Verlore Perspektiewe en Hoop

Soos Saul se fondament verbrokkel, word hy uiteindelik onbestendig en paranoïes. Hy ontwikkel aanvanklik ‘n hegte verhouding met Dawid, net om skielik teen Dawid gekant te word toe mense dit waag om ‘n speelse lied in die strate te sing:

“Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.”

Vir ‘n koning wat reeds ‘n wankelrige grondslag van misplaaste persoonlike selfvertroue gehad het, was hierdie lied waarskynlik soos die gevoel van ‘n klein, skerp klippie wat teen jou voet skuur gedurende ‘n lang resies en jy nie die vermoë het om jou skoen uit te trek nie. Eina!

Tog het Dawid nooit ‘n woord teen Saul gesê nie.

Die jong Dawid het ure by Saul deurgebring gedurende sy mees depressiewe oomblikke toe Saul hom nie soos ‘n koning gedra het nie. Dawid was persoonlik getuie van die foltering en las wat Saul platgedruk het as gevolg van sy ongehoorsame keuses en selfgerigtheid.

Dawid het nie gespog en deelgeneem aan die singery dat hy ‘n magtiger krygsman as Saul was nie. Later in Dawid se lewe, lank nadat Saul gesterf het, het Dawid steeds ‘n hart van eer en medelye gehad met die eerste koning van Israel wat God aangestel het.

Dit kom egter voor of die lied in die strate Saul se siening van Dawid verander het. Die seun wat eens ‘n lojale dienaar en leier van Saul was, wat alles wat aan hom toevertrou is goed gedoen het, was skielik ‘n nuwe bedreiging in die oë van iemand wat nou ten volle selfgerig was. Hoe meer Saul sy eie gang gegaan en desperaat probeer het om homself op te bou, hoe meer wantrouig het hy teenoor ander geword. 

Laat dit vir ons ‘n kragtige les wees. Wanneer ons fokus en geloof van God se krag na ons eie verskuif, sal ons uiteindelik op die een of ander manier onsself afsonder en die perspektief verloor wat ons nodig het om ander doeltreffend te lei. 

Doeltreffende leierskap vereis dat ons ‘n sterk grondslag of fondament moet hê sodat ons met selfvertroue die spanning, ​​te midde van uitdagings, kan hanteer. Sterk fondamente stel ons in staat om duidelik rigting aan te wys wanneer ander die pad begin byster raak. Saul se leierskapreis beklemtoon die belangrikheid daarvan om van die begin af ‘n sterk fondament van geloof in God te bou. Om leierskap van die grond af op te bou beteken dat ons nie passief bly of wegskram van ons roeping na nuwe terreine nie, inteendeel, ons groei sterker met elke tree — klein of groot — in gehoorsaamheid aan God.

Is daar êrens ‘n aangeleentheid waarop jy ‘n nuwe perspektief nodig het? Skryf dit neer. Skryf nou ‘n nuwe manier neer om oor die aangeleentheid te dink, of ‘n nuwe moontlike uitkoms. Wat sê God se Woord daaroor?

Verlore vir Hom

As ons aan Jesus se familie dink, is ’n heidense prostituut waarskynlik nie die eerste persoon wat deur ons gedagtes gaan nie. Jesus se geslagsregister bestaan tog sekerlik uit gelowige en kuise mans en vroue wat die Here geslagte lank liefgehad, gedien en gevrees het! Dink weer. 

Ons sien keer op keer voorbeelde van hoe God die onwaarskynlikste kandidate gebruik. Een so ‘n voorbeeld is Ragab. Sy was gebore en getoë in Jerigo – ’n brandpunt van afgodediens en die boosste stad op daardie tydstip – en sy was ’n prostituut.

Toe Ragab egter hoor dat die God van Israel Iemand is wat gevrees en eerbiedig moet word, het sy Hom onmiddellik aangegryp en was sy bereid om alles vir Hom op die spel te plaas. Haar lewensverhaal het nie net die hedendaagse Kerk – die insluiting van nie-Jode in God se familie – voorspel nie, maar sy is ook as waardig beskou om in Jesus se geslagsregister opgeneem te word. Ragab se verhaal toon dat ons almal waardig is om as God se familie oorweeg te word. God se uitnodiging van verlossing en vriendskap word aan almal gerig.

Niemand is te verlore vir Hom om bereik te word nie. 

Ragab was ’n prostituut – nie juis ’n vrou wat ‘n mens sou dink lig kon laat skyn op enigeen nie. Maar God takseer nie mense op hul baadjie nie. Hy kyk na hul hart. Geen ander vrou sou twee vreemde mans in haar huis toegelaat het nie, maar omdat sy gewoond was om dit te doen, was sy die ideale persoon om die spioene weg te steek. Sy het aan God se groter doel voldoen om haar en haar gesin te red. 

Moet jouself nooit diskwalifiseer nie – skyn waar jy ook al is! God neem die onwaarskynlikste en mees gebroke verhale en omskep dit in meesterstukke.

wat doen ons?

Wonder jy ooit of jy die regte ding doen? Of jy regtig is waar God jou wil hê? Of daar iets meer of anders of beter of groter is vir jou? Of dalk wonder jy of die koste van jou roeping die oomblikke werd is wanneer jy verlore voel.

Soveel oomblikke in die lewe voel of ons in ‘n kamer is waar al die ligte af is en ons struikel om ‘n ligskakelaar, ‘n kers of ‘n flitslig te vind om ons treë te rig. In daardie oomblikke moet jy God vertrou. Gryp Sy uitgestrekte hand styf vas en glo dat Hy jou veilig na die volgende deur gaan lei wat Hy vir jou gereed gemaak het.

Die duisternis hoef nie vreesaanjaend te wees as ons met die Lig van die Wêreld kan loop nie.

Maar die vrae wat jy jouself afvra, is normaal. Jou vrese en bekommernisse behoort jou nie skaam te laat voel nie. As ons almal saam kon sit om oor ons werk, ons passies en ons geloof te praat, sou ek verbaas wees as iemand sê hulle lewe het presies uitgewerk soos hulle beplan het. Wat sal jy aan ‘n vriend by die tafel sê wat daardie vrae gehad het? Sou jy vir hom sê hy is reg, en dat hy waarskynlik net moet handdoek ingooi? Ek hoop nie so nie.

Ons sal hom liefhê en saam met hom bid. Ons sal hom aanmoedig en maniere vind om hom te vertel dat dit wat hy doen goed en waardig en waardevol is. En as hy in sy gees weet dat dit is waar God hom in hierdie seisoen wil hê, is dit nie ‘n fout nie.

Ek sal jou vertel hoe sterk ek glo dat God in die gewoonte is om die nederige te neem en dit heilig te maak en dat gehoorsaamheid, (nie grootte, roem of erkenning nie), belangrik is vir die impak wat ons deur ons koninkrykwerk maak.

God is getrou in alles wat Hy doen.

Waar jy is, wat jy doen, en die mense naaste aan jou, wat God jou gevra het om te dien, is nie ‘n fout nie. Die uitdagings, teleurstellings en mislukkings is nie ‘n fout nie.

God sal elke stukkie van ons verhaal gebruik tot Sy glorie.