Geloof

Martin Luther King Jnr. het die volgende stelling gemaak en dit is gelaai met baie om oor na te dink:- “Neem die eerste treë in geloof. Jy hoef nie die hele pad te sien nie, neem net die eerste tree.” 

Wat geloof aanbetref, gaan daar ‘n wagtyd betrokke wees. Ek hou van C.S. Lewis se beskrywing: “Ek is seker dat die Here nie iemand laat wag tensy Hy sien dat dit goed is vir die persoon om te wag nie.” Ons kan die Here vertrou om, op die regte tyd, te doen wat goed is vir ons.  

Selfs wanneer ons geforseer word om te wag, bevestig God Sy beloftes aan ons en herinner ons aan Sy teenwoordigheid. Dit mag wees deur Sy Woord, deur ‘n fluistering, deur ‘n persoon of bloot deur ons geloofsvertroue dat Hy by ons is. 

Indien jy jou geloof wil versterk, ken ek geen beter plek as die boek van Hebreërs nie. Daar, in hoofstuk 11, vind ons die “geloofshelde” – ‘n lys van vele mense wie moeilike tye beleef het, gewag het, in geloof geleef het en die vervulling van die Here se beloftes beleef het. Daar vind ons persone wie deur ongelooflike belewenisse – menslik gesproke onmoontlike beproewinge – gegaan het en uiteindelik ‘n nuwe vlak van intimiteit met God beleef het terwyl hul getuies was van Sy krag.

  • Deur geloof het Noag die Here gehoorsaam, ‘n ark gebou en sy gesin gered. 
  • Deur geloof het Abrahan en Sarah die seun ontvang wat God hul belowe het, ten spyte van die feit dat hul verby die ouderdom van vrugbaarheid was.
  • Deur geloof het Josef verraad, slawerny, valse beskuldigings en inhegtenisname oorkom, om die volk van Israel te red.
  • Deur geloof het God se volk Egipte verlaat en deur die Rooi See geloop, wat aan beide kante van hul oopgekloof was.
  • Deur geloof het die Israeliete die mure van Jerigo laat tuimel deur rondom die stad te marsjeer.

Hierdie mense was nie een perfek!

Inteendeel, hulle was vêr van perfek af. Hul het elkeen hul eie stryd, twyfel, foute en swakplekke gehad, maar hulle het met deusettingsvermoë aan hul geloof vasgehou en op die Here gewag – keer op keer. 

Deur geloof sal jy ook hierdeur kom.

Dink daaroor na: Indien jy alles kon uitreken, sou jy nie geloof nodig gehad het nie. Jy sou bloot leef volgens jou begrip en logika, maar nie in geloof nie. Wanneer jy iets nie verstaan nie, bied dit jou die unieke geleentheid om jou geloof te verdiep.

Oswald Chambers het gese: “Geloof is die doelbewuste vertroue in God se karakter, wie se weë jy nie op ‘n spesifieke tyd mag verstaan nie.”  

Is dit nie dalk tyd dat ons die Here vra, sal U asb my geloof laat groei, vêr bo my behoefte om alles uit te werk?

Jou Beste Lewe…Later

Jy besef seker teen hierdie tyd dat jy ‘n keuse moet maak: laat die lewe sy eie gang gaan, wat in werklikheid beteken dat jy moontlik God met jou oorskiet dien, of dalk hardloop jy doelbewus na Christus.

Besef jy hoe doelloos dit is om vervulling te vind sonder Hom? Verstaan jy dat dit onmoontlik is om God tevrede te stel op enige ander manier as om jouself totaal aan Hom oor te gee? Begryp jy die wonder en vreugde van ‘n intieme lewe saam met God, ons Hemelse Vader en Vriend?

Begeer jy God meer as wat jy veiligheid verlang?

Dalk is jou antwoord ‘ja’ op al hierdie vrae, maar jy wonder tog dalk wat dit als behels. Kom ek gee jou ‘n voorbeeld.

Hoe sal jou lewe verander as jy elke persoon waarmee jy in aanraking kom, sien as Christus—die persoon wat so stadig ry hier voor jou, die kassiere in die winkel wat eerder met die een langsaan wil gesels, of die familielid wat jou iriteer?

In Matteus 25 seën Jesus sommige mense vir wat hulle gedoen het. Hulle vra verward:“Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?”

Sy antwoord is verstommend:“En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’” Jesus sê in der waarheid dat ons God se liefde op ‘n tasbare wyse aan ander bewys as ons vir die omgee vir die armes en die wat ly. Hy verwag dat ons sulke mense moet hanteer asof hulle Christus self is.

  • Behandel jy die mense met wie jy op ‘n daaglikse basis in aanraking kom soos jy Christus sou behandel?
  • Is jy besorg oor die“geringstes” al is dit tot jy eie nadeel?
  • Hoe kan jy jou hart en gedagtes verander sodat jy nie geleenthede sal miskyk waar jy Christus se liefde met ander kan deel nie?

Ontdek jou passie

Die ontdekking van jou passie is ’n noodsaaklike bestanddeel in die proses om jou roeping uit te leef. Passie is ’n baie sterk voorliefde of begeerte. As ons passievol is oor iets, sal dit die innerlike motivering wees wat jou deursien, ongeag die situasie of omstandighede. Selfs al is jy nie bewus van wat jou passie is nie, is dit ’n pêrel wat verborge bly totdat jy dit ontdek.

Jou passie is iets wat jy baie graag doen en wat jou energiek laat voel – as dit nie jou passie is nie, sal dit jou uitgeput laat voel. In Spreuke 22:6 lees ons dat ons aan ons kinders leiding moet gee volgens hul individuele gawes.

  • Wat omtrent jou?
  • Hoe kan jy jou passie ontdek?

As jy iets doen waaroor jy sterk voel, sal jy so ’n vervulling ervaar dat lofbetuigings onnodig word. Die resultate wat jy behaal, sal jou beloning word, jou met ’n gevoel van verwondering en tevredenheid vul.

Staan tyd af om die volgende vrae te beantwoord. (Dit sal jou lei om te sien wat jou passie is:)

1. Wat is jou belangstellings? Vind eendersdenkende mense met dieselfde belangstellings en laat hulle jou inspireer.

2. Wat geniet jy om te doen – wat maak jou opgewonde?

3. Wat gee jou soveel bevrediging dat jy dit sou doen selfs al word jy nie daarvoor betaal nie?

4. Watter ervarings in jou lewe was hoogtepunte, en hoekom staan dit vir jou uit?

5. Wat, en hoe, geniet jy om te gee?

6. Watter dinge of situasies is vir jou moeilik?

7. Waarvan hou jy nie, en wat wil jy beslis nie doen nie?

8. Met watter groepe mense verkies jy om mee te werk en geniet jy om by te wees?

9. Wanneer jy na jou antwoorde kyk, sal jy jou passie te voorskyn sien kom. Som nou jou passie in twee of drie sinne op.