‘n Persoonlike Doelgerigtheid

Jy het gawes, talente en ervaring wat net jy kan gebruik om jou te kry waar jy behoort te wees. Jou doel dryf jou passie sodat jy jou persoonlike roeping met mening kan vervul.

Jy besef dit miskien nie, maar jou doel is daardie begeerte of droom wat jou aangryp, wat vir jou opwindend is en wat jou aanvuur. Dit is dikwels iets wat onmoontlik lyk, wat oneindig ver verwyderd voel van waar jy tans is. Jou persoonlike doel gee jou die geleentheid om weg te breek van die oortuigings wat jou beperk en maak jou hart wyd oop om die dinge aan te gryp waarvoor jy so doelbewus geskape is (sien Psalm 138:8). “Maar hoe vind ’n mens jou ware plek in die lewe?” vra jy miskien.

Menigte mense dwaal deur die lewe en wonder of daar werklik ’n doel met hul lewe is.

Waar begin ’n mens om te probeer uitvind waarvoor God jou geskape het en in die wêreld gebring het? Jy kan sinies wees oor die lewe en konsentreer op die dinge wat jy nie het nie, in plaas daarvan om ’n potensiële gawe in jouself raak te sien. Maar jou negatiewe selfspraak kan veroorsaak dat jy wonderlike geleenthede misloop.

As jy ’n oomblik stilstaan, jou ’n bietjie afsonder van jou besige lewe en nadink oor hoeveel keer jy al ’n innerlike gevoel van opwinding gekry het wanneer jy aan ’n moontlikheid in die toekoms dink, oor die kere wat jy al verskeie tekens voor jou gesien en aangevoel het, sien jy dalk net daardie hartsbegeerte van jou raak.

Gryp daardie hartsbegeerte aan, want die Here het dit daar gesit. Hy het jou toekoms vooruitbestem en Hy het jou reeds die mag gegee om dit te laat gebeur (sien Jesaja 14:24). Jou begeerte is jou bloudruk.

Sy plan vir jou is nie ’n afskrif van iemand anders s’n nie; dis uniek

Persoonlike Transformasie

Persoonlike transformasie het ’n prys om te betaal, maar dit is oor en oor die prys werd, want die beloning is soveel groter as die belegging. Dink net aan ’n lewe van ware vryheid – vry van jou verlede, vry van ander se menings, vry om jouself te wees. Dink net daaraan om met eerlikheid na jouself in die spieël te kan kyk en God te dank dat Hy jou gemaak het net soos jy is (sien Psalm 139:13–16). Om dan saam met Hom te werk om die nodige aanpassings, verbeterings en veranderings aan te bring om selfs groter vreugde in jou lewe vry te stel.

In daardie plek van heelheid en vrede kan jy dit terdeë geniet om jou lewe met iemand te deel sonder om bang te wees vir intimiteit, verwerping of teleurstelling. Jy sal miskien weer verwerping of teleurstelling ervaar, maar jy sal nooit weer daardeur vernietig word nie. Jou algehele welstand is in God gegrond, nie in ’n mens nie, want by Hom is daar geen onstabiliteit of enige skadu van ommekeer nie. 

Jy kan God se karakter geheel en al vertrou.

Hy sal jou nooit teleurstel nie. Jy is veilig by Hom. Hy doen dinge miskien anders as wat jou denkwyse voorskryf, maar Hy is altyd betroubaar en altyd besorg oor jou welstand (sien 2 Timoteus 2:13 en Psalm 37:4–6).

Vertrou dat God goed sal laat voortspruit uit jou huidige beproewing. Wanneer jy dan terugkyk en die kolletjies met mekaar verbind, sal jy besef dit is God wat alles vir jou ten goede te laat meewerk (sien Romeine 8:28). Besluit vandag om jou lewe in God se uiters bekwame hande te plaas