Vasgekeer

“Hulle het my omsingel soos bye …” (Ps 118:12, 1953-vertaling). Is dit nie presies hoe dit soms voel wanneer die lewe jou oorweldig nie? So asof dit waarmee jy gekonfronteer word jou vanuit elke hoek wil platloop!

Ons word maklik oorweldig deur dít wat voor ons is.

Veel moeiliker is om die vertroosting te ontvang wat gebied word deur dít wat jy nie met die blote oog kan sien nie.

’n Bewustheid van die ongesiene dinge help ons om ons voete stewig op die aarde te plant en die oormag in die oë te kyk, pleks van om te draai en te laat spaander.

As gelowiges vertrou ons op die God wat ons nie met die blote oog kan sien nie, nie met die natuurlike oor kan hoor nie en nie met die hand kan voel nie. Ons vertroue en geloof is nie in die natuurlike nie, maar in die bonatuurlike. Ons weet daar is in elke situasie waarin ons vasgekeer voel, of werklik vasgekeer is, vir ons ’n bonatuurlike uitkoms.

Ons weet God gaan ons vooruit (Deut 31:8), maak die weg gelyk, gee Sy engele aangaande ons opdrag (Ps 91:11) en is nie te swak om ons te red nie (Jes 59:1).

Die verhaal van Elisa en sy dienaar is vir my so ’n mooi voorbeeld hiervan. Die arme dienaar se bene het behoorlik geknak toe hy sien hoe hulle omsingel is deur perde, strydwaens en ’n groot leër.

Ek stel my voor die gesprek tussen dié twee sou min of meer soos volg verloop het: Elisa se dienaar, effe bewerig: “Genugtig, Meneer! Wat gaan ons doen? Kyk al daardie perde en strydwaens! Praat nie van die soldate nie! Dis verby met ons. Klaarpraat. En ek wil nie doodgaan nie.”

Elisa: “Nee wat, moenie bang wees nie. Ons is meer as hulle.”

Dienaar: “Meneer, tel weer.” Beduie dan met sy vinger na homself en Elisa: “Een, twee. Ons is twee. Hulle is ’n oormag. Dis bokveld toe met ons.”

Elisa, sug diep: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien.”

Dienaar, sprakeloos: “Meneer! Kýk! Die hele berg is vol vuur en perde! Ek het nog nooit so iets gesien nie! Dis verstommend! Die engele … hulle is óral!”

Elisa, skouerophalend: “Ek weet. Ek’t jou mos gesê. Haal nou diep asem en hou op bewe. Jy ontstig die perde.”

Soms het ons net ’n oomblik nodig waar ons dieper kyk as die opsigtelike.

Waar ons sien wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Waar ons hoor wat nie met die natuurlike oor gehoor kan word nie. Waar ons voel wat nie tasbaar is nie.

Want dan sal ons weet: Ons is nooit vasgekeer nie. Nie permanent nie, in elk geval. En selfs wanneer ons dink ons is vasgekeer, en wanneer ons glo dis klaarpraat met ons, is daar altyd meer van ons as wat daar van hulle is. Áltyd.

God sélf omsingel ons.