Dawid

Koning Dawid het sy grootste foute gemaak omdat hy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Soos opgeteken in 2 Samuel 11, het hy tuisgebly toe sy leiers en weermag gaan oorlog maak het. Dit is nie iets wat ‘n koning ooit gedoen het nie. Ten minste behoort dit nie so te wees nie. Omdat Dawid nie was waar hy moes wees nie, het hy iets gedoen wat hy nie moes nie — met ‘n ander man se vrou. Hy het alles in sy vermoë gedoen om sy sonde te bedek, insluitend sameswering en moord. Sjoe, nè?

As gevolg van Dawid se optrede het die profeet Natan hom gekonfronteer oor sy sonde. Dit is nie algemeen vir iemand wat ‘n hoë posisie in die regering beklee, om die teregwysing van iemand onder hom te aanvaar nie. Dawid het egter. Vir hom om sy sonde te erken, was net so ongewoon. Alhoewel Dawid se sonde rampspoedige gevolge gehad het, het hy berou getoon en hard gewerk om dinge weer reg te maak. 

Hier is twee lesse uit die lewe van Dawid:

God Kyk na die Hart:

Waarom het God gesê dat Hy Dawid vanweë sy hart gekies het, wetende wat Dawid sou doen? In 1 Samuel 13:14 lees ons wat God vir Saul, die huidige koning, gesê het: “Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom ‘n man na Sy hart gesoek … Dit kom nogal vreemd voor dat God van Dawid as ‘n man na Sy eie hart gepraat het, wetende dat Dawid verskriklike goed sou doen. Is dit egter nie goeie nuus nie? God mag dalk nie hou van alles wat ons doen nie, maar gelukkig kyk Hy na ons harte! Hy weet ons doen soms goed wat ons nie beplan het nie of selfs nie wou doen nie. God weet ons sal nie volmaaktheid op aarde bereik nie en dat ons foute ons duur te staan sal kom. 

Dawid Het Nie Verskonings Gemaak Nie:

Psalm 51 is geskryf nadat die profeet Natan vir Dawid gekonfronteer het oor sy owerspel met Bátseba. Voor dit was Dawid blykbaar onbewus van sy verkeerde optrede. Agterna het hy egter volle verantwoordelikheid aanvaar. Alhoewel Dawid regtig vreeslike dinge gedoen het, het hy egter altyd verantwoordelikheid vir sy swak keuses geneem en nie die skuld op iemand anders probeer afskuif nie. 

Ons het alreeds vasgestel dat ons nooit volmaak sal wees nie.

God weet dit en ons moet dit aanvaar. Laat ons liewers berus in die waarheid dat God ons harte sien, selfs as ons foute maak. Wanneer ons foute maak, nie ás nie, laat ons verantwoordelikheid neem vir ons dade en die proses begin om dinge weer reg te stel.

Leave a comment