Waaraan Hou My Siel Vas?

So paar jaar gelede het ek ‘n ondervinding gehad op ‘n vliegrit, wat ‘n diep indruk op my gemaak het. Ek was op ‘n vliegtuig in Tanzania, oppad van Bulyanhulu na North Mara. ‘n Paar minute voor ons sou land, het ons baie erge turbulensie ondervind. Dit was angswekkend. Ek was al op moeilike vlugte, maar hierdie een was op ‘n ander vlak. Die vliegtuig het met eens ongeveer 160 meter geval, en begin toe rondbons. Drankies het uitgespat, mense het geskree en selfs die personeel was paniekerig.

Die man langs my het soos ‘n belangrike sakeman gelyk. Hy het ‘n pak klere aangehad, ‘n skootrekenaar en die houding wat daarmee saamgaan. Voor ons opgestyg het was hy al besig op sy rekenaar en die manier waarna hy na my geskeurde jeans gekyk het, het my laat besef hy is nie beïndruk met my nie.

Maar binne sekondes het hierdie man van houding verander en was ‘n angsbevange ou mannetjie. Sy kneukels was wit soos hy aan die armleunings geklou het. Hy het al hoe harder geskree elke keer as die vliegtuig stamp en gesak het.

Ek kan hom nie kritiseer nie: ons almal was bang. Ek het egter al gehoor dat geen vliegtuig al ooit neergestort het as gevolg van turbulensie nie en ek het die persoon geglo wat dit vir my vertel het. Die turbulensie het begin terwyl ek besig was om vir ‘n preek voor te berei. Ek was in kontak met God. Vir dalk die enigste tyd in my lewe was ek ‘n emosioneel stabiele persoon in ‘n moeilike situasie. Toe ons uiteindelik veilig land, het die passasiers spontaan hande geklap.

Ek het dae lank nog oor die voorval nagedink.

As jy absoluut hopeloos voel, ondersoek jou siel en bedink waar jou sekuriteit vandaan kom en waarop jou hoop gevestig is. 

Die logiese manier om veilig te voel is om meer in beheer te wees. Jy moet vir elke gebeurlikheid beplan en voorsiening maak vir alle omstandighede. Dit is egter nie realisties nie. Om te beplan is nie sleg nie, maar jou eie beplanning is nie voldoende nie.

Hoekom was ek so rustig tydens die vlug? Wat het my siel help vertrou en laat ontspan in die angswekkende situasie? Dis eenvoudig: Ek het geweet dat God in beheer was van my siel. Ek het geweet my lewe was in Sy hande. My siel kon aan daardie hoop vashou, ongeag die eksterne warboel. 

In die boek van Jesaja, sê God vir Israel: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” (Jesaja 30:15)

Ons siele word gehelp as ons op God vertrou en nie op ander dinge nie. Dan ondervind ons ware rus, redding en krag.

Dit beteken nie dat ons gedagtes en emosies nooit sal wissel nie. Hulle sal. Ek sal dalk nie weer so emosioneel stabiel wees in ‘n soortgelyke situasie nie. Maar ten spyte van eksterne warboel, kan ons siele rustig wees. Ons siele vind hulp en krag in God.

Dink dalk hieroor:

Hoe voel jy en reageer jy as ‘n situasie buite jou beheer is?

Hoe maklik vertrou jy op God? Is dit party kere moeiliker?

Hoekom is jy rustig as jy weet God is in beheer in vergelyking met jou eie pogings om in beheer te probeer wees?

Advertisements

Ons Tydsbestedingsprobleem

Baie mense soek raad by my oor hoe om hulle tyd te bestuur. Nie omdat ek alles omtrent die onderwerp weet nie, maar omdat ek so baie ondervinding het oor hoe om al die produktiewe aktiwiteite in my lewe te balanseer. Ek dien as besturende direkteur van ‘n kleuterskool, dan is ek werksaam by ‘n tegnologie firma, ek is ook ‘n voltydse Pastoor en doen my bes om ander gelowiges te help om die evangelie in hulle werkplek uit te leef. Tuis is ek ‘n man en ‘n pa van twee wonderlike dogters, en ‘n seun. Dat my lewe baie vol is, is die minste te sê. Net deur God se genade kan ek alles “bestuur” en selfs nog elke nag 7 tot 8 ure se slaap inkry.

Om my tyd goed te bestuur het ‘n obsessie geword.

Hoekom? Die Bybel herinner my herhaaldelik daaraan “dat ons lewens ‘n damp is wat verskyn en weer vinnig verdwyn.” (Jakobus 4:14) God het my en jou met ‘n rede op aarde geplaas: om Hom en ander lief te hê en om dissipels te maak. Ons is hier vir ‘n doel. Ons is nie geskape om net doelloos rond te sit en wag vir die ewigheid nie. Ons moet betrokke raak in die wêreld, kulture skep, ander se nood raaksien en hulle bedien. God het ons geroep om saam met Hom te werk om die wêreld te red.

As jy kyk na die omvang van daardie opdrag en hoe die tyd aanstap, behoort ons die doelgerigste mense op die planeet aarde te wees. Ons behoort met ‘n dringende bewustheid te lewe en die beste te maak van elke kosbare oomblik wat ons gegun word.  Ek moet jou waarsku dat dit nie ‘n maklike proses is nie. As dit so maklik was, sou ons nie telkens met hierdie probleem worstel nie. Op die ou end hang suksesvolle tydsbeplanning van ywer en dissipline af. (Spreuke 21:5) Soos jy sal agterkom, om gedissiplineerd te wees wat jou tyd aan betref, sal jou help om tyd beskikbaar te hê om ‘n groot bydrae aan die wêreld te maak namens ons Here en Verlosser.

Is jy gereed om die meeste te maak van die beperkte tyd wat die Here jou gegee het?