Stop

Een van die beste besluite wat jy kan neem, wanneer jy impulsief voel, of voor ‘n netelige probleem te staan kom, is om te stop. Roep eers halt. Bid vir leiding. Slaap daaroor. Kry goddelike wysheid van mense wat jy vertrou en kry ‘n idee van die moontlike gevolge. Vra jouself dan: “Is dit iets wat ek dalk nie moet doen nie?”

Die meeste mense het goeie bedoelings of ten minste ‘n soort regverdiging vir dit wat hulle wil doen. Nogtans blyk dit dat soveel mense verbaas is wanneer hulle uitvind dat hulle baie ver weg is van die rigting waarin hulle wou gaan. Die groot veranderinge in ons lewens — beide negatief en positief — gebeur selde sonder ‘n reeks besluite wat opeenvolgend is, soos nimmereindigende dominoes.

Kan jy insien dat, om te stop, een van die mees produktiewe dinge is wat ons kan doen? Wanneer jy stop, sodat jy ‘n voorraadopname kan doen van waar jy is en waarheen jy wil gaan, dan kan jy besluit hoe om aan te beweeg na jou bestemming toe.

Waarmee kan jy ophou, sodat jy nader aan God se goddelike bestemming kan kom?

Doen jy enigiets wat jou in ‘n rigting neem waarin jy nie wil gaan nie (of waarheen God nie wil hê jy moet gaan nie)? Waarmee behoort jy heeltemal op te hou? ‘n Verslawing aan sosiale media, drankmisbruik, pornografie, aanvaarding, of werk? ‘n Ongesonde verhouding? ‘n Veroordelende houding? Waarmee kan jy ophou sodat jy nader aan God se goddelike bestemming kan kom? Hanteer elke keuse asof dit ‘n tree nader aan jou bestemming is.

As ons weet dat ‘n sekere optrede of verhouding ons in ‘n rigting laat gaan wat ons verder wegneem van die verhaal wat ons wil vertel, is dit nodig om stil te staan, nie net om die gevolge te oorweeg nie, maar ook om die keuse te maak om nie verder in die verkeerde rigting te gaan nie. Jy het waarskynlik al die woord “bekeer” gehoor. Een van die letterlike betekenisse is om “om te draai”. Wanneer jy tot bekering kom, hou jy op om in ‘n sekere rigting te gaan en keer jy terug na God en sy pad vir jou.

In hierdie opsig beteken, om te stop, dat jy eintlik ‘n nuwe rigting inslaan. Dit mag nodig wees om ‘n tree na verantwoordelikheid, vergifnis, die regte vriende, of ‘n nuwe woonplek te gee.

Vra jouself:

1. Indien ek die keuse maak wat ek oorweeg, waarheen kan dit my neem?

2. Waarmee kan ek ophou, sodat ek nader aan God se goddelike riglyne kan beweeg?

Die Rykdom van Wysheid

Wysheid is soos geld. Die waarde daarvan vermeerder met tyd. As jy gereeld wysheid tot jou lewe byvoeg, word jy ryk in die weë van God. Daarom is dit noodsaaklik dat jy wysheid bekom; dis meer belangrik as die meeste ander dinge in jou lewe.

Wysheid is die vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd en om te verstaan wat is ewig en waar.

Dit is die vriend wat jou sal help om die vyand te verslaan. Satan is magteloos in die teenwoordigheid van God se wysheid. Moenie probeer om die duiwel te verslaan met jou eie beperkte begrip nie. Verslaan hom met die wapen van wysheid. Die lewe wat gebou word op die fondasie van wysheid, kan die winde van verandering en die golwe van teenspoed weerstaan (Spreuke 28:26). Wysheid hou jou gefokus op God se perspektief. Dis ‘n lewensredder vir ‘n drenkeling, dit gee rigting aan ‘n verdwaalde, dit is die lig in ‘n donker en verwarrende situasie.  

Wysheid is soos goud, en goud is nie maklik verkrygbaar nie. Daar is ‘n prys om te betaal. Dit kos iets om dit te vind, en dit aan te skaf. (Spreuke 16:16)

Grys hare is nie ‘n waarborg vir wysheid nie, maar deurtrapte ervaring plaas jou wel in ‘n posisie om wysheid te verkry. Dit is moontlik om ‘n bejaarde dwaas te wees, asook om wys ver bokant jou jare te wees. Jonk of oud, slim of gemiddeld, beide kan wysheid verkry. 

Wysheid begin en eindig met die vrees van God. Die vrees van God beteken dat jy Sy lering met jou hart en jou verstand aanvaar. (Spreuke 15:33) Wysheid kom nie deur ‘n passiewe verhouding met God nie. Wysheid beteken jy mediteer oor Sy weë en waarhede. Jy vra na die hoekom, wat en hoe van Sy weë, in gebed en met diepe respek. As navolgers van God is Sy weë ons weë. Deur die oordenking van Sy Woord en die verstaan van Sy waarhede, sal wysheid begin om oor jou daaglikse lewe te heers. Deur God se genade sal wysheid jou lei om die beste pad van aksie te kies, vanuit al die vele opsies.

Wysheid voorsien eenvoudige oplossings in ‘n komplekse situasie. Wysheid het die ongelooflike skerp vermoë om deur die lae van agendas en motiewe te sny en so die ware probleme te ontbloot. Wysheid veg onverstoord vir gesonde verstand en die waarheid. Dit is baie prakties.  

Wysheid kom van God af en woon in Hom. Hy besit die handelsmerk en patent.

Enige iemand wat krediet probeer kry vir die effektiwiteit van wysheid, staan ‘n kans om die reg om wysheid te gebruik, te verloor. Nederigheid wat met wysheid vermeng word, lei tot wyse besluitneming. Luister na en leer van wyse mense. Dit kan jou help om die hartseer van ‘n gebroke verhouding of die verlies aan geld as gevolg van swak finansiële besluite, te voorkom. Wees wys, luister na God en Sy wyse mentors in jou lewe.  

Jy ontvang wysheid sodat jy dit met ander kan deel; deel jou rykdom van wysheid met hulle wat dit goed sal gebruik. 

Oproep tot Wysheid

Hier is wysheid nodig.” (Openbaring 13:18a) Wysheid word meer benodig as wat ons besef. Wysheid sny deur emosies tot by die realiteit van die situasie.

  • “Wat is die wyse ding om te doen?” is ‘n doeltreffende vraag in besluitneming.
  • “Wat is die beste vir die onderneming?” is ‘n wyse vraag om te vra wanneer dit gaan oor besigheid of die bediening.

Talle male praat God deur geld, of deur die gebrek aan geld. Wanneer geld skaars is, moet ons uiters wys wees in ons besteding daarvan. Wysheid sê om te sny aan uitgawes en om nie addisionele kostes aan te gaan nie. Hier gaan dit nie oor ‘n gebrek aan geloof nie. Dit het te doen met die feit dat jy ‘n wyse rentmeester moet wees oor dit wat jy het, sodat meer aan jou toevertrou kan word. Wyse rentmeesterskap trek vrygewige gewers aan.

Die wyse perspon is nie ongeduldig of desperaat nie.

Wysheid staan ‘n tree terug en evalueer ‘n situasie deeglik voordat dit voortgaan. Soek jy gereeld wysheid? Kennis en ondervinding, vermeng met logika en onderskeidingsvermoë, is ‘n goeie resep vir wysheid. Wysheid is die soeke na die begrip oor God se perspektief van sake. Dit is waarom die wysheid wat in God se Woord gevind word, so relevant is vir die lewe.

Die Bybel is ‘n skatkis vol wysheid wat wag om deur die wyse skattejagter ontgin te word. Moet dus nie net die Bybel lees, daaroor mediteer en bid nie, maar soek na die wyse persone. (Matteus 12:42)  Soek na mense met grys hare, mense wat wyse gedrag toon. Die wyse sal jou help om die idees oor wysheid wat jy begin verstaan in jou bestudering van die Skrif, te bekragtig. Lees boeke en luister na boodskappe van wyse manne en vroue. As jy lank genoeg met wysheid omgaan, sal dit op jou begin afvryf. Gryp elke geleentheid aan om vir wysheid te vra. Wees wys in jou verhoudings. Wees wys met jou geld en jou tyd. Voor jy dit besef, sal jou wysheid ander aantrek wat dieselfde wil hê wat jy het.

Bowendien is die kroonjuweel van die verkryging van wysheid die dien van die Here.

“Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (Spreuke 1:7) Ontsag vir God plaas jou in ‘n posisie om wysheid te ontvang. Wanneer jy geen ontsag vir God het nie, het jy geen wysheid nie. Geen wonder dat ons wêreld gevul is met dwase nie. Ons het ons ontsag vir God verloor en daarom ontwyk wysheid ons. Ontsag vir God is ‘n broeikas vir wysheid. God gee wysheid aan dié wat Hom vrees.

Wees lief vir God, maar vrees Hom. Loof God, maar vrees Hom. Leer by God, maar vrees Hom. Dien God, maar vrees Hom.

Jy is geregtig op wysheid as jy God vrees. Moenie so gewoond aan God raak dat jy jou vrees vir Hom verloor nie. Dit is onwys en lei tot dwaasheid. Wysheid wag vir jou om dit te kom oes. Pluk dit en geniet dit, soos ryp, sappige vrugte op ‘n warm somersdag. Proe en sien dat wysheid goed is. Niemand het nog ooit gekla dat hulle té veel wysheid het nie. Vra gereeld vir wysheid. Soek na die wyses en vra hulle en God vir wysheid.

Dit is die wyse ding om te doen.