As ek net . . . my verlede kan verander

Baie van ons is vasgevang in tronke uit die verlede sonder dat die tralies om ons harte ooit raakgesien kan word. Die hartseerste is dat ons, self gehelp het om die tralies op te rig. Dit laat ons veilig voel, ten minste vir ’n rukkie al dan. Ongelukkig sal ons emosies of gedrag altyd ’n ontsnapkans soek. Die verlede is egter onveranderlik. Dit het gebeur en die gebeure is onaantasbaar. Dit het ook seergemaak en wonde gelaat wat nie wil weggaan nie.

Is daar ’n manier om hierdie skade ooit dan te kan herstel?

Wat gebeur het, lê agter jou. Maar voor jou lê jou toekoms. En daarmee kan jy maak wat jy wil. Soos ’n wit linnedoek lê dit oopgesprei voor jou. Elke dag word jy van nuuts af toegerus met al die mooiste, helderste kleure verf om hierdie stuk lap mee in te kleur. Wat jy moet besef, is dat jy jou uitkyk kan verander. Jy kan ’n nuwe rigting inslaan.

Jesaja pen vir ons neer wat God met hom deel en dit is presies wat ek in my hart ervaar:

Die Here sê: Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur. Dit het alreeds begin. Kom julle dit nie agter nie? Ek maak deur die woestyn ’n pad vir my volk om terug te kom. Ek laat riviere deur verlate plekke loop. (Jesaja 43:18-19 DB)

’n Mens kan dit só illustreer: Jy stap op jou eie lewenspad. Hierdie lewenspad is gebou met ’n magdom plat klippe, grotes en kleintjies, smalles en breës. Seerkry kan veroorsaak dat jou pad se blink klippe dofgrys en bruin word. Die vreugde van die lewe word uit die klip gebleik. Jou vaal klippe is egter geensins verwerplik en onbruikbaar nie. Jy moet ook nie net wegstap en verwag jy gaan elders nuwe klippe optel vir ’n nuwe pad nie. Jou dowwe, ou klippe is elkeen kosbaar en bruikbaar wanneer jy met kinderlike vertroue op God se herskeppingsvermoë vertrou. Want dan gebeur iets wonderbaarliks. Wanneer jy jou ou klippe optel en omdraai in die rigting van die Een wat alles nuut maak, verander hulle. God kan jou van sonde skoonwas en jou lewenspad se klippe totaal verander. Elke vaal klip word verander in ’n blink edelsteen.

Jou verlede lê agter jou. Die ervarings van jou verlede lê binne jou. Dit kan jou óf vergiftig, óf verryk.

Kan jy die verlede verander? Nee.

Kan die skade van die verlede verander? Dít is die regte vraag.