Dankbaarheid

Ons het verlede week gesien hoe onmiddellike bevrediging ons volharding kan beïnvloed, maar dit het ook ‘n invloed op hoe dankbaar ons is. Dink aan al die klein dingetjies wat ons so maklik irriteer: 

  • Jy moet ‘n bietjie langer vir jou kitskos wag. 
  • ‘n Toep neem bietjie lank om te laai. 
  • Die Netflix bufferikoon hang op die skerm net wanneer jy jou regmaak vir ure se fliek.
  • Jy dink: “Ek het niks om te dra nie!” maar jou hangkas is propvol klere.

Dis so maklik om behep te raak met alles wat verkeerd gaan, in plaas daarvan om God te prys vir wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Net so sien ons maklik al die seëninge van God as vanselfsprekend of wat ons verdien, eerder as gawes wat aan ons gegee is. 

Wanneer ons vergeet om dankbaar te wees, kan twee moontlike ingesteldhede ontstaan. 

  • Ingesteldheid een sê: “Ek wil dit nou hê, dus vat ek dit dadelik.” 
  • Ingesteldheid twee sê: “Ek verdien dit en het daarvoor gewerk, en klaar.” 

Beide ingesteldhede kom voor in die verhaal van die verlore seun. Die jongste seun sê vir sy pa dat hy sy erfenis onmiddellik wil hê, dus neem hy sy geld, verlaat die gesin en verloor alles wat hy het gedurende ‘n reeks swak keuses wat hy maak. 

Met sy terugkeer huis toe, hardloop sy pa hom tegemoet, verwelkom hom en gooi ‘n groot partytjie om sy terugkoms te vier. 

Hier kom die gevaarlike ingesteldheid nommer twee:

Intussen het die ouer broer die hele tyd by sy pa gebly en stel jou dus sy frustrasie met hierdie verwelkomingspartytjie voor. Hy is gegrief, gefrustreerd en woedend en weier dus om die partytjie by te woon omdat sy pa nooit vir hom ‘n partytjie gehou het nie.  

Hierdie houding is baie algemeen. Iemand anders kry die bevordering waarop ek gehoop het en in plaas daarvan om dit te vier, begin ek vergelyk en wedywer. In plaas daarvan om God te dank vir die werk wat ek het, fokus ek op die pos wat ek graag wou hê.

Wat nou? Hoe vermy ons hierdie gevaarlike ingesteldhede en kweek eerder dankbaarheid?  

Skep ‘n gewoonte om God te dank vir alles wat jy het. Dank God vir die huweliksmaat wat die skottelgoedwasser anders as jy uitpak. Dank God vir die baas van wie jy nie hou nie omdat jy weet jy het ‘n werk en ‘n geleentheid om jou geloof te deel. Dank God vir ‘n nuwe dag, vars genade en vir wie Hy is. 

Dit werk so: Elke seëning waarvoor jy nie dankbaar is nie, verander in trots. Die Skrif waarsku ons in Spreuke 16:18: “Op hoogmoed volg ondergang …” 

Wanneer jy doelbewus tyd daaraan wy om dankbaarheid in jou lewe te kweek, sal jy groter tevredenheid, vrede en vreugde ervaar. Jy mag dalk net die waarheid ondervind dat dankbaarheid dit wat jy het vir jou genoeg maak. 

Maak dalk ‘n lys van alles waarvoor jy dankbaar is en prys God dan daarvoor. 

2 thoughts on “Dankbaarheid

Leave a comment