Paulus

Die apostel Paulus, voorheen Saulus, was ‘n ywerige Jood en Fariseër. Hy het probeer om die Christendom uit te roei. Jesus verskyn egter aan hom op die pad na Damaskus. Hierdie gebeurtenis verander hom en hy word die geliefde apostel Paulus. 

Paulus was passievol oor hierdie genade wat hy van Jesus ervaar het. Tot so ‘n mate dat hy moeilike onderwerpe aangepak het en nie weggeskram het van omstredenheid nie. Hy het ‘n noodsaaklike rol gespeel in die verkondiging van Jesus Christus se evangelie aan die heidene. Ook het hy vele gemeentes tot stand gebring en 13 van die 27 Nuwe Testamentiese boeke geskryf. 

Hier is twee lesse uit die lewe van Paulus:

God Gooi Niks Weg Nie

Paulus was ‘n baie intelligente en toegewyde Jood. Hy het sy godsdiens van voor tot agter geken. Hy het uit die regte familie gekom, al die regte dinge gedoen, en het volgens die wet, ‘n “foutlose” lewe gelei. Sy eie woorde was: “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus” (Filippense 3:7). Alles wat hy tot op daardie stadium geleer en gedoen het, het nie meer saak gemaak nie. Wat egter so wonderlik daarvan is, is dat alhoewel Paulus nie meer vertroue in sy verlede geplaas het nie, God dit juis gebruik het. Alles wat hy geweet het, het hy gebruik om andere te leer dat niks daarvan saak maak nie — al wat saak maak is om Jesus te ken. 

Paulus Het Alles Gegee

Van die oomblik van Paulus se bekering af, toe hy tydelik verblind was op pad na Damaskus, het hy met sy hele wese begin om Jesus te leer ken. Die briewe wat hy geskryf het aan die gemeentes wat hy tot stand gebring het — Korintiërs, Galasiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense — is vol van sy passie en begeerte om te sien dat mense die evangelie boodskap aanvaar. Hy was nie ‘n halfhartige navolger van Jesus wat op sy byna perfekte opvoeding staat gemaak het nie. Nee, hy het alles prysgegee en ‘n nuwe lewe begin deur die opgestane Verlosser te dien wat hy voorheen bespot het.

Voordat Christus in die lewe van Paulus ingegryp het, het hy aaklige dinge gedoen. Nadat Jesus hom egter gered en tot diens geroep het om die evangelie vir almal toepaslik en beskikbaar te maak, het sy invloed letterlik die wêreld verander.

Ragab

Die verhaal van Ragab is heel moontlik die mees bemoedigende een. In Josua twee, lees ons dat Josua die leierskap van die Israeliete oorneem. Hy stuur twee verkenners na die land wat die Here aan hulle gegee het. Hulle moes vasstel waarvoor die Israeliete te staan gaan kom, voor hulle probeer om die land in besit te neem. Hulle gaan toe na Jerigo waar hulle ‘n vrou, Ragab, teëkom wat bereid was om hulle te help. Die vangplek? Sy was ‘n prostituut. 

Weens die verskeidenheid mans wat haar huis besoek het, het dit nie lank gevat vir die koning van Jerigo om van die verkenners te hore te kom nie. Dus stuur die koning vir Ragab ‘n boodskap waarin hy daarop aandring dat sy die manne uit haar huis moet bring. Sy het egter reeds besluit om hulle te versteek en vertel uiteindelik ‘n leuen aan haar eie koning oor waar die mans is. Sy het vir hulle ‘n veilige plek voorsien waar hulle tot donker kon wegkruip. Haar dapper keuse om haar koning te verontagsaam, het die weg gebaan vir haar veiligheid en dié van haar gesin gedurende die aanval van die Israeliete. 

Hier is twee lesse uit die lewe van Ragab:

God Het Alle Mag:

Ragab het aan die verkenners erken dat die mense van Jerigo alles gehoor het wat God vir die Israeliete gedoen het en dat sy mag haar mense vir hul lewens laat vrees. Ragab het selfs gesê: “want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.” Dit het van ‘n vrou gekom wat duidelik nie geweet het wie God is nie, maar slegs van Hom gehoor het. God het voldoende mag en hoef nie Homself of Sy planne te verduidelik nie.

Hy doen wat Hy doen en mense kan nie anders as om dit raak te sien nie. 

God Neem Nie Ons Verlede In Ag Nie:

God kon die verkenners na ‘n ander huis gelei het om hulle te help, maar Hy het nie. Hy kies ‘n vrou wat vir mense aanstootlik was om die twee manne wat Josua gestuur het, te beskerm. Sy was iemand wat deur die samelewing geminag en skerp veroordeel is vir haar dade. Nogtans het God haar gebruik om Sy volk te beskerm. God neem nie ons verlede in ag nie, ondanks wat ons gedoen, gesê, of gedink het. Hy wil net weet of ons in die toekoms getrou gaan wees.

Die kragtigste deel van hierdie verhaal is waarskynlik dat Ragab in die geslagslyn van Jesus is. Ja, dis korrek. Baie wenkbroue lig wanneer ons in Matteus 1 vertel word dat ver af in die geslagslyn van Maria, die moeder van Jesus, ons Ragab se naam sal vind. Hierdie veragte, veroordeelde en immorele vrou, was ‘n voorouer van die Seun van God, die Verlosser van die wêreld.

As ek net . . . my verlede kan verander

Baie van ons is vasgevang in tronke uit die verlede sonder dat die tralies om ons harte ooit raakgesien kan word. Die hartseerste is dat ons, self gehelp het om die tralies op te rig. Dit laat ons veilig voel, ten minste vir ’n rukkie al dan. Ongelukkig sal ons emosies of gedrag altyd ’n ontsnapkans soek. Die verlede is egter onveranderlik. Dit het gebeur en die gebeure is onaantasbaar. Dit het ook seergemaak en wonde gelaat wat nie wil weggaan nie.

Is daar ’n manier om hierdie skade ooit dan te kan herstel?

Wat gebeur het, lê agter jou. Maar voor jou lê jou toekoms. En daarmee kan jy maak wat jy wil. Soos ’n wit linnedoek lê dit oopgesprei voor jou. Elke dag word jy van nuuts af toegerus met al die mooiste, helderste kleure verf om hierdie stuk lap mee in te kleur. Wat jy moet besef, is dat jy jou uitkyk kan verander. Jy kan ’n nuwe rigting inslaan.

Jesaja pen vir ons neer wat God met hom deel en dit is presies wat ek in my hart ervaar:

Die Here sê: Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur. Dit het alreeds begin. Kom julle dit nie agter nie? Ek maak deur die woestyn ’n pad vir my volk om terug te kom. Ek laat riviere deur verlate plekke loop. (Jesaja 43:18-19 DB)

’n Mens kan dit só illustreer: Jy stap op jou eie lewenspad. Hierdie lewenspad is gebou met ’n magdom plat klippe, grotes en kleintjies, smalles en breës. Seerkry kan veroorsaak dat jou pad se blink klippe dofgrys en bruin word. Die vreugde van die lewe word uit die klip gebleik. Jou vaal klippe is egter geensins verwerplik en onbruikbaar nie. Jy moet ook nie net wegstap en verwag jy gaan elders nuwe klippe optel vir ’n nuwe pad nie. Jou dowwe, ou klippe is elkeen kosbaar en bruikbaar wanneer jy met kinderlike vertroue op God se herskeppingsvermoë vertrou. Want dan gebeur iets wonderbaarliks. Wanneer jy jou ou klippe optel en omdraai in die rigting van die Een wat alles nuut maak, verander hulle. God kan jou van sonde skoonwas en jou lewenspad se klippe totaal verander. Elke vaal klip word verander in ’n blink edelsteen.

Jou verlede lê agter jou. Die ervarings van jou verlede lê binne jou. Dit kan jou óf vergiftig, óf verryk.

Kan jy die verlede verander? Nee.

Kan die skade van die verlede verander? Dít is die regte vraag.