl jy jou lewensreis voortsit en versekering van Sy wil vir jou soek, vra jouself die volgende vrae, aandagtig af in gebed: 

  • Is dit in lyn met die woord van God? 
  • Is dit ‘n wyse besluit? 
  • Kan ek eerlikwaar vir God vra om my die vermoë te gee om hierdie doel te bereik? 
  • Het ek werklike vrede oor hierdie pad? 
  • Is hierdie besluit toepaslik vir wie ek as ‘n volgeling van Christus is? 
  • Pas dit by God se hele plan vir my lewe? 
  • Sal hierdie besluit God eer? 

Indien jy op hierdie sewe vrae “ja” kan antwoord, sal jy weet dat jy God se wil bevestig het. Indien jy hierdie sewe vrae nie dadelik kan antwoord nie, moenie gefrustreerd raak nie. Jy moet dalk herhaalde kere deur hierdie vrae werk voor jy God se wil weet. Oor tyd sal die Vader dit egter baie duidelik maak, of jy op die regte pad is en of jy aanpassings moet maak. Soos wat ek al voorheen op hierdie blog gesê het: jy kan God altyd vertrou om met jou te praat. 

Onthou ook net dat die Here omgee vir die keuses wat jy oorweeg, maar Sy groter doel is dat jy ‘n dieper verhouding met Hom sal hê. Hy wil nie net jou vrae beantwoord nie — Hy wil ‘n gewoonte kweek dat jy Hom altyd in elke aspek van jou lewe sal toelaat. Hy begeer dat jy voortdurend bewus sal wees van Sy doel vir jou, die maniere waarop Hy met jou praat, wat Sy wil verhinder en hoe jy sekerheid kan kry oor Sy pad vir jou lewe.

Wy jou dus daaraan toe om God se wil te doen — nie net met jou huidige besluite nie.

Wy jou dus daaraan toe om God se wil te doen — nie net met jou huidige besluite nie, maar vir jou hele lewe. Verwys dikwels terug na die maniere waarop jy Sy wil kan ontdek en maak dit ‘n daaglikse deel van jou lewe. Van tyd tot tyd kan jy jouself ondersoek om te sien of daar enige hindernisse is wat jou verhouding met Hom kan benadeel. Gaan weer deur die sewe vrae so dikwels as wat dit nodig is en onthou dat jy die almagtige God by jou het om presies vir jou te wys wat Hy wil hê jy moet doen.

En laastens: wees altyd gewillig om te doen wat jou hemelse Vader ook al van jou vra — ongeag hoe groot of klein, prakties of onredelik, maklik of moeilik, gewild of ongewild en hoe bevredigend dit is of hoe baie dit jou kos.   

Sê altyd ja vir Hom.

Selfs al wil jy nie, jy’s dalk bang, of verstaan nie Sy aanwysings nie, of dis pynlik — onthou dat Jesus die een is wat jou red, jou sondes vergewe, jou heilig maak, vir jou voorsien, jou beskerm, jou ‘n tuiste in die hemel gee en jou onvoorwaardelik en ewig lief het.

Laat jou Verlosser toe om vir jou die oorvloedige seëninge en volkome vreugde te gee wat Hy vir jou beplan het. Sê ja vir Sy wil … want as jy dit doen, sal jy die lewe ten volle ervaar en ewige belonings kry wat nie gemeet kan word nie. 

Stap Saam Met Ander

Een van die belangrikste reëls vir bergklim is: klim nooit alleen nie. Daar is net te veel dinge wat verkeerd kan gaan as jy in die veld of ruigtes gaan stap of klim. Jy het die veiligheid nodig van iemand by jou. 

Om nie jou paadjie alleen te stap nie, is ook goeie raad vir die lewe. Dit maak nie saak hoe sterk of voorbereid ons is nie, ons het altyd ander om ons op die lewensreis nodig. Koning Salomo praat hieroor in prediker: “Twee is beter as een.” Ons is nie geskape om alleen deur die lewe te gaan nie. ‘n Ou Afrika gesegde lui: “As jy vinnig êrens wil kom, gaan alleen. As jy ver wil gaan, stap saam met ander.”

Wanneer die lewe uitdagend of moeilik raak, is ons geneig om uit die gemeenskap te onttrek en onsself te isoleer.

Afsondering verloop egter nooit goed nie. ‘n Stuk steenkool wat uit die vuur gehaal word, verloor vinnig hitte. Ons is dieselfde. As ons die vuur en energie van ons lewenspaadjie met God wil behou, moet ons naby ander bly. Wanneer ons naby God se gemeenskap bly, ervaar ons ‘n tasbare uitdrukking van God se liefde.

God het ons geskape om Sy liefde nodig te hê. In ons wêreld sal die mees tasbare, sigbare uitdrukking van Sy liefde gewoonlik deur mense kom. Ons gee uitdrukking aan God se liefde deur mense lief te hê. Alles mag tussen jou en Jesus reg wees, maar die bewys lê daarin hoe jy dit teenoor ander uitleef. 

As dit daarbo eensaam voel, of jy voel dat mense jou terughou, is daar ‘n groot moontlikheid dat jy te vinnig beweeg en jy dalk jou pas ‘n bietjie moet vertraag. Die liefde vertraag gejaagdheid. Woede versnel dit weer. Jy kan nie liefde betoon as jy haastig is nie. Om jou pas te vertraag sodat jy saam met ander kan loop, is ‘n uitstekende manier om liefde te betoon. 

Wanneer die lewe besig of oorweldigend raak, is die beste ding wat ons kan doen om tyd saam met ander Christene ‘n prioriteit te maak.  Soek hulle gemeenskap op. Bly naby die warmte van verhoudings met ander. Jy sal agterkom dat jou woede en angs deur liefde vervang word.