Meros se val

Vandag gebruik ek ’n voorbeeld wat as ernstige waarskuwing moet dien. Dit staan so lynreg teenoor die seën van God waarmee ’n mens graag die Bybel assosieer dat dit jou skok om dit selfs net aan te hoor. Kom ons luister dan na ’n stukkie geskiedenis wat nie sonder goeie rede in die Skrif opgeneem is nie.

In die oorwinningslied van Debora en Barak (Rigters 5) word daar in hartroerende poësie gespreek oor die helde wat vir die Here se saak geveg het. En, let wel, onder inspirasie van ’n vrou, Debora. Maar so tussen die lofsange deur deel sy ook ’n paar klappe uit aan ’n klompie lafhartiges en dislojales wat in die vryblywende neutraliteit hulself skaars gehou het. Ruben se mense het by die suipplekke bly sit en by die saalsakke hulself vermaak met fluitspel by die veetroppe.

Maar asof dit nie genoeg was nie, volg daar ’n verdoemende aanval op Meros. Waar pasgenoemde was, word nie met presiesheid gesê nie. Vir ons doel maak dit ook nie juis saak nie. Wat belangrik is, is die mededeling dat die mense van Meros nie vir die Here wou veg nie.

Dis in reaksie hierop dat ’n engel van die Here die verdoemende woorde uitspreek: “Julle moet Meros vervloek, julle moet sy inwoners sonder genade vervloek, want hulle het nie vir die Here kom veg nie” (Rigters 5:23).

Hoekom is hierdie vernietigende woorde in die Bybel opgeneem?

Ek glo dis vir ons almal om te besef dat God nie neutraliteit duld nie. As jy nie vír die Here is nie, is jy téén Hom. Meros se inwoners sou hulself probeer regverdig het deur te sê: “Maar ons het dan niks gedoen nie!” Was dit ’n slim ontvlugtingsroete?

Beslis nie. Niksdoen kan in sekere gevalle ’n ernstige versuimsonde wees. Dan volg die verdoemende oordeel: “Vervloek Meros . . . want hulle het nie vir die Here kom veg nie.” Ook vandag is daar talle mense wat die gesindheid van Meros openbaar. Hulle verskans hulself in die neutraliteit van niksdoen.