Die wonder van ‘n nuwe begin

Dink daaroor – Sara was 90 jaar oud toe sy swanger geraak het! Ons lees in die Bybel dat sy al lankal verby die ouderdom was waarop vrouens kinders kon hê, so sy was sekerlik verby haar menopouse. Die feit dat sy dus op hierdie ouderdom ’n baba kon hê, was beslis iets wat God in haar lewe gedoen het. Die vervulling van God se belofte aan Abraham en Sara was ’n wonderwerk! 

Maar dink net aan die volgende: Om selfs ten spyte van die wonderwerk op 90-jarige ouderdom swanger te wees en ’n baba te kry! ’n Mens se energievlakke is nie naastenby dieselfde op 90 as op byvoorbeeld 25 of 30 nie. 

God het ’n verandering belowe, ’n nuwe begin.

God het dekades later eers daardie nuwe begin geskenk. Hy het geweet hoe oud Abraham en Sara sou word. Hy het presies geweet wat Hy doen. Hy het sekerlik vir hulle die krag en energie gegee om die eise van ouerskap te hanteer. En dalk nie net dit nie, Hy het vir hulle die seën van ’n nuwe begin gegee. God doen dinge nie halfpad nie.

Wanneer God ’n verandering in jou lewe bewerk, lei Hy jou daardeur.

Toe Naomi besluit het om terug te gaan Betlehem toe, het sy vir haar skoondogters gesê om terug te gaan na hulle eie families toe. Dit het sin gemaak. Naomi het geweet sy gaan sukkel om vir haarself te sorg, wat nog vir hulle ook sorg. Hulle was nog jonk en hulle families kon vir hulle ander huwelike reël. Hulle kon kinders kry en die lewe leef wat normaal was vir ’n vrou in daardie tye. Ja, dit het sin gemaak. Miskien was Orpa meer realisties oor haar omstandighede omdat sy na Naomi se raad geluister het, haar skoonma gegroet het en huis toe gegaan het.

Tog het Rut geweier om huis toe te gaan. Sy het gekies om haar familie en alles wat sy geken het agter te laat en saam met Naomi te gaan. Dit kon nie ’n maklike besluit gewees het nie.

Partykeer is die besluite wat voor jou is, verwarrend.

Dit is dalk moeilik vir jou om te weet watter besluit is die regte een, want – kom ons wees nou maar eerlik – soms is die regte besluit die moeilikste een. Dit kan dalk beteken dat jy jou geliefdes of ’n bekende plek moet verlaat, of dalk selfs dat jy van werk moet verander of ’n verhouding moet beëindig. Die regte keuse gaan wees om na die geheelbeeld te kyk en nie net na wat vandag gebeur nie. Rut het die regte besluit geneem en God se seën het haar lewe gevul.

Wanneer jy wonder

Uithouvermoë is nie net die vermoë om ‘n moeilike ding te verdra nie, maar om dit in heerlikheid te verander. – William Barclay, Skotse predikant. 

Ek weet nie wat jy deurgaan of wat jy alreeds oorleef het nie. Maar ek weet dit: ons God is ‘n goeie God wat ons genoeg liefhet om Sy dierbare Seun te offer, die grootste geskenk wat Hy ons kon gee, net sodat ons Hom kan ken, net sodat ons Hom op aarde kan verheerlik, net sodat ons die ewigheid saam met Hom in die hemel kan spandeer. 

Hy het ons so lief.

Ons is in staat om Hom lief te hê – of enigiemand anders – net omdat Hy ons eerste liefgehad het. Wanneer moeilike dinge gebeur, en die beste wat jy kan doen is om te wil glo, is dit genoeg? Ek wil jou graag aanmoedig, Moenie ophou om te wil glo nie. 

Laat daardie vonk van hoop toe om te groei deur te vertrou dat God reg langs jou is. Bid en vra God om jou te help om jou ongeloof te oorkom. Soos Habakuk, vra jou vrae en wees dan bereid om na God se reaksie te luister. 

My gebed is dat jy sal groei om die soort geloof van Habakuk te hê wat ons in hoofstuk 3 sien. Maar die saak staan so: jy kan nie ‘n hoofstuk 3 -tipe geloof hê voordat jy nie ‘n hoofstuk 1 – tipe vraag en ‘n hoofstuk 2 – tipe wagperiode het nie. God doen dikwels meer geestelike dinge in die vallei as op die bergtop. 

Ek het nie al die antwoorde op jou vrae nie. Maar aangesien ek God lief het en Christus vir meer as drie en twintig jaar al dien, is dit wat ek kan sê:

Ek het al genoeg gisters saam met Jesus gewandel om hom met al my môres te vertrou. 

Wil jy nader aan God groei? Wil jy daardie intimiteit met Hom hê, meer as wat jy ‘n gemaklike, maklike, probleemvrye lewe wil hê? Moet dan nooit ophou om te wil glo nie. 

Jy kan hoop in die donker tye hê. Want soos jy groei en God leer ken, sal Hy selfs nog meer van Sy liefde, Sy getrouheid en Sy genade openbaar. En met verloop van tyd sal jy besef, glo en vashou daaraan dat, wanneer die lewe moeilik is, God steeds goed is. 

Vader, ek glo U is goed, en ek is gereed om steeds nader en nader aan U te groei. Ek is hierin vir die langtermyn.