Wanneer die Ondenkbare Gebeur

Daar is geen beperking op wie tragedie kan ervaar nie. Vroeër of later sal elke persoon die hartseer en probleme ondervind wat verband hou met skielike traumatiese gebeure wat die lewe vir altyd verander. Hierdie traumatiese gebeure kom in verskillende vorms en formate voor en beïnvloed individue, gesinne, stede, nasies en ons hele wêreld.

Tragiese gebeure is meestal nie iets waarvoor ons beplan nie. Ons reël nie vooraf om hierdie skielike “krisis”-oomblikke te ervaar nie. Of ons nou voorbereid is of nie, tragedies kom en gaan in ons lewens — en dit sal byna altyd met plotselinge vernietiging kom. Ons ontvang ‘n telefoonoproep oor die motorongeluk; ons hoor van die hartaanval; ons sien die aandnuus oor die Coronavirus pandemie wat die aardbol deurkruis.

Gedurende oomblikke van tragedie en krisis, is die beste pad, om ons na God te wend.

God het belowe om diegene te help wat by Hom hul toevlug en beskerming soek; Hy was nog altyd bereid om in nood te help (Psalms. 46: 2). Wanneer die ondenkbare gebeur, is dit tyd om na die Vader te gaan vir woorde van vertroosting, krag en rigting — en hoe om daarop te reageer en voort te gaan.

Ons kan die Skrif deursoek en lees van God se heiliges wat gedurende hul lewens, tye van groot probleme en struikelblokke ondervind het. Dink aan Dawid, die psalmdigter van Israel. Alhoewel hy gesalf en gekies is om koning te word, is hy gehaat en verdryf deur diegene wat daarop uit was om hom te vernietig. Let egter op in Psalm 27: 1-3 wat hy te midde van sy probleme sê: 

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis húlle wat struikel en val. Al sou ‘n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê. 

Dit is die woorde van ‘n man wat geleer het om gedurende die moeilikste tye in sy lewe, deur God in stand gehou te word. Te midde van die tragedie het hy geleer dat hy nie in vrees hoef te lewe nie, want God was sy beskerming. Al het hy homself in uitdagende tye bevind, kon hy daarop vertrou dat God hom sou beskerm en ondersteun. 

Ons het dieselfde hoop as Dawid, want God het belowe “Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie” (Deut. 31: 6). Ons het ook hoop omdat ons nie alleen is nie — ons het nie net vir God nie, maar Hy het ons ook vir mekaar gegee.

Hierin lê ons krag — ‘n verenigde gees wat saam toeneem in vertroue en vasberadenheid, maar nog belangriker, leer om saam op God staat te maak.

Terwyl ons vorentoe beweeg deur die moeilike tye in ons lewe, het ons ‘n belangrike besluit om te neem: Hoe moet ons reageer? Ons reaksie op tragedie, of dit nou persoonlik en beperkend is of ‘n allesomvattende wêreldwye krisis, moet dit dieselfde wees: wend jou na die Vader, lei ander met deernis en sorg, leef vreesloos, onthou Wie in beheer is, en ontdek die goeie.