Om te luister

Om na God te luister kan ‘n baie verwarrende konsep wees. Wanneer jy na die Bybel kyk, sal jy ‘n paar geïsoleerde voorbeelde sien waar God opdaag en deur ‘n bonatuurlike manier praat, wat onmoontlik is om te mis: ‘n brandende bos, ‘n donderende stem, ‘n donkie wat praat. Ek dink ons almal sal dit waardeer as God so duidelik sal wees as Hy met ons praat, maar dit is eintlik ‘n baie skaars gebeurtenis in die geskiedenis. Ons sien meer gereeld dat God baie sagter praat … dat Hy baie meer subtiel is. 

Die Ou Testamentiese —profeet Elia, was op moedverloor se vlakte — moeg, keelvol en reg om moed op te gee. Daarom het God besluit om ‘n gesprek met hom te hê. Terwyl Elia in ‘n grot wegkruip, in die middel van nêrens, ontvou hierdie vreemde gebeure. Vanuit die grot neem Elia allerhande natuurrampe waar — ‘n berg word stukkend geruk! Dan hoor hy die geluid van ‘n sagte fluisterstem en dit is wanneer hy uitstap, reg om van God te hoor. 

As ek Elia in die grot was, en ek het geweet dat God met my gaan praat, sou ek Hom waarskynlik in die groot en skouspelagtige gebeure verwag het. Wanneer vuur en aardbewings om my woed, sou ek dink: “Daar is die almagtige Skepper van die heelal.” God verkies egter om in ‘n fluisterstem met ons te praat. Hy is sagkens met ons. Nog meer as dit, want ons leef nou met die voordeel dat God self, as die Heilige Gees, in ons woon.

Ons kan van God hoor, want Hy is alreeds hier — nader as wat ons besef. 

Die probleem is egter, as God in ‘n fluisterstem praat, sal ons baie stil moet raak as ons verwag om Hom te hoor. Kan jy ‘n fluisterstem hoor bo die gedurige musiek in jou oorfone, jou besige skedule, of terwyl jou oë aan TV-, rekenaar- en selfoon-skerms vasgenael is?

Wanneer laas het jy rustig geraak, stil geword en regtig geluister na die sagte fluisterstem van God? Neem ‘n paar minute, nadat jy hierdie gedeelte gelees het, en probeer dit doen.

Luister ek of Hoor ek…?

Ek het al baie aan hierdie gedagte gedink, en soos ‘n bees wat gras her-kou het hierdie gedagte oor en oor al opgekom binne my gedagtes: Luister ek of hoor ek…?

Indien besig lewe wat ons leef is dit in werklikheid so eenvoudig maklik om net te hoor maar nie te luister nie, vra maar iemand wat kinders indie huis het, pa sit dalk op die bank en TV kyk en boeta vra hom pa mag ek asb die boormasjien gebruik? Pa luister nie mooi nie en boeta vra weer kan ek nou pa asb? en pa raak sommer iriteerd want boet trek sy aandag af en se ja…. Later storm sus in die tv kamer in en moun met pa dat boet het deur haar Barbie se huis geboor…. Pa verstaan nie hoe kon boeta net eenvoudig die boormasjien gebruik nie… en boeta voel weer pa het gese hy mag!

Eenvoudig is dit…. nee dit is nie… Ek het dit goed gevind om ‘n video opteneem en dalk eerder inpersoon my hart uit te gooi daar buite… want niemand luister in elkgeval nie… hulle hoor net!

Wag en Luister

Wees eerlik met jouself. Wanneer was die laaste keer toe jy gesit en slegs ‘n opregte, lewendige gesprek met iemand anders gehad het, waarin jul om die beurt opreg geluister het na wat die ander te sê het? Geen toestelle. Geen TV. Geen musiek. Geen afleidings. 

Geen wonder dit is so moeilik vir ons om na God te luister nie. 

Luister na jou lewe. Alle oomblikke is sleuteloomblikke.  – Frederick Buechner

Met die lees van Habakuk 1 sien ons dat hy met vrymoedigheid vir God al die werklik moeilike vrae gevra het wat op sy hart was. Dit is moeilik om vir iemand lief te wees – selfs vir die Skepper van die Heelal – indien jy griewe het en jou werklike gevoelens wegsteek. Habakuk was duidelik lief vir God, maar dit het hom nie verhoed om Hom respekvol uit te daag met die versoek om hom te help om die groot gaping tussen wat hy glo en wat hy in die lewe om hom sien, te verstaan nie. 

Nadat die profeet al sy vrae gevra het, het hy geweet dit was nou tyd om te luister. Dieselfde geld vir ons. Habakuk skryf: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.” (Habakuk 2:1) Hierdie beelde – “ek sal op my uitkyktoring staan en wag om te hoor wat God vir my wil sê”, is vir my kosbaar. Soms is die redes waarom ons nie antwoorde op ons vrae kry nie, die feit dat ons nie gewillig is om te rus en lank genoeg te wag vir God om Homself aan ons te openbaar nie. 

Die skrywer van Psalms 46:10 haal God aan: “Wees stil, en weet Ek is God.“(DB) Let op wat God nie  nie. Hy sê nie “wees besig, en erken dat ek God is” nie.


Hy sê “Wees stil.” Wees. Stil. En Luister. 

Hoe luister jy eintlik na God? Jy kan Sy Woord oopmaak en die Gees toelaat om die waarheid tuis te bring. God praat deur omstandighede, indien jy lank genoeg tot stilstand kom om daaroor na te dink. God praat deur mense wie goddelike wysheid deel. God kan ook direk met jou praat deur Sy Gees. Wanneer jy aan die Here behoort, tyd saam Hom spandeer en stil word voor Hom, sal jy leer om Sy stem te herken. 

Miskien het jy die Here gevra vir iets wat jy nodig het. Dit is heeltemal aanvaarbaar, want God wil hê dat ons na Hom moet uitreik. Maar, is jy bereid om te luister na wat God vir jou wil sê, al is Sy antwoord nie wat jy wil hoor nie?

Hou aan luister, die Here sal jou nie in jou tyd van nood in die steek laat nie. Hy sal jou altyd vashou en jou deur jou pyn dra. 

Wie Wysheid Soek?

Wysheid is iets waardevols. Mense voel aangetrokke tot wysheid. Dit is aantreklik en bekoorlik. Wysheid verteenwoordig ‘n woord van die Here, so dit is van onskatbare waarde. Wysheid is een van die redes waarom ons kerk toe gaan, na goeie Bybellerings luister en met ouer mentors praat.

Ons moet na wysheid soek en daarvoor vra. Dit kom nie natuurlik nie; dit is ‘n geskenk van God.

Wysheid is kosbaar en uiters waardevol. Dit is ‘n geskenk wat jou beskerm teen besluite wat ‘n leeftyd by jou kan spook, en dit gee jou die moed om aan te hou of op te hou. Wysheid is ‘n wapen wat deur God self gebruik word, namens Sy krygers. Wysheid sny deur verwarring en vervang dit met helder denke. Dit breek besluite op in ‘n reeks van klein oorwinnings. Dit waarsku teen naderende gevaar. 

Die wyse persoon is egter nie gevrywaar van sonde nie. Wyse manne en vroue moet steeds verantwoordelik gehou word – dalk meer as ander. Die wyse persoon is inderdaad vatbaar vir hoogmoed. (Jeremia 9:23) ‘n Wyse hart wat vermeng is met hoogmoed, dink dat dit bo die reëls verhewe is. In die begin kan dit so subtiel wees, maar die innerlike oortuigings begin vrot soos ‘n fondament wat met termiete deurtrek is. As hoogmoed nie in bedwang gehou word nie, verander dit wysheid in selfversekerdheid. Dit is hartseer wanneer ‘n eens wyse leier toelaat dat trots sy vrees vir God laat kwyn. Wysheid is God se geskenk om Sy koninkryk-inisiatiewe uit te kan voer. Wanneer dit net vir eie gewin gebruik word, word dit self-diens.

Soek na die ware wyses, vir wie God prioriteit nommer een is.

Selfgemaakte wysheid veroorsaak geestelike wanpraktyke, maar suiwer wysheid gee geestelike lewe. Dit is wysheid—gepaardgaande met nederigheid en gehoorsaamheid aan God—wat ons voorberei om die wedloop suksesvol te voltooi. Egte wysheid is aanvaarbaar in alle situasies. Soek daarna in die Bybel, boeke, by mense, omstandighede, flieks, lewenservaring en in die skepping. Wanneer jy dit vind, moet jy dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dank God vir wyse uitkomste. Gebruik dit tot Sy eer en vir Sy doel. Laat wysheid toe om jou nederigheid te hou, eerder as om jou ‘n gevoel van meerderwaardigheid te gee. Ons is almal soekers na God se wysheid. Ons sal daarna bly soek totdat ons in die hemel kom. 

Wysheid is aktief en lewend en het altyd ‘n nuwe, vars inspuiting van God af nodig. Gebruik gebed as brug na die wysheid van God. Vra gereeld na Sy perspektief en Sy hart oor die saak. Laat wysheid toe om jou nader aan jou Hemelse Vader te trek in aanbidding en afhanklikheid van Hom. Wy gereeld jou wyse bedoelings aan Hom. Laat jou Hemelse Vader die filter wees vir jou wyse besluitneming. 

Wees ‘n mildelike gewer van wysheid aan ander, maak tyd vir mense om jou hart te leer ken en om die lewenslesse te verstaan wat God gebruik het om jou geloof te vorm. Ons het almal wysheid wat ons aan ander kan bied. Maak tyd om na ander te luister. Hulle mees dringende kwessies het aandag nodig. Wees beskikbaar om geduldig en met begrip te luister en gee dan in nederigheid opsies vir hulle om te oorweeg.

Wysheid is hoflik. Dit gee antwoorde vir almal, wanneer dit met ‘n gees van nederigheid gevra word, as ‘n mede wysheid-soeker. 

Soek wysheid en gee wysheid—wysheid gemotiveer deur nederige oorgawe aan God.

Bepaal Wat Noodsaaklik Is

In Lukas 10, word Marta oor die vingers getik. Is ons nie maar almal Marta’s wat van tyd tot tyd sukkel om te besluit watter take meer belangrik en minder belangrik is nie? Iemand moes tog die ete voorberei. Ek is seker dat Jesus Marta se gasvryheid opreg waardeer het. Dit was nie die feit dat die ete nie so belangrik was nie. Jesus het dit net beklemtoon dat dit nie die belangrikste ding op daardie tydstip was nie.

Dit was meer belangrik dat Marta en Maria na Jesus se lering moes luister.

Soos wat ek al reeds voorheen genoem het is dit nodig dat ons, ons verpligtinge nakom en projekte afhandel as deel van ons tydsbestuur. As jy al jou verpligtinge en take bymekaar sit, moet jy uitsoek watter meer belangrik is. Om dit te kan doen moet jy presies weet waarvoor God jou op hierdie tydstip in jou lewe roep. Met daardie geheelbeeld en doelwitte in gedagte, vra jouself af: “Wat is die één ding, as dit afgehandel is, wat al my ander projekte makliker en meer betekenisvol sal maak?”

Daardie antwoord is die belangrikste ding waarop jy moet fokus. Laat al die ander goed eers wag, totdat hierdie spesifieke taak afgehandel is. Hou aan om hierdie proses te herhaal.

Terwyl ek die boek Called to Create besig was om te lees, was ek oorweldig deur alles wat moes plaasvind om my. Ek moes aandag gee aan my kinders, ek was besig om te verhuis, ek was agter op my sekulere werk se “sales-budget”, ek moes gemeentelede ondersteun wat deur moeilike tye gaan, 50 000 dinge het deur my verstand gehaas daagliks, terwyl ek dit in woorde probeer neer skryf in my daaglikse journal, ek het sondae ‘n platform waarvan ek moet af bedien en nie ers gepraat van die toenemende druk in die mark, en vele meer nie. Ek het aan die begin geweet dat ek niks sou kon regkry as ek nie ‘n verhouding met Jesus kon gehad het nie. Dit was dus my belangrikste taak. Ek het alles laat staan totdat ek myself in Sy teenwoordigheid gevind het.

Dit is so dat min take en projekte op enige gegewe tyd regtig noodsaaklik is. Leer die gewoonte aan om eers die twee of drie noodsaaklikhede te identifiseer en fokus daarop totdat dit afgehandel is.

Wat doen jy?

Die Ou Testamentiese profeet Habakuk leef in bose tye. Juda is in chaos en die Babiloniërs (wat reeds Egipte en Assirië verslaan het) is by die poorte. Desperaat en gefrustreerd gaan Habakuk reguit na God toe met sy woede en frustrasie: “Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.” (Habakuk 1: 1 – 4, Die Boodskap)

God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas.

Hier is die waarheid: God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas. Solank ons dit in Sy teenwoordigheid doen, soos Habakuk dit hier doen. Wanneer Jesus sê, “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, …” verwag Hy nie ’n spul mense wat geheel en al kalm en in beheer is en hul sinne begin met “Liewe Jesus, …” nie.

Luister na Habakuk: “Waarom luister jy nie, Here?! Wat doen jy?!”

God sê vir Habakuk dat Hy die Babiloniërs stuur om Juda te straf, wat nie is wat Habakuk wil hoor nie en dit ontstel hom net verder. Eintlik word nie een van Habakuk se probleme in hierdie ontmoeting met God opgelos nie. Maar tog eindig dit waar Habakuk God loof en prys.

Waarom sou Habakuk dit doen?

Wanneer Habakuk sy bekommernis na die Here bring, vertroos, verlig en verkwik God Habakuk se siel, watpresies is wat Jesus in Matteus 11:28 beloof om te doen wanneer ons ons bekommernis na Hom bring.

Habakuk stort sy hart voor God uit tot hy heeltemal leeg raak en God vul hom dan met genade, met ander woorde met alles wat hy nodig het om die komende uitdagings in die gesig te staar, insluitend ’n gesonde porsie geluk en vrede.

Ons hoef nie vir ’n krisis of ’n ramp te wag om hierdie soort gesprek te hê waarin ons absoluut niks terughou nie. Ons kan enige tyd met God praat op hierdie vlak van opregte, intieme vriendskap. Ons kan sommer nou daarmee begin. Hoe meer van onsself ons na God toe bring, hoe meer het Hy om mee te werk. In Sy teenwoordigheid word ons verhouding met Hom versterk, ons geloof word versterk en ons siele vind rus, soos Habakuk ondervind het.

Om jou siel voor God uit te stort is ’n dapper gewoonte om aan te leer.

Koning Dawid het dit gedoen en God het Dawid ’n man na sy hart genoem (in Handelinge 13:22). Dit neem ware moed om diep te delf, om eerlik met onsself te wees, om ons uitdagings in die gesig te staar, dit na God te bring en voor Hom oop te maak. Maar dis altyd die moeite werd om dit te doen.

Ek wonder wat Habakuk sou sê as hy vandag hier was?

Hy sou ons waarskynlik reguit laat verstaan het: “Neem al jou bekommernisse na God. Moenie doekies omdraai of maak asof dit nie so erg is nie. Jou opregtheid sal jou nader na God bring en, terwyl Hy vir jou meer wys van wie Hy is, sal jy in geloof groei – dit kan ek jou waarborg.”