Tussen-in tye

Hulle sê ‘n foto is ‘n duisend woorde werd. Wanneer jy ook al deur trou-albums blaai, na familie foto’s teen ‘n muur kyk, of op sosiale media na foto’s kyk, glimlag al die mense. As jy moes raai, sou jy sê dat die lewens van al daardie mense maanskyn en rose is. Is dit nie so nie?

Maar wat gebeur op die dae, weke en maande tussen-in daardie foto’s?

Die duisend woorde wat ‘n foto beskryf, is met vreugde, vrede en hoop gevul, maar tussendeur daardie prentjies is daar drama, frustrasie en hartseer, wat elke persoon en verhouding beleef. Al hoop jy dat jou verhoudings bestand sal wees teen sulke hindernisse, is dit maar iets wat elke verhouding moet trotseer. 

Glo jy dat daardie tussen-in tye egter ons verhoudings beter kan maak?

Dis die argumente waardeur jy is, wat jou help om tyd en vrede te waardeer, of selfs te kweek. Dis wanneer jy na ‘n siek vriend omsien, dat jy gesondheid waardeer. Wanneer jou bankbalans al hoe minder raak, waardeer jy die tye toe jy baie gehad het. 

Dis egter nie al wat die tussen-in tye kan doen nie.

Dit gee ons ook ruimte om te leer hoe om lief te hê met die soort liefde wat in 1 Korintiërs 13 beskryf word. Dis maklik om geduldig, goedhartig, selfloos en vergewinsgesind te wees in die goeie tye. Maar dis in die tussen-in tye wanneer ware liefde nodig is, die tye wanneer ons eerder kwaad, selfsugtig en onvergewinsgesind wil wees. Hierdie soort liefde van 1 Korintiërs 13, verskyn nie oornag nie. Dit kom deur al die tye tussen die foto-mooi oomblikke. Dit kom as ons leer om, soos Jesus, onvoorwaardelik lief te hê. 

Is dit die soort liefde wat jy in jou verhoudinge wil hê?

Koester dan die tussen-in tye en bid dalk: Vader, gee my moed om ware liefde te gee en na te streef in my verhoudings, ongeag die teenstande.

Liefde bring Genesing

Jesus was die fisiese verpersoonliking van liefde, en dus maak dit sin dat Hy ook die verpersoonliking van genesing was. Oral waar Hy gegaan het, het Hy mense liefgehad en genees op twee maniere: Sy woorde en Sy aanraking.

Ons kan dieselfde doen om liefde en genesing in ons verhoudings voorop te stel.

Wees gewillig om ‘n vriendelike woord te spreek teenoor ‘n geliefde in jou lewe wat vandag bemoediging nodig het. Stuur ‘n bemoedigende boodskap, of selfs beter, tel die foon op en bel. Moenie toelaat dat jou liefde ‘n onuitgesproke aanname bly nie. Maak seker dat jou geliefdes presies weet hoe lief jy hulle het deur dit met woord en daad te wys.

Jesus het vir ons baie voorbeelde in die Bybel gegee van Sy genesende krag. Een van die beroemdste is die vrou wat vir baie jare aan bloedvloeiing gelei het. Haar toestand was nie net pynlik nie, maar weens haar kultuur is sy ook uit die samelewing verstoot. Sy het fisies gely, sowel as in verhoudings.

‘n Ontmoeting met Jesus sou dit alles vir haar verander: Jesus het die genesing gebring wat sy nodig gehad het. Hy het egter nie net haar liggaam genees nie. Sy liefde het ook haar siel genees. Hy het haar menslikheid herbevestig. Hy het haar aan haar oneindige waarde herinner. Hy het haar aangespreek as ‘n aangenome lid van sy eie familie. Hy het haar gesond gemaak met ‘n aanraking en ook met sy woorde (Markus 5:34).

Genesing vloei voort uit verhoudings.

Jesus het hierdie vrou as ‘n “dogter” aangespreek, om haar te herinner dat God nie vêr van haar af was nie. Sy was deel van God se familie. Jesus het omgegee vir haar fisiese behoefte, maar Hy het ook tyd ingeruim om haar verhoudingsbehoefte aan te spreek. Hy doen dieselfde vir jou en my.

‘n Ontmoeting met Jesus het altyd die mag om genesing te bring. Wanneer liefde teenwoordig is, is genesing ook teenwoordig. Dit sal nie altyd soos ‘n wonderwerk lyk nie, maar dit sal altyd ‘n verskil maak.

Jesus is nie ‘n towergees in ‘n bottel of ‘n slotmasjien wat jou gee wat jy dink jy nodig het nie. Hy is jou liefdevolle Verlosser, wie se planne vir jou lewe soveel beter is as jou eie. Die genesing wat liefde bring, mag dalk nie altyd lyk soos jy dink dit moet lyk nie, maar teen die omvang van die ewigheid, sal dit presies wees wat jy nodig het vir jou eie voordeel en God se heerlikheid.

Woorde

Ons het almal al die krag van die tong ervaar. Dit is geen geheim dat woorde belangrik is vir die een wat dit spreek, sowel as vir die een wat dit aanhoor nie. Woorde kan vertroue bou, aanmoediging bied en verhoudings herstel. Woorde kan ook vriendskappe vernietig, mede-werkers verkleineer, en twyfel en onsekerheid saai.

Woorde maak saak, want dit het mag om te seën of te vervloek, aan te moedig of te vernietig, lewe te gee of die dood te bring.

Ons woorde maak saak. Ons moet bewus wees van wat uit ons monde kom en uit ons vingerpunte vloei. Ons leef in ‘n dag waar woorde goedkoop kan wees. Ons uiter dit sonder om veel daaroor na te dink. Ons woorde kom en gaan so vinnig as wat ons op ons slimfone kan tik.

Maak nie saak hoe vinnig dit kom of hoe vinnig ons dit vergeet nie, elke woord maak saak.

  • Die woorde wat ons teenoor ons gades uiter, maak saak.
  • Die woorde wat ons teenoor ons kinders uiter, maak saak.
  • Die woorde wat ons vir ons vriende teks, maak saak.
  • Die woorde wat ons in ons gedagtes teenoor onsself spreek, maak saak.

Die woorde wat ons bid, maak saak.

Ons woorde vorm denke, dit beïnvloed aksies en verander lewens. Woorde dra gevolge en openbaar die ware aard van ons harte. Juis daarom moet ons leer om ons woorde verstandig te gebruik en mag ons woorde uiteindelik, met God se hulp, die wêreld verander.