In Afwagting

Wat verwag jy gaan gebeur as jy bid? Verwag jy dat God gaan antwoord? Verwag jy om presies te kry waarvoor jy gevra het? Of as jy brutaal eerlik wil wees, verwag jy eintlik nie veel om te gebeur nie? Benader jy gebed soos ‘n wensfontein — dit sal fantasties wees as jou wens bewaarheid word, maar eintlik weet jy dat jy net jou geld gemors het. 

Ongelukkig dink ek, wat gebed betref, is dit ‘n slaggat waarin ons kan beland. Wanneer jy ‘n moeilike tyd beleef, of ‘n gebed is dalk nie beantwoord soos jy wou gehad het nie, of miskien probeer jy al ‘n geruime tyd van God hoor en jy kry nie ‘n antwoord nie, kan dit soms ons verwagtinge van wat God mag doen, teleurstel. God is egter altyd besig om in ons lewens te werk, Hy is altyd besig om gebede te beantwoord — al is dit nie op die manier of die tyd wat ons graag wil hê nie. God lewe en is aktief aan die werk in ons lewens.

Ons moet net ons verwysingsraamwerk verander oor wat ons verwag God gaan doen.

As ek regtig deursigtig met jou wil wees, moet ek erken dat daar soms tydperke is wanneer ek nie God se werk in my lewe sien nie. Dit voel asof Hy my nie hoor nie. Dit voel asof al my gebede met ‘n groot “nee” beantwoord word — of ten minste met ‘n “nie nou dadelik nie”. Ek voel soms moedeloos, maar uiteindelik breek ek daaruit los en begin bid: “God, wys my wat U nou besig is om in my lewe te doen.” Dan wy ek my daaraan toe om alles wat ek God sien doen, neer te skryf — elke keer as ek opmerk dat Hy in my lewe werk. Dadelik word hierdie lysie lank. Ek vind dat ek bladsye van ‘n joernaal vul met baie klein dingetjies — en soms groot dinge — met wat ek God sien doen. 

Het God ewe skielik sy aktiwiteite in ‘n hoër rat gesit omdat ek gebid het?

Nee. Hy werk nog die hele tyd op dieselfde pas. Die probleem was ek en my verwagtinge. Ek het óf verwag dat Hy presies sou doen wat ek vra, op die presiese tyd wat ek wou hê, óf ek het toegelaat dat my geloof wankelrig raak en ek het eerlikwaar nie verwag dat Hy iets sou doen nie. Altwee reaksies is verkeerd. Wanneer jy verwag dat God in jou lewe gaan werk, sal jy beslis sy werk in jou lewe aanskou. Jy moet net in gedagte hou dat Hy God is en nie jy nie. Sy aksies mag dalk nie wees waarvoor jy gewens het nie, maar dit sal altyd tot jou beswil wees. 

Begin hierdie week! Skryf elke ding neer wat jy sien God vir jou doen of wanneer jy hoor dat Hy met jou praat. Ek is vol vertroue dat jy meer in net ‘n paar dae sal neerskryf, as wat jy ooit gedink het moontlik sal wees

Gebruik jou Twyfel

God se Woord sê vir ons dat, wanneer ons twyfel, God nie verplig is om ons gebede te beantwoord oor die situasie waarin ons om hulp vra nie. (Jakobus 1:6-7) Die Bybel beskryf twyfel as ‘n dubbelgesindheid. Om die waarheid te sê, God sê selfs dat ons nie eers ‘n antwoord moet verwag nie.

Wanneer ons besef dat ons God betwyfel en ons doen niks daaraan om ons twyfel te oorkom nie, is dit ‘n klap in God se gesig, in sy goedheid en in sy karakter. Ons plaas Hom as te ware benede ons wanneer ons verkeerdelik glo dat ons beter weet as die Heilige God wat ons geskape het. God hou die hele wêreld in orde. Hy laat die son elke oggend opkom en Hy laat die man elke and skyn. Hy hou die hele wêreld, die ganse skepping en die seisoene elke dag aan die gang, sonder enige hulp of insette van ons.

Twyfel laat ons glo dat dit beter sou wees as ons in beheer was.

Is dit nie vreeslik arrogant van ons om te dink dat ons beter weet as God nie? Maar hoekom laat God situasies toe wat poog om ons te laat twyfel? Wanneer God ons skape, lê Hy al ons dae voor Hom uit. Niks waardeur ons in hierdie lewe gaan is vir God ‘n verrassing nie. 

As Hy nie waarde in ‘n situasie sien nie, sal Hy dit nie toelaat nie. Daar is geen situasie waarin God nie ten volle in beheer is nie. God vermors nooit enige situasie waardeur ons moet gaan nie. ELKE situasie het die potensiaal om ons of ander te help. Ons het nie die vermoë om die hele prentjie van ons lewe te sien nie… en ons lewens is nie selfs tot onsself beperk nie… of beperk tot die aarde nie. Nee, daar is ‘n VEEL groter prentjie!

Ons lewe op aarde sluit die ewigheid in en ons lewens het ‘n impak op die toekomstige generasies.

Nie een van ons bestaan sleg vir die “hier en nou” nie… en elkeen van ons se lewens sal voortleef in ons nalarenskap vir die toekomstige generasies. Die situasies wat ons in ons lewens beleef het ‘n veel groter doel as wat ons ooit kan dink… om die waarheid te sê, van dit wat ons nou beleef mag eers ‘n toekomstige doel hê.
Ons KAN God vertrou! Ons is nie op aarde vir onsself, ons gerief of ons heelheid nie. Gerief en heelheid is belofte van wat later in die Hemel kom.

Selfs al lyk dit of die lewe nooit beter sal raak nie… dit kan! Wanneer jy voel dat jy die pad byster is, kan dit waarlik ‘n baie goeie ding wees! Dit is ‘n teken om jou te waarsku dat jy op die verkeerde pad is en dat jy in jouself, of iets… of iemand… anders vertrou, eerder as in God.

Twyfel kan die grootste omwenteling wees wat ons kan slinger tot in ‘n ryker vertroue in God… en ‘n dieper verhouding met Hom!

Laat jou twyfel toe om jou gesindheid te verfyn.
Elke keer wanneer jy twyfel beteken dit nie noodwendig dat jy nie vertrou nie… dit beteken dat jy jou vertroue in die verkeerde dinge of mense plaas. Gebruik van nou af jou twyfel as ‘n teken om met God te praat en om op die regte pad met Hom te kom!

Kies vandag om die Here te vertrou met jou hele hart!
Hou aan om deursigtige hart-tot-hart gesprekke met God te hê. Soek Hom met alles wat jy het!