God Gebruik Ons Werk Vir Sy Doeleindes

Na baie jare van beproewings, het Josef se drome goeie vrugte afgewerp. Farao het nie net die hele Egipte se werksaamhede aan Josef toevertrou nie, sy broers het na hom gekom om voedsel te soek toe die hongersnood hulle getref het en hulle het voor hulle broer gebuig, alhoewel hulle nie dadelik geweet het dat dit hy was nie. Dit was al die tyd God se bedoeling om die sewe jaar van oorvloed en sewe jaar van hongersnood te gebruik om sy volk na Egipte te lei waar hulle hul toevlug sou neem.

God het die omstandighede gebruik om Josef voor te berei om Sy plan uit te voer.

Toe Jakob gesterf het, was Josef se broers bevrees dat hy uiteindelik sy wraak sou neem. Maar Josef het op God se doel bly fokus en so gereageer: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen […] die redding van baie lewens” (Genesis 50:20). Josef het net ‘n klein gedeelte gesien van hoe hy inpas by God se groter plan, wat ons vandag kan sien. Eendag sal Josef presies sien hoeveel lewens hy help spaar het. 

Jakobus 1:2-3 sê: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” Wanneer ons getrou is in tye van beproewing, maak ons die deur oop vir God om wonderlike dinge deur ons te doen. Dit is belangrik om te vertrou dat God ons werk kan en sal gebruik om karakter te bou, ons te versterk en uiteindelik resultate te lewer wat ons nooit anders sou bereik het nie. 

Wanneer ons op Jesus gefokus bly, kan ons die vertroue hê dat God ons werk op groter maniere gebruik as wat ons kan dink. Ons mag dalk sien hoe God ons werk in die groter prentjie gebruik, soos Josef het. Eendag sal ons almal sien watter rol ons getrouheid in God se plan gespeel het. 

Daag jouself uit om toe te laat dat God jou deur moeilike omstandighede louter en die betekenis van jou werk vir sy doel en sy heerlikheid verhoog.

Ons Werk is Ons Keuse

In Genesis 37:5-7 en 9, het Josef gedroom oor God se roeping vir sy lewe. Hy het gedroom dat hy in ‘n posisie van mag is sodat selfs sy eie gesinslede voor hom buig. Sy broers het natuurlik jaloers geraak en wou die jonger broer van hul doodmaak. Toe hul ver weg van hul huis af was, en Josef gegaan het om te kyk of alles reg is by hulle, het hul die geleentheid aangegryp om hom as a slaaf te verkoop. Josef het so te sê ‘n ompad geneem om by sy werklike doel uit te kom.

Josef was geforseer om as ‘n slaaf in ‘n ander land te gaan werk, waar die mense geen respek vir hom of vir sy God gehad het nie. Hulle kon egter nie die vryheid om ‘n positiewe houding teenoor sy werk te hê, van Josef af wegneem nie. Josef het nie toegelaat dat sy werk hom definieer nie. Alhoewel Potifar Josef se baas was, het Josef gekies om die Here aan te hou dien en om sy werk na die beste van sy vermoë te doen. As gevolg hiervan het God Josef geseën met sukses in alles wat hy gedoen het, en Potifar het hom in beheer geplaas van al sy besittings.

Ons almal droom oor die ideale werk wat ons wil doen.

Miskien is die werk wat jy nou doen ver verwyderd van die droom wat jy vir jouself gehad het. Dit maak nie regtig saak nie – ons almal kies, bewustelik of onbewustelik, wat ons werk vir ons beteken. Die betekenis wat ons aan ons werk gee, bepaal ons houding daaroor en dit bepaal die gehalte en uitnemendheid waarmee ons ons werk verrig – en op die ou end bepaal dit hoe God ons kan gebruik! 

Ons het die keuse om ons werk in ‘n positiewe lig te sien.

As ons dit doen, sal ons heel moontlik nie net ons werk goed doen nie, maar ons sal toelaat dat ander God in ons sien. Ons identiteit is uiteindelik in God en nie in ons werk nie. Vra God om jou te wys wat Sy bedoeling vir jou werk in Sy koninkryk is.

Hoekom vra jy dalk nie bietjie vir God: Vader, help my om my werk vandag deur U oë te sien. Herinner my daaraan dat U al die goeie werk wat ek uit liefde vir U doen, gebruik om Christus se liefde aan ander te wys. Laat my kollegas Christus vandag in my sien.

Rut

Ek het Rut se storie in die Bybel al tientalle kere vantevore gelees, maar een Sondag het ek iets onverwags opgemerk. Rut het nie net die nodige gedoen om te oorleef nie. Sy het dit na gejaag. Sy het hard gewerk, met respek gewerk, gerus wanneer dit nodig was, en die werk afgehandel wat sy moes doen. Sy het van vroeg môre tot die aand toe gewerk en 13 kg se koringare opgetel om haar gesin te help. Rut het opgedaag vir werk, en God het ‘n plan d.m.v. haar lewe uitgewerk wat sou lei tot haar huwelik met Boas en haar plek in die stamboom van Jesus.

Dit is heilige gejaagdheid.

Rut was nie gemotiveer deur gewildheid of erkenning nie. Om koringare bymekaar te maak was harde werk. Dit was nie spoggerig of beroemd of indrukwekkend nie. Dit was vernederend. Rut se werk het betekenis en ‘n doel gehad, en ek glo ons s’n ook. 

  • Wat sou gebeur het as Rut in die huisie wat sy met Naomi gedeel het, rondgekyk en meer gefokus het op wat hulle ontbreek het as wat sy kon bied?
  • Wat as Rut uitgegaan het om werk te soek wat haar belangrik sou maak in plaas daarvan om die werk te doen wat haar presies wou plaas waar God haar wou hê?
  • Sy kon die oes heeltemal mis, sowel as die seëninge wat God haar wou gee toe Hy haar gesin verlos het.

Dit kan moeilik wees om uit te gaan en die harde werk te doen wat God ons geroep het om te doen.

Miskien is jy gevra om te dien in ‘n werkplek wat God nie eer nie, en jy voel soos die vreemdeling in ‘n vreemde land. Of dalk het God jou na ‘n nuwe plek gebring, en jou drome om indrukwekkende werk te doen, wat erkenning en bekendheid sal bring, is vervang met ‘n oproep om op ‘n baie kleiner manier te dien. Miskien het jy getrou gedien in ‘n rol wat jy lief het, maar jy voel gefrustreerd, omdat jy nie die vrug van jou werk sien nie.

As ons ophou probeer en begin om te dien, begin ons om God te vertrou om te oes wat ons getrou plant. Die vriendelikheid wat jy na jou werkplek bring, kan die enigste ding wees wat iemand nader aan God trek. Die liefde wat jy aan ander wys in die klein, onsigbare, getroue plekke, kan die heel eerste poging wees wat God sal gebruik om mense nader aan Homself te bring. En die sade wat jy in geloof plant, kan eendag, geslagte nadat jy gesterf het, die katalisator wees vir ‘n pragtige geskenk wat God met die wêreld wil deel.