Jy Kry Wat Jy Verheerlik

Het jy al ooit gekyk hoe ‘n dogter deur haar ma “opgemaak” word, hoe sy bekendgestel word aan grimering, blosser, oogomlyner en lipstiffie terwyl sy nog ‘n kind is? Dan word sy vertel hoe pragtig sy is, nie omdat sy eintlik is nie, maar omdat sy (of haar ma) so hard probeer.

Was jy al ooit by ‘n junior rugby wedstryd en gekyk hoe ‘n pa met vreugde skreeu oor sy seun se uitmuntende lopie of oor die drie wat hy gedruk het? Palms word oral in hoë-vyfs (High-Five’s) teen mekaar geslaan soos hy ingly en punte aanteken.

Ek het al lank genoeg gelewe om te sien hoe van hierdie jong seuns en dogters mans en vroue geword het, en ek het tot die slotsom gekom dat jy kry wat jy verheerlik

Wanneer ons ure en baie rande bestee aan klere vir ons kinders en adolessente, veroorsaak ons dat hulle grootword as mense wat oormatig bekommerd is oor die dra van modieuse klere. As die enigste ding waarmee ons ons seuns verheerlik, ‘n sportsprestasie is, gaan ons sportbehepte mans kry wanneer hulle grootword.

Daar is niks verkeerd met klere of grimering nie, en daar is niks verkeerd met sport nie.

Maar wees bewus van wat jy in jou kinders verheerlik.

In my woordeskat kan die woord “verheerliking” geruil word met die woord “prys.” Wat jy in jou kinders prys, is wat hulle vir hulself sal nastreef soos hulle grootword.

Oorweeg dit om jou kind se vriendelikheid teenoor ander te verheerlik. Sien dit raak wanneer hulle iets vir hulle broer of suster doen. Prys hulle daarvoor. Verheerlik hulle omdat hulle bid, die Bybel lees, uitvra oor Jesus en geld gee aan die kerk, liefdadigheid of die armes.

Onthou, jy is elke oomblik besig om te lei. Die vraag is waarheen.

Vraag: Sal jy op so wyse lei deur te verheerlik wat jy hoop om te kry wanneer jou kinders tot volwassenheid groei?

Wees wie jy is

Ek kan nie kitaar speel nie, Ek kan ook nie grappe vertel nie; ek kan dit nie eers onthou nie. Jy sal my elke keer kan vang met die punch line. Ek is nogal skaam en hou glad nie daarvan as iemand my op die spot plaas nie. Ek is ’n “pliggie” met ’n oordrewe pligsbesef, geweldig verantwoordelik. Ek kan nogal vervelig wees, maar ek is optimisties, passievol en goedgelowig.

Ek glo regtig die beste van mense!

Ek het deur die jare gevind ek gesels die beste met die Here deur Sy Woord te bestudeer en my gedagtes neer te skryf. Ek is baie lief vir musiek wat my help om my gedagtes te rig op hoe groot God is in vergelyking met my klein wêreldjie se detail. Dis wie ek is. Ek het ook ’n redelike idee wie ek nie is nie, maar durf myself nie inboks nie, want ek glo niks is vir God onmoontlik nie. As Hy mense stuur vir ’n sekere taak, sal Hy hulle ook bekwaam daarvoor.

Is dit nie ’n bietjie wintie om sommer so te sê wie jy is of waarin jy goed is nie?

Ek het lank so gedink, tot ek besef het: Ek het nie myself so gemaak nie – God het, en wat ek het, is vir my gegee om Hom te verheerlik en die mense om my te dien met my beste. Dit beteken ek moet tog weet wat is my beste.

Wanneer Paulus die gemeente van Korinte leer oor die gawes van die Gees, sê hy: “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal”  1 Kor 12:7

Dit word eintlik vir jou gegee vir die mense om jou se onthalwe. Maar as jy nie weet wat hierdie spesiale gawes is nie, hoe sal jy ander daarmee kan dien? 

Dit gaan nie oor my nie!

Ek is gebore om God te verheerlik! Soos wat ek is wie God my gemaak het om te wees, gee ek eintlik vir ander ook die ruimte en vrymoedigheid om te wees wie God hulle gemaak het om te wees. 

Aanvaar en wees regtig lief vir hierdie mens wat God jou gemaak het om te wees. Woeker en werk om die beste jy te wees wat jy kan wees. En doen dit alles tot God se verheerliking en tot opbou en voordeel van die mense om jou.