Is jy gewortel?

Die Sequoia boom is die grootste boom ter wêreld, met ʼn deursnee van 9 meter en ʼn hoogte van 76 meter. Vir so ‘n groot boom om stewig te staan, in die wind en deur storms, moet sy wortels goed in die grond geanker wees.

Paulus skryf in sy brief aan die Kolossense, terwyl hy nog in die tronk toegesluit was, dat die kerk gefokus moet bly op Christus. Geloof groei wanneer ons die waarheid aanneem wat in die Woord van God staan.

Geloof groei wanneer ons die waarheid aanneem wat in die Woord van God staan.

Die grootte van die Sequoia boom word nie bepaal deur wat ons aan die buitekant sien nie, maar deur die diepte van sy wortels. Daar is baie storms in die lewe waarteen ons te staan gaan kom, maar daar is net een Naam wat hulle kan kalmeer. Dit is dieselfde Naam wat ‘n vaste fondament is waarop Christenskap gebou is. Dit is die Naam van Jesus Christus.

“Laat jou wortels dieper groei, en jou lewe op Hom gebou wees. Dan sal jou geloof versterk word in die waarheid en jy sal oorloop van dankbaarheid.” (Kolossense 2:7)

Paulus praat van oorvloedige dankbaarheid. In sy situasie lyk dinge somber, en daar is nie iets om voor dankbaar te wees nie. Hy is opgesluit en vasgemaak, hy is fisies ingeperk. Sy perspektief oor die evangelie was nie gekoppel aan sy omstandighede nie; inteendeel, hy het dit as ʼn geleentheid gebruik om Christus bekend te maak.

Ons perspektief is beperk, en ons sukkel om dankbaar te wees, veral as ons net kan sien wat voor ons is. Wanneer ons op God se realiteit fokus, kry ons soveel goed om voor dankbaar te wees, en dit begin alles met die vernuwing van ons denke en perspektief.

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:2)

Verandering sal begin plaasvind wanneer ons anders begin dink, wanneer ons die Heilige Gees toelaat om ons denke te kom vernuwe. Ons almal gaan hierdie seisoen van inperking onthou. Wat is die een ding wat God vir jou in hierdie seisoen gedoen het wat jy altyd sal onthou?

Waarvoor is jy dankbaar, ten spyte van die inperkings rondom jou?

Persoonlike Transformasie

Persoonlike transformasie het ’n prys om te betaal, maar dit is oor en oor die prys werd, want die beloning is soveel groter as die belegging. Dink net aan ’n lewe van ware vryheid – vry van jou verlede, vry van ander se menings, vry om jouself te wees. Dink net daaraan om met eerlikheid na jouself in die spieël te kan kyk en God te dank dat Hy jou gemaak het net soos jy is (sien Psalm 139:13–16). Om dan saam met Hom te werk om die nodige aanpassings, verbeterings en veranderings aan te bring om selfs groter vreugde in jou lewe vry te stel.

In daardie plek van heelheid en vrede kan jy dit terdeë geniet om jou lewe met iemand te deel sonder om bang te wees vir intimiteit, verwerping of teleurstelling. Jy sal miskien weer verwerping of teleurstelling ervaar, maar jy sal nooit weer daardeur vernietig word nie. Jou algehele welstand is in God gegrond, nie in ’n mens nie, want by Hom is daar geen onstabiliteit of enige skadu van ommekeer nie. 

Jy kan God se karakter geheel en al vertrou.

Hy sal jou nooit teleurstel nie. Jy is veilig by Hom. Hy doen dinge miskien anders as wat jou denkwyse voorskryf, maar Hy is altyd betroubaar en altyd besorg oor jou welstand (sien 2 Timoteus 2:13 en Psalm 37:4–6).

Vertrou dat God goed sal laat voortspruit uit jou huidige beproewing. Wanneer jy dan terugkyk en die kolletjies met mekaar verbind, sal jy besef dit is God wat alles vir jou ten goede te laat meewerk (sien Romeine 8:28). Besluit vandag om jou lewe in God se uiters bekwame hande te plaas

uitkyk op gejaagdheid

Om ‘n nuwe houding en uitkyk op gejaagdheid aan te neem, neem tyd. Maar wanneer dit kom by verandering en die nuwe dinge wat God in ons lewens wil doen, het ons twee keuses: Om terug te deins of om groei na te jaag. Ek is die eerste om te erken dat dit soms beter klink om terug te deins, totdat God my my motivering wys.

Wanneer verandering my vreesagtig maak, is dit omdat ek staat maak op my krag om daardeur te gaan. Ek neem aan dat dit alles van my afhang om dit te laat werk, om seker te maak dat dit slaag, om seker te maak dat ek nie WEER soos ‘n mislukking lyk nie. As ek kies om terug te deins, is dit omdat ek herinner word dat ek, in my eie poging, nie in staat is om alles te laat uitwerk soos ek dit wil hê nie.

Maar dan hou ek op om te probeer en begin nastreef, met die vertroue dat God ‘n nuwe ding bring, omdat Hy planne vir my het wat goed is, planne wat Hom sal eer en Sy koninkryk sal uitbrei.

Sal jy die nuwe pad kies waarop Hy jou lei, een waar heilige gejaagdheid jou probeerslae vervang? Of sal jy terugdeins, en die gerief wat bekend is bo ‘n ongemaklike seisoen vol onbekendes verkies? Hier is drie waarborge wat ons met selfvertroue in die toekoms kan inneem:

God is nog nie klaar met ons nie, Hy is gereed om ‘n nuwe ding te doen, en Hy is daar by ons, met elke tree wat ons gee.

Heilige gejaagdheid gee ons die vryheid om hard te werk, met al ons krag, aan die take wat God aan ons siel toewys. Dit is die hartswerk, die werk wat ‘n verskil in God se koninkryk maak. Dit gee ons die vryheid om te erken dat die werk wat ander doen, reg is vir hulle, maar nie vir ons nie, nie in hierdie seisoen nie. Heilige gejaagdheid help ons om God te hoor bo die geraas van die voorskriftelike wêreld, sodat ons ja kan sê vir die werk waarvoor God ons harte voorberei het en nee vir die werk wat ons siele sal laat leegloop.

Die lyn tussen gejaagdheid en strewe, rus en luiheid, is ‘n delikate plek om in te lewe.

Wanneer ons te vêr eenkant toe beur, vind ons onsself afhanklik van ons krag in plaas daarvan om te onthou dat God ons krag is. Hierdie weergawe van die gejaagdheid gaan nie daaroor om meer tyd in ons dag te vind of om meer te doen nie, maar om te ontdek waarvoor God ons roep om te doen, sodat ons meer kan dien, meer kan gee, meer kan aanmoedig, op die regte plekke en op die regte maniere.

‘n Verandering in Perspektief

Om veerkragtigheid op te bou moet ons ontslae raak van herhalende, afbrekende gedagtes oor onsself, God, ander mense en ons omstandighede. Jy mag vind dat wanneer jy die meeste sukkel, jy fokus op gedagtes soos:

  • God help my nie.
  • Ek kan nie nog ‘n dag langer so aangaan nie.
  • Ek sal nooit weer iets goeds in die lewe ervaar nie.
  • Niemand verstaan my nie. Dit is aaklig.
  • Ek sal nooit hierdeur kan kom nie. Ek kan dit nie meer hanteer nie.

Ek’s ‘n aaklige mens.

Om veerkragtigheid op te bou moet valse gedagtes met die waarheid vervang word. Wanneer ons hierdie oorlog voer lei ons bewustelik ons gedagtes en met harde werk vervang ons die onwillekeurige, afbrekende gedagtes met gedagtes van hoop, waarheid en dankbaarheid, soms bewustelike dankbaarheid.  Deur ons gedagtes te omskep kan ons terugbons van die lewe se seer en veerkragtigheid opbou. Let wel, ons kan niks aan ons omstandighede doen nie, maar ons kan ons perspektief en gedagtes aangaande ons omstandighede aanspreek.

Wanneer ek die woord veerkragtigheidhoor, dink ek onmiddelik aan daardie rubber balletjies wat hoër hop as sy beginpunt. Hoe harder jy dit gooi, hoe hoër bons dit. Die veerkragtigheid van die balletjie oorkom swaartekrag.

Absoluut! Vriend, jy kan ook terugbons

Kan dit so wees met ons lewenspyn?Is dit moontlik dat ons hartseer ons kan aandryf om terug te bons? Kan ons uiteindelik in ‘n beter toestand wees as voordat ons in die grond ingedryf was? Absoluut! Vriend, jy kan ook terugbons. Ek weet jy kan, want ek ken die God wat jou veerkragtig kan maak!

Natuurlik werk God volgens Sy tydlyn, nie ons s’n nie. Hy is ‘n prosesgeoriënteerde geneesheer wat ons deur ons seer en genesing lei, eerder as om ons daarom te lei of dit weg te neem. Sal jy Hom vertrou om jou deur jou pyn te lei? Dit is tyd om terug te bons. Vergun jouself die voorreg van die geleentheid. Net omdat jy vasgekeer voel, beteken dit nie dat jy so hoef te bly nie. God sal seëninge uit jou vervloekings bring. Hy wil hê jy moet terugbons.

Watter afbrekende gedagtes koester jy gereeld?

Wat sê dit oor hoe jy oor jouself dink?

Met watter positiewe gedagtes kan jy dit vervang?