In donker dieptes

Vir ’n gedeelte van die jaar hou ’n herder sy skape in die oop veld waar daar genoeg gras is. Wanneer die weer verander en die sappige gras teen die berg begin groei, lei die herder sy skape deur die klowe en valleie om by die hoër plekke uit te kom. Hy weet die bestemming gaan wonderlik wees. 

Maar die reis kan gevaarlik wees. Roofdiere lê en wag in die skaduryke valleie. Die kudde kan die vrees aanvoel, en hulle maak heeltemal staat op die paraatheid van die herder. Hy moet op sy hoede wees om al die draaie en skeure, waar wolwe en leeus kan wegkruip op soek na prooi. Sonder hom is die vallei ’n plek van dood. Met hom is dit net deel van die reis na lewe. 

Dawid het na hierdie onbekende en gevaarlike terrein verwys as die “dal van doodskaduwee”. Hy was welbekend met die donker tye wat ons beleef wanneer ons skaars sin kan maak van wat om ons aan die gang is. Die belofte wat in hierdie beeld geïmpliseer word, is dat God ons deur enige krisis sal neem, ongeag hoe vreesaanjaend of gevaarlik dit is. Ons hoef nie bang te wees nie, want ons Herder loop elk tree van die pad saam met ons. 

Dawid se selfvertroue dat hy nie “bang [sal] wees nie”, is ’n radikale stelling. Hy weet hoe gevaarlik hierdie sondige wêreld kan wees, maar hy weier om die knie voor vrees te buig. Hy vertrou eenvoudig moedig dat God van elke moontlike roofdier, natuurlike ramp en gevaar weet, en hom daarteen sal beskerm. Die mag van die Herder se stok en die leiding van sy staf, sal vir Dawid troos bied in selfs die mees ekstreme situasies.  

Wanneer die lewe onseker is, wanneer gevare dreig, wanneer jy tye van verandering beleef, moet jy weier om vrees die oorhand te gee.

Leer van Dawid se verklaring. Om vreesloos te leef is ’n geldige keuse vir ons, omdat die Herder ons deur donker dieptes lei. Maar ons moet kies om vreesloos te wees. Wanneer ons saam met ons Herder deur die donker dieptes van die lewe gaan, sal Hy sy belofte nakom en ons daardeur help.