In Afwagting

Wat verwag jy gaan gebeur as jy bid? Verwag jy dat God gaan antwoord? Verwag jy om presies te kry waarvoor jy gevra het? Of as jy brutaal eerlik wil wees, verwag jy eintlik nie veel om te gebeur nie? Benader jy gebed soos ‘n wensfontein — dit sal fantasties wees as jou wens bewaarheid word, maar eintlik weet jy dat jy net jou geld gemors het. 

Ongelukkig dink ek, wat gebed betref, is dit ‘n slaggat waarin ons kan beland. Wanneer jy ‘n moeilike tyd beleef, of ‘n gebed is dalk nie beantwoord soos jy wou gehad het nie, of miskien probeer jy al ‘n geruime tyd van God hoor en jy kry nie ‘n antwoord nie, kan dit soms ons verwagtinge van wat God mag doen, teleurstel. God is egter altyd besig om in ons lewens te werk, Hy is altyd besig om gebede te beantwoord — al is dit nie op die manier of die tyd wat ons graag wil hê nie. God lewe en is aktief aan die werk in ons lewens.

Ons moet net ons verwysingsraamwerk verander oor wat ons verwag God gaan doen.

As ek regtig deursigtig met jou wil wees, moet ek erken dat daar soms tydperke is wanneer ek nie God se werk in my lewe sien nie. Dit voel asof Hy my nie hoor nie. Dit voel asof al my gebede met ‘n groot “nee” beantwoord word — of ten minste met ‘n “nie nou dadelik nie”. Ek voel soms moedeloos, maar uiteindelik breek ek daaruit los en begin bid: “God, wys my wat U nou besig is om in my lewe te doen.” Dan wy ek my daaraan toe om alles wat ek God sien doen, neer te skryf — elke keer as ek opmerk dat Hy in my lewe werk. Dadelik word hierdie lysie lank. Ek vind dat ek bladsye van ‘n joernaal vul met baie klein dingetjies — en soms groot dinge — met wat ek God sien doen. 

Het God ewe skielik sy aktiwiteite in ‘n hoër rat gesit omdat ek gebid het?

Nee. Hy werk nog die hele tyd op dieselfde pas. Die probleem was ek en my verwagtinge. Ek het óf verwag dat Hy presies sou doen wat ek vra, op die presiese tyd wat ek wou hê, óf ek het toegelaat dat my geloof wankelrig raak en ek het eerlikwaar nie verwag dat Hy iets sou doen nie. Altwee reaksies is verkeerd. Wanneer jy verwag dat God in jou lewe gaan werk, sal jy beslis sy werk in jou lewe aanskou. Jy moet net in gedagte hou dat Hy God is en nie jy nie. Sy aksies mag dalk nie wees waarvoor jy gewens het nie, maar dit sal altyd tot jou beswil wees. 

Begin hierdie week! Skryf elke ding neer wat jy sien God vir jou doen of wanneer jy hoor dat Hy met jou praat. Ek is vol vertroue dat jy meer in net ‘n paar dae sal neerskryf, as wat jy ooit gedink het moontlik sal wees