‘n Veranderde Lewe

Ons is kinders van die Koning. Ons het ‘n koninklike afkoms wat aan ons ongeëwenaarde mag en krag gee. Saam met daardie geskenk kom daar ‘n verantwoordelikheid om in God se waarheid gevestig te wees en vir ons geliefdes te veg. 

Saam met ‘n weermag van gelowiges, geklee in die volle wapenrusting van God, kan ons die vyand stormloop sonder om te skrik vir die dolke wat hy na ons toe gooi. Ons kan in die geveg beide onsself én sterk wees. Met opleiding kan ons leer om Satan se leuens te beveg, totdat dit ons nie meer affekteer nie.

As ‘n vriend/in sê hy/sy is nie goed genoeg nie, is jy die eerste wat sê dat dit nie waar is nie. Tog is ons geneig om dit oor onsself te glo. Die verskriklike leuens wat die vyand in ons ore fluister maak seer. Ons sal dit nie eens vir iemand anders sê nie, dus moet ons dit ook nie vir onsself sê nie. 

Ons moet op dieselfde manier veg teen negatiewe denke oor onsself. As jy dink: “Ek is nie mooi nie,” “Ek is nie goed genoeg nie,” of “Ek verdien dit,” hou dadelik op. Verwerp daardie leuens en sê hardop God se waarheid.

God sê dat Hy vestings sal neerwerp. Dis nie tydelik of passief nie.

Dit beteken dit is verby en vir altyd weg. Hoe meer ons met die wapens van die vyand bekend raak en hoe meer ons gevestig is in wat God van ons sê, hoe makliker sal dit word om die aanvalle af te weer. Hierdie dolke is nie letterlik nie, maar kan ons aandag aflei van dit waarop ons veronderstel is om te fokus. 

‘n Veranderde lewe beteken dat jou identiteit in Christus geanker is. Jy weet hoe om geestelike oorlogvoering te herken en daarin te veg. Jy vergeet wat agter lê en kan in vryheid vorentoe beweeg. Jy is gewillig om die stryd aan te sê en jou geliefdes met fiere vriendelikheid te beskerm. 

Om God se waarheid te glo en daarin te wandel, is die enigste manier waarop ons ‘n veranderde lewe kan begin lei.

Genade en Waarheid

Ons leef in ‘n wêreld van individuele klaskamers, want ons word geleer deur die belewenisse van ander mense. Sommige het al traumatiese ervarings deurgemaak en deur God se genade het ons oorleef, is ons verlos en in Christus nuut gemaak! Dis nie so vir almal nie. Die einste pyn en onrus wat sommige ondervind het, is wat hulle van God af laat wegdraai het. As gevolg daarvan, sal hulle uitkyk baie anders wees as dié van ons wat volgelinge van Jesus is. 

Wanneer mense oor ons pad kom wat anders glo as ons, moet ons onthou dat ons Jesus verteenwoordig en ons kan die katalisator wees wat God gebruik om hulle lewens te verander. Dis waar die waarheid, bedek deur genade, ter sprake kom.

Dikwels, as mense nie met jou saamstem nie, word jy kwaad en wil jy jou geloofsoortuiging en selfs vir God verdedig.

In sulke oomblikke kan en moet ons die waarheid spreek, maar ook terselfdertyd die Heilige Gees toelaat om ons te lei, sodat ons nie sal swig voor ons sondige begeertes nie. Wanneer ons deur die Heilige Gees gelei word, sal ons sy vrug openbaar: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. 

Wanneer ons in ‘n bespreking betrokke raak met iemand wat ‘n ander geloofsoortuiging as ons het, is dit in orde om te erken dat ons nie al die antwoorde het nie. As volgelinge van Jesus weet ons nie alles oor God nie. As ons het, sou ons Hy gewees het. Pastoor Andy Stanley sê: “Jy hoef nie alles te verstaan om in iets te glo nie.”

Wees net eerlik en sê dat jy nog leer en besig is om in jou geloof te groei.

Die mense in ons lewens met wie ons nie eintlik saamstem nie, maak ons uiteindelik sterker. As ons net mense in ons lewens toelaat met wie ons saamstem, sal ons nie uitgedaag word nie. Soos wat ons van ander mense leer, is dit ook in orde as ons standpunt omtrent iets verander. Dalk hoor ons iemand se standpunt oor ‘n politieke kwessie, wat van ons s’n verskil, maar besluit dat ons eintlik saamstem.

As volgelinge van Christus moet ons net onthou dat ons nie ons eie weergawe van die waarheid kan aanhang nie, want dis nie waartoe God ons geroep het nie. Ons moet altyd ‘n Goddelike perspektief behou.

Ons moet volgens Sy waarheid leef. 

Is ons, as volgelinge van Jesus, nie dalk so passievol oor ons geloofsoortuiging oor sekere onderwerpe, dat ons vergeet dat ons veronderstel is om ander lief te hê nie?

Ons mis die doel as ons meer besorg is oor ons eie standpunt as om die mense lief te hê vir wie God sy Seun gestuur het om voor te sterf. Sulke begeertes kan nie opweeg teen ons geestelike roeping nie. As dit gebeur, vereer ons wêreldse sake in plaas daarvan om ons hemelse Vader te verheerlik.

Skande

Ek kan dit nog so duidelik onthou. Ek het iemand vir wie ek baie respek gehad het, gevra om vir my te bid. Toe hy vra waaroor hy moet bid, was al wat ek kon sê dat ek gevoel het daar was iets verkeerd met my. Diep binne-in my. Ek, ‘n volwasse persoon, het nie die regte woorde gehad nie. 

Dit was ‘n skande. 

Laat ek dit duidelik stel; dit was nie ‘n skuldgevoel nie. As jy skuldig voel, besef jy dat jy ‘n fout gemaak het. ‘n Skande is wanneer jy voel dat jy die fout is. Daar is ‘n groot verskil.

‘n Skande oortuig ons dat die ware self moet wegkruip, omdat niemand die ware self wil sien nie. Ons is benoud by die gedagte dat die ware self presies die een is vir wie God sien. Dit was presies wat ek ondervind het, as gevolg van dinge wat lank gelede van my gesê en aan my gedoen is. Daardie woorde en dade het in my bly vassteek en het ‘n verwronge lens geword waardeur ek myself gesien het.

Die waarheid is: God sien wel ons ware self, elke stukkie van ons, en nogtans verwelkom Hy ons met ope arms en met liefde. Wanneer Hy na ons kyk wat Christus se volgelinge is, sien Hy vlekkelose dogters en seuns, want Jesus het gesterf om ons skande op Hom te neem. Ons kan die skande laat vaar en die waarde wat Hy op ons plaas, koester.

Dit klink alles goed en wel, en dit is, maar ek het die volgende geleer. Om ontslae te raak van skande, is nie ‘n eenmalige daad nie. Skande is soos lae wat ek aftrek vir elke leuen wat ek geglo het, dit insien en dan verwerp. Dan raak ek vir altyd ontslae van die skande en vervang elkeen met spesifieke waarhede uit God se Woord. 

Dis nie ‘n vinnige, maklike of eenvoudige proses nie, maar dit is lig. God glo nie die onwaarhede wat jy oor jouself glo nie, maar Hy sal dit van jou af wegvat, as jy Hom toelaat.  

gooi die skande weg

Identifiseer die leuens wat jy geglo het en begin om God se waarhede te verklaar en daarvolgens te leef.

Liefde Praat Die Waarheid

Jesus leer ons in die Skrif dat die waarheid die krag het om ons vry te maak. Sedertdien is hierdie stelling van Hom al aangehaal in howe, flieks en ontelbare ander plekke. Dit is ‘n pragtige gedagte, maar ook ‘n kragtige waarheid. Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewe en in ons liefde nie.

Ek het al telke male die waarheid van hierdie beginsel binne die verhoudings-dinamiek van die huwelik gesien. Vertroue is uiters noodsaaklik in enige gesonde verhouding, maar nog meer binne die konteks van die huwelik. Die huwelik is deur God geskep om ‘n verhouding van algehele eenheid en deursigtigheid te wees, en enige vorm van bedrog sal die fondasie van die huweliksverbond ondermyn. Ek sê gereeld aan paartjies: “Julle huwelik sal nooit sterker wees as julle vertroue in mekaar nie.”

As ‘n getroude paartjie mekaar nie kan vertrou nie, kan hulle nie volledig funksioneer nie.

Man en vrou moet saamwerk soos twee vlerke van dieselfde voël; as hulle nie in volle vennootskap saamwerk nie, sal die huwelik nooit van die grond af kom nie. Vertroue maak dit moontlik. Wanneer ons vertroue met geheimhouding vervang, stel ons onsigbare grense, wat die groei in ons huwelik inperk. Geheimhouding is die vyand van intimiteit.

Wanneer ‘n probleem weggesteek word, is daar niks wat jy kan doen om dit reg te stel nie. Wanneer dit blootgestel word, kan die genesingsproses uiteindelik begin.

Totdat ons in die spieël kan kyk en vrede kan maak met ons eie sonde en ons desperate behoefte aan God se genade, sal ons nooit in staat wees om na onsself of ander te kyk deur die lens van God se liefde nie. God wil hê ons moet ‘n hart hê wat liefde betoon aan dié mense wat onbeminlik is, want dit is wat Hy vir ons gedoen het.

God het ons meer lief as wat ons ooit kan verdien, en Hy vra ons om dieselfde vir ander te doen.

Waarheid maak vry

Ons leef in ’n land waar ons soveel vryheid van regte en spraak en godsdiens het, en tog leef meer mense as slawe in ’n tronk as wat die korrektiewe dienste se statistieke vir ons sou weergee. 

Vryheid is nie beperk tot ’n plek of omstandighede nie.

Paulus was vasgeketting en geboei in ’n fisiese tronk, maar hy was vry. Ander mense leef weer gemaklike lewens in gemaklike huise en werke, en tog is hulle die slawe van bitterheid, gejaagdheid, geketting en geboei aan materialisme en perfeksionisme.

Die grootste vonnis is nie tronkstraf agter tralies nie, maar ’n lewe en ’n ewigheid sonder Jesus.

Waarheid en vryheid gaan saam soos Oros en water. En Jesus verduidelik dit vir ’n groepie geleerde Jode. Hy sê in Johannes 8:31-32: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.”

Bly getrou aan Jesus se woorde, leef in noue verbintenis met Jesus se boodskap. Dan sal jy die waarheid ken en hierdie waarheid sal jou vrymaak, dit sal jou maak wat jy bedoel is om te wees – vry!

Waarheid is ’n Persoon, Jesus Christus. Vryheid kom deur geloof in Hom en ’n verhouding met Hom waar ek ontdek en meer en meer die mens word wat God my gemaak het om te wees.

Dit is alles waarheid wat jou kan vrymaak van bitterheid en geldgierigheid en uitbranding, maar die waarheid moet eers toegepas en geleef en gedoen word voordat dit jou kan vrymaak. Mark Twain het gesê: “The truth will set you free, but first it will make you miserable.” 

Jy weet jy moet iets gaan doen wat nie altyd so lekker en maklik is om te doen nie, maar jy doen dit om vry te kom en vry te leef soos God bedoel het jy moet leef. En dan die bevestiging in Jakobus 1:25: “Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.”

Daar is ruimte vir ons Mislukkings

In Jakobus 2:19 lees ons “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.” God verwag nie dat ons net ‘n goeie teologiese begrip het nie, Hy wil hê dat ons Hom sal ken en lief hê. In 1 Johannes 2:3-4 sê: “As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie.”

Ek dink daardie verse beteken dat die persoon wat voorgee om God te ken, maar nie Sy gebooie gehoorsaam nie, ‘n leuenaar is en dat die waarheid nie regtig in hom is nie.

Sommige mense beweer dat ons Christene kan word sonder om dissipels te wees. Ek wonder egter hoekom Jesus se laaste woorde dan was dat ons in die wêreld moet ingaan en dissipels maak van alle nasies en hulle leer om alles te onderhou wat Hy beveel het? Let op dat Hy nie die volgende woorde bygevoeg het nie: “As dit te veel gevra is, vra hulle net om Christene te word—jy weet mos, die mense wat hemel toe gaan sonder om hulleself tot enige iets te verbind.”

Ek wil nie hê dat ware gelowiges hulle redding moet bevraagteken nie. Al misluk ons in ons pogings om Jesus lief te hê, sal Sy genade vir ons genoeg wees.

Elkeen van ons ondervind tye wanneer ons lou warm is. Sulke tye het ons genade nodig. Ons lees in die Skrif dat daar ruimte is vir ons mislukkings en sonde, in ons soektog na God. Sy genade is elke dag nuut (Klaagliedere 3). Sy genade is genoeg (2 Korintiërs 12:9). Ek sê egter nie dat jou mislukkings ‘n aanduiding van jou mislukte Christenskap is nie. As dit so was, kon niemand ooit ‘n volgeling van Christus wees nie.

Sien jy die vrugte van Christenskap in jou lewe?

‘n Liefde vir Christus en iemand wat Sy gebooie gehoorsaam? As jy dapper genoeg is, vra iemand wat jou goed ken of jou dade Christus en Sy gebooie reflekteer of nie.

Swart en wit word grys.

Enigiets behalwe God se waarheid, stel ons integriteit in gevaar. Dit maak nie saak hoe gering die situasie is waarvoor ons skik nie, dit sal die integriteit in ons hart skaad. Hier lê die probleem – ‘n skikking lei tot regverdiging en regverdiging lei tot verwarring. Wat swart en wit was verdof na grys en ons regverdig waarom God se waarheid nie nodig is om in elke situasie vir ons leiding te gee nie.

Ons woorde is een van die maklikste maniere wat ons gebruik om tot ‘n skikking te kom. Met ons woorde oordryf ons, skinder ons, vertel ons wit leuens en maak ons beloftes wat ons nie kan nakom. En dan begin die regverdiging. ‘n Wit leuen is nie regtig ‘n leuen nie, is dit? En buitendien, dis beter as om iemand se gevoelens seer te maak. Wat is die nou die probleem as niemand seer kry nie? Swart en wit word grys.

Ons kan ook ons dade in gevaar stel. Ons vat iets klein sonder toestemming, teken nie ons tyd aan wanneer ons uit die kantoor gaan nie, aanvaar krediet vir wat ons nie gedoen het nie. Dan begin ons dit regverdig. Ons het nie die vorige keer die krediet gekry vir wat ons toegekom het, dus is dit in orde. Hulle sal nie agterkom as een item weg is nie, hulle kan dit bekostig. Swart en wit word grys.

Met elke verskoning, skikking en regverdiging word God se waarheid vervorm en die rol wat dit in ons lewe speel, word aangepas. God kyk na ons hart, nie hoe groot die skikking is wat ons aangaan nie. Daar is geen grys areas vir Sy waarheid wat net swart en wit is nie.

‘n Skikking kan op ‘n gegewe oomblik na die makliker opsie lyk, maar God se waarheid gee ware lewe. Wanneer ons woorde en dade ooreenstem met wat ons glo, of sê wat ons glo, spandeer ons minder tyd en energie daaraan om onsself te bevraagteken en bekommerd te wees of ander sal uitvind. ‘n Skikking en regverdiging vertroebel die waarheid van God se begeerte vir ons lewe. Kies die waarheid, selfs wanneer dit ongemaklik en moeilik is.

Wat doen jy?

Die Ou Testamentiese profeet Habakuk leef in bose tye. Juda is in chaos en die Babiloniërs (wat reeds Egipte en Assirië verslaan het) is by die poorte. Desperaat en gefrustreerd gaan Habakuk reguit na God toe met sy woede en frustrasie: “Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.” (Habakuk 1: 1 – 4, Die Boodskap)

God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas.

Hier is die waarheid: God kan dit hanteer wanneer ons stoom afblaas. Solank ons dit in Sy teenwoordigheid doen, soos Habakuk dit hier doen. Wanneer Jesus sê, “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, …” verwag Hy nie ’n spul mense wat geheel en al kalm en in beheer is en hul sinne begin met “Liewe Jesus, …” nie.

Luister na Habakuk: “Waarom luister jy nie, Here?! Wat doen jy?!”

God sê vir Habakuk dat Hy die Babiloniërs stuur om Juda te straf, wat nie is wat Habakuk wil hoor nie en dit ontstel hom net verder. Eintlik word nie een van Habakuk se probleme in hierdie ontmoeting met God opgelos nie. Maar tog eindig dit waar Habakuk God loof en prys.

Waarom sou Habakuk dit doen?

Wanneer Habakuk sy bekommernis na die Here bring, vertroos, verlig en verkwik God Habakuk se siel, watpresies is wat Jesus in Matteus 11:28 beloof om te doen wanneer ons ons bekommernis na Hom bring.

Habakuk stort sy hart voor God uit tot hy heeltemal leeg raak en God vul hom dan met genade, met ander woorde met alles wat hy nodig het om die komende uitdagings in die gesig te staar, insluitend ’n gesonde porsie geluk en vrede.

Ons hoef nie vir ’n krisis of ’n ramp te wag om hierdie soort gesprek te hê waarin ons absoluut niks terughou nie. Ons kan enige tyd met God praat op hierdie vlak van opregte, intieme vriendskap. Ons kan sommer nou daarmee begin. Hoe meer van onsself ons na God toe bring, hoe meer het Hy om mee te werk. In Sy teenwoordigheid word ons verhouding met Hom versterk, ons geloof word versterk en ons siele vind rus, soos Habakuk ondervind het.

Om jou siel voor God uit te stort is ’n dapper gewoonte om aan te leer.

Koning Dawid het dit gedoen en God het Dawid ’n man na sy hart genoem (in Handelinge 13:22). Dit neem ware moed om diep te delf, om eerlik met onsself te wees, om ons uitdagings in die gesig te staar, dit na God te bring en voor Hom oop te maak. Maar dis altyd die moeite werd om dit te doen.

Ek wonder wat Habakuk sou sê as hy vandag hier was?

Hy sou ons waarskynlik reguit laat verstaan het: “Neem al jou bekommernisse na God. Moenie doekies omdraai of maak asof dit nie so erg is nie. Jou opregtheid sal jou nader na God bring en, terwyl Hy vir jou meer wys van wie Hy is, sal jy in geloof groei – dit kan ek jou waarborg.”

Skinder

Skinder is gevaarlik om deel te neem aan dit sowel as om dit te wees. Maak nie saak hoe volwasse ‘n mens is nie, hy of sy kan nie na skinder luister nie en deur dit geraak of beinvloed word nie. Dit is noodsaaklik dat ons skinder in ons eie lewens moet herken en ons self veel eerder daarvan verwyder.

Wat is skinder dan?

Dit is maklik vir ons om skinder te kan herken wanneer die skinder storie verskriklik lasterlik of beledigend is oor ‘n persoon se persoonlike lewe, veral as ‘n persoon se geloofwaardigheid oor hom of haar verlede ten sprake is of dalk handel dit oor sensasionele oordrywing oor ‘n persoon se karakter of persoonlikheid. Ons kan dit baie vinnig herken en afstand doen van hierdie stories of gesprekke. Maar wat van daardie klein skuldige genot van die hoof-opskrif van die dag se koerant of die nuutste nuus wat ons van ons bure of pastoor kan hoor? nie eers gepraat van die huisgenoot nie!

Skinder kan gedefinieer word as negatiewe inligting omtrent ‘n persoon wat gedeel word met ‘n ander persoon, wanneer die persoon nie nodig het om dit te weet nie, en in meeste van die gevalle dit privaat moes wees. Hierin lê die hart van skinder – waarby ander betrokke is, waar hulle net nie betrokke hoef te wees nie, om inligting met ander te deel wanneer hulle nie die inligting nodig het nie en in elk geval nie deel van die oplossing vir die probleem sal wees nie.

Skinder kan ook woorde bevat wat waar is oor ‘n persoon. Maar net omdat iets waar is, maak die inligting nie verstandig om gedeel te word nie. Kan jy die angel van skinder in hierdie woorde voel?

  • Het jy geweet hy/sy was voorheen al getroud gewees?
  • Ek verstaan dat hy nou vir die tweede maal bankrot verklaar word.
  • Jy weet sy het ‘n senuwee-ineenstorting gehad ‘n paar jaar gelede, né?

Een van die meer vernietigende vorms van skinder kan eintlik in die kerk gebeur. Dit vind plaas in gebedsgroepe. Die meeste van ons het dit op een of ander tyd ervaar. Skinder word gedeel in die naam van “om al die inligting te kry sodat ons weet hoe om reg te bid.” Dit is onnodig omdat God alreeds die besonderhede ken en nie van ons nodig het om Hom met die kleinighede te herinner nie.

As volgelinge van Jesus is ons nie betrokke by enige soort skinder nie. Ons is bedoel om mekaar op te bou en so mekaar te help en te ondersteun wat weer eer aan God betoon. Wat betref ons verhoudings met ander gelowiges, word ons vermaan om uit ons pad te gaan om seker te maak dat die woorde wat uit ons mond kom, eer en respek toon.

Die woorde van skinder moet ons altyd voor waaksaam wees by elke geleentheid, want dit kom altyd teen die mees noodsaaklike keuses of besluite van God se doeleindes vir die kerk – vir sy lede om nie in eenheid te lewe met mekaar nie. Onthou die woorde van die wyse Salomo: Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie. (Spreuke 20:19).

Maar die gedeelte wat my baie keer so laat dink kom van een van my rol modelle in die skrif Petrus, ja ja sê maar wat jy dink oor Petrus maar hy was ‘n man wat nie doekies omgedraai het nie en ook nie bang was om standpunt in te neem nie, Maar Petrus sê: Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek. (1 Petrus 4:8).