Niemand is Volmaak nie 

Ons het seker almal die stelling “niemand is volmaak nie” op ‘n stadium in ons lewens gehoor. Dalk het ons dit vir iemand gesê om hulle beter te laat voel oor ‘n fout wat hulle gemaak het, of ons het dit dalk vir onsself gesê toe ons in ‘n ongesonde gewoonte vasgevang was. 

Alhoewel ons weet dat dit waar is, is dit dikwels moeilik om genade en begrip teenoor onsself (en andere) te bewys wanneer ons foute maak. Wanneer ons fouteer mag ons dalk dink ons het niks goeds in ons oor om aan ander te bied nie, of dat ons nie meer ‘n verskil in die wêreld kan maak nie.

Gelukkig kan dit nie verder van die waarheid af wees nie.

Dit is nie net God se bedoeling om ons sondes te vergewe en ons met Hom deur Jesus se dood aan die kruis te versoen nie, Hy het steeds planne om ons te gebruik, ten spyte van al die verkeerde dinge wat ons doen.

Ongeag of jy ‘n klein foutjie gemaak het en geen erge gevolge ervaar het nie, en of jy keuses gemaak het wat baie nadelig was, is jy steeds ‘n uitstekende kandidaat om ‘n instrument in die hand van ons goeie God te wees. Hy is heeltemal in staat om alles in die wêreld op Sy eie te hanteer, en tog, in sy goedheid en opperheerskappy, nooi Hy ons om deel uit te maak van die wonderlike, koninkryk-georiënteerde orkes wat Hy dirigeer. Ongeag ons vermoëns of onbekwaamhede, ons hede of verlede, ons suksesse of mislukkings, wil Hy net hê ons moet by Hom wees en wil Hy ons gebruik om sy planne uit te voer.

Oor die volgende paar maande gaan ek jou vertel oor ses individue in die Bybel wat deur God gebruik is, ongeag waar hulle vandaan gekom het, wat hulle vermoëns was, of hoe ontsaglik groot hulle foute was. Hopelik, nadat jy hulle verhale gehoor het, sal dit jou uitermate besiel en bemoedig dat jy ook iemand kan wees vir wie God gebruik om sy planne op aarde uit te voer. 

Is jy geneig om meer genade aan jouself te bewys wanneer jy foute maak as aan andere? Sien jy jouself as iemand vir wie God kan gebruik om ander te beïnvloed? Hoekom of hoekom nie?

Integriteit is nie volmaaktheid nie

Die bekende Bybelkommentator, Matthew Henry, het by geleentheid geskryf: “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie.”

’n Mens kan onvolmaak wees en God in meer as een opsig faal, en steeds ’n “man van God” genoem word – solank hy tenminste eg en eerlik is, óók as hy gefaal en gesondig het. Dink maar aan Dawid en aan die erge sondes waaraan hy skuldig was: egbreuk en moord.

Toe hy egter deur die profeet Natan gekonfronteer is, het hy nie kwaad geword, die blaam op iemand anders gepak of sy koninklike mag misbruik nie. Hy het met opregte berou sy sonde en skuld voor God bely: Ek het gesondig teen die HERE! (2 Sam. 12:13). Gaan lees gerus weer sy aangrypende boetedoeningspsalm, Psalm 51. 

Ten spyte van Dawid se onvolmaaktheid is hy “’n man na die hart van God” genoem.

Die rede hiervoor was nie omdat Dawid geen sondes gedoen het nie, maar omdat hy eerlik en eg was – óók ten opsigte van sy sonde, skande en swakheid. Was Dawid volmaak? Nee! Was hy ’n man van integriteit? Ja, vir seker!

Aan die ander kant kan iemand alle voortreflike en edel deugde hê waaraan jy kan dink, maar as hy nie eg en eerlik is nie, kan hy nooit kwalifiseer om ’n “man van God” genoem te word nie. Onegtheid, ’n gebrek aan integriteit, trek ’n streep deur al my ander mooi eienskappe – “Die man wat nie eerlik is nie, is nie godvresend nie!” Luister net na die prominente plek wat hierdie eienskap inneem in die lewe van die gelowige wat die karakter van Christus weerspieël: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil. 4:8)

Dit is dus belangrik dat integriteit nie verwar moet word met volmaaktheid nie.

Terwyl die gelowige altyd moet streef na volmaaktheid, kan ons alleenlik ín Christus op volmaaktheid aanspraak maak. Natuurlik moet ons daarna streef om sonde in ons lewe sover moontlik uit te skakel en te vermy, maar wanneer ons wel gefaal en gesondig het, laat ons dit opreg voor God bely, en indien toepaslik, ook teenoor die persoon teenoor wie ek gesondig het.